Deel een—Flitse van lig—groot en klein
“Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”—SPREUKE 4:18.
1. Waarom word die waarheid geleidelik geopenbaar?
DIT is ’n blyk van Goddelike wysheid dat die openbaring van geestelike waarhede, in ooreenstemming met Spreuke 4:18, geleidelik deur middel van flitse van lig plaasvind. In die voorgaande artikel het ons gesien hoe hierdie teks in apostoliese tye vervul is. As die groot versameling van skriftuurlike waarheid alles tegelyk geopenbaar is, sou dit verblindend sowel as verwarrend gewees het—baie soos wanneer ’n mens uit ’n donker grot in helder sonlig kom. Boonop versterk waarhede wat geleidelik geopenbaar word voortdurend Christene se geloof. Dit maak hulle hoop al hoe helderder en die weg wat hulle moet bewandel al hoe duideliker.
“Die getroue en verstandige slaaf”
2. Wie het Jesus getoon sou hy gebruik om geestelike lig vir sy volgelinge te bring, en uit wie bestaan daardie kanaal?
2 In apostoliese tye het Jesus Christus dit goedgedink om bonatuurlike metodes te gebruik om sy volgelinge die vroegste flitse van lig te gee. Ons het twee voorbeelde hiervan: Pinkster 33 G.J. en die bekering van Kornelius in 36 G.J. Later het Christus dit goedgedink om ’n menslike kanaal te gebruik, net soos hy voorspel het: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matteus 24:45-47). Hierdie slaaf kon nie net een mens wees nie aangesien hy geestelike voedsel moes voorsien van die ontstaan van die Christengemeente op Pinkster af tot die Heer, Jesus Christus, gekom het om rekenskap te eis. Die feite toon dat hierdie “getroue en verstandige slaaf”-klas bestaan uit alle gesalfde Christene as ’n groep op aarde op enige gegewe tyd.
3. Wie was onder die eerste lede van die slaafklas?
3 Wie was onder die eerste lede van die “getroue en verstandige slaaf”-klas? Een was die apostel Petrus, wat ag gegee het op Jesus se bevel: “Voed my skapies” (Johannes 21:17). Ander vroeë lede van die slaafklas het Matteus ingesluit, wat die Evangelie geskryf het wat sy naam dra, sowel as Paulus, Jakobus en Judas, wat geïnspireerde briewe geskryf het. Die apostel Johannes, wat die boek Openbaring, sy Evangelie en sy briewe op skrif gestel het, was ook ’n lid van die “getroue en verstandige slaaf”-klas. Hierdie manne het in ooreenstemming met Jesus se opdrag geskryf.
4. Wie is die “huisknegte”?
4 As al die gesalfdes as ’n groep, ongeag waar hulle op die aarde woon, lede van die slaafklas is, wie is dan die “huisknegte”? Hulle is dieselfde gesalfdes, maar vanuit ’n ander oogpunt beskou—as individue. Ja, as individue sou hulle van die “slaaf” wees of hulle sou “huisknegte” wees, na gelang daarvan of hulle geestelike voedsel uitdeel of dit inneem. Ter toeligting: Soos in 2 Petrus 3:15, 16 opgeteken is, maak die apostel Petrus melding van Paulus se briewe. Wanneer Petrus dit gelees het, was hy soos een van die huisknegte wat die geestelike voedsel ingeneem het wat deur Paulus as ’n verteenwoordiger van die slaafklas voorsien is.
5. (a) Wat het gedurende die eeue ná die apostels met die slaaf gebeur? (b) Watter ontwikkelinge het in die laaste helfte van die 19de eeu plaasgevind?
5 In hierdie verband het die boek God’s Kingdom of a Thousand Years Has Approached gesê: “Ons het nie ’n duidelike geskiedkundige beeld van presies hoe die ‘getroue en verstandige slaaf’-klas gedurende die eeue ná die dood van die apostels van die Heer Jesus Christus bestaan en gedien het nie. Klaarblyklik het een geslag van die ‘slaaf’-klas aan die daaropvolgende geslag voedsel voorsien (2 Timoteus 2:2). Maar in die laaste helfte van die negentiende eeu was daar godvresende mense wat die geestelike voedsel van die Heilige Bybel liefgehad het en dit graag wou inneem . . . Bybelstudieklasse . . . is gevorm en het vooruitgang gemaak wat hulle begrip van die grondwaarhede van die Heilige Skrif betref. Diegene onder hierdie Bybelstudente wat waarlik onselfsugtig was, was gretig om van hierdie lewensbelangrike porsies geestelike voedsel met ander te deel. Hulle het die getroue gesindheid van die ‘slaaf’ gehad wat aangestel is om die ‘huisknegte’ die nodige geestelike ‘voedsel op die regte tyd’ te gee. Hulle was ‘verstandig’ omdat hulle onderskei het dat dit destyds die regte tyd was en wat die beste kanaal vir die opdiening van die voedsel was. Hulle het daarna gestreef om dit op te dien.”—Bladsye 344-5.a
Vroeë flitse van lig in hedendaagse tye
6. Watter feit omtrent die geleidelike openbaring van waarheid staan soos ’n paal bo water?
6 ’n Feit wat soos ’n paal bo water staan, is dat diegene wat deur Jehovah gebruik is om hierdie geleidelike vermeerdering van geestelike lig teweeg te bring hulle geen eer toegeëien het nie. Die gesindheid van C. T. Russell, die Wagtoringgenootskap se eerste president, was dat dit die Here behaag het om hulle beskeie talente te gebruik. Aangaande byname wat sy vyande geneig was om te gebruik, het broer Russell dit baie duidelik gestel dat hy nooit ’n “Russelliet” ontmoet het nie en dat daar nie iets soos “Russellisme” is nie. Alle eer is aan God gegee.
7. Hoe het broer Russell en sy medewerkers bewys dat hulle inderdaad deel uitgemaak het van die getroue en verstandige slaaf?
7 Te oordeel na die resultate kan daar geen twyfel bestaan dat die pogings van broer Russell en dié wat met hom geassosieer het deur Jehovah se heilige gees gerig is nie. Hulle het bewys dat hulle deel uitgemaak het van die getroue en verstandige slaaf. Hoewel baie geestelikes destyds beweer het dat hulle glo dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is en dat Jesus die Seun van God is, het hulle valse, Babiloniese leerstellings soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die mensesiel en ewige foltering gesteun. In ooreenstemming met Jesus se belofte was dit beslis aan die heilige gees te danke dat die beskeie pogings van broer Russell en sy medewerkers die waarheid laat skyn het soos nog nooit tevore nie (Johannes 16:13). Daardie gesalfde Bybelstudente het bewys dat hulle inderdaad deel uitgemaak het van die “getroue en verstandige slaaf”-klas, wat die opdrag het om geestelike voedsel aan die Heer se huisknegte te voorsien. Hulle pogings het baie gehelp met die insameling van die gesalfdes.
8. Watter basiese feite omtrent Jehovah, die Bybel, Jesus Christus en die heilige gees het die Bybelstudente goed verstaan?
8 Dit is merkwaardig om te sien hoeveel flitse van lig Jehovah deur middel van die heilige gees aan hierdie vroeë Bybelstudente gegee het. Eerstens het hulle onteenseglik bewys dat die Skepper bestaan en dat hy die unieke naam Jehovah het (Psalm 83:18, NW; Romeine 1:20). Hulle het gesien dat Jehovah vier hoofeienskappe het—krag, geregtigheid, wysheid en liefde (Genesis 17:1; Deuteronomium 32:4, NW; Romeine 11:33; 1 Johannes 4:8). Hierdie gesalfde Christene het duidelik bewys dat die Bybel God se geïnspireerde Woord en die waarheid is (Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Hulle het ook geglo dat God se Seun, Jesus Christus, geskep is en dat hy sy lewe as ’n losprys vir die hele mensdom gegee het (Matteus 20:28; Kolossense 1:15). Hulle het besef dat die heilige gees beslis nie ’n derde persoon van ’n Drie-eenheid is nie, maar God se werkende krag.—Handelinge 2:17.
9. (a) Watter waarhede het die Bybelstudente duidelik begryp omtrent die mens se natuur en die verwagtinge waarvan die Bybel praat? (b) Watter ander waarhede het Jehovah se knegte goed verstaan?
9 Die Bybelstudente het duidelik gesien dat die mens nie ’n onsterflike siel het nie, maar dat hy ’n sterflike siel is. Hulle het besef dat ‘die loon wat die sonde betaal die dood is’, nie ewige foltering nie, aangesien daar nie iets soos ’n brandende hel is nie (Romeine 5:12; 6:23; Genesis 2:7; Esegiël 18:4). Boonop het hulle duidelik gesien dat die evolusieteorie nie net onskriftuurlik nie, maar heeltemal sonder feitelike grondslag is (Genesis, hoofstukke 1 en 2). Hulle het ook onderskei dat die Bybel van twee verwagtinge praat—’n hemelse vir die 144 000 gesalfde voetstapnavolgers van Christus en ’n paradysaarde vir ’n ongetelde “groot skare” “ander skape” (Openbaring 7:9; 14:1; Johannes 10:16). Daardie vroeë Bybelstudente het ook besef dat die aarde vir ewig bly staan en nie sal verbrand soos baie godsdienste leer nie (Prediker 1:4; Lukas 23:43). Hulle het ook geleer dat Christus onsigbaar sou terugkeer en dat hy dan die nasies sou oordeel en ’n aardse paradys sou inlui.—Handelinge 10:42; Romeine 8:19-21; 1 Petrus 3:18.
10. Watter waarhede omtrent doop, ’n onderskeid tussen geestelikes en leke en die herdenking van Christus se dood het die Bybelstudente geleer?
10 Die Bybelstudente het geleer dat skriftuurlike doop nie bloot die besprinkeling van babas is nie, maar dat dit, in ooreenstemming met Jesus se bevel in Matteus 28:19, 20, die onderdompeling is van gelowiges wat onderrig is. Hulle het besef dat daar geen skriftuurlike grondslag vir ’n onderskeid tussen geestelikes en leke is nie (Matteus 23:8-10). Inteendeel, alle Christene moet verkondigers van die goeie nuus wees (Handelinge 1:8). Die Bybelstudente het besef dat die herdenking van Christus se dood net een keer per jaar, op 14 Nisan, gehou moet word. Daarbenewens het hulle gesien dat Paasfees ’n heidense vakansiedag is. Daardie gesalfdes was boonop so vol vertroue dat God hulle werk steun dat hulle nooit kollektes opgeneem het nie (Matteus 10:8). Reg van die begin af het hulle besef dat Christene volgens Bybelbeginsels moet lewe, wat behels dat hulle die vrugte van God se heilige gees moet aankweek.—Galasiërs 5:22, 23.
Toenemende flitse van lig
11. Watter lig het op die Christen se verpligting en op Jesus se gelykenis van die skape en die bokke geskyn?
11 Jehovah se knegte word veral sedert 1919 met toenemende flitse van lig geseën. Wat ’n helder flits van lig het tog in 1922 by die byeenkoms in Cedar Point geskyn toe J. F. Rutherford, die Wagtoringgenootskap se tweede president, die gedagte goed beklemtoon het dat die vernaamste verpligting van Jehovah se knegte is om ‘die Koning en sy koninkryk te adverteer, adverteer, adverteer’! Net die volgende jaar het helder lig op die gelykenis van die skape en die bokke geskyn. Daar is gesien dat hierdie profesie in die huidige dag van die Here vervul moet word, nie in die toekoms gedurende die Millennium soos die mening vroeër was nie. Gedurende die Millennium sal Christus se broers nie siek of in die gevangenis wees nie. Aan die einde van die Millennium sal dit buitendien Jehovah God wees wat oordeel, nie Jesus Christus nie.—Matteus 25:31-46.
12. Watter flits van lig was daar omtrent Armageddon?
12 In 1926 het nog ’n helder flits van lig geopenbaar dat die oorlog van Armageddon nie ’n maatskaplike revolusie sal wees soos Bybelstudente vroeër gemeen het nie. Dit sal eerder ’n oorlog wees waarin Jehovah sy krag so duidelik sal toon dat alle mense oortuig sal wees dat hy God is.—Openbaring 16:14-16; 19:17-21.
Kersfees—’n heidense vakansiedag
13. (a) Watter lig is op Kersvierings gewerp? (b) Waarom is verjaarsdae nie meer gevier nie? (Sluit voetnoot in.)
13 Kort daarna het ’n flits van lig daartoe gelei dat die Bybelstudente nie meer Kersfees gevier het nie. Voor daardie tyd is Kersfees altyd deur die Bybelstudente oor die hele wêreld gevier, en die viering daarvan by die hoofkwartier in Brooklyn was ’n baie feestelike geleentheid. Maar toe is daar onderskei dat die viering van 25 Desember eintlik heidens is en deur die afvallige Christendom gekies is sodat heidene makliker tot bekering gebring kon word. Bowendien is daar vasgestel dat Jesus nie in die winter gebore kon gewees het nie, aangesien herders hulle kuddes ten tye van sy geboorte in die veld laat wei het—iets wat hulle nie in die nag aan die einde van Desember sou gedoen het nie (Lukas 2:8). Die Skrif toon eerder dat Jesus om en by 1 Oktober gebore is. Die Bybelstudente het ook besef dat die sogenaamde wyse manne wat Jesus ongeveer twee jaar ná sy geboorte besoek het heidense sterrewiggelaars was.b
’n Nuwe naam
14. Waarom het die naam Bybelstudente Jehovah se volk nie tot hulle reg laat kom nie?
14 In 1931 het ’n helder flits van waarheid ’n gepaste skriftuurlike naam aan daardie Bybelstudente geopenbaar. Jehovah se volk het geweet dat hulle nie een van die byname wat ander hulle gegee het, soos Russelliete, “Millennial Dawnists” en “no hellers”, kon aanneem nie.c Maar hulle het ook begin besef dat die naam wat hulle self aangeneem het—Internasionale Bybelstudente—hulle nie tot hulle reg laat kom het nie. Hulle was veel meer as net Bybelstudente. Daar was buitendien baie ander wat studente van die Bybel was, maar wat niks met die Bybelstudente gemeen gehad het nie.
15. Watter naam het die Bybelstudente in 1931 aangeneem, en waarom is dit gepas?
15 Hoe het die Bybelstudente ’n nuwe naam gekry? Die Wagtoring het reeds jare lank Jehovah se naam onder mense se aandag gebring. Derhalwe was dit heel gepas dat die Bybelstudente die naam aangeneem het wat in Jesaja 43:10 aangetref word: “Júlle is my getuies, spreek [Jehovah, NW], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.”
Regverdiging en die “groot skare”
16. Waarom kon die herstellingsprofesieë nie op die natuurlike Jode se terugkeer na Palestina van toepassing wees nie, maar op wie is dit van toepassing?
16 In deel twee van Regverdiging, wat in 1932 deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, het ’n flits van lig geopenbaar dat die herstellingsprofesieë wat deur Jesaja, Jeremia, Esegiël en ander profete opgeteken is nie (soos vroeër gemeen is) van toepassing was op die vleeslike Jode, wat in ongeloof en met politieke beweegredes na Palestina teruggekeer het nie. Maar hierdie herstellingsprofesieë, wat ’n kleiner vervulling gehad het toe die Jode in 537 v.G.J. uit Babiloniese gevangenskap teruggekeer het, het hulle groter vervulling in geestelike Israel se bevryding en herstel sedert 1919 gehad en in die gevolglike voorspoed in die geestelike paradys wat Jehovah se ware knegte vandag geniet.
17, 18. (a) Hoe is daar mettertyd deur ’n flits van lig getoon wat Jehovah se hoofdoel is? (b) Watter flits van lig omtrent Openbaring 7:9-17 het in 1935 plaasgevind?
17 Mettertyd het flitse van lig geopenbaar dat Jehovah se hoofdoel nie die redding van mense nie, maar die regverdiging van sy soewereiniteit is. Daar is gesien dat die belangrikste tema van die Bybel nie die losprys nie, maar die Koninkryk is, aangesien dit Jehovah se soewereiniteit gaan regverdig. Wat ’n flits van lig was dit tog nie! Dit was nie meer vir toegewyde Christene die hoofsaak dat hulle in die hemel kom nie.
18 In 1935 het ’n helder flits van lig geopenbaar dat die groot skare wat in Openbaring 7:9-17 gemeld word nie ’n ondergeskikte hemelse klas is nie. Daar is eers gemeen dat diegene wat in daardie verse gemeld word party van die gesalfdes is wat nie heeltemal getrou was nie en dus voor die troon gestaan het pleks van op trone te sit en as konings en priesters saam met Jesus Christus te heers. Maar daar bestaan eenvoudig nie iets soos gedeeltelike getrouheid nie. Iemand is óf getrou óf ontrou. Daar is dus gesien dat hierdie profesie betrekking het op die ontelbare groot skare uit alle nasies wat nou versamel word en ’n aardse hoop het. Hulle is “die skape” van Matteus 25:31-46 en die “ander skape” van Johannes 10:16.
Die kruis—nie ’n Christelike simbool nie
19, 20. Waarom kan die kruis nie ’n simbool van die ware Christelike godsdiens wees nie?
19 Die Bybelstudente het baie jare lank aan die kruis as ’n simbool van die Christelike godsdiens prominensie verleen. Hulle het selfs ’n “kruis-en-kroon”-kenteken gehad. Volgens die King James Version het Jesus sy volgelinge gevra om hulle “kruis” op te neem, en baie het gevolglik geglo dat hy aan ’n kruis tereggestel is (Matteus 16:24; 27:32). Hierdie simbool het ook dekades lank op die voorblad van die tydskrif die Watch Tower verskyn.
20 Die boek Rykdom, wat in 1936 deur die Genootskap uitgegee is, het dit duidelik gestel dat Jesus Christus nie aan ’n kruis nie, maar aan ’n regop paal tereggestel is. Volgens een gesaghebbende beteken die Griekse woord (stau·rosʹ) wat in die King James Version met “kruis” weergegee word “hoofsaaklik ’n regop spar of staak. [Dit moet] onderskei word van die kerklike vorm van ’n kruis met twee balke. . . . Laasgenoemde het in eertydse Galdea ontstaan en is as die simbool van die god Tammus gebruik.” Die instrument waaraan Jesus genael is, moenie verafgod word nie; inteendeel, dit moet met afsku bejeën word.
21. Wat gaan in die volgende artikel bespreek word?
21 Daar is verdere voorbeelde van groot flitse van lig sowel as van dié wat moontlik as klein beskou word. Sien asseblief die volgende artikel vir ’n bespreking hiervan.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Mettertyd is daar gesien dat ons geen verjaarsdag moet vier indien die belangrikste geboorte wat tot nog toe plaasgevind het nie gevier kan word nie. Boonop het nóg die Israeliete nóg die vroeë Christene verjaarsdae gevier. Die Bybel meld slegs twee verjaarsdae, Farao s’n en Herodes Antipas s’n. Albei vierings is deur ’n teregstelling bederf. Jehovah se Getuies vier nie verjaarsdae nie, aangesien hierdie vierings van heidense oorsprong is en gewoonlik dié vereer wat verjaar.—Genesis 40:20-22; Markus 6:21-28.
c Etlike van die Christendom se kerke het hierdie fout begaan. Lutheraan was ’n bynaam wat vyande van Martin Luther sy aanhangers gegee het, ’n naam wat hulle toe aangeneem het. Die Baptiste het eweneens die bynaam aangeneem wat buitestanders hulle gegee het omdat hulle doop deur onderdompeling verkondig het. Metodiste het op min of meer dieselfde manier ’n naam aangeneem wat ’n buitestander hulle gegee het. The World Book Encyclopedia meld hoe die Genootskap van Vriende die naam Kwakers (Quakers) gekry het en sê: “Die woord Quaker is oorspronklik as ’n belediging vir Fox [die stigter] bedoel, wat vir ’n Engelse regter gesê het dat hy ‘vir die Woord van die Here moet bewe’. Die regter het Fox ’n ‘quaker’ genoem.”
Onthou jy?
◻ Wie is “die getroue en verstandige slaaf”, en wie is die “huisknegte”?
◻ Wat was party van die vroeë flitse van lig in hedendaagse tye?
◻ Waarom was die nuwe naam, Jehovah se Getuies, gepas?
◻ Watter merkwaardige waarhede is in 1935 geopenbaar?
[Prent op bladsy 17]
C. T. Russell en sy medewerkers het geestelike lig versprei, maar alle eer is aan Jehovah gegee