Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Brasilië
BRASILIË is in baie opsigte ’n reusagtige land. Wat grootte sowel as bevolking betref, is dit die vyfde grootste land in die wêreld. Dit beslaan bykans die helfte van die land-oppervlakte van Suid-Amerika en het meer inwoners as al die ander lande van daardie vasteland tesame. Brasilië het ook die grootste reënwoud ter wêreld. Die magtigste rivier op aarde—die Amasone—vloei deur daardie woud.
Brasilië is ook in ’n ander opsig ’n reus. Daar is bykans 400 000 verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk, en verlede jaar het meer as 1 000 000 die herdenking van Christus se dood bygewoon. Hierdie land is dus veral merkwaardig wanneer dit by die Koninkrykspredikingswerk kom. Onlangse ondervindinge lig dit toe.
Hulle dien waar daar hulp nodig is
Antonio en sy vrou het die moeilike besluit geneem om hulle familielede en ’n veilige, goed besoldigde werk in Sao Paulo agter te laat om te gaan dien in die staat Minas Gerais waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Hulle gebied het ’n werkersgemeenskap by ’n suikerraffinadery ingesluit. Die eerste dag wat hulle daar getuig het, het hulle nege Bybelstudies begin. Binne 18 maande het hulle meer as 40 studies gehou!
Vergaderinge is in die begin reg in die raffinadery gehou. Maar die nuwe verkondigers wou ’n regte Koninkryksaal sien. ’n Bus is dus gehuur om 75 mense na die naaste gemeente te neem. Later is daar ’n byeenkoms gehou; 45 van die nuwe Bybelstudente het dit bygewoon en onderhoude is met hulle gevoer. Vyftien van hulle is by daardie geleentheid gedoop. Dit is onnodig om te sê dat vreugdetrane vryelik gevloei het!
Dieselfde busmaatskappy is vir soortgelyke ritte gebruik, en die amptenare het die busgeld goedkoper gemaak. Uit waardering het Antonio vir die eienaar van die maatskappy ’n Bybelstudiehulp gegee. Hy het ingestem om daardie selfde aand die Bybel te begin bestudeer en is ná etlike maande van ywerige studie gedoop. Sy vrou het die studie in die begin teëgestaan, maar haar gesindheid het mettertyd versag. Vandag is sy ook ’n gedoopte Getuie van Jehovah.
In Februarie 1992 is ’n gemeente met 22 bedrywige verkondigers gestig. Teen 1994 het hierdie getal tot 42 toegeneem, met 4 gewone pioniers, of voltydse verkondigers van die goeie nuus. Antonio het gevolglik tot die slotsom gekom: “Ek en my vrou het gesien dat, soos Maleagi 3:10 sê, ‘Jehovah ’n oorvloedige seën op ons sal uitstort’ as ons ‘hom beproef’.”
Hulle bied Bybellektuur aan
Die feit dat die Getuies by elke geleentheid Bybellektuur aanbied, is miskien nog ’n rede waarom die predikingswerk in Brasilië so vinnig vorder. Een gemeente het byvoorbeeld aan die Wagtoringgenootskap se takkantoor geskryf en 250 eksemplare van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gevra. Waarom so ’n groot bestelling?
Die brief het verduidelik: ‘Een van die skole in die dorp het besluit om hierdie boek as onder-rigmateriaal in een van die klasse te gebruik. Die skoolowerheid se besluit is te danke aan die informele getuieniswerk wat die ouers van die leerlinge wat Getuies van Jehovah is en een van die skoolbeamptes gedoen het. Mag Jehovah voortgaan om sy knegte te seën terwyl hulle uitstekende onderrigting met behulp van hierdie boek voorsien.’ Ja, en mag Jehovah voortgaan om die uitstekende vordering van die Koninkrykspredikingswerk in die reusagtige land Brasilië te seën.
[Venster op bladsy 8]
OORSIG
1994-diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 385 099
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 404
GEDENKMAALOPKOMS: 1 018 210
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 38 348
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 461 343
AANTAL GEDOOP: 24 634
AANTAL GEMEENTES: 5 928
TAKKANTOOR: CESÁRIO LANGE
[Prent op bladsy 9]
’n Klankmotor wat omstreeks 1940 in Sao Paulo gebruik is
[Prent op bladsy 9]
Getuieniswerk in die Botaniese Tuin in Rio de Janeiro
[Prent op bladsy 9]
Takkantoor in Cesário Lange