Die tye het verander
WAT ’n vreugde moes dit tog gewees het om in eertydse Israel onder die glorieryke bewind van die getroue koning Salomo te leef! Dit was ’n tydperk van vrede, voorspoed en geluk. Gedurende die tyd toe Salomo ferm standpunt ingeneem het vir ware aanbidding, het Jehovah die nasie oorvloedig geseën. God het vir koning Salomo nie alleen groot rykdom gegee nie, maar ook “’n wyse en verstandige hart” sodat Salomo in regverdigheid en liefde kon heers (1 Konings 3:12). Die Bybel sê: “Al die konings van die aarde het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het.”—2 Kronieke 9:23.
Jehovah het aan die volk veiligheid, vrede en ’n oorvloed van goeie dinge gegee. God se Woord sê: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly.” Die volk het letterlik sowel as figuurlik ‘veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, al die dae van Salomo’.—1 Konings 4:20, 25.
Die tye het verander. Vandag is die lewe heeltemal anders as in daardie gelukkige dae van lank gelede. Anders as in die tyd van Salomo is armoede vandag ’n groot probleem. Selfs in ryk nasies is daar armoede. Byvoorbeeld, volgens die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram lewe byna 15 persent van die mense in die Verenigde State sowel as in die Europese Unie in armoede.
Aangaande die wêreldwye prentjie berig The State of the World’s Children 1994, ’n verslag deur UNICEF (Verenigde Nasies-kinderfonds), dat ’n vyfde van die wêreld se bevolking in absolute armoede lewe, en dit sê voorts dat die lewe vir die meeste van die wêreld se armes “al hoe moeiliker en wanhopiger” word.
In sommige lande dra inflasie wat die hoogte inskiet tot die armes se probleme by. In een Afrikaland het ’n vrou gesê: “Jy sien iets by die mark en jy sê: ‘Goed, laat ek huis toe gaan en geld kry om dit te koop.’ As jy ’n uur later terugkom, word daar vir jou gesê jy kan dit nie meer koop nie, want die prys is so pas verhoog. Wat gaan ’n mens doen? Dit is baie frustrerend.”
’n Ander vrou in daardie land het gesê: ‘In ’n poging om te oorleef, vergeet ons van ander behoeftes. Hoe om kos te bekom, is nou al waaroor ons bekommerd is.’
Volgens die Verenigde Nasies lyk die toekoms duister. UNICEF raam byvoorbeeld dat die getal arm mense oor die hele wêreld “binne ’n enkele lewensduur” sal verviervoudig as die huidige bevolkingstendens voortduur.
Tog het God se knegte, ondanks verslegtende ekonomiese en maatskaplike toestande, rede om optimisties te wees. Hoewel God se knegte onder diegene lewe wat die toekoms met al hoe meer pessimisme beskou, vestig hulle met vreugde en vertroue hulle oë op die toekoms. Die volgende artikel sal die redes hiervoor ondersoek.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
De Grunne/Sipa Press