Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/1 bl. 20-24
  • Ons ryk geestelike erfenis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons ryk geestelike erfenis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My pa se vroeë jare
  • Na Oos-Afrika
  • Liefdevolle Christelike opvoeding
  • Getrou tot die einde toe
  • Ons ouers het ons geleer om God lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ’n Seldsame Christelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ek volg in my ouers se voetstappe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Sê nou my ouer is siek?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/1 bl. 20-24

Ons ryk geestelike erfenis

SOOS VERTEL DEUR PHILLIP F. SMITH

“’n Fakkel is aangesteek wat deur donker Afrika sal brand.” Hoe verheug was ons tog toe ons die woorde hierbo op bladsy 75 van die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses gelees het! Hierdie woorde is in 1931 deur my oupa, Frank W. Smith, in ’n brief aan broer Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, geskryf. My oupa het geskryf om verslag te doen oor ’n predikingsreis wat hy en sy broer onderneem het.

DIE 1992 Yearbook het verduidelik: “Gray Smith en sy ouer broer Frank, twee moedige pionierbedienaars van Kaapstad, het na Brits-Oos-Afrika vertrek om die moontlikhede te ondersoek om die goeie nuus daar te versprei. Hulle het ’n motor geneem, ’n De Soto wat hulle in ’n kampeerwa (motorwoning) omskep het, dit saam met 40 kartondose vol boeke op ’n skip gelaai en na Mombassa, Kenia se hawe, geseil.”

In sy brief aan broer Rutherford het my oupa die reis van Mombassa na Nairobi, Kenia se hoofstad, beskryf: “Ons het op ’n motorrit vertrek wat die ergste nagmerrie van my lewe was. Dit het vier dae geduur, en ons het elke dag die heeldag gery, om 360 myl [580 km] af te lê . . . Ek moes [kilometer ná kilometer] uitklim en met ’n graaf walle gelykmaak, gate opvul asook olifantsgras sny en bome afkap om moerasagtige plekke op te vul sodat die wiele vastrapplek kon kry.”

Nadat hulle Nairobi bereik het, het Frank en Gray 21 dae aaneen gewerk om hulle Bybellektuur te versprei. “Te oordeel na wat ons hoor”, het my oupa geskryf, “het die werk ’n opskudding in godsdienstige Nairobi veroorsaak.” My oupa was daarna gretig om terug te keer huis toe, na sy tweejarige seun, Donovan, en sy vrou, Phyllis, wat hulle tweede kind, my pa, Frank, verwag het. My oupa het die eerste beskikbare skip van Mombassa af geneem, maar hy is dood aan malaria voor hy by die huis gekom het.

Terwyl ek, my suster en my broer oor daardie jaarboekverslag nagedink het, het ons aan ons dierbare pa teruggedink. In 1991, slegs ’n paar maande voor ons die 1992 Yearbook ontvang het, het hy weens komplikasies ná ’n hartoperasie gesterf. Hoewel hy nooit sy pa geken het nie, het hy dieselfde innige liefde as sy pa vir Jehovah gehad. Hoe verheug sou my oupa tog gewees het om te weet dat sy seun 28 jaar later, in 1959, sy voetspoor as ’n Christenbedienaar in Oos-Afrika sou volg!

My pa se vroeë jare

My pa is op 20 Julie 1931 in Kaapstad gebore, twee maande ná die dood van sy eie pa, na wie hy vernoem is. Van jongs af het my pa sy liefde vir Jehovah geopenbaar. Toe hy maar net nege was, het hy by die hoofstasie in Kaapstad gestaan en plakkaatwerk gedoen terwyl sy skoolmaats met hom gespot het. Op 11-jarige ouderdom het hy sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Soms is my pa ’n hele straat gegee waarin hy op sy eie moes getuig. Toe hy 18 was, het hy die Wagtoring-studie met ’n groep bejaarde Christensusters in ’n voorstad van Kaapstad gehou.

In 1954 het die Wagtoringgenootskap aangekondig dat internasionale byeenkomste die volgende jaar in Europa gehou sou word. My pa wou baie graag gaan, maar hy het nie genoeg geld gehad om van Kaapstad daarheen te reis nie. Hy het dus ’n kontrak aangegaan om drie maande lank as ’n skeikundige in die kopermyne in Noord-Rhodesië (nou Zambië) te gaan werk. Die fasiliteite waar die keuring van mineraalerts gedoen is, was in die Afrikabos.

My pa het geweet dat daar baie swart Getuies in Noord-Rhodesië was, en toe hy daar aankom, het hy dus na hulle gesoek en uitgevind waar hulle hulle vergaderinge hou. Hoewel hy nie die plaaslike taal kon praat nie, het hy nogtans met hulle geassosieer en gereeld die vergaderinge van die Myn-gemeente van Jehovah se Getuies bygewoon. Blankes by die myne het rassevooroordeel gekoester en het dit getoon deur dikwels op die swart werkers te skreeu en te skel. My pa was egter altyd vriendelik.

Aan die einde van die drie maande het ’n swart werker wat nie ’n Getuie was nie na my pa toe gekom en gevra: “Weet jy wat noem ons jou?” Die man het geglimlag en gesê: “Ons noem jou Bwana [mnr.] Wagtoring.”

In 1955 kon my pa die “Triomfantelike Koninkryk”-Byeenkomste in Europa bywoon. Daar het hy Mary Zahariou ontmoet wat die daaropvolgende jaar sy vrou geword het. Ná hulle troue het hulle hulle in Parma, Ohio, VSA, gevestig.

Na Oos-Afrika

Gedurende ’n streekbyeenkoms in die Verenigde State is ’n uitnodiging aan byeenkomsgangers gerig om te gaan dien waar daar meer bedienaars nodig was. Ons ouers het besluit om na Oos-Afrika te gaan. Hulle het presies gedoen wat die Wagtoringgenootskap aanbeveel het. Hulle het genoeg geld gespaar om retoerkaartjies te koop, ingeval my pa nie werk kon kry nie, aangesien slegs diegene met werkpermitte toegelaat is om in daardie gebied te woon.

Nadat hulle paspoorte en visums gekry het en ingeënt is, het my pa en ma in Julie 1959 op ’n handelskip van die stad New York via Kaapstad na Mombassa geseil. Die reis het vier weke geduur. In Mombassa is hulle by die hawe hartlik deur Christenbroers verwelkom wat voor hulle gekom het om te dien waar daar hulp nodig was. Toe hulle in Nairobi aankom, was daar ’n brief vir my pa. Dit was ’n antwoord op sy aansoek om ’n betrekking as ’n skeikundige by die Geologiese Departement van Landmeetkunde in Entebbe, Uganda. My pa en ma het die trein na Kampala, Uganda, geneem waar my pa ’n onderhoud gehad het en aangestel is. Destyds was daar net een ander Getuie in die Entebbe-Kampala-gebied, George Kadu.

Die koloniale regering het betaal sodat my pa die plaaslike taal, Luganda, kon leer. Hy was verheug, aangesien hy van plan was om dit in elk geval te leer sodat hy groter welslae in die bediening kon behaal. Later het my pa selfs met die vertaling van die boekie “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk” in Luganda gehelp.

My pa het vreesloos vir ander getuig. Hy het met al die blankes in sy departement gepraat, en hy het gereeld vir die Ugandese getuig. Hy het selfs vir die Ugandese Minister van Justisie getuig. Die man het nie net na die Koninkryksboodskap geluister nie, maar selfs my pa en ma vir ete genooi.

My suster, Anthe, is in 1960 gebore, en ek in 1965. Ons gesin het baie lief geword vir die broers en susters in die klein maar groeiende gemeentetjie in die hoofstad, Kampala. As die enigste blanke Getuies in nabygeleë Entebbe, het ons ’n paar interessante ondervindinge gehad. ’n Vriend van my pa het op ’n keer ’n onverwagse besoek aan Entebbe gebring en met my pa in aanraking probeer kom. Hy was onsuksesvol totdat hy gevra het: “Ken jy die blanke-egpaar hier wat Jehovah se Getuies is?” Die persoon het hom onmiddellik na my ma en pa se huis toe gebring.

Ons het ook moeilike ondervindinge gehad, en onder andere twee gewapende opstande deurgemaak. Regeringsmagte het op ’n stadium enigiemand geskiet wat aan ’n sekere etniese groep behoort het. Daar was dag en nag ononderbroke skietery. Aangesien daar ’n aandklokreël tussen 6:00 nm. en 6:00 vm. was, is die vergaderinge in die middae in my ouers se huis in Entebbe gehou.

Later, toe die aandklokreël opgehef is, het my pa ons na Kampala geneem vir die Wagtoring-studie. ’n Soldaat het ’n geweer op ons gerig, ons motor gestop en daarop aangedring om te weet waarheen ons gaan. Ek was toe maar nog ’n baba, en Anthe was vyf. Toe my pa kalm vir hom verduidelik het waarheen ons gaan, en ons Bybels en lektuur vir hom gewys het, het hy ons laat gaan.

In 1967, ná byna agt jaar in Uganda, het ons ouers besluit om weens gesondheidsprobleme en gesinsverantwoordelikhede na die Verenigde State terug te keer. Ons het deel van die Canfield-gemeente, in Ohio, geword, waar my pa as ’n ouer man gedien het. Daar het my ouers net so lief vir die broers geword soos wat hulle vir die klein gemeentetjie in Kampala was.

Liefdevolle Christelike opvoeding

In 1971 is my broer David gebore. Tuis is ons grootgemaak in ’n atmosfeer vol liefde en hartlikheid. Dit het ongetwyfeld uit ons ouers se liefdevolle verhouding met mekaar voortgespruit.

Toe ons klein was, het my pa altyd vir ons ’n Bybelverhaal teen slapenstyd gelees, gebid en dan, sonder dat my ma daarvan geweet het, vir elkeen van ons ’n sjokoladelekker gegee wat in ’n blink goue papiertjie toegedraai was. Ons het altyd ons Wagtoring as ’n gesin saam bestudeer, ongeag waar ons ook al was. Terwyl ons gesin met vakansies was, het ons dit eenkeer op ’n berghang bestudeer en by ’n ander geleentheid terwyl ons oor die oseaan uitgekyk het. My pa het dikwels gesê dat dit van sy gelukkigste herinneringe was. Hy het gesê dat hy jammer is vir diegene wat nie die groot vreugde van ’n gesinstudie ervaar het nie.

My pa het ons deur sy voorbeeld geleer hoe om liefde aan Jehovah te toon. Elke keer as daar ’n nuwe nommer van Die Wagtoring of Ontwaak! gekom het of as ons nog ’n Wagtoringpublikasie ontvang het, het my pa dit gretig van voor tot agter gelees. Ons het by hom geleer dat ons nie Bybelwaarhede ligtelik moet beskou nie, maar dit as ’n kosbare skat moet waardeer. Een van ons kosbaarste besittings is my pa se naslaanbybel. Feitlik elke bladsy is vol aantekeninge van punte wat hy in sy studies geleer het. As ons vandag van sy kantaantekeninge lees, is dit amper asof ons nog kan hoor hoe hy ons leer en raad gee.

Getrou tot die einde toe

Op 16 Mei 1991, terwyl hy velddiens gedoen het, het my pa ’n hartaanval gehad. ’n Paar weke later het hy ’n opehartoperasie gehad en dit het na ’n sukses gelyk. Maar gedurende die nag ná die operasie het ons ’n oproep van die hospitaal ontvang. My pa het gebloei en die dokters was baie bekommerd. Daardie nag het hulle weer twee keer op hom geopereer om die bloeding te probeer stop, maar tevergeefs. My pa se bloed wou nie stol nie.

Die volgende dag, terwyl my pa se toestand vinnig agteruitgegaan het, het die dokters eers my ma en toe my jonger broer eenkant toe geneem en druk op hulle geplaas om toe te stem dat my pa ’n bloedoortapping kry. My pa het egter vooraf vir die dokters gesê dat hy onder geen omstandighede ’n bloedoortapping sou aanvaar nie. Hy het sy skriftuurlike redes waarom hy bloed weier aan hulle verduidelik, maar gesê dat hy bloedlose alternatiewe behandeling sou aanvaar.—Levitikus 17:13, 14; Handelinge 15:28, 29.

’n Onderliggende vyandigheid aan die kant van verskeie mediese personeellede het ’n baie gespanne atmosfeer in die waakeenheid geskep. Dit, tesame met my pa se verslegtende toestand, was soms byna te veel om te hanteer. Ons het Jehovah om hulp gesmeek en ook die praktiese wenke wat ons ontvang het, probeer toepas. Ons was dus altyd goed geklee en beleef teenoor die mediese personeel wanneer ons die waakeenheid besoek het. Ons het ’n opregte belangstelling in my pa se toestand getoon deur betekenisvolle vrae te vra, en ons het elke personeellid bedank wat by die versorging van my pa betrokke was.

Die mediese personeel het ons pogings waardeer. Binne ’n paar dae het die gespanne atmosfeer na ’n vriendelike atmosfeer verander. Die verpleegsters wat my pa versorg het, het bly inloer om te sien hoe hy vorder, al was hulle nie meer verantwoordelik vir sy versorging nie. Een dokter wat baie onbeskof teenoor ons was, het so verander dat hy my ma selfs gevra het hoe dit met haar gaan. Ons gemeente en familie het ons ook liefdevol ondersteun. Hulle het kos en baie kaartjies van vertroosting gestuur, en hulle het vir ons gebid.

My pa het ongelukkig nooit op die behandeling gereageer nie. Hy het tien dae ná sy eerste operasie gesterf. Ons is diep bedroef oor my pa. Met tye is die gevoel van verlies oorweldigend. Gelukkig belowe ons God ons dat hy ‘daagliks die pak vir ons sal dra’ en ons het geleer om soos nooit tevore nie op hom te vertrou.—Psalm 68:19, NW.

Ons is almal vasbeslote dat ons ook sal voortgaan om Jehovah getrou te dien sodat ons die vreugde sal smaak om my pa in die nuwe wêreld te sien.—Markus 5:41, 42; Johannes 5:28; Handelinge 24:15.

[Prent op bladsy 21]

Frank Smith by sy ma, Phyllis, in Kaapstad

[Prent op bladsy 22]

My pa en ma met hulle troue

[Prent op bladsy 23]

Met die eerste doopplegtigheid in Entebbe het die broers ’n hoofman se swembad gehuur

[Prent op bladsy 23]

Die gebruiklike groet

[Prent op bladsy 24]

My pa en ma kort voor my pa se dood

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel