Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 10/1 bl. 19-24
  • Ek volg in my ouers se voetstappe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek volg in my ouers se voetstappe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My pa se ywer vir die Koninkryk
  • My ma se getroue diens
  • Jeugdige diens
  • Die Tweede Wêreldoorlog breek uit
  • Genotvolle voltydse diens
  • Ons ryk geestelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Seldsame Christelike erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ons ouers het ons geleer om God lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • “Ek sou niks verander nie!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 10/1 bl. 19-24

Ek volg in my ouers se voetstappe

SOOS VERTEL DEUR HILDA PADGETT

“My lewe is aan die diens van die Allerhoogste gewy”, het die persberig gelui, “en ek kan nie twee here dien nie.” Daardie woorde uit my verklaring aan die owerheid van die Britse Ministerie van Arbeid en Diensplig in 1941 het die rede verstrek waarom ek geweier het om op hulle bevel gedurende die Tweede Wêreldoorlog hospitaaldiens te doen. Kort daarna is ek skuldig verklaar en weens my weiering tot drie maande gevangenisstraf gevonnis.

WAT het my in hierdie penarie laat beland? Nee, dit was nie die een of ander jeugdige gier of opstandige gedrag nie. Die redes kom eerder uit die tyd toe ek maar net ’n kind was.

My pa se ywer vir die Koninkryk

Ek is op 5 Junie 1914 in Horsforth naby Leeds, in die noorde van Engeland, gebore. My ouers, Atkinson en Pattie Padgett, was Sondagskoolonderwysers en koorlede by die Primitiewe Metodistekerk waar my pa die orrel gespeel het. Toe ek ’n baba was, was ons huis ’n gelukkige plek met die uitsondering van een ding. My pa was bekommerd oor wêreldtoestande. Hy het oorlog en geweld gehaat en aan die Bybelgebod geglo: “Jy mag nie doodslaan nie.”—Exodus 20:13.

In 1915 het die regering alle jong manne aangespoor om vrywillig by die leër aan te sluit en dus te voorkom dat hulle opgeroep word. My pa het met sekere bedenkinge heeldag in die reën gestaan en sy beurt afgewag om as ’n soldaat te registreer. Net die dag daarna is sy hele lewe verander!

Terwyl hy as ’n loodgieter by ’n groot huis gewerk het, het hy met ander werkers oor wêreldgebeure gepraat. Die tuinier het vir hom ’n traktaatjie, Gathering the Lord’s Jewels, gegee. My pa het dit huis toe geneem, gelees en weer gelees. “As dít die waarheid is”, het hy gesê, “dan is alle ander dinge verkeerd.” Die daaropvolgende dag het hy om meer inligting gevra en drie weke lank die Bybel tot in die vroeë oggendure bestudeer. Hy het geweet dat hy die waarheid gevind het! Sy dagboekinskrywing vir Sondag, 2 Januarie 1916, lui: “Het die oggend Kerk toe gegaan, het die aand na die I.B.S.A. [Internasionale Bybelstudente-vereniging, soos Jehovah se Getuies destyds in Engeland bekend gestaan het] gegaan—Hebreërs 6:9-20 bestudeer—my eerste besoek aan die broeders.”

Teenstand het spoedig ontstaan. Ons familielede en kerkvriende het gedink my pa is van sy sinne beroof. Maar hy het tot ’n besluit gekom. Hy het vir die vergaderinge en vir studie gelewe, en teen Maart het hy sy toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Nadat my pa ’n paar weke lank alleen vergaderinge toe gegaan het, het my ma genoeg gehad. Sy het my in my kinderwaentjie gesit en die agt kilometer na Leeds geloop, waar sy opgedaag het net toe die vergadering oor was. Jy kan jou my pa se vreugde voorstel. Ons gesin was van toe af in Jehovah se diens verenig.

My pa was in ’n baie moeilike posisie—binne ’n paar weke het hy van ’n vrywilliger in die leër na ’n gewetensbeswaarde verander. Toe hy opgeroep is, het hy geweier om ’n vuurwapen te hanteer, en teen Julie 1916 is hy voor die eerste van vyf krygshowe gedaag waar hy tot 90 dae gevangenisstraf gevonnis is. Nadat hy die eerste vonnis uitgedien het, het my pa twee weke verlof gehad; daarna is hy voor nog ’n krygshof gedaag en het hy nog 90 dae in die gevangenis deurgebring. Ná sy tweede straftermyn is hy na die Britse Leër se Mediese Korps verplaas, en op 12 Februarie 1917 het hy met ’n troepeskip na Rouaan, Frankryk, gevaar. Volgens sy dagboek het hy daar elke dag ’n groter afkeer van sy situasie gekry. Hy het besef dat hy bloot soldate reggedokter het om terug te gaan en te veg.

Hy het weer geweier om daarmee saam te gaan. Hierdie keer het die krygshof hom tot vyf jaar in die Britse militêre gevangenis in Rouaan gevonnis. Toe my pa bly vra het om as ’n gewetensbeswaarde na ’n burgerlike gevangenis oorgeplaas te word, is hy met drie maande van brood en water gestraf, wat gevolg is deur gewone gevangeniskos totdat sy gewig toegeneem het; daarna is die hele proses herhaal. Sy hande is bedags agter sy rug geboei, en snags en met etenstye is sy hande voor hom geboei. Sy hele lewe lank het hy die littekens op sy gewrigte gehad waar die boeie wat te klein was sy vleis vasgeklem het en lopende sere tot gevolg gehad het. Hy het ook voetboeie gehad wat met sy middel verbind was.

Die leërowerheid het alles in hulle vermoë gedoen om sy moed te breek, maar tevergeefs. Hulle het sy Bybel en boeke by hom afgeneem. Hy kon geen briewe van die huis af ontvang en ook nie enige briewe stuur nie. Ná twee jaar het hy besluit om te demonstreer hoe ernstig hy oor sy standpunt is deur op ’n eetstaking te gaan. Hy het sewe dae by sy besluit gebly en nie geëet of gedrink nie; die gevolg was dat hy in ’n ernstige toestand na die gevangenishospitaal oorgeplaas is. Hy het bewys dat hy ernstig was, hoewel hy byna sy lewe as gevolg daarvan verloor het. In latere jare het hy erken dat dit verkeerd van hom was om sy lewe op hierdie manier in gevaar te stel en dat hy nooit weer so iets sou doen nie.

Die oorlog het in November 1918 geëindig terwyl my pa steeds in die gevangenis in Rouaan was, maar vroeg die daaropvolgende jaar is hy na ’n burgerlike gevangenis in Engeland oorgeplaas. Stel jou sy vreugde voor toe hy al die opgehoopte briewe en pakkies van my ma ontvang het, tesame met sy kosbare Bybel en boeke! Hy is na Winchester-gevangenis geneem, waar hy ’n jong broer teëgekom het wat soortgelyke ondervindinge gedurende die oorlog gehad het. Sy naam was Frank Platt, wat later jare lank by die Londense Bethel gedien het. Hulle het reëlings getref om die volgende dag te ontmoet, maar teen daardie tyd is Frank na ’n ander plek oorgeplaas.

Op 12 April 1919 het my ma ’n telegram ontvang: “Halleluja! Ek kom huis toe—ek skakel Londen.” Wat ’n tyd van vreugde was dit tog ná drie jaar van toetsing, beproewing en skeiding! My pa se eerste gedagte was om die broers by die Londense Bethel te skakel en hulle te ontmoet. By Craven Terrace 34 is hy hartlik verwelkom. Nadat my pa gebad en geskeer het, het hy in ’n geleende pak en hoed teruggekeer huis toe. Kan jy jou ons reünie voorstel? Ek was toe amper vyf en kon hom nie onthou nie.

Die eerste vergadering wat my pa bygewoon het nadat hy sy vryheid verkry het, was die Gedenkmaal. En wie ontmoet hy toe op die trap van die saal? Frank Platt, wat na ’n militêre hospitaal in Leeds oorgeplaas is. Hoe verheug was hulle tog om hulle ondervindinge vir mekaar te vertel! Van toe af tot hy ontslaan is, het ons huis Frank se tweede huis geword.

My ma se getroue diens

Al die tyd wat my pa nie daar was nie, het my ma ander se wasgoed gewas om haar karige inkomste van die owerheid aan te vul. Die broers was so goed vir ons. Elke paar weke het een van die gemeentelike ouer manne vir haar ’n koevertjie met ’n naamlose geskenk daarin gegee. My ma het altyd gesê dat dit die liefde van die broers was wat haar na aan Jehovah gebring het en haar gehelp het om daardie moeilike tye te deurstaan. Sy het al die tyd wat my pa nie daar was nie die gemeentelike vergaderinge getrou bygewoon. Haar swaarste toets was toe sy, meer as ’n jaar lank, nie geweet het of my pa nog lewe of dood is nie. As ’n bykomende las het ek en my ma albei in 1918 die Spaanse griep opgedoen. Mense oral om ons het gesterf. Bure wat bure gaan help het, het die siekte opgedoen en gesterf. Die voedselskaarste op daardie tydstip het ongetwyfeld bygedra tot die verswakking van mense se weerstand teen die besmetting.

Die apostel Petrus se woorde was so waar in ons gesin se geval: “Nadat julle ’n klein rukkie gely het, sal . . . God . . . julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak”! (1 Petrus 5:10). My ouers se lyding het in hulle ’n onwankelbare geloof in Jehovah gebou, ’n volkome versekering dat hy wel oor ons besorg is en dat niks ons van God se liefde kan skei nie. Ek was besonder geseënd om so ’n opvoeding in die geloof te hê.—Romeine 8:38, 39; 1 Petrus 5:7.

Jeugdige diens

Ná my pa se ontslag het Koninkryksdiens die middelpunt van ons lewe geword. Ek kan nie onthou dat ons ooit van ’n vergadering weggebly het nie, behalwe weens siekte. Kort ná sy terugkeer huis toe het my pa sy plaatkamera en my ma se goue armband verkoop om geld te kry om ’n streekbyeenkoms by te woon. Hoewel ons nie vakansies kon bekostig nie, het ons nooit hierdie samekomste oorgeslaan nie, met inbegrip van dié wat in Londen gehou is.

Die eerste twee of drie jaar ná die oorlog was tye van verkwikking. My pa en ma het alle geleenthede vir assosiasie ten volle benut. Ek onthou nog hoe ons ander broers en susters besoek het, en hoe ek as ’n dogtertjie gesit en verf en teken het terwyl die grootmense ure lank gesels het oor nuwe begrippe van die waarheid. Dit het hulle baie geluk verskaf en hulle verkwik om te gesels, saam om die orrel liedere te sing en aangename assosiasie te geniet.

My ouers het my baie streng grootgemaak. By die skool was dit duidelik dat ek anders was, selfs op vyfjarige ouderdom, want ek het my “Nuwe Testament” saamgeneem om te lees terwyl die klas die kategismus geleer het. Later moes ek voor die hele skool staan as ’n “gewetensbeswaarde” omdat ek nie aan die vierings van Wapenstilstandsdag wou deelneem nie.a Ek is nie spyt oor hoe ek grootgemaak is nie. Trouens, dit was ’n beskerming en het dit makliker gemaak om op die ‘nou pad’ te bly. Oral waar my ouers gegaan het, na vergaderinge of uit in die bediening, het ek gegaan.—Matteus 7:13, 14.

Ek onthou veral daardie Sondagoggend toe ek vir die eerste keer op my eie begin getuig het. Ek was net 12 jaar oud. Gedurende my tienerjare het ek een Sondagoggend gesê dat ek by die huis gaan bly. Niemand het my gekritiseer of gedwing om uit te gaan nie; ek het dus in die tuin gesit en my Bybel bestudeer terwyl ek glad nie gelukkig gevoel het nie. Ná ’n week of twee hiervan het ek vir my pa gesê: “Ek dink ek sal vanoggend saam met julle gaan!” Ek het van toe af vooruitgang bly maak.

Wat ’n wonderlike jaar was 1931 tog! Ons het nie net ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, aangeneem nie, maar ek is by ’n nasionale byeenkoms by Alexandra Palace, Londen, gedoop. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Ons het lang, swart gewade gedra en myne was nat omdat ’n ander kandidaat dit reeds gebruik het!

My doelwit as kind was altyd om ’n kolporteur, soos voltydse predikers toe bekend gestaan het, te wees. Namate ek ouer geword het, het ek gevoel dat ek meer in Jehovah se diens moet doen. Ek het dus in Maart 1933, toe ek 18 was, die voltydse diens betree.

Iets wat ons besondere vreugde verskaf het, was die “Pionierweke” in sekere groot stede, wanneer tot 12 voltydse knegte saamgekom, by plaaslike broers gebly en as ’n span gewerk het. Ons het boekies aan die godsdiensleiers en ander vooraanstaande manne gegee. Dit het moed geverg om hulle te nader. Ons is meestal verag, en die deur is in die gesig van baie van ons toegeklap. Maar dit het ons nie ontstel nie, want ons was so vol geesdrif dat ons ons verheug het om ter wille van Christus se naam gesmaad te word.—Matteus 5:11, 12.

In Leeds het ons ’n kinderwaentjie, ’n driewiel en my pa se motorfiets en sywaentjie, en later sy motor omskep om transkripsiemasjiene te vervoer. Twee broers het met die masjien na ’n straat gegaan, ’n musiekplaat gespeel om mense se aandag te trek en na hulle deure te laat kom, en vervolgens ’n toespraak van vyf minute gespeel wat deur broer Rutherford opgeneem is. Hulle het daarna na die volgende straat gegaan terwyl ons, die verkondigers, gevolg en Bybellektuur aangebied het.

Ons het jare lank, elke Sondagaand ná die vergadering, na die Stadsaalplein gegaan waar daar plek vir openbare sprekers was, en daar het ons ons ondersteuning gegee deur na een van die uurlange toesprake van broer Rutherford te luister, strooibiljette uit te deel en in aanraking te kom met enigeen wat belangstelling getoon het. Ons het daar goed bekend geword. Selfs die polisie het ons gerespekteer. Een aand het ons soos gewoonlik vergader toe ons in die verte die geluid van tromme en ’n orkes hoor. Weldra het ’n optog van sowat honderd Fasciste die straat af gekom. Hulle het agter om ons gemarsjeer en tot stilstand gekom met hulle vlae hoog in die lug. Die orkes het opgehou speel, en stilte het geheers net toe broer Rutherford se stem weergalm het: “Laat hulle hulle vlae salueer en redding aan mense toeskryf as hulle wil. Ons sal slegs Jehovah ons God aanbid en redding aan hom toeskryf!” Ons het gewonder wat volgende sou gebeur! Niks het gebeur nie, behalwe dat hulle ’n goeie getuienis gekry het en dat die polisie hulle stil laat bly het sodat ons die res van die openbare lesing kon hoor.

Teen dié tyd is die grammofoon in gebruik geneem om ons te help om ’n groot getuienis te gee. By die deur het ons ons oë stip op die plaat gehou sodat ons mense kon aanmoedig om die volle vyf minute na die opname van die Bybelpreek te luister. Huisbewoners het ons dikwels ingenooi en ons met graagte laat terugkom om nog plate te speel.

Die jaar 1939 was ’n baie besige en moeilike jaar, waartydens teenstand en geweld uitgebreek het. Voor een van ons streekbyeenkomste het die broers heelwat straataanvalle en oproerigheid ondervind. Gedurende die byeenkoms het hulle dus gereël dat ’n spesiale span broers in motors in die onrusgebiede getuig terwyl die susters en die ander broers gegaan het waar dit veiliger was. Terwyl ek met ’n groep in een van die strate gewerk het, het ek deur ’n gang geloop om die huise agter te besoek. Ek was by ’n deur toe ek hoor hoe ’n geraas ontstaan—in die straat was daar ’n geskreeu en ’n geroep. Ek het net aangehou praat met die persoon by die deur en die gesprek uitgerek totdat ek kon hoor dat dinge rustig is. Toe het ek deur die gang tot in die straat geloop waar ek uitgevind het dat die ander broers en susters paniekerig geraak het toe hulle my nie kon vind nie! Later daardie dag het die opstokers egter ons vergadering probeer ontwrig, maar hulle is deur die broers na buite gelei.

Die Tweede Wêreldoorlog breek uit

Teen dié tyd was diensplig van krag, en talle jong broers is van 3 tot 12 maande in die gevangenis gesit. My pa het toe die bykomende voorreg ontvang om ’n gevangenisbesoeker te wees. Elke Sondag het hy die Wagtoring-studie in die plaaslike gevangenis gehou. Woensdagaande het hy die broers in hulle selle besoek. Aangesien hy self so ’n lang en moeilike gevangenisondervinding gedurende die Eerste Wêreldoorlog gehad het, was hy veral bly om diegene te dien wat soortgelyke beproewinge verduur. Hy het dit 20 jaar lank gedoen, reg tot sy dood in 1959.

Teen 1941 het ons begin gewoond raak aan die verbittering en vyandigheid van baie mense teenoor ons neutrale posisie. Dit was nie maklik om op straat met die tydskrifte te staan en daaraan blootgestel te word nie. Terselfdertyd het ons ons verheug om die vlugtelinge wat in ons gebied gehuisves was te help. Letlanders, Pole, Estlanders, Duitsers—watter vreugde was dit tog om hulle oë te sien ophelder wanneer hulle Die Wagtoring of Vertroosting (nou die Ontwaak!) in hulle eie taal gesien het!

Toe het die tyd aangebreek dat ek verhoor is vir die neutrale standpunt wat ek gedurende die Tweede Wêreldoorlog ingeneem het. Ek was 19 uit elke 24 uur in my sel toegesluit en die gevangenislewe was vir my baie moeilik. Die eerste drie dae was die moeilikste, want ek was alleen. Die vierde dag is ek na die hoofsipier se kantoor ontbied waar ek twee ander meisies sien staan het. Een van die meisies het vir my gefluister: “Waarvoor is jy hier?” Ek het geantwoord: “Jy sal verbaas wees as jy uitvind.” Sy het deur stywe lippe gevra: “Is jy ’n Getuie?” Die ander meisie het haar gehoor en ons albei gevra: “Is julle Getuies?” en ons al drie het mekaar omhels. Ons was nie meer alleen nie!

Genotvolle voltydse diens

Nadat ek uit die gevangenis ontslaan is, het ek my voltydse diens voortgesit en ’n jong meisie van 16 wat pas die skool verlaat het, het haar by my aangesluit. Ons het na Ilkley, ’n pragtige dorp op die grens van die Yorkshire-vallei, verhuis. Ons het ses volle maande hard probeer om ’n geskikte plek vir ons vergaderinge te vind. Uiteindelik het ons ’n klein garage gehuur, wat ons in ’n Koninkryksaal omskep het. My pa het ons te hulp gekom en ligte en verwarming voorsien. Hy het ook die gebou vir ons geverf. Die nabygeleë gemeente het ons jare lank ondersteun deur broers toe te wys om elke week openbare toesprake te hou. Met Jehovah se seën het ons vooruitgang gemaak en gegroei, en uiteindelik is ’n gemeente gestig.

In Januarie 1959 het my pa skielik siek geword. Ek is gevra om huis toe te kom, en hy het in April gesterf. Die daaropvolgende jare was moeilik. My ma se gesondheid het ingegee en sy het ook haar geheue begin verloor, wat dit vir my moeilik gemaak het. Maar Jehovah se gees het my aan die gang gehou en ek kon vir haar sorg tot haar dood toe in 1963.

Ek het deur die jare heen soveel seëninge van Jehovah ontvang. Daar is te veel om te vertel. Ek het gesien hoe my tuisgemeente groei en vier keer verdeel, en hoe verkondigers en pioniers daarvandaan uitgestuur word—party as sendelinge na lande wat so ver soos Bolivia, Laos en Uganda uitmekaar is. Die geleentheid om te trou en gevestig te raak, het hom nooit werklik vir my voorgedoen nie. Dit het my nie hartseer gemaak nie; ek was te besig. Hoewel ek geen enkele bloedverwant het nie, het ek baie kinders en kleinkinders in die Here, selfs honderdvoudig.—Markus 10:29, 30.

Ek nooi dikwels jong pioniers en ander jongmense na my huis toe om Christenassosiasie te geniet. Ons berei die Wagtoring-studie saam voor. Ons vertel ook ondervindinge en sing Koninkryksliedere, soos my ouers altyd gedoen het. Aangesien ek tussen ’n vrolike groep jongmense is, behou ek ’n jong en gelukkige uitkyk op die lewe. Daar is vir my geen beter lewe as die pionierdiens nie. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat ek die voorreg gehad het om in my ouers se voetstappe te volg. My bede is dat ek mag voortgaan om Jehovah tot in alle ewigheid te dien.

[Voetnoot]

a Ter herdenking van die einde van vyandelikhede in 1918 en, later, 1945.

[Prent op bladsy 23]

Hilda Padgett saam met haar ouers, Atkinson en Pattie

[Prent op bladsy 23]

Die traktaat wat my pa se belangstelling in die waarheid gewek het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel