’n Wye pad met min vryheid
’n Gesin van drie—vader, moeder en hulle klein dogtertjie—was by hulle huis in Sydney, Australië, toe die huis aan die brand geraak het. Hulle het by die vensters probeer uitspring, maar daar was tralies voor die vensters. As gevolg van hierdie diefwering kon die brandweermanne hulle nie red nie. Die moeder en vader het in die rook en vlamme omgekom. Die dogtertjie het later in die hospitaal gesterf.
HOE tragies tog dat hierdie gesin gesterf het weens iets wat veronderstel was om hulle te beskerm! Die feit dat hierdie gesin nie die enigste is wat hulle huis met tralies en veiligheidsgrendels beveilig nie, spreek boekdele oor die tye waarin ons lewe. Baie van die bure het ook huise en eiendomme wat soos vestings lyk. Waarom? Hulle wil veiligheid en gemoedsrus hê. Wat ’n klad is dit tog op ’n “vry” gemeenskap wanneer mense slegs veilig voel as hulle soos gevangenes in hulle eie huis opgesluit is! In al hoe meer buurte kan kinders nie meer veilig alleen in ’n nabygeleë park speel of skool toe stap sonder dat ’n ouer of ’n ander volwassene hulle vergesel nie. Op baie lewensterreine is vryheid besig om soos oggenddou te verdamp.
’n Veranderde lewenspatroon
Dit was in ons grootouers se tyd anders. As kinders kon hulle gewoonlik speel net waar hulle wou sonder om bang te wees. As volwassenes was hulle nie oor grendels en tralies besorg nie. Hulle het vry gevoel, en in ’n sekere mate was hulle vry. Maar ons grootouers het gesien hoe die gees van die samelewing in hulle leeftyd verander. Dit het kouer, selfsugtiger, geword; op baie plekke is naasteliefde met naastevrees vervang wat bygedra het tot die tragiese gebeurtenis wat hierbo gemeld is. Hierdie toenemende gebrek aan vryheid gaan gepaard met ’n geleidelike agteruitgang van sedelike waardes. Die samelewing is deur ’n “nuwe moraliteit” bekoor, maar in werklikheid het ons nou ’n situasie bereik waar dit moeilik is om hoegenaamd enige moraliteit te sien.
’n Voormalige lektor in opvoeding aan die Universiteit van Queensland, dr. Rupert Goodman, skryf: “Jongmense word nou aan ’n ander, ’n hedonistiese . . . lewenswyse blootgestel waar alles om die ‘self’ draai: selfbevrediging, selfbewustheid, selfverwesenliking, selfsug.” Hy sê ook: “Waardes soos selfbeheersing, selfverloëning, harde werk, spaarsaamheid, respek vir gesag, liefde en eerbied vir ouers . . . is vir baie mense vreemde begrippe.”
Inderdaad ’n breë weg
Diegene wat met Bybelprofesieë vertroud is, is nie verbaas dat egotisme so algemeen voorkom nie, want Jesus Christus het sy hoorders gewaarsku: “Breed en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en dié wat daardeur ingaan, is baie; maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min” (Matteus 7:13, 14). Die eerste pad, met genoeg plek vir baie reisigers, is “breed” omdat dit nie deur Bybelbeginsels oor sedelikheid en die alledaagse lewe beperk word nie. Dit lok diegene wat daarvan hou om te dink wat hulle wil en te lewe soos hulle wil—sonder enige reëls of enige verpligtinge.
Baie wat die breë weg gekies het, sê weliswaar dat hulle hulle vryheid geniet. Maar die meeste van hulle word deur ’n gemeenskaplike gees van selfsug aangedryf. Die Bybel sê dat hulle gerig word deur “die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk”. Hierdie gees beweeg hulle om ‘in ooreenstemming met die vlees te lewe, terwyl hulle die dinge doen wat die vlees gewil het’, of dit nou onsedelikheid, dwelmmisbruik of die meedoënlose najaging van rykdom, aansien of mag is.—Efesiërs 2:2, 3.
Die breë weg lei tot rampspoed
Let daarop dat diegene wat op die breë weg is, aangedryf word om ‘die dinge te doen wat die vlees gewil het’. Dit toon dat hulle hoegenaamd nie vry is nie—hulle het ’n meester. Hulle is slawe van die vlees. En as ’n mens hierdie meester dien, kan dit baie probleme tot gevolg hê—pandemiese seksueel oordraagbare siektes, gebroke gesinne, liggame en verstande wat siek is as gevolg van dwelm- en alkoholmisbruik, om maar net ’n paar te noem. Selfs gewelddade, inbraak en verkragting spruit voort uit die egosentriese denke wat op hierdie permissiewe breë pad bevorder word. En terwyl hierdie “pad wat na die vernietiging lei” steeds bestaan, sal die vrugte daarvan al hoe slegter word.—Spreuke 1:22, 23; Galasiërs 5:19-21; 6:7.
Neem twee voorbeelde uit Australië. Mary het voor versoeking geswig deur dwelmmiddels te misbruik en haar aan onsedelikheid skuldig te maak.a Maar die geluk waarna sy gesoek het, het haar ontwyk. Selfs nadat sy twee kinders gehad het, het haar lewe vir haar leeg gevoel. Sy het haar laagste punt bereik toe sy hoor dat sy vigs opgedoen het.
Tom is op ’n ander manier seergemaak. “Ek het op ’n sendingstasie in die noorde van Queensland grootgeword”, skryf hy. “Op 16 het ek straf begin drink. My pa, ooms en vriende was almal strawwe drinkers en gevolglik het dit na iets normaals gelyk om te doen. Ek het ’n punt bereik waar ek enigiets sou drink, van bier tot brandspiritus. Ek het ook op perde begin wed en soms die meeste van my swaar verdiende geld verloor. Dit was nogal baie geld, want ek is goed betaal om suikerriet te sny.
“Toe is ek getroud, en ons het kinders gehad. Pleks van my verantwoordelikhede na te kom, het ek gedoen wat my vriende gedoen het—gedrink, gedobbel en baklei. Ek is dikwels in die plaaslike tronk opgesluit. Maar selfs dít het geen uitwerking op my gehad nie. My lewe was op die afdraand. Dit was in ’n haglike toestand.”
Ja, deur voor verkeerde begeertes te swig, het Tom en Mary nie net hulleself seergemaak nie, maar ook hulle gesinne. Ongelukkig word baie ander jongmense maklik verlei deur die liberale, misleidende gees van vryheid wat op die breë pad gebied word. As jongmense tog maar net deur die vernis, die bedrieglikheid, kon sien. As hulle maar net die werklikhede van die breë weg kon sien—die swaar tol wat almal wat daarop reis uiteindelik moet betaal. Dit is weliswaar breed en maklik om op te kom. Maar dit is juis sy breedte wat die pyn veroorsaak. Dit is die verstandige weg om die onbetwisbare feit ter harte te neem dat “hy wat met die oog op sy vlees saai, . . . verderwing uit sy vlees [sal] maai”.—Galasiërs 6:8.
Daar is egter ’n beter keuse. Dit is die nou pad. Maar hoe beperkend, hoe smal en nou is hierdie pad? En waarheen lei dit?
[Voetnoot]
a Name is verander.