Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Indië
INDIË! Hierdie uitgestrekte subkontinent is die tuiste van 1 uit elke 6 mense op hierdie planeet. Daar word altesaam meer as 1 000 tale en dialekte in hierdie land van verskeidenheid gepraat. Die mense is hoofsaaklik Hindoes, 83 persent van hulle, terwyl 11 persent Moslems is, met Sikhs, Boeddhiste, Djainas en verklaarde Christene wat die res uitmaak.
Jehovah se Getuies het in onlangse jare uitstekende resultate in Indië bereik. Hulle het skaapgeaardes gevind wat gewillig is om ferm standpunt aan die kant van Jehovah se Koninkryk in te neem, ondanks allerhande soorte druk en teenstand.
Byvoorbeeld, ’n meisie in ’n ortodokse Hindoe-gesin is sedert haar kinderdae kreupel weens polio. Die lyding wat sy ondergaan het, het haar oor God en die doel van die lewe laat dink. Sy het baie godsdienste ondersoek vir ’n antwoord, maar geen vertroosting gevind nie. Gevolglik het sy haar geloof in godsdiens verloor, maar nie in God nie.
Om en by hierdie tyd het twee Getuies hierdie meisie in hulle huis-tot-huis-bediening ontmoet. “Ek is tot trane beweeg toe ek hulle Openbaring 21:4 hoor lees het”, sê sy. Sy het baie van die Wagtoringgenootskap se publikasies geneem en tot ’n tuisbybelstudie ingestem ondanks haar moeder se teenstand. Die meisie het baie veranderinge in haar lewe aangebring, moedig teenstand van familielede die hoof gebied en ’n gedoopte Getuie geword. Sy sê: “Ek het ver gevorder, en dit was baie moeilik. Maar Jehovah God was altyd met my en het my groot vrede en vreugde gegee.”
’n Ferm standpunt vir ware aanbidding op skool
’n Jong suster is deur haar onderwyseres gevra om saam met die res van die klas na ’n Katolieke kerk te gaan. Die suster het beleef geweier en gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is en niemand of niks anders as Jehovah sal aanbid nie. Die onderwyseres het gesê dat sy saam met al die ander na die kerk toe moes gaan. Maar die suster het ferm gebly en gesê dat sy nie kon sien hoe sy daar teenwoordig kon wees nie, aangesien diegene wat na die kerk sou gaan nie tot Jehovah sou bid nie.
Weens die meisie se ferm standpunt wou haar onderwyseres meer weet. Die daaropvolgende dag het die suster dus vir haar ’n Wagtoring-artikel oor die aanbidding van Jehovah gegee. Die onderwyseres was beïndruk deur wat sy gelees het en het haar toe van alle godsdiensbedrywighede op skool vrygestel. Die suster was in staat om tien tydskrifte by haar en die ander onderwysers te laat.
Beloon vir gehoorsaamheid aan God se wet oor bloed
’n Viruskoors het onlangs soos ’n epidemie in party dele van die staat Kerala versprei. Hierdie siekte doen die niere ernstige skade aan en veroorsaak dat dialise nodig is. Bloedoortappings word meestal toegedien. In een stad is 14 mense met hierdie siekte in die hospitaal opgeneem. Een van hierdie pasiënte was ’n Getuie, ’n ouer man in die plaaslike gemeente. Daar is vir hom gesê dat ’n bloedoortapping die enigste beskikbare behandeling is. Die ouer man het sy skriftuurlike opvattings verduidelik en bloed ferm geweier (Handelinge 15:28, 29). Ná baie teëspraak het die dokters gesê dat hy sou sterf omdat hy ’n bloedoortapping geweier het.
Die ander 13 pasiënte het bloed ontvang. Dit is tragies dat hulle almal binne ’n paar dae gesterf het. Die broer was die enigste oorlewende! Die hospitaalowerheid was baie verbaas. Die mediese personeel was grootliks beïndruk deur die gereelde besoeke deur lede van die gemeente. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het die broer die dokters gaan bedank, maar hulle het gesê: “Waarom bedank jy ons? Dank eerder jou God, Jehovah. Hy is die Een wat jou gered het, nie ons nie. Bid ook asseblief vir ons tot jou God, Jehovah.”
[Venster op bladsy 24]
LANDOORSIG
1994-diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 14 271
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 65 266
GEDENKMAALOPKOMS: 38 192
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 1 780
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 12 453
AANTAL GEDOOP: 1 312
AANTAL GEMEENTES: 410
TAKKANTOOR: LONAVLA
[Prent op bladsy 25]
Takkantoor, Lonavla
[Prent op bladsy 25]
Getuieniswerk in verband met die “Ewige Goeie Nuus”-Streekbyeenkoms in 1963
[Prent op bladsy 25]
Daar word vir ’n verkoper buite die Rooi Fort in Delhi getuig