Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/15 bl. 26-29
  • Wie was die Masorete?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie was die Masorete?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Ben Asjer-familie
  • ’n Merkwaardige geheue was nodig
  • Wat het hulle geglo?
  • Ons vind baat by hulle werk
  • Wat is die Masoretiese teks?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Hebreeuse Bybelmanuskrip wat die standaard gestel het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die Bybel het behoue gebly ondanks pogings om sy boodskap te verander
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Studie nommer 5—Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/15 bl. 26-29

Wie was die Masorete?

JEHOVAH, “die God van waarheid”, het sy Woord, die Bybel, bewaar (Psalm 31:5, NW). Maar hoe het die Bybel ons bereik wesenlik soos dit geskryf is, aangesien Satan, die vyand van die waarheid, dit probeer bederf en vernietig het?—Sien Matteus 13:39.

Die antwoord kan gedeeltelik in ’n opmerking deur professor Robert Gordis gevind word: “Die prestasie van [die] Hebreeuse kopiïste, wat masorete of ‘bewaarders van tradisie’ genoem word, is nie genoeg waardeer nie. Hierdie naamlose kopiïste het die Heilige Boek met noukeurige en liefdevolle sorg oorgeskryf.” Hoewel die meeste van hierdie kopiïste vandag nog vir ons naamloos is, is die naam van een Masorete-familie duidelik opgeteken—Ben Asjer. Wat weet ons van hulle en die ander Masorete?

Die Ben Asjer-familie

Die deel van die Bybel wat oorspronklik in Hebreeus geskryf is, wat dikwels die Ou Testament genoem word, is getrou deur Joodse kopiïste oorgeskryf. Van die sesde tot die tiende eeu G.J. is hierdie kopiïste Masorete genoem. Wat het hulle werk behels?

Hebreeus is eeue lank net met konsonante geskryf, en die leser het die vokale ingevoeg. Maar teen die tyd van die Masorete het die regte uitspraak van Hebreeus verlore begin gaan omdat baie Jode nie meer daardie taal vlot gepraat het nie. Groepe Masorete in Babilon en Israel het tekens uitgedink wat om die konsonante geplaas is om aksente en die regte uitspraak van vokale aan te dui. Daar is ten minste drie verskillende stelsels ontwikkel, maar die invloedrykste was dié van die Masorete in Tiberias, by die See van Galilea, die tuiste van die Ben Asjer-familie.

Bronne meld vyf geslagte Masorete uit hierdie unieke familie, waarvan Asjer die Ouere van die agtste eeu G.J. die eerste was. Die ander was Nehemia Ben Asjer, Asjer Ben Nehemia, Moses Ben Asjer en, laastens, Aäron Ben Moses Ben Asjer van die tiende eeu G.J.a Hierdie manne was in die voorhoede van diegene wat die geskrewe simbole vervolmaak het wat volgens hulle begrip die regte uitspraak van die Hebreeuse Bybelteks ten beste sou weergee. Hulle moes die grondslag van die Hebreeuse grammatikastelsel lê om hierdie simbole te ontwikkel. Geen duidelik omskrewe stelsel van reëls vir Hebreeuse grammatika is tot op daardie tydstip opgeteken nie. ’n Mens kan dus sê dat hierdie Masorete onder die eerste Hebreeuse taalkundiges was.

Aäron, die laaste Masoreet van die Ben Asjer-familietradisie, het eerste hierdie inligting opgeteken en geredigeer. Hy het dit gedoen in ’n werkstuk met die titel “Sefer Dikdoekei ha-Te‘amim”, die eerste boek van Hebreeuse taalreëls. Hierdie boek het eeue lank die grondslag vir die werk van ander Hebreeuse taalkundiges gevorm. Maar dit was net ’n neweproduk van die belangriker werk van die Masorete. Wat was dit?

’n Merkwaardige geheue was nodig

Dit was vir die Masorete van die grootste belang dat elke woord, selfs elke letter, van die Bybelteks akkuraat oorgeskryf word. Om akkuraatheid te verseker, het die Masorete die sykantruimtes van elke bladsy gebruik om inligting op te teken wat enige moontlike teksverandering sou aandui wat per ongeluk of opsetlik deur vorige kopiïste aangebring is. In hierdie kanttekeninge het die Masorete ook ongewone woordvorme en verbindings aangeteken en neergeskryf hoe dikwels dit in ’n boek of in die hele Hebreeuse Geskrifte voorkom. Hierdie opmerkings is in ’n baie verkorte kode opgeteken, aangesien ruimte beperk was. As ’n bykomende hulpmiddel vir dubbele kontrole het hulle die middelste woord en letter van sekere boeke gemerk. Hulle het selfs elke letter van die Bybel getel om akkurate oorskrywing te verseker.

In die boonste en onderste kantruimtes van die bladsy het die Masorete breedvoeriger kommentare oor party van die verkorte aantekeninge in die sykantruimtes opgeteken.b Dit het met die dubbele kontrolering van hulle werk gehelp. Hoe het die Masorete na ander dele van die Bybel verwys om hierdie dubbele kontrolering te doen, aangesien die verse destyds nie genommer was en daar geen Bybelkonkordansies was nie? Hulle het ’n gedeelte van ’n parallelle vers in die boonste en onderste kantruimtes geskryf om hulle te herinner aan waar elders in die Bybel die aangewese woord of woorde voorkom. Omdat ruimte beperk was, het hulle dikwels net een sleutelwoord geskryf om hulle aan elke parallelle vers te herinner. As hierdie kanttekeninge bruikbaar moes wees, sou hierdie kopiïste feitlik die hele Hebreeuse Bybel van buite moes ken.

Lyste wat te lank vir die kantruimtes was, is na ’n ander deel van die manuskrip verskuif. Die Masoretiese aantekening in die sykantruimte by Genesis 18:3 bevat byvoorbeeld drie Hebreeuse letters, קלד. Dit is die Hebreeus vir die getal 134. In ’n ander deel van die manuskrip verskyn daar ’n lys wat 134 plekke aangee waar pre-Masoretiese kopiïste doelbewus die naam Jehovah uit die Hebreeuse teks verwyder het en dit met die woord “Here” vervang het.c Hoewel die Masorete van hierdie veranderings bewus was, het hulle hulle nie die vryheid veroorloof om die teks te verander wat aan hulle oorgelewer is nie. Hulle het eerder hierdie veranderings in hulle kanttekeninge aangetoon. Maar waarom was die Masorete so uiters versigtig om nie die teks te verander nie as vorige kopiïste dit wel verander het? Het hulle vorm van die Joodse geloof van dié van hulle voorgangers verskil?

Wat het hulle geglo?

Gedurende hierdie tydperk van Masoretiese vooruitgang was Judaïsme in ’n diepgewortelde ideologiese stryd gewikkel. Sedert die eerste eeu G.J. het rabbynse Judaïsme sy beheer vergroot. Met die skrywe van die Talmoed en uitleggings deur rabbi’s het die Bybelteks ondergeskik aan rabbynse uitlegging van die mondelinge wet begin raak.d Die sorgvuldige bewaring van die Bybelteks kon dus onbelangrik geword het.

In die agtste eeu het ’n groep wat as Karaïete bekend gestaan het teen hierdie tendens in opstand gekom. Aangesien hulle die belangrikheid van persoonlike Bybelstudie wou beklemtoon, het hulle die gesag en uitleggings van die rabbi’s en die Talmoed verwerp. Hulle het net die Bybelteks as hulle gesag aanvaar. Daarom het dit van groter belang geword dat daardie teks akkuraat oorgedra word, en Masoretiese studies het nuwe momentum gekry.

In watter mate het die rabbynse of die Karaïtiese opvatting die Masorete beïnvloed? M. H. Goshen-Gottstein, ’n deskundige op die gebied van Hebreeuse Bybelmanuskripte, sê: “Die Masorete was oortuig daarvan . . . dat hulle ’n ou tradisie bewaar, en om doelbewus daaraan te verander, sou vir hulle die heel ergste misdaad gewees het.”

Die Masorete het die behoorlike oorskrywing van die Bybelteks as ’n heilige taak beskou. Hoewel hulle dalk persoonlik deur ander godsdienstige oorwegings aangevuur is, het ideologiese kwessies blykbaar nie die Masoretiese werk self beïnvloed nie. Die uiters bondige kanttekeninge het nie plek vir teologiese debat gelaat nie. Die Bybelteks self was vir hulle van die allergrootste belang; hulle sou nie daaraan verander nie.

Ons vind baat by hulle werk

Hoewel natuurlike Israel nie meer God se uitverkore volk was nie, het hierdie Joodse kopiïste hulle geheel en al aan die akkurate bewaring van God se Woord gewy (Matteus 21:42-44; 23:37, 38). Die prestasie van die Ben Asjer-familie en die ander Masorete word goed opgesom deur Robert Gordis, wat geskryf het: “Daardie nederige dog onversetlike werkers . . . het hulle reusetaak om daarteen te waak dat die Bybelteks verlore gaan of verander word in obskuriteit verrig” (The Biblical Text in the Making). Toe 16de-eeuse Hervormers soos Luther en Tyndale teen die gesag van die kerk opgestaan en die Bybel in die gewone tale begin vertaal het sodat almal dit kon lees, het hulle dus ’n goed bewaarde Hebreeuse teks gehad om as ’n grondslag vir hulle werk te gebruik.

Ons vind vandag nog by die werk van die Masorete baat. Hulle Hebreeuse tekste vorm die grondslag van die Hebreeuse Geskrifte van die New World Translation of the Holy Scriptures. Hierdie vertaling word steeds in baie tale vertaal met dieselfde gees van toegewydheid en besorgdheid oor akkuraatheid wat die eertydse Masorete aan die dag gelê het. Ons moet ’n soortgelyke gees aan die dag lê deur aan die Woord van Jehovah God aandag te skenk.—2 Petrus 1:19.

[Voetnote]

a In Hebreeus beteken “Ben” “seun”. Ben Asjer beteken dus “die seun van Asjer”.

b Die Masoretiese aantekeninge in die sykantruimtes word die Klein Masora genoem. Die aantekeninge in die boonste en onderste kantruimtes word die Groot Masora genoem. Lyste wat elders in die manuskrip geplaas is, word die Slotmasora genoem.

c Sien Aanhangsel 1B in die New World Translation of the Holy Scriptures With References.

d Vir meer inligting oor die mondelinge wet en rabbynse Judaïsme, sien bladsye 8-11 van die brosjure Will There Ever Be a World Without War?, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.

[Venster/Prent op bladsy 28]

Die stelsel vir Hebreeuse uitspraak

DIE Masorete se soeke na die beste metode waarvolgens vokaal- en aksenttekens aangedui kon word, het eeue geduur. Dit is dus nie verbasend dat voortdurende ontwikkeling met elke geslag van die Ben Asjer-familie plaasgevind het nie. Bestaande manuskripte verteenwoordig die style en metodes van net die laaste twee Masorete van die Ben Asjer-familie, Moses en Aäron.e ’n Vergelykende studie van hierdie manuskripte toon dat Aäron reëls vasgelê het oor sekere onbeduidende aspekte van uitspraak en aantekening wat van dié van sy vader, Moses, verskil het.

Ben Naftali was ’n tydgenoot van Aäron Ben Asjer. Die Kaïro-kodeks van Moses Ben Asjer bevat baie lesings wat aan Ben Naftali toegeskryf word. Óf Ben Naftali self het onder Moses Ben Asjer gestudeer óf hulle albei het ’n ouer algemene tradisie bewaar. Baie geleerdes praat van die verskille tussen die stelsel van Ben Asjer en dié van Ben Naftali, maar M. H. Goshen-Gottstein skryf: “Dit sou nie te ver van die waarheid af wees om van die twee substelsels binne die Ben Asjer-familie te praat en die verskil in lesings Ben Asjer versus Ben Asjer te noem nie.” Dit sou dus onakkuraat wees om van ’n enkele Ben Asjer-metode te praat. Dit was nie omdat dit inherent die beste was dat Aäron Ben Asjer se metodes op die ou end die erkende vorm geword het nie. Dit het slegs voorkeur geniet omdat die 12de-eeuse Talmoediese geleerde Moses Maimonides ’n teks van Aäron Ben Asjer geprys het.

[Artwork—Hebrew characters]

’n Gedeelte van Exodus 6:1 met en sonder vokaalpunte en diakritiese tekens

[Voetnoot]

e Die Kaïro-kodeks (895 G.J.), wat net die vroeëre en latere profete bevat, is ’n voorbeeld van Moses se metodes. Die Aleppo-kodeks (ca.930 G.J.) en die Leningrad-kodeks (1008 G.J.) word as voorbeelde van Aäron Ben Asjer se metodes beskou.

[Prent op bladsy 26]

Tiberias, die middelpunt van Masoretiese bedrywigheid van die agtste tot die tiende eeu

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel