Waarom die ware God nóú vrees?
“Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—PREDIKER 12:13, NW.
1, 2. Waarom is ’n behoorlike vrees vir God gepas?
’N GESONDE en eerbiedige vrees vir God is goed vir die mens. Ja, hoewel baie menslike vrese ontstellend, selfs skadelik vir ons gesondheid is, is dit vir ons goed om Jehovah God te vrees.—Psalm 112:1; Prediker 8:12.
2 Die Skepper weet dit. Uit liefde vir sy skepping beveel hy almal om hom te vrees en te aanbid. Ons lees: “Ek het ’n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid, want die uur van die oordeel deur hom het aangebreek, en aanbid dus die Een wat die hemel en die aarde . . . gemaak het.’”—Openbaring 14:6, 7.
3. Wat het die Skepper vir ons eerste ouers gedoen?
3 Ons moet beslis nie die Skepper van alle dinge, die Bron van die lewe, ignoreer nie, want ons sowel as hierdie planeet behoort aan hom (Psalm 24:1). As ’n blyk van sy groot liefde het Jehovah vir sy aardse kinders die lewe gegee en hulle van ’n wonderlike tuiste voorsien—’n pragtige paradys. Maar hierdie wonderlike gawe is nie sonder voorbehoud gegee nie. Dit is in werklikheid aan hulle toevertrou. Ons eerste ouers moes vir hulle tuiste sorg en dit uitbrei totdat hulle die hele aarde bevolk en onderwerp het. Hulle het voorregte en verantwoordelikhede teenoor die landdiere, die voëls en die visse gehad—alle ander lewende wesens wat die aarde met hulle en hulle nageslag sou deel. Die mens sou van hierdie groot verantwoordelikheid rekenskap moes gee.
4. Wat het die mens aan God se skepping gedoen?
4 Kyk net hoe die mens, ondanks daardie wonderlike begin, sy pragtige aardse tuiste besoedel het! Uit minagtende verontagsaming van God se eienaarskap van hierdie juweel het mense die aarde bederf. Die besoedeling het die punt bereik waar dit die bestaan van al hoe meer dier-, voël- en vissoorte bedreig. Ons regverdige en liefdevolle God sal dit nie vir altyd duld nie. Die plundering van die aarde roep uit om ’n afrekening—iets wat baie mense tereg moet vrees. Daarenteen is dit vir diegene wat eerbiedig op God vertrou vertroostend om te weet wat gaan gebeur. Jehovah sal ’n afrekening hou, en die aarde sal herstel word. Dit is waarlik ‘n blye tyding vir alle regskapenes op die aarde.
5, 6. Hoe sal Jehovah reageer op wat die mens aan Sy skepping gedoen het?
5 Hoe sal God sy oordeel voltrek? Deur middel van Jesus Christus wat nou as die Koning van God se hemelse Koninkryk op die troon geplaas is. Deur daardie hemelse Seun sal Jehovah ’n einde aan die teenswoordige onrein, opstandige stelsel maak (2 Tessalonisense 1:6-9; Openbaring 19:11). Sodoende sal hy verligting gee aan diegene wat hom vrees en sal hy terselfdertyd ons aardse tuiste red en bewaar.
6 Hoe sal dit gebeur? Die Bybel praat van ’n komende groot verdrukking wat ’n klimaks in die oorlog van Armageddon bereik (Openbaring 7:14; 16:16). Dit sal God se oordeel oor hierdie besoedelde stelsel van dinge en sy besoedelaars wees. Sal enige mense bly leef? Ja! Dit sal diegene wees wat nie ’n morbiede, ongesonde vrees vir God het nie, maar wat ’n eerbiedige vrees vir hom het. Hulle sal gered word.—Spreuke 2:21, 22.
’n Verstommende magsvertoon
7. Waarom het God in Moses se tyd ten behoewe van Israel ingegryp?
7 Hierdie dramatiese optrede deur Jehovah God is voorafgeskadu deur ’n magtige daad wat hy ongeveer 1 500 jaar voor ons Gewone Jaartelling ten behoewe van sy aanbidders verrig het. Die groot Egiptiese militêre moondheid het sy Israelitiese immigrantewerkers tot slawe gemaak, en het selfs ’n soort volksmoord probeer pleeg toe die heerser, Farao, opdrag gegee het dat alle pasgebore Israelitiese seuntjies doodgemaak moes word. God se oorwinning oor Egipte sou vir Israel bevryding van daardie onderdrukkende politieke stelsel meebring, ja, vryheid van ’n nasie wat deur die aanbidding van baie gode besoedel was.
8, 9. Hoe het Moses en die Israeliete op God se ingryping gereageer?
8 Exodus hoofstuk 15 vertel ons van Israel se reaksie op hulle bevryding uit Egipte. ’n Ondersoek van hierdie verslag sal ons help om te verstaan hoe Christene uit die geestelik en fisies besoedelde stelsel van vandag verlos kan word. Kom ons bespreek Exodus hoofstuk 15 en vestig ons aandag op party verse om uit te vind waarom ons moet kies om Jehovah, die ware God, te vrees. Ons begin met verse 1 en 2:
9 “Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.”
10. Wat het aanleiding gegee tot God se vernietiging van die Egiptiese leër?
10 Mense oor die hele aarde is bekend met die verslag van hoe Jehovah Israel uit Egipte bevry het. Hy het plae oor daardie magtige wêreldmoondheid gebring totdat Farao die Israeliete uiteindelik toegelaat het om te gaan. Maar toe het Farao se leërs hierdie weerlose volk agternagesit en hulle skynbaar op die strand van die Rooi See vasgekeer. Hoewel dit gelyk het asof die kinders van Israel hulle nuutgevonde vryheid sommer gou sou verloor, het Jehovah iets anders in gedagte gehad. Hy het op ’n wonderdadige manier ’n pad deur die see geopen en sy volk in veiligheid daardeur gebring. Toe die Egiptenaars hulle volg, het hy die Rooi See oor hulle toegemaak en Farao en sy leërmagte laat verdrink.—Exodus 14:1-31.
11. Wat was die gevolg van God se optrede teen Egipte?
11 Jehovah se vernietiging van die Egiptiese leërmagte het hom in die oë van sy aanbidders verheerlik en sy naam alom bekend gemaak (Josua 2:9, 10; 4:23, 24). Ja, sy naam is verheerlik bo die magtelose, valse gode van Egipte, wat bewys het dat hulle hulle aanbidders nie kon verlos nie. Vertroue op hulle gode en op sterflike mense en militêre mag het tot bittere teleurstelling gelei (Psalm 146:3). Dit is geen wonder nie dat die Israeliete beweeg is om lofliedere te sing wat hulle gesonde vrees weerspieël het vir die lewende God, wat sy volk op kragtige wyse red!
12, 13. Wat behoort ons uit God se oorwinning by die Rooi See te leer?
12 Ons moet eweneens besef dat geen valse gode van ons tyd en geen supermoondheid, selfs met kernwapens, enigsins teen Jehovah opgewasse is nie. Hy kan en sal sy volk verlos. “Na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?” (Daniël 4:35). Wanneer ons die sin van hierdie woorde ten volle begryp, word ons ook beweeg om sy lof met blydskap te besing.
13 Die oorwinningslied by die Rooi See sê voorts: “Jehovah is ’n krygsman. Jehovah is sy naam.” Hierdie onoorwinlike Krygsman is derhalwe nie die een of ander anonieme versinsel van die mens nie. Hy het ’n naam! Hy is ‘die Een wat laat word’, die Grootse Maker, die Een “wie se naam Jehovah is, . . . die Allerhoogste oor die hele aarde” (Exodus 3:14; 15:3-5, NW; Psalm 83:18, NW). Stem jy nie saam dat dit vir daardie eertydse Egiptenaars verstandig sou gewees het om eerder ’n redelike en eerbiedige vrees vir die Almagtige te hê as om hom uit te tart nie?
14. Hoe is die waarde van godvrugtige vrees by die Rooi See getoon?
14 As die Ontwerper van die aarde het die Maker van die see volkome beheer oor die watermassas (Exodus 15:8). Deur ook sy beheer oor die wind te gebruik, het hy gedoen wat onmoontlik gelyk het. Hy het die waters by ’n sekere punt verdeel en dit in teenoorgestelde rigtings teruggedwing sodat dit ’n watergang gevorm het waardeur sy volk kon loop. Stel jou die toneel voor: miljoene tonne seewater wat soos parallelle mure regop staan en ’n beskermende ontsnappingsroete vir Israel vorm. Ja, diegene wat ’n gesonde vrees vir God geopenbaar het, het beskerming verkry. Toe het Jehovah die water losgelaat sodat dit soos ’n sterk vloed teruggestroom en Farao se magte asook al hulle toerusting verswelg het. Wat ’n vertoning van Goddelike mag oor nuttelose gode en menslike militêre mag was dit tog! Jehovah is gewis die een wat gevrees moet word, nie waar nie?—Exodus 14:21, 22, 28; 15:8.
Hoe ons ons vrees vir God bewys
15. Wat behoort ons reaksie op God se kragtige reddingsdade te wees?
15 As ons veilig daar saam met Moses gestaan het, sou ons sekerlik beweeg gevoel het om te sing: “Wie onder die gode is soos u, o Jehovah? Wie is soos u, wat u magtig betoon in heiligheid? Die Een wat gevrees moet word met lofliedere, die Een wat wondere doen” (Exodus 15:11, NW). Gedurende die eeue sedert daardie tyd is soortgelyke gevoelens uitgespreek. In die laaste boek van die Bybel beskryf die apostel Johannes ’n groep getroue gesalfde knegte van God: “Hulle sing die lied van Moses, die slaaf van God, en die lied van die Lam.” Wat is hierdie besondere lied? “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, omdat u alleen lojaal is?”—Openbaring 15:2-4.
16, 17. Watter wonderlike dinge sien ons vandag plaasvind?
16 Daar is vandag ook bevryde aanbidders wat nie alleen die skeppingswerke van God waardeer nie, maar ook sy verordeninge. Mense uit alle nasies is geestelik bevry, afgeskeie van hierdie besoedelde wêreld omdat hulle die regverdige verordeninge van God aanvaar en dit toepas. Honderdduisende vlug jaarliks uit hierdie verdorwe wêreld om met die rein, opregte organisasie van Jehovah se aanbidders te assosieer. Binnekort, nadat God se vurige oordele aan valse godsdiens en die res van hierdie goddelose stelsel voltrek is, sal hulle vir ewig in ’n regverdige nuwe wêreld lewe.
17 In ooreenstemming met Openbaring 14:6, 7 hoor die mensdom nou ’n waarskuwende oordeelsboodskap wat deur Jehovah se Getuies onder engeleleiding bekend gemaak word. Verlede jaar het ongeveer vyfmiljoen Getuies die goeie nuus van God se Koninkryk en sy uur van oordeel in meer as 230 lande verkondig. Om hulle medemens te leer sodat hulle redding kan verkry, het die Getuies mense se huise gereeld besoek en gratis Bybelstudies gehou. Sodoende leer honderdduisende elke jaar genoeg om die ware God met insig te vrees, hulle lewe aan hom toe te wy en gedoop te word. Hoe verblydend is dit tog dat sulke mense die ware God begin vrees het!—Lukas 1:49-51; Handelinge 9:31; vergelyk Hebreërs 11:7.
18. Wat lig toe dat die engele by ons predikingswerk betrokke is?
18 Is dit waar dat engele by hierdie predikingswerk betrokke is? Wel, dit wil blyk dat engele Jehovah se Getuies dikwels na ’n huis gelei het waar ’n wanhopige persoon na geestelike hulp gesmag het, en selfs daarom gebid het! Twee van Jehovah se Getuies, vergesel van ’n klein kindjie, het byvoorbeeld die goeie nuus op ’n Karibiese eiland verkondig. Toe dit amper twaalfuur die middag was, het die twee volwassenes besluit om op te hou vir die dag. Maar die kind was buitengewoon gretig om die volgende huis te besoek. Toe hy sien dat die volwassenes nie op daardie oomblik van plan was om dit te doen nie, het hy alleen gegaan en geklop. ’n Jong vrou het die deur oopgemaak. Toe die volwassenes dit sien, het hulle daarheen gegaan en met haar gesels. Sy het hulle ingenooi en verduidelik dat sy die oomblik toe sy die klop aan die deur gehoor het, besig was om te bid dat God Getuies na haar toe moet stuur om haar van die Bybel te leer. Reëlings vir ’n Bybelstudie is getref.
19. Waarop kan ons wys as ’n voordeel van vrees vir God?
19 Terwyl ons God se oordeelsboodskap getrou verkondig, leer ons ander ook van sy regverdige verordeninge. Wanneer mense dit in hulle lewe toepas, lei dit tot fisiese en geestelike seëninge. Die Bybel is byvoorbeeld baie duidelik in sy veroordeling van alle geslagsonsedelikheid (Romeine 1:26, 27, 32). Goddelike standaarde word vandag oor die algemeen in die wêreld geïgnoreer. Wat is die gevolg? Huwelike verbrokkel. Misdaad neem toe. Aftakelende seksueel oordraagbare siektes, wat in hierdie 20ste eeu pandemies geword het, is aan die versprei. Trouens, die angswekkende siekte vigs word grootliks deur geslagsonsedelikheid versprei. Maar was eerbiedige vrees vir God nie ’n groot beskerming vir ware aanbidders nie?—2 Korintiërs 7:1; Filippense 2:12; sien ook Handelinge 15:28, 29.
Resultate as ons God nou vrees
20. Watter voorbeeld lig toe dat ander Jehovah se Getuies se reputasie ken?
20 Daar is oorvloedige seëninge vir diegene wat God vrees en sy verordeninge hou. Beskou ’n geval wat toelig dat al hoe meer mense die feit erken dat Jehovah se Getuies ’n vreedsame broederskap van regskape Christene met goeie sedes is. ’n Aantal Getuies, wat afgevaardigdes by ’n internasionale byeenkoms in Suid-Amerika was, het in ’n hotel tuisgegaan wat een aand ook gebruik is vir ’n vergadering wat nie deur Getuies gereël is nie en wat deur die land se president toegespreek is. Terwyl ’n sekuriteitspan die president vinnig in ’n hyser probeer kry het, het ’n Getuie wat nie geweet het wie in die hyser is nie, ingeklim—tot die sekuriteitswagte se verbasing! Toe sy besef wat sy gedoen het, het die Getuie verskoning gevra vir die indringing. Sy het hulle haar byeenkomslapelkaart gewys wat haar as ’n Getuie geïdentifiseer het en gesê dat sy geen gevaar vir die president was nie. ’n Wag het glimlaggend gesê: “As alle mense soos Jehovah se Getuies was, sou ons nie hierdie soort veiligheidsmaatreëls nodig gehad nie.”—Jesaja 2:2-4.
21. Watter dinge kan mense vandag doen?
21 Dít is die soort mense wat Jehovah nou versamel en voorberei om ‘uit die groot verdrukking te kom’ wat hierdie stelsel tot ’n einde bring (Openbaring 7:9, 10, 14). Hierdie redding gaan nie aan die toeval oorgelaat word nie. ’n Persoon wat redding wil ontvang, moet Jehovah vrees, hom as die regmatige Soewerein aanvaar en aan hom toegewy wees. Feit is egter dat die meeste mense nie die soort vrees sal aankweek wat beskerming sal verdien nie (Psalm 2:1-6). Volgens al die beskikbare bewyse regeer Jehovah se gekose Heerser, Jesus Christus, al sedert die kritieke jaar 1914 as Koning. Dit beteken dat die tyd waarin mense ’n gesonde vrees vir Jehovah kan ontwikkel en openbaar nou vinnig minder raak. Tog laat ons Skepper individue, selfs hooggeplaastes, steeds toe om gehoor te gee: “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien [Jehovah, NW] met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!”—Psalm 2:7-12.
22. Wat hou die toekoms in vir diegene wat God nóú vrees?
22 Mag ons onder diegene wees wat ons Skepper sal loof as die Een wat ons gered het. Maar dit vereis dat ons die ware God nóú vrees! (Vergelyk Psalm 2:11; Hebreërs 12:28; 1 Petrus 1:17.) Ons moet aanhou om van sy regverdige verordeninge te leer en dit te gehoorsaam. Die lied van Moses en van die Lam, wat in Openbaring 15:3, 4 opgeteken staan, sal ’n crescendo bereik wanneer Jehovah alle goddeloosheid op die aarde uitwis en die mens sowel as sy aardse tuiste van die besoedelende gevolge van sonde begin genees. Dan sal ons met ons hele hart sing: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie?”
Onthou jy?
◻ Waarom verdien Jehovah ons gesonde vrees?
◻ Wat is geopenbaar deur dit wat God by die Rooi See gedoen het?
◻ Watter voordele verkry ons weens ons eerbiedige vrees vir Jehovah?
◻ Watter toekoms lê voor vir diegene wat die ware God nóú vrees?