Hoe sal jy voor die regterstoel staan?
“Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy heerlike troon gaan sit.”—MATTEUS 25:31.
1-3. Watter rede tot optimisme het ons met betrekking tot geregtigheid?
‘SKULDIG OF ONSKULDIG?’ Baie wonder wanneer hulle verslae van sekere hofsake hoor. Regters en jurielede probeer dalk om eerlik te wees, maar geskied reg wel in die meeste gevalle? Het jy nie al van onregverdigheid en onbillikheid in die regsproses gehoor nie? Sulke onregverdigheid is niks nuuts nie, soos ons in Jesus se illustrasie sien wat in Lukas 18:1-8 opgeteken staan.
2 Wat jou ondervinding ook al is van die manier waarop die mens reg laat geskied, let op hoe Jesus afsluit: ‘Sal God nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot hom roep nie? Ek sê vir julle: Hy sal gou reg aan hulle laat geskied. Maar wanneer die Seun van die mens kom, sal hy werklik die geloof op die aarde vind?’
3 Ja, Jehovah sal sorg dat reg uiteindelik aan sy knegte sal geskied. Jesus is ook hierby betrokke, veral nou omdat ons in “die laaste dae” van die huidige goddelose stelsel lewe. Jehovah sal binnekort sy magtige Seun gebruik om goddeloosheid heeltemal van die aarde af weg te neem (2 Timoteus 3:1; 2 Tessalonisense 1:7, 8; Openbaring 19:11-16). Ons kan insig in Jesus se rol kry uit een van die laaste illustrasies wat hy gegee het en wat dikwels die gelykenis van die skape en die bokke genoem word.
4. Hoe het ons die tydsbepaling van die gelykenis van die skape en die bokke verstaan, maar waarom gaan ons nou aan die gelykenis aandag skenk? (Spreuke 4:18).
4 Ons was lank van mening dat die gelykenis Jesus afbeeld wat in 1914 as Koning gaan sit het en sedertdien oordeel vel—ewige lewe vir mense wat soos skape is, ewige dood vir die bokke. Maar ’n heroorweging van die gelykenis dui op ’n aanpassing in die begrip van die tydsbepaling daarvan, asook van wat dit illustreer. Hierdie verfyning verleen meer krag aan die belangrikheid van ons predikingswerk en die betekenis van mense se reaksie daarop. Om die grondslag vir hierdie dieper begrip van die gelykenis te verstaan, kom ons kyk na wat die Bybel toon oor Jehovah en Jesus, as Konings sowel as Regters.
Jehovah as die Opperregter
5, 6. Waarom is dit gepas om Jehovah as Koning sowel as Regter te beskou?
5 Jehovah heers oor die heelal met mag oor alles. Aangesien hy geen begin en geen einde het nie, is hy die “Koning van die ewigheid” (1 Timoteus 1:17; Psalm 90:2, 4; Openbaring 15:3). Hy het die gesag om wette te maak en dit streng toe te pas. Maar sy gesag sluit in dat hy ’n Regter is. Jesaja 33:22 sê: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning; hy self sal ons red.”—NW.
6 God se knegte erken Jehovah lank reeds as die Regter van sake en geskille. Byvoorbeeld, nadat “die Regter van die ganse aarde” die getuienis omtrent die goddeloosheid van Sodom en Gomorra in oorweging geneem het, het hy geoordeel dat die inwoners vernietiging verdien en het hy ook daardie regverdige vonnis voltrek (Genesis 18:20-33; Job 34:10-12). Hoe behoort dit ons tog gerus te stel om te weet dat Jehovah ’n regverdige Regter is wat altyd sy oordele ten uitvoer kan bring!
7. Hoe het Jehovah as Regter opgetree in sy handeling met Israel?
7 In eertydse Israel het Jehovah soms regstreeks uitspraak gelewer. Sou jy nie destyds bemoedig gevoel het om te weet dat ’n volmaakte Regter uitspraak lewer nie? (Levitikus 24:10-16; Numeri 15:32-36; 27:1-11). God het ook “verordeninge” voorsien wat geheel en al goed was as standaarde waarvolgens oordeel gevel kon word (Levitikus 25:18, 19; Nehemia 9:13; Psalm 19:10, 11; 119:7, 75, vgl. NW, 164; 147:19, 20). Hy is die “Regter van die ganse aarde”, en daarom word ons almal geraak.—Hebreërs 12:23.
8. Watter toepaslike gesig het Daniël gehad?
8 In hierdie saak het ons die verklaring van ’n “ooggetuie”. Die profeet Daniël is ’n gesig gegee van wilde diere wat regerings of heerskappye voorgestel het (Daniël 7:1-8, 17). Hy het bygevoeg: ‘Trone is reggesit en ’n Oue van dae het gaan sit; sy kleed was wit soos sneeu’ (Daniël 7:9). Let op dat Daniël trone gesien het, ‘en ’n Oue van dae, oftewel Jehovah, het gaan sit’. Vra jou af: ‘Het Daniël hier gesien hoe God Koning word?’
9. Wat is een betekenis daarvan om op ’n troon te “gaan sit”? Gee voorbeelde.
9 Wel, wanneer ons lees dat iemand op ’n troon “gaan sit” het, dink ons moontlik dat hy ’n koning geword het, want die Bybel maak soms van hierdie styl gebruik. Byvoorbeeld: “Toe [Simri] begin regeer het, het hy, onmiddellik nadat hy op sy troon gaan sit het, . . . ” (1 Konings 16:11, NW; 2 Konings 10:30; 15:12; Jeremia 33:17). ’n Messiaanse profesie het gesê: “Hy moet gaan sit en heers op sy troon.” Om ‘op ’n troon te sit’ kan gevolglik beteken om koning te word (Sagaria 6:12, 13, NW). Jehovah word beskryf as ’n Koning wat op ’n troon sit (1 Konings 22:19; Jesaja 6:1; Openbaring 4:1-3). Hy is die “Koning van die ewigheid”. Maar toe hy ’n nuwe aspek van sy soewereiniteit laat geld het, kon daar gesê word dat hy Koning geword het, asof hy opnuut op sy troon gaan sit het.—1 Kronieke 16:1, 31, NW; Jesaja 52:7, NW; Openbaring 11:15-17; 15:3; 19:1, 2, 6.
10. Wat was ’n belangrike funksie van Israelitiese konings? Lig toe.
10 Maar hier volg ’n sleutelgedagte: ’n Belangrike funksie van eertydse konings was om sake te verhoor en uitspraak te lewer (Spreuke 29:14). Dink aan Salomo se verstandige oordeel toe twee vroue op dieselfde baba aanspraak gemaak het (1 Konings 3:16-28; 2 Kronieke 9:8). Een van sy regeringsgeboue was “die troonsaal . . . waar hy reggespreek het” en is ook “die regsaal” genoem (1 Konings 7:7). Jerusalem is beskryf as die plek waar ‘die stoele vir die gereg staan’ (Psalm 122:5). Om ‘op ’n troon te gaan sit’, kan klaarblyklik dan ook beteken om regterlike gesag uit te oefen.—Exodus 18:13; Spreuke 20:8, vgl. NW.
11, 12. (a) Wat is die betekenis daarvan dat Jehovah gaan sit het, soos in Daniël hoofstuk 7 gemeld word? (b) Hoe staaf ander tekste die feit dat Jehovah gaan sit om te oordeel?
11 Kom ons keer nou terug na die toneel waar Daniël gesien het hoe “’n Oue van dae gaan sit”. Daniël 7:10 voeg by: “Die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.” Ja, die Oue van dae het gesit om uitspraak te lewer oor wêreldheerskappy en om die Seun van die mens te oordeel as waardig om te regeer (Daniël 7:13, 14). Daarna lees ons dat ‘die Oue van dae gekom en reg verskaf het aan die heiliges’, diegene wat geoordeel word as geskik om saam met die Seun van die mens te regeer (Daniël 7:22). Uiteindelik ‘sal die gereg sit’ en teen die laaste wêreldmoondheid uitspraak lewer.—Daniël 7:26.a
12 Die feit dat Daniël gesien het dat God ‘op ’n troon sit’, het derhalwe beteken dat Hy gekom het om uitspraak te lewer. Vroeër het Dawid gesing: “U [Jehovah] het my reg en my regsaak behandel; U het gaan sit op die troon, o regverdige regter!” (Psalm 9:5, 8). En Joël het geskryf: “Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Josafat; want daar sal Ek [Jehovah] sit om gerig te hou oor al die nasies rondom.” (Joël 3:12; vergelyk Jesaja 16:5.) Beide Jesus en Paulus was in geregtelike situasies waarin ’n mens gesit het om ’n saak te verhoor en uitspraak te lewer.b—Johannes 19:12-16; Handelinge 23:3; 25:6.
Jesus se posisie
13, 14. (a) Watter versekering het God se volk gehad dat Jesus Koning sou word? (b) Wanneer het Jesus op sy troon gaan sit, en in watter opsig het hy sedert 33 G.J. geheers?
13 Jehovah is Koning sowel as Regter. Wat van Jesus? Die engel wat sy geboorte aangekondig het, het gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, . . . en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). Jesus sou die permanente erfgenaam van die Dawidiese koningskap wees (2 Samuel 7:12-16). Hy sou vanuit die hemel regeer, want Dawid het gesê: “[Jehovah, NW] het tot my Here [Jesus] gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. U magtige septer sal [Jehovah, NW] uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.”—Psalm 110:1-4.
14 Wanneer sou dit plaasvind? Jesus het nie as Koning geheers terwyl hy ’n mens was nie (Johannes 18:33-37). In 33 G.J. het hy gesterf, is hy opgewek en het hy na die hemel opgevaar. Hebreërs 10:12 sê: “Hierdie man het vir altyd een offerande vir sondes gebring en het aan die regterhand van God gaan sit.” Watter gesag het Jesus gehad? ‘God het hom aan sy regterhand in die hemelse plekke laat sit, ver bo elke regering en gesag en mag en heerskappy en hom hoof oor alles gemaak met betrekking tot die gemeente’ (Efesiërs 1:20-22). Omdat Jesus tóé koninklike gesag oor Christene gehad het, kon Paulus skryf dat Jehovah “ons verlos [het] van die gesag van die duisternis en ons oorgebring [het] in die koninkryk van die Seun van sy liefde”.—Kolossense 1:13; 3:1.
15, 16. (a) Waarom sê ons dat Jesus nie in 33 G.J. die Koning van God se Koninkryk geword het nie? (b) Wanneer het Jesus in God se Koninkryk begin heers?
15 In daardie tyd het Jesus egter nie as Koning en Regter oor die nasies opgetree nie. Hy het langs God gesit en gewag op die tyd om as die Koning van God se Koninkryk op te tree. Paulus het van hom geskryf: “Met betrekking tot watter een van die engele het hy ooit gesê: ‘Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande as ’n voetbank vir jou voete stel’?”—Hebreërs 1:13.
16 Jehovah se Getuies het al baie getuienis gepubliseer dat Jesus se wagtyd in 1914 verstryk het toe hy die heerser van God se Koninkryk in die onsigbare hemele geword het. Openbaring 11:15, 18 sê: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers.” “Maar die nasies se gramskap het ontvlam, en u eie gramskap het gekom.” Ja, die nasies het gedurende die Eerste Wêreldoorlog gramskap teenoor mekaar geopenbaar (Lukas 21:24). Die oorloë, aardbewings, peste, voedseltekorte, ensovoorts wat ons sedert 1914 gesien het, bevestig dat Jesus nou in God se Koninkryk heers, en dat die wêreld se finale einde op hande is.—Matteus 24:3-14.
17. Watter sleutelgedagtes het ons tot dusver bespreek?
17 By wyse van ’n kort hersiening: Daar kan gesê word dat God as Koning op ’n troon sit, maar in ’n ander sin kan hy op sy troon gaan sit om te oordeel. In 33 G.J. het Jesus aan God se regterhand gesit, en hy is nou die Koning van die Koninkryk. Maar dien Jesus, wat nou as Koning heers, ook as Regter? En waarom behoort dit, veral in dié tyd, vir ons van belang te wees?
18. Watter bewyse is daar dat Jesus ook ’n Regter sal wees?
18 Jehovah, wat die reg het om regters aan te stel, het Jesus gekies as ’n Regter wat aan Sy standaarde voldoen. Jesus het dit getoon toe hy gepraat het van mense wat geestelik lewend word: “Die Vader oordeel hoegenaamd niemand nie, maar hy het die hele oordeel aan die Seun toevertrou” (Johannes 5:22). Maar Jesus se regterlike rol strek verder as daardie soort oordeel, want hy is die regter van die lewendes en die dooies (Handelinge 10:42; 2 Timoteus 4:1). Paulus het eenkeer gesê: “[God] het ’n dag vasgestel waarop hy voornemens is om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel deur ’n man [Jesus] wat hy aangestel het, en hy het aan alle mense ’n waarborg verskaf deurdat hy hom uit die dode opgewek het.”—Handelinge 17:31; Psalm 72:2-7.
19. Waarom is dit reg om van Jesus te praat as iemand wat as ’n Regter gaan sit?
19 Is dit dus reg as ons die gevolgtrekking maak dat Jesus in die bepaalde rol van Regter op ’n heerlike troon gaan sit? Ja. Jesus het vir die apostels gesê: “In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, sal julle wat my gevolg het ook self op twaalf trone sit en die twaalf stamme van Israel oordeel” (Matteus 19:28). Hoewel Jesus nou die Koning van die Koninkryk is, sluit sy verdere werksaamhede wat in Matteus 19:28 gemeld word in dat hy op ’n troon sit om gedurende die Millennium te oordeel. Dan sal hy die hele mensdom, die regverdiges en die onregverdiges, oordeel (Handelinge 24:15). Dit is nuttig om dít in gedagte te hou terwyl ons ons aandag vestig op een van Jesus se gelykenisse wat op ons tyd en ons lewens betrekking het.
Wat sê die gelykenis?
20, 21. Wat het Jesus se apostels gevra wat op ons tyd betrekking het, en tot watter vraag gee dit aanleiding?
20 Kort voor Jesus gesterf het, het sy apostels hom gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:3). Jesus het voorspel dat betekenisvolle gebeure op aarde sal plaasvind voor ‘die einde kom’. Kort voor daardie einde sal die nasies “die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom”.—Matteus 24:14, 29, 30.
21 Hoe sal mense in daardie nasies egter vaar wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom? Kom ons vind dit uit in die gelykenis van die skape en die bokke, wat met dié woorde begin: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy heerlike troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word.”—Matteus 25:31, 32.
22, 23. Watter punte dui daarop dat die gelykenis van die skape en die bokke nie in 1914 in vervulling begin gaan het nie?
22 Is hierdie gelykenis van toepassing op die tyd toe Jesus in 1914 in koningsmag gaan sit het, soos ons dit lank verstaan het? Wel, Matteus 25:34 praat inderdaad van hom as Koning; daarom is dit logies dat die gelykenis van toepassing is sedert Jesus in 1914 Koning geword het. Maar watter oordeelswerk het hy kort daarna gedoen? Dit was nie ’n oordeel van “al die nasies” nie. Hy het eerder sy aandag gevestig op diegene wat beweer dat hulle “die huis van God” uitmaak (1 Petrus 4:17). In ooreenstemming met Maleagi 3:1-3 het Jesus, as Jehovah se boodskapper, regterlike inspeksie gehou van die gesalfde Christene wat op die aarde oor was. Dit was ook tyd om die Christendom, wat valslik beweer dat dit “die huis van God” is, regterlik te vonnis (Openbaring 17:1, 2; 18:4-8).c Tog is daar geen aanduiding dat Jesus op daardie tydstip, of wat dit betref daarná, gesit het om mense van al die nasies finaal as skape of bokke te oordeel nie.
23 As ons Jesus se werksaamhede in die gelykenis ontleed, sien ons hoe hy al die nasies finaal oordeel. Die gelykenis toon nie dat hierdie oordeel oor ’n lang tydperk van baie jare sou voortduur nie, asof elke persoon wat gedurende hierdie afgelope dekades gesterf het, geoordeel is om die ewige dood of die ewige lewe te verdien. Die meerderheid wat in onlangse dekades gesterf het, het blykbaar na die mensdom se gemeenskaplike graf gegaan (Openbaring 6:8; 20:13). Die gelykenis beskryf egter die tyd wanneer Jesus die mense van “al die nasies” oordeel wat dan lewe en wat voor die voltrekking van sy regterlike vonnis staan.
24. Wanneer sal die gelykenis van die skape en die bokke vervul word?
24 Met ander woorde, die gelykenis wys na die toekoms wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid sal kom. Hy sal gaan sit om mense wat dan lewe te oordeel. Sy oordeel sal gegrond wees op wat hulle self getoon het hulle is. Op daardie tydstip sal “die onderskeid . . . tussen die regverdige en die goddelose” duidelik vasgestel wees (Maleagi 3:18). Die werklike uitspraak en voltrekking van oordeel sal in ’n beperkte tyd uitgevoer word. Jesus sal regverdige beslissings gee wat gegrond is op wat aan die lig gekom het omtrent individue.—Sien ook 2 Korintiërs 5:10.
25. Wat beskryf Matteus 25:31 wanneer dit praat van die Seun van die mens wat op ’n heerlike troon gaan sit?
25 Dit beteken dus dat die profesie van Jesus wat “op sy heerlike troon gaan sit” om te oordeel, soos in Matteus 25:31 gemeld word, op die toekomstige tyd slaan wanneer hierdie magtige Koning sal gaan sit om oordeel oor die nasies uit te spreek en dit te voltrek. Ja, die oordeelstoneel waarby Jesus in Matteus 25:31-33, 46 betrokke is, kan vergelyk word met die toneel in Daniël hoofstuk 7 waar die heersende Koning, die Oue van dae, gaan sit het om sy rol as Regter te volbring.
26. Watter nuwe verduideliking van die gelykenis word duidelik?
26 As die gelykenis van die skape en die bokke só verstaan word, dui dit daarop dat die skape en die bokke in die toekoms geoordeel gaan word. Dit sal plaasvind nadat “die verdrukking” wat in Matteus 24:29, 30 gemeld word, uitgebreek en die Seun van die mens ‘in sy heerlikheid gekom’ het. (Vergelyk Markus 13:24-26.) Daarna, aan die einde van die goddelose stelsel in sy geheel, sal Jesus ’n hofsitting hou en uitspraak lewer sowel as die vonnis voltrek.—Johannes 5:30; 2 Tessalonisense 1:7-10.
27. Wat behoort ons graag te wil weet omtrent Jesus se laaste gelykenis?
27 Dit gee ons ’n duideliker begrip van die tydsbepaling van Jesus se gelykenis, wat toon wanneer die skape en die bokke geoordeel sal word. Maar hoe raak dit ons wat die goeie nuus van die Koninkryk ywerig verkondig? (Matteus 24:14). Maak dit ons werk minder belangrik, of bring dit groter verantwoordelikheid mee? Kom ons kyk in die volgende artikel hoe dit ons raak.
[Voetnote]
a Die woord wat in Daniël 7:10, 26 met “gereg” vertaal word, word ook in Esra 7:26 en Daniël 4:37; 7:22 gevind.
b Met betrekking tot Christene wat mekaar hof toe neem, het Paulus gevra: “Stel julle dan die manne op wie daar in die gemeente neergesien word as regters aan [letterlik “laat julle . . . sit”]?”—1 Korintiërs 6:4.
c Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 56, 73, 235-45, 260, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
◻ Hoe dien Jehovah as Koning sowel as Regter?
◻ Watter twee betekenisse kan om ‘op ’n troon te gaan sit’ hê?
◻ Wat het ons voorheen gesê oor die tydsbepaling van Matteus 25:31, maar watter grondslag is daar vir ’n aanpassing in ons begrip?
◻ Wanneer gaan sit die Seun van die mens op sy troon, soos in Matteus 25:31 aangedui word?