Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 11/15 bl. 4-7
  • ’n Beter lewe—Binnekort!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Beter lewe—Binnekort!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Beter lewe—Wanneer?
  • ’n Beter lewe—Hoe?
  • Wat jy moet doen
  • Die Paradys is op hande!
    Jy kán God se vriend wees!
  • Lewe ons in “die laaste dae”?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • God se voorneme gaan binnekort verwesenlik word
    Wat is die doel van die lewe—Hoe kan jy dit vind?
  • Wanneer sal die aarde ’n paradys word?
    Luister na God en lewe vir ewig
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 11/15 bl. 4-7

’n Beter lewe—Binnekort!

GESTEL daar is ’n weervoorspeller wie se voorspelling byna altyd akkuraat is. As hy op die aandnuus voorspel dat dit die volgende dag gaan reën, huiwer jy nie om jou sambreel te neem wanneer jy die huis die volgende oggend verlaat nie. Die reputasie wat hy in die verlede opgebou het, het jou vertroue gewen. Jy tree op in ooreenstemming met wat hy sê.

Maar hoe betroubaar is Jehovah se belofte van ’n beter lewe op ’n paradysaarde? Wel, wat gee sy rekord van die verlede te kenne? Die vervulling van Bybelprofesieë is ’n kragtige bevestiging van Jehovah se reputasie. Hy is ’n God van onfeilbare akkuraatheid en waaragtigheid (Josua 23:14; Jesaja 55:11). Jehovah God se beloftes is só betroubaar dat hy soms van beloofde toekomstige gebeure praat asof hulle reeds gebeur het. Ná sy belofte van ’n nuwe wêreld waarin die dood en verdriet nie meer sal wees nie, lees ons byvoorbeeld: “Dit [die beloofde seëninge] het geskied!” Met ander woorde, “Hulle is ’n feit!”—Openbaring 21:5, 6, voetnoot in naslaanuitgawe.

Ja, die vervulling van Jehovah se beloftes in die verlede gee ons die vertroue dat sy belofte van ’n beter lewe vir die mensdom verwesenlik sal word. Maar wanneer gaan hierdie beter lewe kom?

’n Beter lewe—Wanneer?

’n Veel beter lewe gaan binnekort kom! Ons kan daarvan seker wees, want die Bybel sê dat talle slegte dinge op aarde sal gebeur net voordat die Paradys ’n beter lewe inlui. Daardie slegte dinge vind nou plaas.

Jesus Christus het voorspel dat daar byvoorbeeld groot oorloë sou wees. Hy het gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7). Hierdie profesie is bewaarheid. Tussen 1914 en 1945 was daar al twee wêreldoorloë en hulle is gevolg deur talle ander oorloë waarin nasies teen mekaar geveg het. “Die gemiddelde jaarlikse getal oorlogsterfgevalle in hierdie tydperk [sedert die Tweede Wêreldoorlog] is meer as twee keer die sterfgevalle in die 19de eeu en sewe keer groter as dié in die 18de eeu.”—World Military and Social Expenditures 1993.

Die verspreiding van siekte is nog ’n bewys van hoe naby ’n beter lewe in die Paradys is. Jesus het voorspel dat daar “op die een plek na die ander peste” sal wees (Lukas 21:11). Is hierdie profesie bewaarheid? Ja. Ná die Eerste Wêreldoorlog het meer as 20 miljoen mense aan die Spaanse griep gesterf. Sedertdien het miljoene mense aan kanker, hartsiektes, malaria, vigs en ander siektes gesterf. In ontwikkelende lande eis siektes weens besmette water (onder andere diarree en infeksies weens ingewandswurms) elke jaar miljoene lewens.

Jesus het ook gesê: ‘Daar sal voedseltekorte wees’ (Matteus 24:7). Soos ons in die vorige artikel gesien het, het die wêreld se armes nie genoeg om te eet nie. Dit is nog ’n deel van die bewys dat ons binnekort ’n baie beter lewe in die Paradys sal hê.

“Daar sal groot aardbewings wees”, het Jesus gesê (Lukas 21:11). Dit is ook in ons dag bewaarheid. Sedert 1914 het die verwoesting deur vernietigende aardbewings honderdduisende lewens geëis.

Die Bybel sê verder dat “die laaste dae” deur ’n verandering in mense gekenmerk sal word. Hulle sal “liefhebbers van hulleself” en “liefhebbers van geld” wees, en kinders sal “ongehoorsaam aan ouers” wees. Mense sal oor die algemeen “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” wees (2 Timoteus 3:1-5). Stem jy nie saam dat baie mense aan hierdie beskrywing beantwoord nie?

Namate al hoe meer mense slegte dinge beoefen, is daar ’n toename in wetteloosheid. Dit is ook voorspel. Volgens Matteus 24:12 het Jesus van ’n “toename in wetteloosheid” gepraat. Jy sal waarskynlik saamstem dat misdaad nou erger is as wat dit jare gelede was. Oral is mense bang dat hulle besteel, bedrieg of op die een of ander manier leed aangedoen sal word.

Oorloë, wydverspreide siektes, voedseltekorte, aardbewings, toenemende misdaad en ’n agteruitgang in menseverhoudings—al hierdie dinge kan vandag gesien word, net soos die Bybel voorspel het. ‘Maar het hierdie dinge nie deur die ganse mensegeskiedenis heen gebeur nie?’ vra jy dalk. ‘Wat is anders aan ons dag?’

Daar is ’n paar aspekte van hedendaagse gebeure wat dit uiters betekenisvol maak. Die Bybel sê nie dat enige enkele kenmerk, soos voedseltekorte, op sigself sou bewys dat ons in die tyd van die einde is en dat ’n beter lewe naby is nie. Die Bybel se profesieë oor die tyd van die einde sal oor ’n goddelose geslag vervul word.—Matteus 24:34-39; Lukas 17:26, 27.

Daarbenewens is dit nogal vreemd dat sekere dele van Jesus se profesie—veral dié aangaande voedseltekorte en wydverspreide siektes—vandag bewaarheid word. Waarom? Omdat wetenskaplike prestasies nog nooit groter was nie. Mediese kennis en vorme van behandeling was nog nooit so gevorderd of so algemeen beskikbaar nie. Slegs God kon in sy Woord, die Bybel, voorspel het dat siektes en hongersnood in so ’n tyd sou vererger, nie verbeter nie.

Tot watter slotsom kan ons kom, aangesien al die Bybelprofesieë oor die tyd van die einde, of “die laaste dae”, bewaarheid word? Dat ’n beter lewe naby is! Maar hoe sal dit gebeur?

’n Beter lewe—Hoe?

Dink jy dat mense die Paradys tot stand kan bring? Deur die geskiedenis heen tot op ons dag het menseregerings baie vorme aangeneem. Party het baie hard probeer om die behoeftes van die mense te bevredig. Tog word baie probleme net erger. In ryk sowel as arm lande voer regerings ’n stryd teen dwelmmisbruik, swak behuising, armoede, misdaad, werkloosheid en oorlogvoering.

Selfs as regerings sommige van hierdie probleme kon oplos, sal hulle nooit algehele vryheid van swak gesondheid kan voorsien nie; hulle sal ook nie ’n einde aan die ouderdom en die dood kan maak nie. Dit is duidelik dat mense nooit die Paradys na hierdie aarde sal bring nie.

Die Bybel sê tereg: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” In wie moet ons dan ons vertroue stel? Die Bybel antwoord: “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op [Jehovah, NW] sy God” (Psalm 146:3, 5). As ons ons hoop op Jehovah God stel, sal ons nooit teleurgestel word nie.

Die Een met die wysheid en die mag om die aarde, die son en die sterre te skep, kan tog sekerlik ook die aarde in ’n paradys omskep. Hy kan dit vir mense moontlik maak om ’n beter lewe te geniet. Wat Jehovah God ook al aanpak, kan hy en sal hy volbring. Sy Woord sê: “By God sal geen verklaring ’n onmoontlikheid wees nie” (Lukas 1:37). Maar hoe sal God ’n beter lewe tot stand bring?

Jehovah gaan vir die mensdom ’n baie beter lewe deur middel van sy Koninkryk bring. En wat is God se Koninkryk? Dit is ’n werklike regering waarvan die Heerser, Jesus Christus, deur God aangestel is. God se Koninkryk is in die hemel, maar dit sal binnekort wonderlike seëninge en ’n baie beter lewe vir die bewoners van die Paradysaarde bring.—Jesaja 9:5, 6.

Jy is dalk reeds bekend met Jesus se modelgebed wat in die Bybel in Matteus 6:9-13 opgeteken staan. ’n Deel van daardie gebed tot God sê: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.” In ooreenstemming met daardie gebed sal God se Koninkryk “kom” om Jehovah God se voorneme met die aarde te volbring. En dit is sy voorneme dat die aarde ’n paradys word.

Een laaste vraag ontstaan nou: Wat moet jy doen om ’n beter lewe in die toekomstige Paradys te geniet?

Wat jy moet doen

Jehovah God hou die vooruitsig op ’n beter lewe in die Paradys liefdevol uit aan almal wat sy wil doen. Die Bybel sê vir ons: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Maar wat maak ’n mens in God se oë regverdig?

Om Jehovah te behaag, moet ons meer leer oor wat hy wil hê ons moet doen. As ons kennis van God inneem en dit in ons lewens toepas, kan ons vir ewig lewe. In ’n gebed tot God het Jesus gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

Die boek wat ons van Jehovah God en Jesus Christus vertel, is God se Woord, die Bybel. Dit is een van Jehovah se kosbaarste gawes. Die Bybel is soos ’n brief van ’n liefdevolle vader aan sy kinders. Dit vertel ons van God se belofte om ’n beter lewe vir die mensdom te bring en toon aan ons hoe ons dit kan verkry. Die Bybel laat ons weet wat God in die verlede gedoen het en wat hy in die toekoms gaan doen. Dit gee ons ook praktiese raad oor hoe om nou ons probleme met welslae die hoof te bied. God se Woord leer ons inderdaad hoe om selfs in hierdie wêreld vol probleme ’n mate van geluk te vind.—2 Timoteus 3:16, 17.

Jehovah se Getuies sal met graagte vir jou ’n gratis tuisbybelstudie reël. Leer hoe jy nóú ’n gelukkiger lewe kan hê, met die vooruitsig op ’n baie beter lewe in die nabye toekoms.

[Prent op bladsy 5]

Bybelprofesieë toon dat ’n beter lewe naby is

[Prent op bladsy 7]

God se Koninkryk sal ’n beter lewe vir die mensdom inlui

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel