Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 11/15 bl. 10-14
  • Vrystede—God se barmhartige voorsiening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrystede—God se barmhartige voorsiening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Asiel vir moordenaars?
  • Jehovah se barmhartige voorsiening
  • Die vlug na ’n vrystad
  • Die verhoor van mensemoordenaars
  • Lewe in die vrystad
  • Blywende resultate
  • Maak jy Jehovah jou toevlug?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Bly in die “vrystad” en lewe!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Soek beskerming by Jehovah
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 11/15 bl. 10-14

Vrystede—God se barmhartige voorsiening

“Hierdie ses stede [moet] as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het.”—NUMERI 35:15.

1. Wat is God se beskouing oor lewe en bloedskuld?

JEHOVAH GOD beskou menselewe as heilig. En die lewe is in die bloed (Levitikus 17:11, 14). Kain, die eerste mens wat op die aarde gebore is, het derhalwe bloedskuldig geword toe hy sy broer Abel vermoor het. God het gevolglik vir Kain gesê: “Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.” Die bloed wat die grond by die moordtoneel bevlek het, het ’n stille, maar veelseggende, getuienis gegee van die lewe wat op wrede wyse verkort is. Abel se bloed het na God geroep om wraak.—Genesis 4:4-11.

2. Hoe is Jehovah se respek vir lewe ná die Vloed beklemtoon?

2 God se respek vir menselewe is beklemtoon nadat die regverdige Noag en sy gesin as oorlewendes van die aardwye Vloed uit die ark gekom het. Jehovah het toe die mensdom se dieet uitgebrei om dierevleis in te sluit, maar nie bloed nie. Hy het ook bepaal: “Wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van [elke lewende skepsel, NW] sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” (Genesis 9:5, 6). Jehovah het die reg van die slagoffer se naaste bloedverwant erken om die mensemoordenaar dood te maak as hy hom sou teëkom.—Numeri 35:19.

3. Watter klem het die Mosaïese Wet op die heiligheid van lewe gelê?

3 In die Wet wat deur die profeet Moses aan Israel gegee is, is die heiligheid van lewe herhaaldelik beklemtoon. God het byvoorbeeld beveel: “Jy mag nie doodslaan nie” (Exodus 20:13). Respek vir lewe het ook geblyk uit wat die Mosaïese Wet gesê het oor ’n noodlottige ongeluk waarin ’n swanger vrou betrokke was. As sy of haar ongebore kind weens ’n geveg tussen twee manne noodlottig beseer is, moes regters die omstandighede en mate van opsetlikheid oorweeg, aangesien die Wet bepaal het dat die straf “siel vir siel”, of “lewe vir lewe”, kon wees (Exodus 21:22-25, vgl. NW). Maar kon ’n Israelitiese moordenaar op die een of ander manier die gevolge van sy gewelddaad vryspring?

Asiel vir moordenaars?

4. Watter plekke van asiel het in die verlede buite Israel bestaan?

4 In nasies buite Israel is asiel verleen aan moordenaars en ander misdadigers. Dit was die geval by plekke soos die tempel van die godin Artemis in eertydse Efese. Aangaande soortgelyke plekke word daar berig: “Party heiligdomme was ’n teelaarde vir misdadigers; en die getal asiele moes dikwels beperk word. In Atene is slegs sekere heiligdomme volgens die wet as toevlugsoorde erken (byvoorbeeld die tempel van Teseus vir slawe); in die tyd van Tiberius het die groepe desperado’s in heiligdomme so gevaarlik geword dat die reg van Asiel (in die jaar 22) tot ’n paar stede beperk is” (The Jewish Encyclopedia, 1909, Deel II, bladsy 256). Later het kerke van die Christendom plekke van asiel geword, maar dit het die mag van die burgerlike owerheid na die priesterdom laat verskuif en behoorlike regsbedeling teëgewerk. Misbruike het uiteindelik tot die afskaffing van hierdie reëling gelei.

5. Watter bewyse is daar dat die Wet nie toegelaat het dat nalatigheid aangegee word as grond vir barmhartigheid wanneer iemand gedood is nie?

5 Onder die Israeliete is asiel nie aan opsetlike moordenaars verleen nie. Selfs ’n Levitiese priester wat by God se altaar gedien het, sou vir ’n listige moord tereggestel moes word (Exodus 21:12-14). Daarbenewens het die Wet nie toegelaat dat nalatigheid aangegee word as grond vir barmhartigheid wanneer iemand gedood is nie. ’n Man moes byvoorbeeld ’n reling rondom die plat dak van sy nuwe huis aanbring. Andersins sou dit bloedskuld op die huis bring as iemand hom van die dak af doodgeval het (Deuteronomium 22:8, vgl. NAV). Verder, as die eienaar van ’n stoterige bees gewaarsku is, maar hy die dier nie opgepas het nie en dit iemand doodgemaak het, was die eienaar van die bees bloedskuldig en kon hy gedood word (Exodus 21:28-32). Verdere bewys van God se hoë agting vir lewe blyk uit die feit dat enigeen wat ’n dief doodgeslaan het bloedskuldig was indien dit gedurende die dag gebeur het wanneer die indringer gesien en herken kon word (Exodus 22:2, 3). Dit is dus duidelik dat God se volmaak gebalanseerde wette nie toegelaat het dat opsetlike moordenaars die doodstraf vryspring nie.

6. Hoe is daar in eertydse Israel aan die vereistes van die wet “lewe vir lewe” voldoen?

6 As ’n moord in eertydse Israel gepleeg is, moes die bloed van die slagoffer gewreek word. Daar is aan die vereistes van die wet “lewe vir lewe” voldoen wanneer die moordenaar deur “die bloedwreker” doodgemaak is (Numeri 35:19). Die wreker was die vermoorde persoon se naaste manlike bloedverwant. Maar wat van onopsetlike mensemoordenaars?

Jehovah se barmhartige voorsiening

7. Watter voorsiening het God gemaak vir diegene wat iemand per ongeluk doodgemaak het?

7 Vir diegene wat iemand per ongeluk of onopsetlik doodgemaak het, het God op liefdevolle wyse vrystede voorsien. Aangaande hierdie vrystede is daar vir Moses gesê: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan na die land Kanaän trek, moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir julle dien, dat die een wat ’n doodslag begaan het, een wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug. En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy wat ’n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie. En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien. Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees . . . , sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het.”—Numeri 35:9-15.

8. Waar was die vrystede geleë, en hoe is onopsetlike mensemoordenaars gehelp om hulle te bereik?

8 Toe die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het hulle uit gehoorsaamheid ses vrystede opgerig. Drie van hierdie stede—Kedes, Sigem en Hebron—was wes van die Jordaanrivier geleë. Oos van die Jordaan was die vrystede Golan, Ramot en Beser. Die ses vrystede was gerieflik geleë op paaie wat in ’n goeie toestand gehou is. Op gepaste plekke langs hierdie paaie was daar tekens met die woord “toevlug” daarop. Hierdie tekens het die rigting van die vrystad aangedui, en die onopsetlike mensemoordenaar kon na die naaste een vlug vir sy lewe. Daar kon hy beskerming vind teen die bloedwreker.—Josua 20:2-9.

9. Waarom het Jehovah die vrystede voorsien, en ten behoewe van wie is hulle voorsien?

9 Waarom het God voorsiening gemaak vir vrystede? Hulle is voorsien sodat die land nie met onskuldige bloed bevlek sou word nie en bloedskuld nie op sy volk sou kom nie (Deuteronomium 19:10). Ten behoewe van wie is die vrystede voorsien? Die Wet het gesê: “Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ’n mens doodgeslaan het” (Numeri 35:15). Uit billikheid en om reg te laat geskied terwyl barmhartigheid in ag geneem is, het Jehovah dus vir die Israeliete gesê om vrystede af te sonder vir onopsetlike mensemoordenaars onder die (1) gebore Israeliete, (2) vreemdelinge in Israel of (3) bywoners van ander lande wat in die land gewoon het.

10. Waarom kan daar gesê word dat die vrystede ’n barmhartige voorsiening van God was?

10 Dit is opmerkenswaardig dat selfs ’n onopsetlike mensemoordenaar volgens God se bevel gedood moes word: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word.” Dit was gevolglik slegs deur ’n barmhartige voorsiening van Jehovah God dat ’n onopsetlike mensemoordenaar na een van die vrystede kon vlug. Oor die algemeen het die volk klaarblyklik simpatie gehad met enigeen wat van die bloedwreker gevlug het, want hulle het almal geweet dat húlle dalk onopsetlik ’n soortgelyke misdaad kon pleeg en toevlug en barmhartigheid nodig sou hê.

Die vlug na ’n vrystad

11. Wat kon ’n man in eertydse Israel doen as hy ’n medewerker per ongeluk doodgemaak het?

11 ’n Illustrasie sal heel moontlik jou waardering vir God se barmhartige reëling vir toevlug vergroot. Stel jou voor dat jy ’n man in eertydse Israel is wat hout kap. Gestel die bylblad glip skielik van sy steel af en tref ’n medewerker noodlottig. Wat sal jy doen? Wel, die Wet het vir juis hierdie situasie voorsiening gemaak. Jy sou ongetwyfeld van hierdie godgegewe voorsiening gebruik maak: “Dit is die saak van hom wat ’n doodslag begaan het, wat [na ’n vrystad] vlug, dat hy kan lewe: hy wat sy naaste sonder opset doodslaan, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie; en hy wat saam met sy naaste in die bos gaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap, en die yster glip van die steel af en tref sy naaste, sodat hy sterwe—hy moet in een van hierdie stede vlug om in die lewe te bly” (Deuteronomium 19:4, 5). Maar selfs as jy die vrystad bereik het, sou jy nie onthef wees van alle verantwoordelikheid vir wat gebeur het nie.

12. Watter prosedure is gevolg nadat ’n onopsetlike mensemoordenaar ’n vrystad bereik het?

12 Hoewel jy gasvry ontvang is, sou jy jou saak aan die oudstes by die poort van die vrystad moes stel. Nadat jy die stad binnegegaan het, sou jy teruggestuur word om verhoor te word deur die oudstes wat die gemeente van Israel verteenwoordig het by die poorte van die stad met jurisdiksie oor die gebied waar die persoon gedood is. Daar sou jy ’n geleentheid hê om jou onskuld te bewys.

Die verhoor van mensemoordenaars

13, 14. Wat is van die dinge wat die oudstes gedurende die verhoor van ’n mensemoordenaar sou wou vasstel?

13 Gedurende die verhoor voor die oudstes by die poort van die stad met jurisdiksie sou jy ongetwyfeld met dankbaarheid oplet dat daar baie klem gelê word op jou gedrag in die verlede. Die oudstes sou jou verhouding met die slagoffer sorgvuldig in oorweging neem. Het jy die man gehaat, hom voorgelê en hom opsetlik doodgeslaan? Indien wel, sou die oudstes jou aan die bloedwreker moes uitlewer, en jy sou sterf. Hierdie verantwoordelike manne was bewus van die Wet se vereiste dat die skuld vir ‘onskuldige bloed uit Israel weggedoen moes word’ (Deuteronomium 19:11-13). Christen- ouer manne wat vandag ’n regterlike saak hanteer, moet eweneens die Skrif goed ken en in ooreenstemming daarmee optree terwyl hulle die oortreder se gesindheid en gedrag in die verlede in ag neem.

14 Die stad se oudstes sou vriendelik vrae stel om uit te vind of jy die slagoffer bekruip het (Exodus 21:12, 13). Het jy hom vanuit ’n geheime plek aangeval? (Deuteronomium 27:24). Was jy so woedend vir die persoon dat jy ’n listige plan beraam het om hom dood te maak? Indien wel, sou jy die dood verdien (Exodus 21:14). Die oudstes moes veral uitvind of daar vyandigheid, of haat, tussen jou en die slagoffer was (Deuteronomium 19:4, 6, 7; Josua 20:5). Kom ons sê dat die oudstes jou onskuldig bevind het en jou na die vrystad teruggestuur het. Hoe dankbaar sou jy tog wees vir die barmhartigheid wat betoon is!

Lewe in die vrystad

15. Watter voorwaardes is ’n onopsetlike mensemoordenaar opgelê?

15 ’n Onopsetlike mensemoordenaar moes in die vrystad of binne ’n afstand van 1 000 el (ongeveer 440 meter) buite die mure daarvan bly (Numeri 35:2-4). As hy verder as daardie punt gegaan het, kon hy die bloedwreker teëkom. Onder daardie omstandighede kon die wreker ongestraf die mensemoordenaar doodmaak. Maar die mensemoordenaar was nie geboei of in die gevangenis nie. As ’n inwoner van die vrystad moes hy ’n ambag leer, ’n werker en ’n nuttige lid van die gemeenskap wees.

16. (a) Hoe lank moes die onopsetlike mensemoordenaar in die vrystad bly? (b) Waarom het die hoëpriester se dood dit vir ’n mensemoordenaar moontlik gemaak om die vrystad te verlaat?

16 Hoe lank moes die onopsetlike mensemoordenaar in die vrystad bly? Moontlik vir die res van sy lewe. In elk geval, die Wet het gesê: “Hy moet in sy vrystad bly tot die dood van die hoëpriester; maar ná die dood van die hoëpriester mag die een wat ’n doodslag begaan het, teruggaan na die land waar sy besitting lê” (Numeri 35:26-28). Waarom het die hoëpriester se dood die onopsetlike mensemoordenaar toegelaat om die vrystad te verlaat? Wel, die hoëpriester was een van die vernaamste persone in die nasie. Sy dood sou derhalwe ’n gebeurtenis wees waarvan al die stamme van Israel sou hoor. Al die vlugtelinge in die vrystede kon dan na hulle huise terugkeer sonder enige gevaar as gevolg van die bloedwrekers. Waarom? Omdat God se Wet bepaal het dat die wreker se kans om die mensemoordenaar dood te maak met die hoëpriester se dood verstryk het, en almal het dit geweet. As die naasbestaande die dood daarna sou wreek, sou hy ’n moordenaar wees en uiteindelik die straf vir moord ondergaan.

Blywende resultate

17. Wat was die waarskynlike resultate van die beperkings wat die onopsetlike mensemoordenaar opgelê is?

17 Wat was die waarskynlike resultate van die beperkings wat die onopsetlike mensemoordenaar opgelê is? Dit het hom daaraan herinner dat hy iemand se dood veroorsaak het. Hy sou waarskynlik van daardie tyd af altyd menselewe as heilig beskou. Bowendien kon hy beslis nie vergeet dat hy met barmhartigheid behandel is nie. Aangesien barmhartigheid aan hom bewys is, sou hy sonder twyfel barmhartig teenoor ander wou wees. Die reëling van vrystede met hulle beperkings het ook die volk oor die algemeen tot voordeel gestrek. Hoe so? Dit moes hulle beslis laat besef het dat hulle nie nalatig of onverskillig met betrekking tot menselewe kon wees nie. Christene moet daardeur herinner word aan hoe belangrik dit is om nalatigheid te vermy wat tot iemand se dood as gevolg van ’n ongeluk kan lei. Daarbenewens moet God se barmhartige reëling vir vrystede ons ook beweeg om barmhartigheid te betoon wanneer dit gepas is.—Jakobus 2:13.

18. In watter opsigte was God se reëling van vrystede voordelig?

18 Jehovah God se voorsiening van vrystede was ook in ander opsigte voordelig. Die volk het nie eiemagtige groepe gevorm wat die mensemoordenaar agternagesit het in die veronderstelling dat hy skuldig was voordat hy verhoor is nie. Hulle het hom eerder as onskuldig aan opsetlike moord beskou en hom selfs gehelp om veiligheid te bereik. Verder was die voorsiening van vrystede presies die teenoorgestelde van hedendaagse reëlings om moordenaars in gevangenisse te sit, waar hulle geldelik ondersteun word deur die publiek en dikwels erger misdadigers word weens hulle noue omgang met ander oortreders. In die reëling van vrystede was dit nie nodig om duur gevangenisse met mure en ystertralies, waaruit gevangenes so dikwels probeer ontsnap, te bou, in stand te hou en te bewaak nie. Die mensemoordenaar het in werklikheid die “gevangenis” opgesoek en gedurende die bepaalde tyd daarin gebly. Hy moes ook ’n werker wees; sodoende het hy iets tot voordeel van sy medemens gedoen.

19. Watter vrae word geopper aangaande vrystede?

19 Jehovah se reëling van Israel se vrystede vir die beskerming van onopsetlike mensemoordenaars was inderdaad barmhartig. Hierdie voorsiening het beslis respek vir lewe bevorder. Maar het die eertydse vrystede enige betekenis vir mense wat in die 20ste eeu lewe? Kan ons bloedskuldig voor Jehovah God wees en nie besef dat ons sy barmhartigheid nodig het nie? Is Israel se vrystede vir ons van enige belang vandag?

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe beskou Jehovah menselewe?

◻ Watter barmhartige voorsiening het God vir onopsetlike mensemoordenaars gemaak?

◻ Hoe het ’n mensemoordenaar toegang tot ’n vrystad gekry, en hoe lank moes hy daar bly?

◻ Wat was die waarskynlike resultate van die beperkings wat die onopsetlike mensemoordenaar opgelê is?

[Kaart op bladsy 12]

Israel se vrystede was gerieflik geleë

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KEDES Jordaanrivier GOLAN

SIGEM RAMOT

HEBRON BESER

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel