Die Wagtoring-onderrigsentrum stuur sendelinge uit
DIE Wagtoring-Bybelskool Gilead het al klasse op verskeie plekke gehou. Tussen 1943 en 1960 het 35 klasse, wat uit studente van 95 lande saamgestel is, spesiale opleiding ontvang by die fasiliteite in South Lansing, New York, VSA. Daarna is die skool na die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, verskuif waar dit bykans 28 jaar gehou is. Vanaf 1988 tot vroeg in 1995 het die Gileadskool klasse in Wallkill, New York, gehou.
Gedurende hierdie jare het die skool die omvang van sy klasse uitgebrei. Onder die leiding daarvan is ’n onderrigtingskursus van tien weke aan drie klasse in Mexiko aangebied; vyf sulke klasse is in Duitsland gehou en twee in Indië. Sedert 1987 het ’n bykomende skool wat as die Bedieningsopleidingskool bekend staan klasse in 34 lande aangebied, wat ’n spesiale opleidingskursus van agt weke aanbied vir jong manne wat aan die vereistes voldoen. Die opleiding wat gegee is aan die 99ste klas van Gilead, by die nuwe Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, was egter ’n kursus van 20 weke—een wat ’n omvattende studie van die hele Bybel, ’n bespreking van die hedendaagse geskiedenis en organisasie van Jehovah se Getuies sowel as uitvoerige raad oor sendingwerk in die buiteland ingesluit het.
Op 2 September het daardie 99ste klas gegradueer. Die drie uur lange gradueringsprogram is in die nuwe ouditorium by die Wagtoring-onderrigsentrum gehou. Dit was stampvol. Bykomende gehore by die Bethelfasiliteite in Patterson, Wallkill en Brooklyn is elektronies verbind. Dit was ’n opwindende dag, nie net vir die gradueringsklas tesame met hulle familielede en intieme vriende nie, maar ook vir die honderde wat as vrywilligers die mooi, nuwe skoolfasiliteite gebou het.
In sy inleidende opmerkings het Carey Barber van die Bestuursliggaam die aandag op die betekenis van die gebeure gevestig. Hy het gesê: “Dit moet die middelpunt wees van die grootste Goddelike onderrigtingswerk wat nog ooit op hierdie aarde verrig is.” Hy het verduidelik dat ons die klimaks nader van die oorlogvoering tussen die vrou se saad en die slang se saad (Genesis 3:15). Hy het getoon dat die enigste persone wat die verskriklike konfrontasie gedurende die komende groot verdrukking sal oorleef diegene sal wees wat ’n juiste kennis van God se Woord het en dit gehoorsaam.
“Ons huidige onderrigprogram”, het hy gesê, “is bedoel om Jehovah se hele volk oral in die voortreflike toestand van rypheid te bring wat in Spreuke 1:1-4 beskryf word—om wysheid en dissipline te ken, insig te kan verstaan, asook die dissipline te ontvang wat vir ons insig, regverdigheid, oordeel, opregtheid en denkvermoë gee.” Watter beskerming is dit tog om hierdie geestelike hulpbronne te hê!
Die gradueringsklas kry raad
Daardie inleidende opmerkings is gevolg deur ’n reeks van vyf kort toesprake wat tot die gradueringsklas gerig is. Harold Jackson, wat voorheen ’n Gileadinstrukteur was en nou ’n lid van die hoofkantoorpersoneel in Brooklyn is, het die klas aangespoor: “Hou vas aan julle godvrugtige tevredenheid.” Lloyd Barry, ’n oudsendeling en nou ’n lid van die Bestuursliggaam, het oor die onderwerp “Dien Jehovah met nederigheid” gepraat. Hy het verduidelik dat hierdie eienskap vir die gegradueerdes belangrik sal wees om hulle by hulle nuwe omstandighede aan te pas, sowel as in hulle verhouding met medesendelinge, met die gemeentes waarin hulle sal dien en met die plaaslike mense.
Karl Adams, wat tans by die Gileadskool dien, het die vraag “Wat sal geloof jou beweeg om te doen?” met die klas bespreek. Hy het hulle aangemoedig om nie soos daardie Israeliete te wees wat oor die toestande in die woestyn gekla het en na Egipte terugverlang het nie, maar om eerder soos Abraham te wees, wat na God se Koninkryk uitgesien het in plaas daarvan om terug te keer na Ur van die Chaldeërs as die oplossing vir probleme (Exodus 16:2, 3; Hebreërs 11:10, 15, 16). Ulysses Glass, die skoolregistrateur, het die ondervinding van Asaf gebruik, wat in Psalm 73 opgeteken staan, om die gradueringsklas te maan: “Praat oor jou seëninge.” En Albert Schroeder, ’n lid van die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam, het die tema “Jehovah voorsien” bespreek. As bewys van so ’n voorsiening het hy na die Gileadskool self verwys asook die rol daarvan in die uitvoering van die groot predikings- en dissipelmaakwerk.
Later het die gehoor met lewendige belangstelling geluister toe Milton Henschel, die president van die Wagtoringgenootskap, gepraat het oor “Lede wat aan mekaar behoort”. Hy het Romeine hoofstuk 12 gelees en breedvoerig kommentaar daaroor gelewer. Hy het onder meer gesê: “Ons moet in aanmerking neem dat ons ’n baie hegte verhouding met ons medeknegte in die gemeente het.” Hy het bygevoeg: “Dit is goed as ons altyd aan mekaar dink as Jehovah se eiendom, en om eerder altyd behulpsaam te wees as om krities te wees en fout te vind. Ons help onsself as ons die geestelike eenheid van die Christengemeente bewaar.” Hy het getoon hoe sulke behulpsaamheid aan die dag gelê kan word wanneer voedsel in die sendinghuise voorberei word, met inagneming van die feit dat almal dalk nie dieselfde kos kan eet nie. Hy het hulle ook aangemoedig om eerder behulpsaam as krities te wees wanneer hulle aan die velddiens deelneem saam met mede-Christene wat dit nie breed het nie. As ons werklik behulpsaam, opbouend en aanmoedigend teenoor mekaar is, het broer Henschel getoon, “sal Jehovah ons daarvoor liefhê”. Watter uitstekende vermaning is dit tog vir sendelinge wat in lande sou dien wat heelwat anders is as waar hulle vandaan kom!
Leer die klas beter ken
Die 48 studente van die 99ste klas was gemiddeld 32 jaar oud en het reeds meer as 11 jaar aan die voltydse bediening gewy.
Onderhoude wat deel van die gradueringsprogram uitgemaak het, het die gehoor die geleentheid gebied om ’n paar van hulle beter te leer ken. Nikki Liebl, van die Verenigde State, en Simon Bolton, van Engeland, het van gebeure vertel wat hulle geloof dat Jehovah in hulle fisiese behoeftes sou voorsien op die proef gestel het. Hulle het Jehovah se besorgdheid ondervind terwyl hulle die voltydse bediening eerste gestel het.
Isabelle Kazan, wie se moedertaal Frans is, het gesê dat sy Arabies leer praat het om vir Arabiessprekende mense in haar geboorteland te getuig. Toe sy in 1987 begin het, het die een klein groepie in Parys uit net vier Arabiessprekende broers, behalwe sy en ’n ander suster wat die taal aangeleer het, bestaan. (Dit was nie maklik nie. Hulle het elke week agt uur aan die voorbereiding van hulle Wagtoring-studie bestee sodat hulle kommentaar kon lewer.) Was dit die moeite werd? Wel, vandag is daar Arabiessprekende Getuies in vyf kringe oor die hele Frankryk. ’n Ander student, Miko Puro, het vertel hoe die Frans wat hy op skool geleer het hom in staat gestel het om vir Afrika-vlugtelinge in sy geboorteland, Finland, te getuig, en dit sal ook vir hom van waarde wees in sy sendingtoewysing in Benin. Bonny Bowes het vertel hoe sy gesukkel het om Frans vlot te praat sodat sy met welslae in Quebec, Kanada, kon dien. En Bjarki Rasmussen, van Denemarke, het ondervindinge vertel wat hy en sy vrou reeds gedurende hulle jare lange diens in die Faroëreilande gehad het. Ja, hierdie nuwe sendelinge is ervare voltydse bedienaars.
Die gegradueerdes is na 19 lande gestuur—in Afrika, Sentraal- en Suid-Amerika, Oos-Europa en die Ooste. Gegradueerdes van vroeër klasse het alreeds in meer as 200 lande gedien. Baie van hierdie gegradueerdes is steeds bedrywig in hulle toewysings. Hierdie nuwe sendelinge sluit nou by hulle aan om die Koninkryksgetuienis verder uit te brei tot aan die uithoeke van die aarde.—Handelinge 1:8.
[Prente op bladsy 25]
Klaskamertonele by die Wagtoring-onderrigsentrum
[Prent op bladsy 26]
99ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Heffey, S.; Riley, E.; Mortensen, D.; Honable, A.; Bolton, J.; Poole, J.; Siimes, G.; Sousa, L. (2) Pashnitski, B.; Shepherd, D.; Pashnitski, W.; Järvinen, J.; Paulsen, K.; Rasmussen, E.; Schewe, C.; Olsson, L. (3) Paulsen, E.; Samsel, T.; Bowes, B.; Harris, E.; Kazan, I.; Liebl, N.; Sousa, P.; Puro, J. (4) Lager, K.; Lager, V.; Golden, K.; Bolton, S.; Johnson, M.; Johnson, S.; Liebl, A.; Rasmussen, B. (5) Harris, D.; Samsel, W.; Schewe, O.; Heffey, R.; Kazan, L.; Riley, T.; Järvinen, O.; Puro, M. (6) Mortensen, D.; Golden, R.; Honable, L.; Shepherd, M.; Bowes, R.; Siimes, T.; Poole, E.; Olsson, J.
[Prente op bladsy 27]
Steeds in hulle toewysings: (links) Charles Leathco met sy vrou, Fern, in Brasilië, gegradueerdes van die eerste en sesde klas van Gilead; (onder) Martha Hess, in Japan, ’n gegradueerde van die sewende klas van Gilead