Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 12/15 bl. 24-25
  • “Ek is kosbaar vir Jehovah!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Ek is kosbaar vir Jehovah!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2005
  • Jehovah is verskriklik lief vir jou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • “Ek het van vreugde gehuil”
    Ontwaak!—1992
  • Jy is kosbaar in God se oë!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 12/15 bl. 24-25

“Ek is kosbaar vir Jehovah!”

IN HIERDIE ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, voer talle getroue knegte van Jehovah voortdurend ’n stryd teen die gevoel dat hulle niks werd is nie (2 Timoteus 3:1). Dit verbaas ons nie, want een van Satan se “listige dade” is om ons te laat voel dat niemand ons liefhet nie, selfs nie eers ons Skepper nie! (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Dit was derhalwe gepas dat Die Wagtoring van 1 April 1995 twee artikels vir gemeentelike studie bevat het met die titels “Jy is kosbaar in God se oë!” en “Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?” Hierdie artikels het ons daaraan herinner dat Jehovah ons pogings waardeer. Hier volg ’n paar van die kommentare van waardering wat ontvang is:

“Nog nooit in die 27 jaar wat ek ’n Getuie van Jehovah is, het ’n tydskrif my so geraak nie. Ek kon nie anders as huil nie—hierdie artikels het my so verlig laat voel. Ek is nou baie bewus van Jehovah se liefde vir my. Dit is asof ’n groot las van my weggeneem is.”—C. H.

“Ek het hierdie tydskrif vier keer in een dag gelees. Ek het gehou van die manier waarop die artikel gesê het dat jy ’n leuen geleer is as jy meen dat jy niks werd is nie. Ek gaan hierdie artikel vir herderswerk en in die bediening van deur tot deur gebruik.”—M. P.

“Satan het goed daarin geslaag om selfs diegene wat vir Jehovah lief is niks werd en onbeminlik te laat voel. Om deur die ‘getroue slaaf’-klas herinner te word dat Jehovah ons innig liefhet en dat hy al die klein dingetjies waardeer wat ons vir hom doen, is een van die bemoedigendste dinge wat ek nog gelees het. Ek het baie jare lank die gevoelens ervaar waarna julle in hierdie artikels verwys het. Ek het nooit gevoel dat ek Jehovah se liefde waardig is nie en het gevolglik al hoe meer in sy diens probeer doen om sodoende daardie liefde te verdien. Maar ek is deur gevoelens van skuld en skaamte beweeg. Ongeag hoeveel uur ek dus aan die bediening bestee het of hoeveel mense ek gehelp het, ek het gevoel dat dit nie genoeg is nie. Ek het net my tekortkominge gesien. Noudat ek Jehovah uit liefde dien, het ek die gevoel dat hy glimlag en dat hy trots op my is. Dit laat my liefde vir hom selfs meer toeneem en beweeg my om meer te wil doen. Ek put nou groot vreugde uit my diens aan Jehovah.”—R. M.

“Dit is beslis die beste, opbouendste, ja, hartroerendste artikels wat ek nog gelees het! Ek lees Die Wagtoring al 55 jaar lank, en daar was al baie uitstaande nommers. Maar hierdie nommer oortref enigiets wat ons al ooit gehad het om ons te help om ’n einde te maak aan ons twyfelgedagtes, besorgdheid en vrese dat ons ‘niks werd’ en ‘onbeminlik’ is en nooit genoeg kan doen om Jehovah se liefde te ‘verdien’ nie. Hierdie Wagtoring bevat die soort geestelike hulp wat ons broers baie nodig het. Ek is van voorneme om hierdie artikels oor en oor te gebruik wanneer ek herderswerk doen.”—F. K.

“Vir dié van ons wat met ’n lae selfbeeld of selfs met gevoelens van selfverafskuwing worstel, kan dit baie moeilik wees om ons kragte in te span om in die waarheid voort te gaan. Hierdie artikel het soveel medelye en begrip weerspieël; dit was soos om strelende, helende salf op die hart te smeer. Hoe vertroostend is dit tog om sulke woorde in Die Wagtoring te lees en sonder twyfel te weet dat Jehovah wel verstaan! Dankie vir die herinnering dat Jehovah nie sy volk deur gevoelens van skuld, skaamte of vrees probeer motiveer nie. Hoewel ek deesdae weens geldelike probleme en gesondheidsprobleme in ons gesin net ’n baie beperkte aandeel aan die predikingswerk kan hê, put ek steeds bevrediging uit dit wat ek kan doen. Ek vind dat ek baie gelukkiger in die diens is wanneer ek liefde my dryfkrag probeer maak.”—D. M.

“Ek het so pas ‘Jy is kosbaar in God se oë!’ gelees. Elke paragraaf het my laat huil. Ek kom uit ’n gesin wat min liefde betoon het. Ek is verkleineer, geterg en uitgelag. Ek het dus al vroeg in die lewe niks werd gevoel. Ek het steeds diepgewortelde gevoelens uit my verlede wat my onderkry wanneer ek deur rampspoed getref word. Toe ek opgehou het om as ’n gemeentelike ouer man te dien, het ek soos gewoonlik soos ’n mislukking gevoel—vir God, my gesin en my broers in die gemeente. Hierdie gevoelens gaan nie oornag weg nie, maar hierdie tydige artikel het my gehelp om ’n mate van balans te herwin. Dit het my ’n positiewer uitkyk gegee.”—D. L.

“Dankie vir die artikel ‘Jy is kosbaar in God se oë!’ Ek het met intense selfhaat en diep gevoelens van nutteloosheid te kampe, wat ontstaan het omdat ek as kind gemolesteer is. Dit is beslis gepas om hierdie verwronge denke as ’n listige daad van Satan te beskou. Dit kan selfs ’n mens se wil om te lewe verpletter. Ek moet werklik elke dag daaraan werk om die leuen te weerstaan dat ek onbeminlik is. Hierdie artikel beteken vir my meer as wat julle ooit sal besef.”—C. F.

“Vandag reageer die broers veral gunstig op die gedagte dat Jehovah dade waardeer wat voortspruit uit liefde en nie uit dwang of druk nie. ’n Bespreking van Jehovah se hartlike en liefdevolle persoonlikheid, sy belangstelling in sy volk as individue en die liefdevolle manier waarop hy hulp verleen, is verkwikkend en aanmoedigend. Kort ná ons die artikel ‘Jy is kosbaar in God se oë!’ ontvang het, het baie hulle waardering daarvoor uitgespreek. Dit lyk asof die artikel dit vir baie moontlik maak om ’n persoonliker verhouding met Jehovah aan te kweek. Ek en my vrou wil graag ons waardering uitspreek vir die toon van onlangse nommers van Die Wagtoring en die begrip wat daarin getoon is. Ons probeer baie van hierdie punte toepas terwyl ons die gemeentes besoek.”—Van ’n reisende opsiener.

“Ek is al byna 30 jaar ’n getroue leser, maar ek het nog nooit enigiets so besielend, so opbouend, gelees nie. Die kragtige tekste wat op ’n duidelike manier toegepas is, het my gehelp om ontslae te raak van die leuens wat in my eie gevoelens versteek was en het my in staat gestel om nader aan Jehovah te kom. Ek het Jehovah baie jare lank weens ’n skuldgevoel gedien. Ek het net ’n verstandelike begrip van die losprys en van God se liefde gehad. Dankie vir sulke artikels wat van insig en begrip getuig. Ek hoop om nog baie soortgelyke artikels te lees.”—M. S.

“In die 29 jaar wat ek in die waarheid is, kan ek nie onthou wanneer laas ’n artikel my so dankbaar laat voel en diep geraak het nie. Hoewel ek met baie liefde deur ’n liefdevolle gesin grootgemaak is, het ek nooit waardig gevoel om te lewe nie, wat nog te sê om Jehovah te dien. Ná hierdie artikel het ek op my knieë gegaan en met baie trane Jehovah gedank. Ek sal ewig dankbaar wees vir hierdie artikel. Ek sal myself uit ’n ander oogpunt beskou, want ek kan nou sê: Ek is kosbaar vir Jehovah.”—D. B.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel