Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 1/1 bl. 8-17
  • Jehovah gee vrede en waarheid in oorvloed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah gee vrede en waarheid in oorvloed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah vervul sy beloftes
  • “Ek ywer oor Sion”
  • “Die stad van trou”
  • Vrede vir Jehovah se volk
  • Te moeilik vir Jehovah?
  • “Ék sal vir hulle ’n God wees”
  • “Julle moet die waarheid en die vrede liefhê”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Goddelike vrede vir die wat deur Jehovah geleer word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Dien as boodskappers van Goddelike vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 1/1 bl. 8-17

Jehovah gee vrede en waarheid in oorvloed

“Ek sal hulle genees en aan hulle ’n oorvloed van vrede en waarheid openbaar.”—JEREMIA 33:6, NW.

1, 2. (a) Wat toon die geskiedenis van die nasies oor vrede? (b) Watter les het Jehovah Israel in 607 v.G.J. aangaande vrede geleer?

VREDE! Hoe begeerlik is dit tog, en tog so skaars in die mensegeskiedenis! Veral die 20ste eeu was nie ’n eeu van vrede nie. Dit het eerder die twee mees verwoestende oorloë in die mensegeskiedenis gesien. Ná die Eerste Wêreldoorlog is die Volkebond gestig om wêreldvrede te handhaaf. Daardie organisasie het gefaal. Ná die Tweede Wêreldoorlog is die Verenigde Nasies met dieselfde doel opgerig. Ons hoef net die koerant te lees om te sien in watter mate ook dít misluk.

2 Moet dit ons verbaas dat menseorganisasies nie vrede kan bring nie? Geensins. Meer as 2 500 jaar gelede is God se uitverkore volk, Israel, ’n les in hierdie verband geleer. In die sewende eeu v.G.J. is Israel se vrede deur die oorheersende wêreldmoondheid, Babilon, bedreig. Israel het op Egipte staatgemaak vir vrede. Egipte het hulle in die steek gelaat (Jeremia 37:5-8; Esegiël 17:11-15). In 607 v.G.J. het die Babiloniese leërs die mure van Jerusalem afgebreek en Jehovah se tempel verbrand. So het Israel deur bittere ondervinding geleer dat dit tevergeefs is om op menseorganisasies te vertrou. In plaas dat hulle vrede geniet het, is die nasie in ballingskap na Babilon weggevoer.—2 Kronieke 36:17-21.

3. Watter geskiedkundige gebeure, ter vervulling van Jehovah se woorde deur middel van Jeremia, het Israel ’n tweede noodsaaklike les aangaande vrede geleer?

3 Maar voor die val van Jerusalem het Jehovah getoon dat hy, en nie Egipte nie, vir Israel ware vrede sal bring. Deur middel van Jeremia het hy beloof: “Ek sal hulle genees en aan hulle ’n oorvloed van vrede en waarheid openbaar. En ek sal die gevangenes van Juda en die gevangenes van Israel terugbring, en ek sal hulle bou net soos in die begin” (Jeremia 33:6, 7, NW). Jehovah se belofte het in 539 v.G.J. in vervulling begin gaan toe Babilon verower is en vryheid aan die Israelitiese ballinge gebied is (2 Kronieke 36:22, 23). Teen die laaste deel van 537 v.G.J. het ’n groep Israeliete vir die eerste keer in 70 jaar die Huttefees in Israel gevier! Ná die fees het hulle Jehovah se tempel begin herbou. Hoe het hulle hieroor gevoel? Die verslag lui: “Die hele volk het gejuig met groot gejuig toe hulle die HERE loof, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê was.”—Esra 3:11.

4. Hoe het Jehovah die Israeliete aangespoor om die bouwerk aan die tempel te doen, en watter belofte aangaande vrede het hy gemaak?

4 Ná daardie gelukkige begin is die Israeliete egter deur teenstanders ontmoedig en het hulle opgehou met die bouwerk aan die tempel. Etlike jare later het Jehovah die profete Haggai en Sagaria aangestel om die Israeliete aan te spoor om die herbouingswerk te voltooi. Hoe opwindend moet dit tog vir hulle gewees het om te hoor hoe Haggai aangaande die tempel wat gebou sou word, sê: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee”!—Haggai 2:9.

Jehovah vervul sy beloftes

5. Wat is opmerkenswaardig omtrent die agtste hoofstuk van Sagaria?

5 In die Bybelboek Sagaria lees ons van talle geïnspireerde visioene en profesieë wat God se volk in die sesde eeu v.G.J. versterk het. Hierdie selfde profesieë verseker ons nog steeds van Jehovah se ondersteuning. Hulle gee ons alle rede om te glo dat Jehovah sy volk vandag ook vrede sal gee. In die agtste hoofstuk van die boek wat sy naam dra, sê die profeet Sagaria byvoorbeeld tien keer hierdie woorde: “So sê [of spreek] die HERE.” Die uitdrukking lei telkens ’n Goddelike verklaring in wat met die vrede van God se volk verband hou. Party van hierdie beloftes is in Sagaria se tyd vervul. Vandag is hulle almal óf reeds vervul óf besig om in vervulling te gaan.

“Ek ywer oor Sion”

6, 7. In watter opsigte het Jehovah ‘vir Sion geywer met groot grimmigheid’?

6 Die uitdrukking kom vir die eerste keer in Sagaria 8:2 voor, waar ons lees: “So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Sion met ’n groot ywer, ja, Ek ywer met groot grimmigheid daarvoor.” Jehovah se belofte om groot ywer oor sy volk te hê, beteken dat hy ywerig sal wees om hulle vrede te herstel. Die herstelling van Israel in hulle land en die herbouing van die tempel was bewyse van daardie ywer.

7 Maar wat van diegene wat Jehovah se volk teëgestaan het? Sy ywer vir sy volk sou geëwenaar word deur sy “groot grimmigheid” op hierdie vyande. Wanneer getroue Jode by die herboude tempel aanbid het, sou hulle kon nadink oor die lot van die magtige Babilon, wat teen dié tyd al tot ’n val gekom het. Hulle kon ook dink oor die absolute onvermoë van die vyande wat probeer het om te keer dat die tempel herbou word (Esra 4:1-6; 6:3). En hulle kon Jehovah dank dat hy sy belofte vervul het. Sy ywer het hulle ’n oorwinning laat behaal!

“Die stad van trou”

8. Hoe sou Jerusalem in die dae van Sagaria ’n stad van trou word in teenstelling met vroeër tye?

8 Sagaria skryf ’n tweede keer: “So sê die HERE.” Wat is Jehovah se woorde by hierdie geleentheid? “Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg” (Sagaria 8:3). Voor 607 v.G.J. was Jerusalem hoegenaamd nie ’n stad van trou nie. Die priesters en profete was verdorwe en die volk was ontrou (Jeremia 6:13; 7:29-34; 13:23-27). Op dié stadium was God se volk besig om die tempel te herbou, wat hulle verbondenheid tot rein aanbidding getoon het. Jehovah het in gees weer eens in Jerusalem gewoon. Daar is weer oor die waarhede van rein aanbidding in Jerusalem gepraat, en dit kon dus “die stad van trou” genoem word. Sy verhewe ligging kon “die berg van die HERE” genoem word.

9. Watter merkwaardige verandering van toestand het “die Israel van God” in 1919 ondervind?

9 Hoewel hierdie twee verklarings vir eertydse Israel betekenisvol was, is dit ook vir ons van groot betekenis namate die 20ste eeu ten einde loop. Bykans 80 jaar gelede, gedurende die Eerste Wêreldoorlog, is die paar duisend gesalfdes wat destyds “die Israel van God” verteenwoordig het, in geestelike gevangenskap geneem, net soos die eertydse Israel in ballingskap na Babilon geneem is (Galasiërs 6:16). Hulle is profeties beskryf as lyke wat in die straat lê. Hulle het nogtans ’n opregte begeerte gehad om Jehovah “met gees en waarheid” te aanbid (Johannes 4:24). Jehovah het hulle gevolglik in 1919 uit gevangenskap bevry en hulle uit hulle geestelik dooie toestand opgewek (Openbaring 11:7-13). Jehovah het dus met ’n besliste Ja geantwoord op Jesaja se profetiese vraag: “Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar?” (Jesaja 66:8). In 1919 het Jehovah se volk weer eens as ’n geestelike nasie in hulle eie “land”, of geestelike staat op die aarde, bestaan.

10. Watter seëninge geniet die gesalfde Christene sedert 1919 in hulle “land”?

10 Veilig in daardie land het die gesalfde Christene in Jehovah se groot geestelike tempel gedien. Hulle is as “die getroue en verstandige slaaf” aangestel en het die verantwoordelikheid aanvaar om na Jesus se aardse besittings om te sien, ’n voorreg wat hulle nog steeds geniet namate die 20ste eeu ten einde loop (Matteus 24:45-47). Hulle het die les goed geleer dat Jehovah “die God van vrede self” is.—1 Tessalonisense 5:23.

11. Hoe het godsdiensleiers van die Christendom bewys dat hulle vyande van God se volk is?

11 Maar wat van die vyande van die Israel van God? Jehovah se ywer vir sy volk word geëwenaar deur sy grimmigheid teen die teenstanders. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het die godsdiensleiers van die Christendom ontsaglike druk uitgeoefen toe hulle probeer het om hierdie klein groepie Christene wat die waarheid gespreek het uit te wis—maar hulle pogings het misluk. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die Christendom se geestelikes in slegs een ding verenig: Aan albei kante van die konflik het hulle die regerings aangespoor om Jehovah se Getuies te onderdruk. Selfs vandag hits godsdiensleiers in baie lande regerings aan om die Christelike predikingswerk van Jehovah se Getuies te beperk of te verbied.

12, 13. Hoe word Jehovah se grimmigheid teen die Christendom geopenbaar?

12 Jehovah het dit opgemerk. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die Christendom, tesame met die res van Babilon die Grote, tot ’n val gekom (Openbaring 14:8). Die werklikheid van die Christendom se val het algemene kennis geword toe daar vanaf 1922 ’n reeks simboliese plae uitgegiet is, wat haar geestelik dooie toestand blootgelê en ’n waarskuwing oor haar komende vernietiging gegee het (Openbaring 8:7–9:21). As bewys van die feit dat die uitgieting van hierdie plae voortduur, is die toespraak “Die einde van valse godsdiens is naby” op 23 April 1995 oor die hele wêreld gehou, en dit is gevolg deur die verspreiding van honderdmiljoene eksemplare van ’n spesiale nommer van Koninkryksnuus.

13 Vandag verkeer die Christendom in ’n bejammerenswaardige toestand. Dwarsdeur die 20ste eeu het haar lede mekaar doodgemaak in wrede oorloë wat deur haar priesters en geestelikes geseën is. In party lande het sy feitlik geen invloed nie. Sy is tot vernietiging gedoem tesame met die res van Babilon die Grote.—Openbaring 18:21.

Vrede vir Jehovah se volk

14. Watter profetiese beskrywing word gegee van ’n volk wat in vrede lewe?

14 Daarenteen geniet Jehovah se volk, in hierdie jaar 1996, oorvloedige vrede in hulle herstelde land, soos in Jehovah se derde verklaring beskryf word: “So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit—elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel.”—Sagaria 8:4, 5.

15. Watter vrede geniet Jehovah se knegte ondanks die oorloë van die nasies?

15 Hierdie pragtige beskrywing beeld iets merkwaardigs in hierdie oorloggeteisterde wêreld uit—’n volk wat in vrede lewe. Sedert 1919 word Jesaja se profetiese woorde vervul: “Vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees. Maar . . . geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie” (Jesaja 57:19-21). Al is Jehovah se volk geen deel van die wêreld nie, kan hulle natuurlik nie voorkom dat hulle deur die beroeringe van die nasies geraak word nie (Johannes 17:15, 16). In party lande verduur hulle hewige probleme, en ’n paar is al selfs doodgemaak. En tog geniet ware Christene vrede op twee belangrike maniere. Eerstens geniet hulle ‘vrede met God deur hulle Here Jesus Christus’ (Romeine 5:1). Tweedens geniet hulle vrede onder mekaar. Hulle kweek “die wysheid van bo” aan wat “allereers kuis, dan vredeliewend” is (Jakobus 3:17; Galasiërs 5:22-24). Daarbenewens sien hulle daarna uit om vrede in die volste sin te geniet wanneer ‘die ootmoediges die aarde sal besit en hulle oor groot vrede sal verlustig’.—Psalm 37:11.

16, 17. (a) Hoe het “ou manne en ou vroue” sowel as “seuntjies en dogtertjies” Jehovah se organisasie sterker gemaak? (b) Wat is ’n bewys van die vrede van Jehovah se volk?

16 Daar is steeds “ou manne en ou vroue” onder Jehovah se volk—gesalfdes wat die vroeë oorwinnings van Jehovah se organisasie onthou. Hulle getrouheid en volharding word hoog op prys gestel. Jonger gesalfdes het die leiding geneem gedurende die vurige dae van die dertigerjare en die Tweede Wêreldoorlog, sowel as gedurende die opwindende jare van vermeerdering wat daarop gevolg het. Daarbenewens het die “groot skare” “ander skape” veral sedert 1935 te voorskyn gekom (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Namate die gesalfde Christene ouer en minder geword het, het die ander skape die predikingswerk aangepak en oor die hele aarde uitgebrei. In die laaste jare het die ander skape die land van God se volk binnegestroom. Verlede jaar alleen is 338 491 van hulle gedoop as simbool van hulle toewyding aan Jehovah! Hierdie nuwelinge is geestelik gesproke inderdaad baie jonk. Hulle varsheid en geesdrif is kosbaar terwyl hulle hulle voeg by diegene wat uit dankbaarheid lof sing “aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam”.—Openbaring 7:10.

17 Vandag is ‘die pleine vol van seuntjies en dogtertjies’, Getuies met jeugdige krag. Gedurende die 1995-diensjaar is verslae uit 232 lande en eilande van die see ontvang. Maar daar is geen internasionale wedywering, geen haat tussen stamme en geen ongepaste jaloesie tussen die gesalfdes en die ander skape nie. Almal groei geestelik saam, verenig in liefde. Die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies is waarlik uniek op die wêreldtoneel.—Kolossense 3:14; 1 Petrus 2:17.

Te moeilik vir Jehovah?

18, 19. Hoe het Jehovah in die jare sedert 1919 dít laat geskied wat dalk uit ’n menslike oogpunt te moeilik gelyk het?

18 In 1918, toe die gesalfde oorblyfsel uit net ’n paar duisend mismoedige siele in geestelike gevangenskap bestaan het, kon niemand voorspel watter wending gebeure sou neem nie. Maar Jehovah het geweet—soos sy vierde profetiese verklaring bevestig: “So sê die HERE van die leërskare: As dit te [moeilik, NW] is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in dié dae, sal dit ook in my oë te [moeilik, NW] wees? spreek die HERE van die leërskare.”—Sagaria 8:6.

19 In 1919 het Jehovah se gees sy volk met nuwe moed besiel vir die werk wat voorgelê het. Tog het dit geloof geverg om by die klein organisasie van Jehovah se aanbidders te bly. Hulle was so min, en baie dinge was nie duidelik nie. Maar geleidelik het Jehovah hulle op organisatoriese gebied versterk en hulle toegerus vir die Christelike werk om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Jesaja 60:17, 19; Matteus 24:14; 28:19, 20). Met verloop van tyd het hy hulle gehelp om noodsaaklike kwessies soos dié oor neutraliteit en universele soewereiniteit te verstaan. Was dit te moeilik vir Jehovah om sy wil deur middel van daardie klein groepie Getuies te laat geskied? Die antwoord is beslis nee! Hierdie feit word op bladsye 12 tot 15 van hierdie tydskrif gestaaf, waar die tabel van die bedrywighede van Jehovah se Getuies gedurende die 1995-diensjaar verskyn.

“Ék sal vir hulle ’n God wees”

20. Hoe omvangryk sou die insameling van God se volk volgens die profesie wees?

20 Die vyfde verklaring toon verder die gelukkige toestand waarin Jehovah se Getuies hulle vandag bevind: “So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste en hulle aanbring; en hulle sal midde-in Jerusalem woon. Dan sal hulle vir My ’n volk wees, en Ék sal vir hulle ’n God wees, in trou en geregtigheid.”—Sagaria 8:7, 8.

21. Hoe is die oorvloedige vrede van Jehovah se volk gehandhaaf en uitgebrei?

21 In 1996 kan ons sonder huiwering sê dat die goeie nuus in alle wêrelddele verkondig is, van “die land van die ooste” tot “die land van die weste”. Dissipels is gemaak van mense van alle nasies en hulle het die vervulling van Jehovah se belofte gesien: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 54:13). Ons geniet vrede omdat ons deur Jehovah onderrig word. Met dié doel is lektuur al in meer as 300 tale gepubliseer. Verlede jaar alleen is nog 21 tale bygevoeg. Die Wagtoring word nou in 111 tale gelyktydig uitgegee en die Ontwaak! in 54 tale. Nasionale en internasionale byeenkomste voorsien ’n openbare bewys van die vrede van God se volk. Weeklikse vergaderinge verenig ons en gee ons die aanmoediging wat ons nodig het om standvastig te bly (Hebreërs 10:23-25). Ja, Jehovah onderrig sy volk “in trou en geregtigheid”. Hy gee vrede aan sy volk. Hoe geseënd is ons tog om in daardie oorvloedige vrede te deel!

Kan jy verduidelik?

◻ Hoe het Jehovah in hedendaagse tye getoon dat hy ‘met groot grimmigheid ywer’ vir sy volk?

◻ Hoe geniet Jehovah se volk vrede, selfs in oorloggeteisterde lande?

◻ In watter opsig is ‘die pleine vol van seuntjies en dogtertjies’?

◻ Watter voorsienings is daar gemaak sodat Jehovah se volk deur hom geleer kan word?

[Tabel op bladsy 12-15]

WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1995-DIENSJAAR

(See bound volume)

[Prent op bladsy 8, 9]

In die sesde eeu v.G.J. het getroue Jode wat die tempel herbou het, geleer dat Jehovah die enigste betroubare bron van vrede is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel