Vrae van lesers
Jesus het gesê: “As julle die sondes van watter mense ook al vergewe, sal dit vir hulle vergewe wees; as julle dié van watter mense ook al behou, bly hulle behoue.” Beteken hierdie woorde dat Christene sondes kan vergewe?
Daar is geen skriftuurlike grondslag om tot die gevolgtrekking te kom dat Christene oor die algemeen, of selfs aangestelde ouer manne in die gemeente, die Goddelike gesag het om sondes te vergewe nie. Nogtans toon Jesus se woorde aan sy dissipels in Johannes 20:23, wat hierbo aangehaal is, dat God in hierdie verband spesiale gesag aan die apostels gegee het. En wat Jesus daar gesê het, hou moontlik verband met wat hy in Matteus 18:18 omtrent hemelse besluite gesê het.
Christene kan sekere oortredings vergewe, ooreenkomstig die apostel Paulus se raad wat in Efesiërs 4:32 opgeteken is: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het.” Paulus het hier verwys na persoonlike probleme tussen Christene, soos onbedagsame praatjies. Hulle moet die sake probeer oplos en mekaar vergewe. Dink aan Jesus se woorde: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.”—Matteus 5:23, 24; 1 Petrus 4:8.
Die konteks van Johannes 20:23 dui egter daarop dat Jesus na ernstiger sondes verwys het, soos die res van sy woorde aan hierdie spesifieke gehoor toon. Kom ons kyk waarom.
Die dag wat Jesus opgewek is, het hy aan die dissipels verskyn in Jerusalem in ’n kamer wat gesluit was. Die verslag sê: “Jesus het dus weer vir hulle gesê: ‘Mag julle vrede hê. Net soos die Vader my uitgestuur het, stuur ek julle ook.’ En nadat hy dit gesê het, het hy op hulle geblaas en vir hulle gesê: ‘Ontvang heilige gees. As julle die sondes van watter mense ook al vergewe, sal dit vir hulle vergewe wees; as julle dié van watter mense ook al behou, bly hulle behoue.’”—Johannes 20:21-23.
Waarskynlik is die dissipels wat hier genoem word hoofsaaklik die getroue apostels. (Vergelyk vers 24.) Deur op hulle te blaas en te sê: “Ontvang heilige gees”, het Jesus hulle op simboliese wyse in kennis gestel dat die heilige gees binnekort op hulle uitgestort sou word. Jesus het voorts gesê dat hulle gesag sou hê wat die vergifnis van sondes betref. Dit is redelik om te aanvaar dat sy twee stellings met mekaar verband hou, aangesien die een tot die ander lei.
Vyftig dae ná sy opstanding, op die dag van die Pinksterfees, het Jesus die heilige gees uitgestort. Wat het dit tot gevolg gehad? Om maar een ding te noem, diegene wat die gees ontvang het, is weer gebore as geestelike seuns van God met die hoop om medeheersers met Christus in die hemel te wees (Johannes 3:3-5; Romeine 8:15-17; 2 Korintiërs 1:22). Maar daardie uitstorting van die gees het meer as dit gedoen. Party wat dit ontvang het, het wonderdadige kragte gekry. Dit het party in staat gestel om vreemde tale te praat wat hulle nie geken het nie. Ander kon profeteer. Terwyl ander die siekes kon genees of die dooies kon opwek.—1 Korintiërs 12:4-11.
Aangesien Jesus se woorde in Johannes 20:22 na hierdie uitstorting van heilige gees op die dissipels verwys het, beteken sy woorde oor die vergifnis van sondes wat hiermee verband hou blykbaar dat God deur die werking van sy gees aan die apostels die unieke gesag gegee het om sondes te vergewe of te behou.—Sien The Watchtower, 1 Maart 1949, bladsy 78.
Die Bybel gee ons nie ’n volledige verslag van elke geleentheid wanneer die apostels hierdie gesag gebruik het nie, maar dit bevat ook nie ’n verslag van elke geval wanneer hulle ’n wonderdadige gawe gebruik het om in tale te praat, te profeteer of te genees nie.—2 Korintiërs 12:12; Galasiërs 3:5; Hebreërs 2:4.
Een geval waar die apostoliese gesag gebruik is om sondes te vergewe of te behou, was dié van Ananias en Saffira, wat oneerlik teenoor die gees opgetree het. Petrus, wat gehoor het hoe Jesus die woorde sê wat ons in Johannes 20:22, 23 gelees het, het Ananias en Saffira se oneerlikheid blootgelê. Petrus het eers met Ananias gepraat, wat op die plek dood is. Toe Saffira later ingekom het en met die leuen volgehou het, het Petrus oordeel oor haar uitgespreek. Petrus het nie haar sonde vergewe nie, maar het gesê: “Kyk! Die voete van dié wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.” Sy is ook op die plek dood.—Handelinge 5:1-11.
Die apostel Petrus het in hierdie geval spesiale gesag gebruik om ’n definitiewe behoud van sonde uit te spreek, ’n wonderdadige kennis dat God nie die sonde van Ananias en Saffira sou verskoon nie. Dit lyk ook asof die apostels bonatuurlike insig in gevalle gehad het waar hulle seker was dat sondes op grond van Christus se offerande vergewe is. Daardie apostels wat die krag van die gees ontvang het, kon dus verklaar of iemand se sondes vergewe of behou is.a
Dit beteken nie dat alle geesgesalfde ouer manne destyds hierdie wonderdadige gesag gehad het nie. Ons kan dit sien uit wat die apostel Paulus oor die man gesê het wat uit die Korintiese gemeente gesit is. Paulus het nie gesê: ‘Ek vergewe daardie man se sondes’ nie en selfs ook nie: ‘Ek weet dat die man in die hemel vergewe is, aanvaar hom dus terug’ nie. Paulus het eerder die hele gemeente aangespoor om hierdie Christen wat herstel is te vergewe en om liefde aan hom te betoon. Paulus het bygevoeg: “Enigiets wat julle iemand goedgunstig vergewe, vergewe ek ook.”—2 Korintiërs 2:5-11.
Toe die man in die gemeente herstel is, kon al die Christenbroers en -susters hom vergewe in die sin dat hulle dit wat hy gedoen het nie teen hom sou hou nie. Maar hy moes eers berou toon en herstel word. Hoe sou dit plaasvind?
Daar is ernstige sondes wat gemeentelike ouer manne moet hanteer, soos stelery, leuens of growwe onsedelikheid. Hulle probeer om sulke oortreders reg te help en tereg te wys, sodat hulle berou sal hê. Maar as iemand ’n ernstige sonde beoefen en onberouvol is, volg hierdie ouer manne die Goddelike leiding om die oortreder uit te sit (1 Korintiërs 5:1-5, 11-13). Wat Jesus in Johannes 20:23 gesê het, is nie in hierdie gevalle van toepassing nie. Hierdie ouer manne het nie wonderdadige gawes van die gees, soos die vermoë om diegene wat liggaamlik siek is te genees of om die dode op te wek nie; daardie gawes het in die eerste eeu aan die doel beantwoord en toe opgehou (1 Korintiërs 13:8-10). Daarbenewens het hedendaagse ouer manne nie die Goddelike gesag om ernstige oortredings te vergewe in die sin dat hulle kan verklaar dat ’n sondaar in die oë van Jehovah rein is nie. Hierdie soort vergifnis word op grond van die losprysofferande gegee, en net Jehovah kan op grond daarvan vergewe.—Psalm 32:5; Matteus 6:9, 12; 1 Johannes 1:9.
Soos in die geval van die man in eertydse Korinte moet ’n growwe sondaar uitgesit word as hy weier om berou te toon. As hy later berou toon en werke voortbring wat by berou pas, is Goddelike vergifnis moontlik (Handelinge 26:20). In so ’n situasie gee die Skrif die ouer manne rede om te glo dat Jehovah inderdaad die oortreder vergewe het. Sodra die persoon herstel is, kan die ouer manne hom dan geestelik help om standvastig in die geloof te word. Die ander in die gemeente kan op dieselfde manier vergewe as wat die Korintiese Christene die uitgesette man vergewe het wat destyds herstel is.
Wanneer ouer manne dinge op hierdie manier doen, oordeel hulle nie volgens hulle eie standaarde nie. Hulle pas Bybelbeginsels toe en hou streng by die skriftuurlike prosedures wat Jehovah uiteengesit het. Hetsy die ouer manne nou dus vergewe of nie, dit sal in ooreenstemming met Jesus se woorde in Matteus 18:18 wees: “Voorwaar, ek sê vir julle: Alles wat julle op die aarde bind, sal wees wat in die hemel gebind is, en alles wat julle op die aarde ontbind, sal wees wat in die hemel ontbind is.” Hulle optrede sal bloot Jehovah se beskouing van sake weerspieël soos dit in die Bybel uiteengesit word.
Wat Jesus gesê het, soos opgeteken in Johannes 20:23, is gevolglik nie in stryd met die res van die Skrif nie, maar dit toon eerder dat die apostels, in ooreenstemming met hulle spesiale rol tydens die beginstadium van die Christengemeente, spesiale magtiging gehad het wat die vergifnis van sondes betref.
[Voetnoot]
a Selfs voor Jesus gesterf en die losprys voorsien het, het hy gesag gehad om te sê dat iemand se sondes vergewe is.—Matteus 9:2-6; vergelyk die “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Junie 1995.