Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 5/1 bl. 21-24
  • Behou jou vertroue onwrikbaar tot die einde toe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou jou vertroue onwrikbaar tot die einde toe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beoefen jou geloof voortdurend
  • Bou vertroue op deur ondervinding
  • Slegte omgang kan ons van koers laat afwyk
  • Die bedrieglike krag van rykdom
  • Geloof hang van ’n ontvanklike hart af
  • Vertrou op die God van ons redding
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Waarom ek weer ná my ongeluk gevlieg het
    Ontwaak!—1991
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Beoefen geloof op grond van God se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 5/1 bl. 21-24

Behou jou vertroue onwrikbaar tot die einde toe

STEL jou ’n klein vliegtuig voor wat in moeilike weerstoestande invlieg. Die vlieënier kan nie meer landmerke uitmaak nie. Hy word deur dik wolke omhul. Hy kan nie verder as sy voorruit sien nie, tog is hy seker dat hy sy bestemming veilig kan bereik. Waarom is hy so vol vertroue?

Hy het akkurate instrumente wat hom in staat stel om deur wolke te vlieg en in die donker te land. Bakens lei hom elektronies op sy roete, veral naby die lughawe, en hy is in radioverbinding met lugverkeersleiers op die grond.

Ons kan op soortgelyke wyse die toekoms met vertroue tegemoetgaan, selfs al word wêreldtoestande dag na dag donkerder. Ons reis deur hierdie goddelose stelsel duur dalk langer as wat party verwag het, maar ons kan vol vertroue wees dat ons op koers en op tyd is. Waarom kan ons so seker daarvan wees? Omdat ons leiding het wat ons in staat stel om meer te sien as wat blote menslike insig moontlik maak.

God se Woord is ’n ‘lig vir ons pad’, en dit is ‘betroubaar en maak die onervarene wys’ (Psalm 19:7, NW; 119:105). Soos bakens wat die vlieënier se vlugroete aandui, beskryf die Bybel toekomstige gebeure akkuraat en gee dit ons duidelike instruksies om te verseker dat ons ons bestemming veilig bereik. Maar as ons by Goddelike leiding wil baat vind, moet ons vertroue daarin stel.

In sy brief aan die Hebreërs het Paulus Joodse Christene aangespoor om ‘tot die einde toe stewig vas te hou aan die vertroue wat hulle aan die begin gehad het’ (Hebreërs 3:14). Ons vertroue kan wankel as ons nie ‘stewig daaraan vashou’ nie. Die vraag ontstaan dus: Hoe kan ons ons vertroue in Jehovah onwrikbaar tot die einde toe behou?

Beoefen jou geloof voortdurend

Voordat ’n vlieënier kan blindvlieg en geheel en al op sy instrumente en op die vliegveldpersoneel staat kan maak, het hy voldoende opleiding en baie vliegure nodig. Net so moet ’n Christen voortdurend sy geloof beoefen om sy vertroue in Jehovah se leiding te behou, veral wanneer moeilike omstandighede ontstaan. Die apostel Paulus het geskryf: “Omdat ons . . . dieselfde gees van geloof het as waarvan daar geskrywe staan: ‘Ek het geloof beoefen, daarom het ek gespreek’, beoefen ons ook geloof, en daarom spreek ons” (2 Korintiërs 4:13). Wanneer ons dus oor die goeie nuus van God praat, beoefen en versterk ons ons geloof.

Magdalena, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog vier jaar in ’n konsentrasiekamp deurgebring het, verduidelik die waarde van die predikingswerk: “My ma het my geleer dat dit noodsaaklik is om oor die geestelike welsyn van ander besorg te wees as ’n mens sterk geloof wil behou. Ek onthou ’n voorval wat toelig hoe ons gevoel het. Nadat ons uit die Ravensbrück-konsentrasiekamp vrygelaat is, het ek en my ma op ’n Vrydag by ons huis aangekom. Maar twee dae later, op die Sondag, het ons saam met die broers in die predikingswerk van huis tot huis uitgegaan. Ek glo vas dat as ons ons daarop toelê om ander te help om op God se beloftes te vertrou dieselfde beloftes vir ons ’n groter werklikheid sal word.”—Vergelyk Handelinge 5:42.

Om ons vertroue onwrikbaar tot die einde toe te behou, vereis geestelike bedrywigheid op ander gebiede. Persoonlike studie is nog ’n uitstekende geloofversterkende bedrywigheid. As ons die Bereane navolg en daagliks die Skrif ywerig ondersoek, sal dit ons help “om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê” (Hebreërs 6:11; Handelinge 17:11). Persoonlike studie vereis wel tyd en vasberadenheid. Miskien is dit waarom Paulus die Hebreërs teen die gevaar gewaarsku het om “traag”, oftewel lui, te wees wat sulke sake betref.—Hebreërs 6:12.

’n Trae gesindheid kan op baie gebiede van die lewe verskriklike nagevolge hê. Salomo het gesê dat ‘die huis deur slapheid van die hande lek’ (Prediker 10:18). Vroeër of later begin reën deur ’n dak lek wat verwaarloos is. As ons ons hande in geestelike sin laat slap hang en versuim om ons geloof sterk te hou, kan twyfelgedagtes insluip. Daarenteen sal ons geloof gevoed en beskerm word as ons God se Woord gereeld bepeins en bestudeer.—Psalm 1:2, 3.

Bou vertroue op deur ondervinding

’n Vlieënier leer natuurlik deur ondervinding sowel as deur studie dat sy instrumente betroubaar is. Ons vertroue in Jehovah neem insgelyks toe wanneer ons in ons eie lewe bewys van sy liefdevolle sorg sien. Josua het dit ondervind, en hy het sy mede-Israeliete herinner: “Julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom.”—Josua 23:14.

Josefina, ’n getroude suster van die Filippyne, het dieselfde les geleer. Sy verduidelik hoe die lewe vir haar was voor sy die waarheid geken het: “My man het baie gedrink, en wanneer hy dronk geword het, het hy kwaad geword en my geslaan. Ons ongelukkige huwelik het ook ’n uitwerking op ons seun gehad. Ek en my man het albei gewerk en het nogal baie geld verdien, maar ons het die grootste deel van ons inkomste weggedobbel. My man het baie vriende gehad, maar die meeste van hulle was net sy vriende omdat hy vir hulle drankies betaal het, en party het selfs probeer om hom dronk te maak net sodat hulle vir hom kon lag.

“Dinge het verander toe ons Jehovah leer ken en sy raad begin toepas het. My man drink nie meer nie, ons het opgehou dobbel en ons het ware vriende wat vir ons lief is en ons help. Ons huwelik is gelukkig en ons seun is besig om ’n voorbeeldige jong man te word. Ons werk minder ure, maar ons het meer geld. Ons het uit ondervinding geleer dat Jehovah soos ’n liefdevolle Vader is wat ons altyd in die regte rigting lei.”

Vlieëniers besef soms dat hulle van koers moet verander nadat hulle instruksies oor die radio ontvang of hulle instrumente nagegaan het. Ons moet dalk ook van rigting verander volgens Jehovah se instruksies. “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:21). Deur sy Woord en deur sy organisasie ontvang ons raad wat ons teen geestelike gevare waarsku. Een hiervan hou verband met ons omgang.

Slegte omgang kan ons van koers laat afwyk

Die wind kan ’n klein vliegtuig maklik van koers laat afwyk as die nodige aanpassings nie gemaak word nie. Eksterne invloede oefen insgelyks voortdurend druk uit op Christene wat vandag leef. Ons leef in ’n vleeslikgesinde wêreld waar baie mense geestelike waardes minag en baie meer waarde aan geld en plesier heg. Paulus het Timoteus gewaarsku dat die laaste dae ‘moeilik sou wees om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). Tieners, wat na aanvaarding en gewildheid smag, is veral kwesbaar vir slegte omgang.—2 Timoteus 2:22.

Amanda, wat 17 jaar oud is, verduidelik: “My klasmaats het my geloof ’n ruk lank in ’n mate verswak. Hulle het gedurig gesê dat my godsdiens beperkend en onredelik is, en dit het my begin ontmoedig. My ouers het my egter help verstaan dat Christelike riglyne nie bedoel is om ons te beperk nie, maar om ons te beskerm. Nou besef ek dat hierdie beginsels my help om ’n bevredigender lewe te lei as my gewese skoolmaats. Ek het geleer om diegene te vertrou wat werklik vir my omgee—my ouers en Jehovah—en ek geniet die pionierdiens.”

Ongeag hoe oud ons is, ons sal mense teëkom wat neerhalende aanmerkings oor ons opvattings maak. Hulle kom dalk gesofistikeerd voor, maar in God se oë is hulle fisies, wêrelds (1 Korintiërs 2:14). In Paulus se dag was daar ’n invloedryke groep in Korinte, die wêreldwyse Skeptici. Die leringe van hierdie filosowe het waarskynlik daartoe gelei dat party Korintiese Christene geloof in die opstandingshoop verloor het (1 Korintiërs 15:12). “Moenie mislei word nie”, het die apostel Paulus gewaarsku. “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

Daarenteen versterk goeie omgang ons geestelik. Ons het binne die Christengemeente die geleentheid om met mense om te gaan wat ’n lewe lei wat deur geloof gekenmerk word. Norman, ’n broer wat die waarheid in 1939 geleer het, is steeds ’n bron van groot aanmoediging vir almal. Wat het hom gehelp om sy geestelike perspektief lewendig te hou? “Vergaderinge en hegte vriendskappe met getroue broers is noodsaaklik”, antwoord hy. “Hierdie soort omgang het my gehelp om die verskil tussen God se organisasie en Satan s’n duidelik te sien.”

Die bedrieglike krag van rykdom

Brian, ’n ervare vlieënier, verduidelik dat “dit soms moeilik vir ’n vlieënier is om sy instrumente te glo—bloot omdat sy instink vir hom iets anders sê. Ervare militêre vlieëniers het al onderstebo gevlieg omdat ligte op die grond vir hulle net soos sterre gelyk het—selfs al het hulle instrumente vir hulle iets anders gesê.”

Ons selfsugtige instinkte kan ons insgelyks in geestelike sin mislei. Jesus het gesê dat rykdom “bedrieglike krag” het, en Paulus het gewaarsku dat ‘die liefde vir geld baie mense van die geloof af weggelei het’.—Markus 4:19; 1 Timoteus 6:10.

Soos bedrieglike flikkerende ligte kan uitspattige materiële doelwitte ons ’n verkeerde weg laat inslaan. Pleks van ons in die “verwagting van dinge waarop gehoop word” te verheug, kan ons aandag afgelei word deur die spoggerige vertoon van die wêreld wat verbygaan (Hebreërs 11:1; 1 Johannes 2:16, 17). As ons “vasbeslote” is om ’n weelderige lewenstyl te hê, sal ons waarskynlik min tyd oorhê om geestelik te groei.—1 Timoteus 6:9; Matteus 6:24; Hebreërs 13:5.

’n Jong getroude man met die naam Patrick het erken dat hy en sy vrou geestelike doelwitte opgeoffer het om ’n beter lewenstandaard te geniet. Hy verduidelik: “Ons is deur diegene in die gemeente beïnvloed wat duur motors en weelderige huise het. Hoewel ons nooit die Koninkrykshoop uit die oog verloor het nie, het ons gemeen dat ons maar net sowel in die tussentyd gerieflik kan leef. Maar ons het met verloop van tyd besef dat ware geluk voortspruit uit diens aan Jehovah en geestelike groei. Ons lewe is nou weer eenvoudig. Ons het ons werksure verminder, en ons het gewone pioniers geword.”

Geloof hang van ’n ontvanklike hart af

’n Ontvanklike hart speel ook ’n belangrike rol daarin om vertroue in Jehovah op te bou. Geloof is weliswaar “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike demonstrasie [of “oortuigende getuienis”, voetnoot in naslaanuitgawe] van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Maar tensy ons ’n ontvanklike hart het, is dit onwaarskynlik dat ons oortuig sal word (Spreuke 18:15; Matteus 5:6). Dit is waarom die apostel Paulus gesê het dat ‘geloof nie iets is wat alle mense besit nie’.—2 Tessalonisense 3:2.

Hoe kan ons dan ons hart ontvanklik hou vir al die oortuigende getuienis wat beskikbaar is? Deur godvrugtige eienskappe aan te kweek, eienskappe wat ons verryk en wat geloof bevorder. Petrus spoor ons aan om ‘deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde by ons geloof te voeg’ (2 Petrus 1:5-7; Galasiërs 5:22, 23). Daarenteen kan ons nie redelikerwys verwag dat ons geloof sal groei as ons ’n egosentriese lewe lei of net vormdiens aan Jehovah verrig nie.

Esra “het sy hart voorberei” om Jehovah se Woord te lees en dit toe te pas (Esra 7:10, NW). Miga het ook ’n ontvanklike hart gehad. “Ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil [redding, NW], my God sal my hoor.”—Miga 7:7.

Magdalena, wat vroeër aangehaal is, wag ook geduldig op Jehovah (Habakuk 2:3). Sy sê: “Ons het alreeds die geestelike paradys. Die tweede stap, die fisiese Paradys, sal binnekort kom. Intussen sluit honderdduisende hulle by die groot skare aan. Ek raak skoon opgewonde wanneer ek soveel mense na God se organisasie sien stroom.”

Vertrou op die God van ons redding

Om ons vertroue onwrikbaar tot die einde toe te behou, vereis dat ons geloof beoefen en noukeurig luister na die leiding wat ons van Jehovah en sy organisasie ontvang. Dit is beslis die moeite werd. ’n Vlieënier voel ’n diepe tevredenheid wanneer hy na ’n lang, moeilike vlug neerdaal en uiteindelik deur die dik wolke breek. Die aarde lê uitgestrek voor hom—groen en verwelkomend. Die aanloopbaan van die lughawe is onder hom en wag dat hy moet land.

Daar wag ook ’n opwindende ondervinding op ons. Hierdie donker, goddelose wêreld sal plek maak vir ’n nuwe wêreld van regverdigheid. ’n Goddelike verwelkoming wag op ons. Ons kan daardie bestemming bereik as ons op die woorde van die psalmis ag slaan: “U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. . . . Oor U is my lof altyddeur.”—Psalm 71:5, 6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel