Kan drome die toekoms voorspel?
SEDERT die ou tyd het die mens ’n diepe belangstelling in drome. Die Egiptenaars het uitvoerige boeke vir die uitlê van drome geskryf, en die Babiloniërs het hulle droomuitlêers gehad. Onder die Grieke was dit die gebruik om siek mense in die tempels van Asklepios te laat slaap sodat hulle raad vir hulle siekte in hulle drome kon ontvang. In die tweede eeu van ons Gewone Jaartelling het Artemidorus ’n boek geskryf waarin hy uitleggings van simbole in drome gegee het. Talle soortgelyke boeke wat sedertdien geskryf is, is op sy boek gebaseer. Tot vandag toe probeer mense drome uitlê, maar gee hulle ons werklik insig in toekomstige gebeure?
As drome ons iets van die toekoms gaan vertel, moet hulle deur ’n hoër krag beïnvloed word. In die Bybel vind ons baie gevalle waarin God daardie einste krag voorsien het. Hy het profetiese drome aan sy knegte gegee sowel as aan party wat hom nie aanbid het nie. Trouens, Job 33:14-16 sê: “God spreek . . . in die droom, in ’n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense.”
God het dit gedoen in die geval van die Egiptiese Farao in die dae van Josef, wat meer as 1 700 jaar voor die Gewone Jaartelling gelewe het. Farao se droom word in Genesis 41:1-7 gevind, en in verse 25 tot 32 lê Josef dit uit en sê hy dat dit sewe jaar “van groot oorvloed in die hele Egipteland” voorspel, wat deur sewe jaar van hongersnood gevolg sou word. Josef het aan Farao verduidelik: “Wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien” (Genesis 41:28). Die droom was profeties van wat werklik gebeur het.
’n Belangrike koning van die Babiloniërs het iets soortgelyks ondervind. Nebukadnesar het ’n droom gehad wat hom erg verontrus het, maar hy kon dit nie onthou nie. Hy het gevolglik sy towenaars laat roep om die droom en die uitlegging daarvan aan hom bekend te maak. Dit was onmoontlik vir hulle om aan hierdie versoek te voldoen.—Daniël 2:1-11.
Aangesien God die droom aan die koning gegee het, het Hy die profeet Daniel in staat gestel om die droom en sy uitlegging te openbaar. Daniël 2:19 sê: “Daarop is in ’n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar.” Daniël het God die eer vir hierdie droom gegee: “Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.”—Daniël 2:27, 28.
God het soms deur middel van drome aan sy volk opdragte gegee, en op ander tye het hy hulle van Goddelike guns verseker of hulle help verstaan hoe hy hulle bystaan. God het in die geval van Jakob sy goedkeuring deur middel van ’n droom bekend gemaak.—Genesis 48:3, 4.
Toe Josef, Jesus se pleegvader, uitgevind het dat Maria verwagtend is, het hy besluit om van haar te skei. Maar hy ontvang toe in ’n droom opdrag om dit nie te doen nie. Matteus 1:20 sê: “Nadat hy hierdie dinge oordink het, kyk! toe het Jehovah se engel in ’n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria, jou vrou, huis toe te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur heilige gees.’” Later het hy ’n waarskuwing in ’n droom ontvang: “Jehovah se engel [het] in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: ‘Staan op, neem die jong kindjie en sy moeder en vlug na Egipte.’”—Matteus 2:13.
Drome wat nie van God af kom nie
Die feit dat droomuitlegging algemeen was onder diegene wat nie lede van God se volk was nie, toon dat drome oor die algemeen nie as betroubare openbarings van die toekoms beskou kan word nie. In die dae van God se profeet Jeremia het valse profete gesê: “Ek het gedroom, ek het gedroom!” (Jeremia 23:25). Hulle oogmerk was om die volk te mislei om te dink dat God deur hulle praat. Jeremia is geïnspireer om oor hierdie dromers te sê: “So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie. Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam . . . , spreek die HERE.”—Jeremia 29:8, 9.
Aangesien hierdie valse profete “waarsêers” was, kon hulle drome deur bose geesmagte beïnvloed gewees het met die doel om die volk te bedrieg. Dieselfde gedagte word in Sagaria 10:2 aangetoon: “Die huisgode spreek bedrog, en die waarsêers sien leuens en verkondig nietige drome.”
Die Duiwel is die aartsbedrieër wat al duisende jare lank godsdiensleiers gebruik om valslik te beweer dat God deur visioene en drome met hulle gepraat het, net soos die valse profete in die dae van Jeremia en Sagaria gedoen het. Die geïnspireerde Bybelskrywer Judas het aangaande sulke mense aan die eerste-eeuse Christene geskryf: “Sekere mense [het] ingeglip . . . wat lank gelede deur die Skrif tot hierdie oordeel bestem is, goddelose mense, wat die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander en ons enigste Eienaar en Here, Jesus Christus, verloën.” Hy het verder gesê dat hierdie mense hulle as ’t ware ‘aan drome oorgegee’ het.—Judas 4, 8.
Toets die bewerings
Iemand beweer dalk dat God in ’n droom met hom gepraat het of dat sy drome van toekomstige gebeure bewaarheid is, maar dit is nie genoeg rede om hom te glo en blindelings te volg nie. Let op die geskrewe opdragte wat die Israeliete in Deuteronomium 13:1-3, 5 ontvang het: “As ’n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ’n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie . . . Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word.” God het sulke mense toegelaat om valslik te spreek sodat hy die lojaliteit van sy volk kon toets.
In plaas van die bewerings van charismatiese dromers blindelings te glo, is die verstandige weg vir ons om hulle bewerings te toets sodat ons nie mislei word deur die onsigbare aartsbedrieër nie, wat “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Maar hoe kan hulle op ’n betroubare wyse getoets word?
God se geskrewe Woord is die godgegewe gids wat ons na die waarheid lei. Jesus Christus het daaromtrent gesê: “U woord is waarheid” (Johannes 17:17). Ons word gevolglik in 1 Johannes 4:1 gewaarsku: “Geliefdes, moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef om te sien of hulle hulle oorsprong by God het, want talle valse profete het in die wêreld uitgegaan.” Wanneer hulle bewerings, filosofieë en dade noukeurig met die Bybel vergelyk word, sal dit daarmee bots. God se Woord is die gesag wat bepaal wat die waarheid is.
Beoefen die dromer wat beweer dat hy spesiale kennis het dalk waarsêery of ander spiritistiese gebruike? Indien dit die geval is, veroordeel God se Woord hom. “Daar mag niemand by jou gevind word wat . . . met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ’n gruwel.”—Deuteronomium 18:10-12.
Indien hy beweer dat hy ’n onsterflike siel in hom het, weerspreek hy God se Woord wat uitdruklik sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Verhef hy homself en trek hy mense agter hom aan? Matteus 23:12 waarsku: “Elkeen wat homself verhef, sal verneder word.” En Handelinge 20:30 maan Christene: “Uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.”
Staan hy gewelddadigheid voor? Jakobus 3:17, 18 veroordeel hom: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie. Bowendien word die saad van die vrug van regverdigheid onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak.” Probeer hy politieke mag of invloed in die wêreld verkry? God se Woord veroordeel hom nadruklik en sê: “Elkeen . . . wat ’n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ’n vyand van God.” Die Bybel stel dus valsheid aan die kaak.—Jakobus 4:4.
As iemand ’n droom oor die dood van ’n familielid of vriend het, kan dit wees omdat hy hom oor daardie persoon bekommer het. Die feit dat die persoon moontlik op dieselfde nag gesterf het as wat hy die droom gehad het, bewys nie op sigself dat die droom profeties was nie. Vir elke droom van hierdie aard wat skynbaar ’n werklikheid word, is daar honderde wat nie bewaarheid word nie.
Hoewel God in die verlede drome gebruik het om profetiese gebeure te openbaar en om opdragte te gee terwyl sy geskrewe Woord geskryf is, hoef hy dit nie vandag te doen nie. Daardie geskrewe Woord bevat al die opdragte van God wat die mensdom in hierdie tyd nodig het, en die profesieë daarin het betrekking op gebeure wat meer as duisend jaar in die toekoms lê (2 Timoteus 3:16, 17). Ons kan dus seker wees dat ons drome nie Goddelike tekens van toekomstige gebeure is nie, maar noodsaaklike funksies van die brein om ons geestesgesondheid te handhaaf.
[Prente op bladsy 7]
Soos Farao se droom getoon het wat sou gebeur, so werp God se Woord lig op ons toekoms