‘Sorg vir jou huisgesin’—Bied die uitdaging in ontwikkelende lande die hoof
“JA, AS iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.” Dit is wat die apostel Paulus gesê het (1 Timoteus 5:8). Hoewel dit in ryk lande al hoe moeiliker geword het om ’n gesin groot te maak, is dit dikwels in ontwikkelende lande ’n selfs groter uitdaging.
Neem Afrika as voorbeeld, waar ekonomiese probleme dikwels die reël en nie die uitsondering is nie. Werksgeleenthede is skaars, en wanneer dit wel beskikbaar is, moet die man en die vrou dalk albei werk om bloot voedsel en klere te voorsien. Gesinshoofde moet dalk lang afstande aflê om werk te vind, wat beteken dat hulle hulle huweliksmaat en kinders maande—of jare—alleen agterlaat. Voldoende huisvesting is dalk ook moeilik om te bekom. Talle gesinne in Afrika is groot; gevolglik is woonplekke dikwels oorvol en baie het nie basiese geriewe nie. Ongesonde toestande is dikwels aan die orde van die dag.
Daarbenewens kan plaaslike gebruike, ou tradisies en heersende opvattings in stryd met die gees van God se Woord, die Bybel, wees. Beskou party algemene gesindhede teenoor die huwelik en kinders. Party gesinshoofde meen dat hulle net verantwoordelik is vir die betaling van huur en die verpligte skoolgeld. Hulle vrouens—en soms selfs ouer kinders—word met die werk belas om sulke basiese benodigdhede soos voedsel en klere te voorsien.
Party mans het daarbenewens die beskouing dat “my geld my geld is, maar dat jou geld ook my geld is”. Dit lei dikwels tot gekrenkte gevoelens onder vrouens wat ’n inkomste verdien. Een Tanzaniese vrou het gekla: “Die geld word aan drank uitgegee en nie aan ons of die kinders nie. Ons werk net so hard of selfs meer as hy, maar hy vat al die geld en sê dit is syne—dat hy dit verdien het.”
Maar vir Christene is God se Woord belangriker as die plaaslike kultuur of volksmening. Die Bybel gee nuttige riglyne oor hoe om vir ’n mens se gesin te sorg. Dit sê byvoorbeeld dat “kinders nie vir hulle ouers behoort op te spaar nie, maar die ouers vir hulle kinders” (2 Korintiërs 12:14). Gevolglik laat godvresende mans wat kan werk dit nie as gevolg van luiheid aan hulle vrou of ouer kinders oor om voedsel en klere vir die gesin te voorsien nie; daardie verantwoordelikheid rus hoofsaaklik op die skouers van die gesinshoof.—1 Korintiërs 11:3.
’n Man se inkomste sal dalk weliswaar nie groot genoeg wees om in al sy gesin se behoeftes te voorsien nie. Maar as sy vrou buite die huis geld verdien, sal ’n Christenman nie gegrief voel nie. Hy sal haar eerder soos ’n geëerde “metgesel” behandel (Maleagi 2:14). Hy sal dus nie op hardvogtige wyse haar swaar verdiende geld neem en dit met min inagneming van haar gevoelens verkwis nie. Inteendeel, hy en sy vrou sal “saam beraadslaag” en besluit hoe hulle hulle geld ten beste kan benut tot voordeel van die hele gesin (Spreuke 13:10, NW). Waar moontlik staan ’n man sy vrou selfs ’n mate van ekonomiese vryheid toe, soos die “deugsame vrou” in Bybeltye geniet het (Spreuke 31:10, 11, 16). Dit bevorder gesinsgeluk en vergenoegdheid wanneer die Bybel se raad in sulke aangeleenthede gevolg word.
Bied die uitdaging van werkloosheid die hoof
Beskou die probleem van werkloosheid. Wanneer werksgeleenthede skaars en betaling karig is, het baie gesinshoofde in Afrika al ver van die huis af werk gaan soek—in myne, in fabrieke, op plase en op plantasies. As ’n Christenman hom in hierdie situasie moes bevind, sal hy moontlik van medeaanbidders afgeskei en aan uiters slegte omgang blootgestel wees (Spreuke 18:1; 1 Korintiërs 15:33). Hoewel sy gesin dalk die situasie na die beste van hulle vermoë probeer hanteer, sal hulle waarskynlik swaarkry omdat hulle nie ’n vader by die huis het om die leiding in geestelike sake te neem of om emosionele ondersteuning te bied nie. Dit is ironies dat die lang afwesigheid dalk ook tot die einste ding kan lei wat dit veronderstel was om te verhoed—ekonomiese ontberinge.
Een moeder sê: “My man het na goud gaan delf. Hy het beplan om ná ’n maand of op die langste twee maande terug te kom. Op die ou end was dit ’n jaar! Ek moes vir ses kinders sorg. Dan was daar die huur wat betaal moes word. Omdat ek nie gesond was nie, moes ek hospitaalrekeninge betaal. Ons het klere nodig gehad, en ons moes elke dag eet. Ek was sonder werk. Dit was nie maklik nie. Die moeilikste van alles was om na die kinders se geestelikheid om te sien—gesinstudie, vergaderinge en die predikingswerk. Met Jehovah se hulp het ons op die een of ander manier deurgedruk.”
Selfs party moeders het verplig gevoel om maande aaneen van hulle gesinne af weg te gaan om te gaan werk. Party maak ’n bestaan as reisende handelaars en is selde tuis. Ouer kinders word dus gedwing om ’n ouerlike rol te vervul en te sorg vir etes, take in en om die huis en selfs die dissipline van jonger boeties en sussies. Deelname aan geestelike bedrywighede ly daaronder. Ja, geweldige druk kan op die gesin geplaas word!
Wanneer daar natuurlik swaar ekonomiese toestande is, is daar vir ’n ouer dalk geen ander uitweg as om werk ver van die huis af te soek om vir sy gesin te sorg nie. In Bybeltye moes die seuns van Jakob blykbaar hulle gesinne agterlaat om lewensmiddele in Egipte te gaan kry (Genesis 42:1-5). Wanneer soortgelyke situasies dus vandag ontstaan, moet gesinshoofde enige materiële voordele wat ’n werk weg van die huis inhou, opweeg teen die geestelike en emosionele skade wat ’n lang skeiding tot gevolg kan hê. Baie gesinne verkies om liewer ekonomiese probleme te verduur as om lang tye van mekaar geskei te wees. Hulle hou Paulus se woorde in 1 Timoteus 6:8 in gedagte: “As ons . . . voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—Vergelyk Spreuke 15:17.
Daar is dikwels ander dinge wat ’n mens kan doen in plaas van weg te gaan. Deur inisiatief en vindingrykheid aan die dag te lê, kon party werk skep deur nuttige dienste te lewer.a (Vergelyk Spreuke 31:24.) Of miskien moet ’n mens nederige werk aanvaar wat ander as minderwaardig beskou (Efesiërs 4:28). Die apostel Paulus het self “met arbeid en geswoeg . . . nag en dag gewerk” ten einde nie ’n finansiële las op ander te wees nie (2 Tessalonisense 3:8). Christenmans kan vandag daardie voorbeeld volg.
Die probleme van skoolopvoeding
Nog ’n probleem het te doen met skoolopvoeding. In party afgeleë gebiede is dit ’n algemene gebruik vir ouers om hulle kinders weg te stuur om lang tye by familie te bly sodat die kinders voldoende skoolopvoeding kan ontvang. Wanneer hulle weg van hulle ouers af is, is dit dikwels vir sulke kinders moeilik om vergaderinge by te woon of om aan die veldbediening deel te neem. Omdat hulle nie die nodige dissipline ontvang nie, word hulle maklik ’n slagoffer van slegte omgang. As gevolg hiervan het party die Christelike lewenswyse verlaat.
Dit lei geen twyfel dat sekulêre opvoeding voordele inhou nie. Maar die Bybel heg groter waarde aan geestelike opvoeding, en God het ouers die verantwoordelikheid gegee om sulke opleiding te voorsien (Deuteronomium 11:18, 19; Spreuke 3:13, 14). Maar om ’n kind vir lang tye weg te stuur, sal ’n ouer se pogings waarskynlik ondermyn om hom “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed.—Efesiërs 6:4.b
Wanneer dit lyk of die plaaslike geleenthede vir opvoeding onvoldoende is, het ouers dalk geen ander keuse as om te doen wat hulle kan om self hulle kinders basiese vaardighede te leer nie. Ons “Grootse Onderrigter”, Jehovah, voorsien ook hulp (Jesaja 30:20, NW). Plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies bied ’n aantal opvoedkundige geleenthede. Baie gemeentes het lees-en-skryf-klasse. Die Teokratiese Bedieningskool is eweneens ’n nuttige voorsiening wat ’n kind se vermoë om te lees en duidelik te praat, kan verskerp.
’n Gebalanseerde beskouing van kinders
Om in die behoeftes van kinders te voorsien, kan besonder moeilik wees wanneer daar baie is. Ouers in Afrika sal dikwels sê dat hulle baie van kinders hou; gevolglik het hulle soveel as moontlik! Hoewel kinders as ’n ekonomiese hulpbron beskou kan word, kan baie ouers nie ’n groot kroos behoorlik onderhou nie.
Die Bybel sê natuurlik dat ‘seuns ’n erfdeel van die HERE is’ (Psalm 127:3). Let egter daarop dat daardie woorde geskryf is toe daar gunstige toestande in Israel geheers het. Later het ernstige hongersnood en oorlog dit baie moeilik gemaak om kinders te hê (Klaagliedere 2:11, 20; 4:10). In die lig van die moeilike toestand wat in baie ontwikkelende lande heers, moet verantwoordelike Christene ernstig nadink oor die aantal kinders wat hulle werklik van voedsel, klere, huisvesting en opvoeding kan voorsien. Nadat baie egpare die koste bereken het, het hulle besluit dat dit raadsaam sal wees om nie die tradisie te volg nie en die aantal kinders wat hulle gaan hê te beperk.c—Vergelyk Lukas 14:28.
Ons lewe waarlik vandag in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1-5). Namate hierdie stelsel van dinge sy onvermydelike einde nader, sal die druk op gesinne in ontwikkelende lande ongetwyfeld toeneem. Maar deur getrou te hou by die beginsels in God se Woord kan gesinshoofde daarin slaag om in sowel die fisiese as die geestelike behoeftes van hulle gesin te voorsien, want Jehovah doen hierdie belofte aan diegene wat hom lojaal dien: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Ja, selfs in arm lande kan Christene die uitdaging om vir hulle huisgesinne te sorg suksesvol die hoof te bied!
[Voetnote]
a Sien die artikel “Hoe om in ontwikkelende lande werk te skep” in ons medetydskrif, die Ontwaak!, se nommer van 22 Oktober 1994.
b Sien “Vrae van Lesers” in Die Wagtoring van 1 November 1982 vir verdere inligting.
c Nuttige inligting is in die reeks “Gesinsbeplanning—’n wêreldwye vraagstuk” voorsien, wat in die Ontwaak! van 22 Februarie 1993 verskyn het.