Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 5/1 bl. 25-29
  • Diens onder Jehovah se liefdevolle hand

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Diens onder Jehovah se liefdevolle hand
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Siekte word ’n seën
  • Noue ontkomings
  • Geestelike vooruitgang
  • Inhegtenis- en gevangenisnemings
  • ’n Ander soort toets
  • Ons gaan versigtig te werk
  • Ek kry ’n getroue huweliksmaat
  • Betheldiens
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ‘Ek het nie goud nie, maar diamante gevind’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Ek gee Jehovah wat hy verdien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ons dien die betroubare God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 5/1 bl. 25-29

Diens onder Jehovah se liefdevolle hand

SOOS VERTEL DEUR LAMBROS ZOUMBOS

Ek het voor ’n belangrike besluit te staan gekom: moet ek die aanbod van my welgestelde oom aanneem om die bestuurder van al sy eiendomme te word—en sodoende die finansiële probleme van ons gesin oplos—of moet ek ’n voltydse bedienaar van Jehovah God word. Laat ek verduidelik watter faktore my uiteindelike besluit beïnvloed het.

EK IS in 1919 in die dorp Volos, Griekeland, gebore. My pa het mansklere verkoop, en dit het finansieel met ons goed gegaan. Maar as gevolg van die ekonomiese depressie van die laat twintigerjare het my pa bankrot gespeel, en hy het sy winkel verloor. Elke keer wanneer ek die radelose uitdrukking op my pa se gesig gesien het, het ek hartseer gevoel.

Ons gesin het ’n ruk in volslae armoede geleef. Ek het elke dag ’n uur vroeër van die skool gekom om in die tou vir voedselrantsoene te gaan wag. Ondanks ons armoede het ons nietemin ’n rustige gesinslewe geniet. Dit was my droom om ’n dokter te word, maar ek moes in my middeltienerjare die skool verlaat en begin werk om my gesin te help om aan die lewe te bly.

Toe, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het die Duitsers en die Italianers Griekeland ingeneem, en daar was ’n swaar hongersnood. Ek het dikwels vriende en kennisse in die strate van die honger sien doodgaan—’n verskriklike gesig wat ek nooit sal vergeet nie! Ons gesin was eenkeer 40 dae lank sonder brood, ’n stapelvoedsel in Griekeland. Ek en my ouer broer het na dorpies daar naby gegaan om aartappels by vriende en familielede te kry sodat ons aan die lewe kon bly.

’n Siekte word ’n seën

Vroeg in 1944 het ek baie siek geword weens ’n soort borsvliesontsteking. Tydens my drie maande lange verblyf in die hospitaal het een van my neefs twee boekies vir my gebring en gesê: “Lees dit; ek is seker jy sal daarvan hou.” Die boekies, Wie is God? en Beskerming, is deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee. Ná ek dit gelees het, het ek vir die ander pasiënte vertel wat ek daarin geleer het.

Nadat ek uit die hospitaal ontslaan is, het ek met die Volos-gemeente van Jehovah se Getuies begin assosieer. Ek moes egter ’n maand lank as ’n buitepasiënt in die huis bly, en ek het tussen ses en agt uur per dag daaraan bestee om ouer nommers van Die Wagtoring asook ander publikasies van die Wagtoringgenootskap te lees. My geestelike groei was gevolglik taamlik vinnig.

Noue ontkomings

Ek het eendag in die middel van 1944 op ’n parkbankie in Volos gesit. Skielik het ’n paramilitêre groep wat die Duitse besettingsleër ondersteun het die plek omring en almal in hegtenis geneem. Ons was omtrent 24 wat deur die strate gelei is na die Gestapo-hoofkwartier wat in ’n tabakskuur was.

Ná ’n paar minute het ek iemand my naam en die naam van die persoon met wie ek in die park gepraat het, hoor uitroep. ’n Griekse leëroffisier het ons laat roep en vir ons gesê dat een van my familielede, toe hy sien hoe ons deur die soldate weggelei word, vir hom gesê het dat ons Jehovah se Getuies is. Die Griekse offisier het toe gesê dat ons maar huis toe kan gaan, en hy het ons sy amptelike kaart gegee om te gebruik ingeval ons weer in hegtenis geneem sou word.

Die volgende dag het ons gehoor dat die Duitsers die meeste van dié wat in hegtenis geneem is, tereggestel het uit weerwraak vir die dood van twee Duitse soldate deur Griekse versetstryders. Buiten dat ek moontlik die dood vrygespring het, het ek by daardie geleentheid die waarde van Christelike neutraliteit geleer.

In die herfs van 1944 het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Gedurende die volgende somer het die Getuies gereël dat ek met die Sklitro-gemeente bo in die berge assosieer, waar ek heeltemal gesond kon word. Die burgeroorlog wat op die einde van die Duitse besetting gevolg het, het toe in Griekeland gewoed. Die dorp waarin ek gebly het, het toevallig as ’n soort basis vir guerrillamagte gedien. Die plaaslike priester en ’n ander wrede man het my daarvan beskuldig dat ek vir regeringsmagte spioeneer en het my deur ’n selfbenoemde guerrillakrygshof laat ondervra.

Die leier van die guerrillamagte in die gebied was ook by die skynverhoor. Nadat ek verduidelik het waarom ek in die dorp woon en vir hulle gewys het dat ek as ’n Christen heeltemal neutraal in die burgeroorlog is, het die leier vir die ander gesê: “As enigiemand aan hierdie kêrel raak, sal hy met my te doen kry!”

Ek het later na my geboortedorp Volos teruggekeer, selfs sterker in my geloof as in my fisiese gesondheid.

Geestelike vooruitgang

Ek is kort daarna as die rekeningkneg in die plaaslike gemeente aangestel. Ondanks die ontberinge wat die burgeroorlog tot gevolg gehad het—waaronder die talle inhegtenisnemings weens beskuldings van proselitisme deur die geestelikes—het ek en die res van die gemeente groot vreugde uit ons deelname aan die Christelike bediening geput.

Toe, vroeg in 1947, het ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies ons besoek. Dit was die eerste besoek van hierdie aard sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ons florerende gemeente in Volos is toe verdeel om twee gemeentes te vorm, en ek is as die presiderende opsiener van een van die gemeentes aangestel. Paramilitêre en nasionalistiese organisasies het destyds vrees onder die mense gesaai. Die geestelikes het die situasie uitgebuit. Hulle het die owerheid teen Jehovah se Getuies laat draai deur die valse gerug te versprei dat ons Kommuniste of ondersteuners van linksgesinde groepe is.

Inhegtenis- en gevangenisnemings

Gedurende 1947 is ek omtrent tien keer in hegtenis geneem en drie keer in die hof verhoor. Ek is elke keer vrygespreek. In die lente van 1948 is ek tot vier maande gevangenisstraf gevonnis vir proselitisme. Ek het die vonnis in die Volos-gevangenis uitgedien. Intussen het die aantal Koninkryksverkondigers in ons gemeente verdubbel, en vreugde en geluk het die harte van die broers vervul.

In Oktober 1948, terwyl ek ’n vergadering met ses ander broers gehou het wat die leiding in ons gemeente geneem het, het vyf polisiemanne die huis binnegestorm en ons met hulle vuurwapens op ons gerig in hegtenis geneem. Hulle het ons toe na die polisiestasie geneem sonder om te verduidelik waarom ons in hegtenis geneem is, en daar is ons geslaan. Ek is in die gesig geslaan deur ’n polisieman wat ’n bokser was. Toe is ons in ’n sel gegooi.

Daarna het die offisier wat in beheer was my na sy kantoor geroep. Toe ek die deur oopmaak, het hy my met ’n inkbottel gegooi, wat sy teiken gemis en teen die muur gebreek het. Hy het dit gedoen om my te probeer intimideer. Toe het hy vir my ’n stuk papier en ’n pen gegee en beveel: “Skryf die name van al die Getuies van Jehovah in Volos neer, en bring môreoggend vir my die lys. As jy dit nie doen nie, weet jy wat jou voorland is!”

Ek het nie geantwoord nie, maar toe ek weer terug in die sel was, het ek en die ander broers tot Jehovah gebid. Ek het net my eie naam op die papier geskryf en gewag om geroep te word. Maar ek het nie weer van die offisier gehoor nie. Gedurende die nag het vyandige militêre magte gekom, en hy het sy manskappe teen hulle gelei. In die skermutseling wat gevolg het, is hy ernstig beseer, en een van sy bene moes afgesit word. Ons saak is uiteindelik verhoor, en ons is daarvan aangekla dat ons ’n onwettige vergadering gehou het. Al sewe van ons is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Aangesien ek geweier het om die Sondagmis in die tronk by te woon, is ek in alleenopsluiting geplaas. Op die derde dag het ek gevra om met die hoofbewaarder van die tronk te praat. “Met alle respek”, het ek vir hom gesê, “dit lyk vir my sinloos om iemand te straf wat bereid is om vyf jaar in die tronk deur te bring ter wille van sy geloof.” Hy het ernstig daaroor nagedink, en uiteindelik het hy gesê: “Van môre af sal jy hier by my in die kantoor werk.”

Ek het op die ou end werk as ’n doktersassistent in die tronk gekry. Ek het gevolglik baie omtrent gesondheidsorg geleer, iets wat in latere jare baie nuttig was. Terwyl ek in die tronk was, het ek baie geleenthede gehad om ’n getuienis te gee, en drie persone het gunstig gereageer en Jehovah se Getuies geword.

Nadat ek byna vier jaar in die tronk was, is ek uiteindelik in 1952 op parool vrygelaat. Ek moes later in Korinte verskyn oor die neutraliteitsgeskil (Jesaja 2:4). Daar is ek ’n kort rukkie in ’n militêre gevangenis aangehou, en die mishandeling het weer van voor af begin. Party offisiere was nogal oorspronklik met hulle dreigemente en het gesê: “Ek sal jou hart stuk vir stuk met ’n dolk uitsny”, of, “Moenie op ’n vinnige dood met net ses koeëls reken nie.”

’n Ander soort toets

Ek was egter kort voor lank terug by die huis, waar ek weer in die Volos-gemeente gedien en deeltydse sekulêre werk gedoen het. Eendag het ek ’n brief van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Atene gekry, waarin ek uitgenooi is om twee weke lank opleiding te ontvang en daarna gemeentes van Jehovah se Getuies as ’n kringopsiener te besoek. Terselfdertyd het ’n oom aan vaderskant, wat kinderloos was en baie eiendomme besit het, my gevra om sy bates te bestuur. My gesin het nog steeds in armoede geleef, en hierdie werk sou hulle geldelike probleme oplos.

Ek het my oom besoek en hom vir sy aanbod bedank, maar ek het vir hom gesê dat ek besluit het om ’n spesiale toewysing in die Christelike bediening te aanvaar. Toe hy dit hoor, het hy opgestaan, kalm na my gekyk en skielik die vertrek verlaat. Hy het teruggekom en my ’n groot som geld as geskenk gegee wat my gesin maande lank sou kon onderhou. Hy het gesê: “Neem dit, en doen daarmee wat jy wil.” Tot vandag toe kan ek nie die gevoelens beskryf wat ek op daardie oomblik ervaar het nie. Dit was asof ek gehoor het hoe die stem van Jehovah vir my sê: ‘Jy het die regte keuse gemaak. Ek is met jou.’

Met my gesin se seënwense het ek in Desember 1953 na Atene vertrek. Hoewel net my ma ’n Getuie geword het, het die ander lede van my gesin nie my Christelike bedrywighede teëgestaan nie. Toe ek na die takkantoor in Atene gegaan het, het nog ’n verrassing op my gewag. Daar was ’n telegram van my suster, wat gesê het dat my pa se twee jaar lange stryd om ’n welsynspensioen te kry op daardie dag vrugte afgewerp het. Wat meer wou ek hê? Ek het gevoel asof ek vlerke het, gereed om hoog in Jehovah se diens te vlieg!

Ons gaan versigtig te werk

In my vroeë jare in die kringwerk moes ek baie versigtig wees omdat Jehovah se Getuies kwaai vervolg is deur die godsdiens- en politieke owerheid. Ek het baie ure in die donker geloop om ons Christenbroers te besoek, veral dié wat in klein dorpies gewoon het. Die broers, wat gevaar geloop het om in hegtenis geneem te word, het bymekaargekom en geduldig by ’n huis op my koms gewag. Wat ’n aangename uitwisseling van aanmoediging het daardie besoeke tog nie aan ons almal voorsien nie!—Romeine 1:11, 12.

Ek het soms vermommings gebruik om te voorkom dat enigiemand agterkom wie ek is. Ek het eenkeer soos ’n herder aangetrek om verby ’n padblokkade te kom sodat ek by ’n groep broers kon uitkom wat die hulp van ’n geestelike herder bitter nodig gehad het. By ’n ander geleentheid, in 1955, het ek en ’n mede-Getuie gemaak asof ons knoffelverkopers is om nie die agterdog van die polisie te wek nie. Ons toewysing was om met van die Christenbroers in aanraking te kom wat onaktief geraak het in die klein dorpie Árgos Orestikón.

Ons het ons koopware in die dorp se openbare mark ten toon gestel. ’n Jong polisieman wat die gebied gepatrolleer het, het egter agterdogtig geraak en nuuskierig na ons gekyk elke keer as hy verbygekom het. Uiteindelik het hy vir my gesê: “Jy lyk nie soos ’n knoffelverkoper nie.” Op daardie oomblik het drie jong vroue nader gekom en gesê dat hulle ’n bietjie knoffel wil koop. Ek het na my produkte gewys en uitgeroep: “Hierdie jong polisieman eet hierdie soort knoffel, en kyk net hoe sterk en aantreklik is hy!” Die vroue het na die polisieman gekyk en gelag. Hy het ook geglimlag en toe verdwyn.

Toe hy weg was, het ek van die geleentheid gebruik gemaak om na die winkel te gaan waar ons geestelike broers as kleremakers gewerk het. Ek het een van hulle gevra om ’n knoop vas te werk wat ek van my baadjie geskeur het. Terwyl hy dit gedoen het, het ek oorgeleun en gefluister: “Ek het van die takkantoor gekom om julle te sien.” Die broers was eers bang, aangesien hulle jare lank geen kontak met mede-Getuies gehad het nie. Ek het hulle so goed moontlik probeer aanmoedig en het reëlings getref om hulle later in die dorp se begraafplaas te ontmoet sodat ons verder kon praat. Die besoek was gelukkig aanmoedigend, en hulle het weer ywerig in die Christelike bediening geword.

Ek kry ’n getroue huweliksmaat

In 1956, drie jaar ná ek as ’n reisende opsiener begin dien het, het ek Niki ontmoet, ’n jong Christenvrou wat baie lief was vir die predikingswerk en graag haar lewe in die voltydse bediening wou deurbring. Ons het op mekaar verlief geraak en is in Junie 1957 getroud. Ek het gewonder of Niki opgewasse sou wees teen die eise van die reisende werk onder die vyandige omstandighede wat Jehovah se Getuies destyds in Griekeland moes verduur. Met Jehovah se hulp het sy dit reggekry, en sodoende het sy die eerste vrou geword wat haar man in Griekeland in die kringwerk vergesel het.

Ons was tien jaar lank saam in die reisende werk en het die meeste van die gemeentes in Griekeland bedien. Ons het dikwels vermommings gedra en, met koffer in die hand, ure aaneen onder die sluier van die nag geloop om by ’n gemeente uit te kom. Ondanks die geweldige teenstand waarmee ons dikwels te kampe gehad het, was ons verheug om persoonlik die ongelooflike toename in die aantal Getuies te sien.

Betheldiens

In Januarie 1967 is ek en Niki uitgenooi om by Bethel, soos die takkantoor van Jehovah se Getuies genoem word, te dien. Die uitnodiging het ons albei verras, maar ons het dit aangeneem, vol vertroue dat Jehovah sake gerig het. Ons het mettertyd besef watter groot voorreg dit is om by hierdie middelpunt van teokratiese bedrywigheid te dien.

Drie maande ná ons Betheldiens begin het, het ’n militêre junta die bewind oorgeneem, en Jehovah se Getuies moes hulle werk op ’n minder opsigtelike manier voortsit. Ons het in klein groepies begin bymekaarkom, ons byeenkomste in die woud gehou, die predikingswerk versigtig gedoen en Bybellektuur in die geheim gedruk en versprei. Dit was nie moeilik om by hierdie omstandighede aan te pas nie, aangesien ons maar net weer ons werk op dieselfde manier as in vroeër jare gedoen het. Ten spyte van die beperkings het die aantal Getuies van minder as 11 000 in 1967 tot meer as 17 000 in 1974 toegeneem.

Ná byna 30 jaar in Betheldiens geniet ek en Niki steeds ons geestelike seëninge, ondanks die beperkings wat ons weens gesondheidsprobleme en die ouderdom ervaar. Ons het meer as tien jaar by die takkantoorgebou in Kartalistraat in Atene gewoon. In 1979 is ’n nuwe takkantoor in Marousi, ’n voorstad van Atene, toegewy. Maar ons gebruik sedert 1991 die ruim nuwe takkantoorfasiliteit in Eleona, 60 kilometer noord van Atene. Hier dien ek in ons Bethel se sieke-afdeling, waar die opleiding wat ek as ’n assistent van die gevangenisdokter ontvang het my al baie gehelp het.

Gedurende die meer as vier dekades in die voltydse bediening het ek, soos Jeremia, die waaragtigheid van Jehovah se belofte besef: “Hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red” (Jeremia 1:19). Ja, ek en Niki het ’n beker wat oorloop van seëninge van Jehovah af geniet. Ons verheug ons voortdurend in sy oorvloedige liefdevolle besorgdheid en onverdiende goedhartigheid.

Ek wil jongmense in Jehovah se organisasie aanmoedig om die voltydse bediening na te streef. Sodoende kan hulle Jehovah se uitnodiging aanvaar en beproef of hy sy belofte gestand sal doen ‘om die vensters van die hemel oop te maak en ’n oorvloedige seën uit te stort’ (Maleagi 3:10). Uit my eie ondervinding kan ek julle as jongmense daarvan verseker dat Jehovah julle almal sal seën as julle op hierdie wyse volkome op hom vertrou.

[Prent op bladsy 26]

Lambros Zoumbos en sy vrou, Niki

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel