Ek gee Jehovah wat hy verdien
Soos Vertel Deur Timoleon Vasiliou
Ek is in hegtenis geneem omdat ek die Bybel vir ander geleer het in die dorpie Aidhonochori. Die polisie het my skoene uitgetrek en my op my voetsole begin slaan. Terwyl hulle my geslaan het, het ek alle gevoel in my voete verloor en kon ek dus nie meer die pyn voel nie. Maar voordat ek verduidelik wat aanleiding gegee het tot hierdie mishandeling, wat op daardie tydstip iets algemeens was in Griekeland, wil ek eers vertel hoe ek ’n Bybelonderrigter geword het.
KORT nadat ek in 1921 gebore is, het ons gesin na die dorp Rodholívos, in Noord-Griekeland, getrek. Gedurende my jeug het ek ’n bandelose lewe gelei. Toe ek 11 was, het ek begin rook. Later het ek ’n strawwe drinker en ’n dobbelaar geword, en ek het byna elke aand na wilde partytjies gegaan. Ek het ’n aanleg vir musiek gehad en het dus by ’n plaaslike orkes aangesluit. Binne ’n jaar kon ek byna al die instrumente in die orkes bespeel. Maar ek was terselfdertyd leergierig en het geregtigheid liefgehad.
Vroeg in 1940, terwyl die Tweede Wêreldoorlog gewoed het, is ons orkes genooi om by die begrafnis van ’n klein dogtertjie te speel. By die graf het familielede en vriende ontroosbaar gehuil. Hulle volslae wanhoop het my diep getref. Ek het begin wonder: ‘Waarom sterf ons? Behels die lewe meer as net ons kortstondige bestaan? Waar kan ek die antwoorde vind?’
’n Paar dae later het ek die Nuwe Testament op ’n rak in ons huis gesien. Ek het dit afgehaal en begin lees. Toe ek Jesus se woorde in Matteus 24:7 gelees het wat sê dat grootskaalse oorlog deel van die teken van sy teenwoordigheid sou wees, het dit vir my duidelik geword dat sy woorde op ons tyd van toepassing moet wees. In die daaropvolgende weke het ek hierdie eksemplaar van die Christelike Griekse Geskrifte ’n hele paar keer deurgelees.
Toe, in Desember 1940, het ek ’n gesin wat naby ons gewoon het—’n weduwee en haar vyf kinders—besoek. Tussen ’n stapel boekies in hulle solderkamer het ek ’n boekie gevind met die titel ’n Gewenste regering, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is. Ek het daar in die solderkamer gebly en die hele boekie gelees. Wat ek gelees het, het my volkome oortuig dat ons inderdaad lewe in wat die Bybel “die laaste dae” noem en dat Jehovah God binnekort ’n einde gaan maak aan hierdie stelsel van dinge en dit met ’n regverdige nuwe wêreld gaan vervang.—2 Timoteus 3:1-5; 2 Petrus 3:13.
Wat my veral beïndruk het, was die skriftuurlike bewyse dat getroues vir ewig op ’n aardse paradys sal lewe en dat lyding en die dood iets van die verlede sal wees in daardie nuwe wêreld onder die heerskappy van God se Koninkryk (Psalm 37:9-11, 29; Openbaring 21:3, 4). Terwyl ek gelees het, het ek God in gebed vir hierdie dinge gedank, en ek het hom gevra om vir my te wys wat sy vereistes is. Dit het vir my duidelik geword dat Jehovah God my heelhartige toegewydheid verdien.—Matteus 22:37.
Ek pas toe wat ek geleer het
Van toe af het ek nie meer gerook nie, nie meer dronk geword nie en opgehou dobbel. Ek het die weduwee se vyf kinders en my drie jonger broers en susters bymekaargekry en aan hulle verduidelik wat ek uit die boekie geleer het. Weldra het ons elke bietjie kennis wat ons gehad het aan ander meegedeel. Ons het in die gemeenskap as Jehovah se Getuies bekend gestaan, hoewel ons nog nooit ’n Getuie ontmoet het nie. Ek het van die begin af elke maand meer as honderd uur daaraan bestee om ander van die wonderlike dinge te vertel wat ek geleer het.
Een van die plaaslike Grieks-Ortodokse priesters het na die burgemeester gegaan om oor ons te kla. Maar ’n paar dae tevore het ’n jong Getuie, sonder dat ons daarvan geweet het, ’n verlore perd gevind en hom aan sy eienaars terugbesorg. As gevolg van hierdie eerlikheid het die burgemeester die Getuies gerespekteer en geweier om na die priester te luister.
Eendag, omstreeks Oktober 1941, terwyl ek in die markplein getuig het, het iemand gepraat van ’n Getuie van Jehovah wat in ’n nabygeleë dorp gewoon het. Hy was ’n voormalige polisieman met die naam Christos Triantafillou. Ek het hom gaan besoek en uitgevind dat hy sedert 1932 ’n Getuie was. Hoe bly was ek tog toe hy vir my ’n hele klomp ouer Wagtoringpublikasies gegee het! Dit het my werklik gehelp om geestelik vooruitgang te maak.
In 1943 het ek my toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. Teen daardie tyd het ek Bybelstudies in drie van die naburige dorpe gehou—in Dhravískos, Palaeokomi en Mavrolofos. Ek het die boek Die harp van God as ons Bybelstudiehulp gebruik. Uiteindelik het ek die voorreg gehad om te sien hoe vier gemeentes van Jehovah se Getuies in hierdie omgewing gestig word.
Predikingswerk ondanks struikelblokke
In 1944 is Griekeland van Duitse besetting bevry, en ’n rukkie later kon ons met die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Atene in aanraking kom. Die broers by die takkantoor het my genooi om die predikingswerk te doen in ’n gebied waar byna niemand nog die Koninkryksboodskap gehoor het nie. Nadat ek soontoe getrek het, het ek drie maande lank op ’n plaas gewerk en die res van die jaar in die bediening deurgebring.
Daardie jaar was dit vir my ’n seëning om te sien hoe my ma gedoop word, sowel as die weduwee en haar kinders, behalwe haar jongste dogter, Marianthi, wat in 1943 gedoop is en in November van daardie jaar my geliefde vrou geword het. Dertig jaar later, in 1974, het my pa ook ’n gedoopte Getuie geword.
Vroeg in 1945 het ons die eerste gemimeografeerde kopie van Die Wagtoring van die takkantoor af ontvang. Die hoofartikel was “Gaan, maak dissipels van al die nasies” (Matteus 28:19, The Emphatic Diaglott). Ek en Marianthi het onmiddellik besluit om in verafgeleë gebiede oos van die Strumarivier te gaan werk. Later het ander Getuies by ons aangesluit.
Ons het dikwels kilometers ver kaalvoet deur klowe en oor berge geloop om by ’n dorpie uit te kom. Ons het dit gedoen om ons skoene langer te laat hou, want ons het nie ander skoene gehad nie. Van 1946 tot 1949 het ’n burgeroorlog Griekeland geteister, en dit was baie gevaarlik om te reis. Dit was nie ongewoon om lyke langs die pad te sien lê nie.
Ons is nie deur die moeilikhede ontmoedig nie, maar het eerder ywerig aangehou dien. Ek het baie keer soos die psalmis gevoel wat geskryf het: “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my” (Psalm 23:4). Gedurende hierdie tyd was ons dikwels weke lank weg van die huis af, en ek het partykeer 250 uur per maand in die bediening deurgebring.
Ons bediening in Aidhonochori
Een van die dorpies wat ons in 1946 besoek het, was Aidhonochori, wat hoog op ’n berg geleë is. Daar het ons ’n man ontmoet wat vir ons gesê het dat daar twee mans in die dorpie is wat die Bybelboodskap wil hoor. Maar uit vrees vir sy bure wou die man nie vir ons wys waar hulle woon nie. Ons het in elk geval by hulle huise uitgekom en is met gasvryheid ontvang. Trouens, ná ’n paar minute was die sitkamer vol mense! Hulle was óf familielede óf hegte vriende. Ek was heeltemal verbaas om te sien hoe aandagtig hulle na ons gesit en luister het. Ons het weldra uitgevind dat hulle gretig gewag het om met Jehovah se Getuies in aanraking te kom, maar dat daar gedurende die Duitse besetting geen Getuies in die omgewing was nie. Wat het hulle belangstelling gewek?
Die twee gesinshoofde het voorheen belangrike posisies in die plaaslike Kommunistiese party gehad, en hulle het Kommunistiese idees by die mense laat posvat. Maar toe het hulle die boek Government, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, in die hande gekry. Hulle het dit gelees, en dit het hulle oortuig dat God se Koninkryk die enigste hoop op ’n volmaakte, regverdige regering is.
Ons het tot middernag toe met hierdie mans en hulle vriende gesit en praat. Hulle was heeltemal tevrede met die Bybelse antwoorde op hulle vrae. Maar kort daarna het die Kommuniste in die dorp planne beraam om my dood te maak omdat hulle gemeen het dat ek hulle voormalige leiers bekeer het. Terloops, een van dié wat daardie eerste nag teenwoordig was, was die man wat my van die belangstellendes in die dorpie vertel het. Uiteindelik het sy Bybelkennis toegeneem, is hy gedoop en het hy later ’n Christen- ouer man geword.
Wrede vervolging
Dit was nie lank nadat ons daardie gewese Kommuniste ontmoet het dat twee polisiemanne in ’n huis ingestorm het waar ons ’n vergadering gehou het nie. Hulle het hulle vuurwapens op ons gerig en vier van ons in hegtenis geneem en na die polisiekantoor geneem. Daar het die luitenant, wat noue bande met die Grieks-Ortodokse geestelikes gehad het, ons sleggesê. Eindelik het hy gevra: “Wel, wat gaan ek met julle maak?”
“Kom ons slaan hulle!” het die ander polisiemanne wat agter ons gestaan het gelyk uitgeroep.
Teen daardie tyd was dit al laat in die nag. Die polisiemanne het ons in die kelder opgesluit en toe na die kroeg langsaan gegaan. Toe hulle dronk was, het hulle teruggekom en ek is boontoe gebring.
Toe ek sien in watter toestand hulle is, het ek besef dat hulle my enige oomblik kan doodmaak. Ek het dus tot God gebid om my die krag te gee om wat ek ook al mag ondergaan te verduur. Hulle het ’n paar stokke geneem en, soos ek aan die begin vertel het, my op my voetsole begin slaan. Daarna het hulle my oor my hele lyf geslaan, en toe het hulle my weer in die kelder gegooi. Toe het hulle nog ’n slagoffer boontoe gevat en hom geslaan.
Intussen het ek die geleentheid gebruik om die ander twee jong Getuies voor te berei op die toets wat vir hulle voorgelê het. Maar die polisiemanne het besluit om my eerder weer boontoe te neem. Hulle het my klere uitgetrek en die vyf van hulle het my omtrent ’n uur lank geslaan en met hulle stewels op my kop getrap. Toe het hulle my by die trap af gegooi, waar ek ongeveer 12 uur lank bewusteloos gelê het.
Toe ons uiteindelik vrygelaat is, het ’n gesin in die dorpie ons die nag gehuisves en ons versorg. Die volgende dag het ons terug huis toe gegaan. Ons was so moeg en uitgeput van die slae dat die reis, wat gewoonlik twee uur te voet duur, agt uur geduur het. Ek was so opgeswel van die slae dat Marianthi my skaars herken het.
Vermeerdering ondanks teenstand
In 1949, terwyl die burgeroorlog nog voortgeduur het, het ons na Tessalonika getrek. Ek het die toewysing ontvang om as assistent-gemeentekneg in een van die vier gemeentes in die stad te dien. Ná een jaar het die gemeente só gegroei dat ons nog een gestig het, en ek het die toewysing as die gemeentekneg, of presiderende opsiener, ontvang. ’n Jaar later was die nuwe gemeente byna twee maal groter, en nog ’n gemeente is gestig!
Teenstanders was kwaad oor die vermeerdering van Jehovah se Getuies in Tessalonika. Eendag in 1952, toe ek ná werk by die huis kom, was ons huis heeltemal afgebrand. Marianthi het net-net lewendig daarvan afgekom. By die vergadering daardie aand moes ons verduidelik waarom ons met vuil klere daar was—ons het alles verloor. Ons Christenbroers was baie simpatiek en het ons bygestaan.
In 1961 is ek gevra om reisende werk te doen, om elke week ’n ander gemeente te besoek om die broers geestelik te versterk. Ek en Marianthi het die volgende 27 jaar die kringe en streke in Masedonië, Trasië en Tessalië besoek. Hoewel my geliefde Marianthi sedert 1948 feitlik blind was, het sy moedig saam met my gedien en baie toetse van geloof verduur. Sy is ook baie keer in hegtenis geneem, verhoor en in die tronk gesit. Toe het haar gesondheid agteruit begin gaan, en sy het in 1988 ná ’n lang stryd teen kanker gesterf.
Daardie selfde jaar is ek aangestel om in Tessalonika as ’n spesiale pionier te dien. Ná meer as 56 jaar van diens aan Jehovah kan ek nog steeds hard werk en aan al die aspekte van die bediening deelneem. Soms het ek tot 20 Bybelstudies elke week met belangstellendes gehou.
Ek het tot die besef gekom dat ons in werklikheid aan die begin staan van ’n groot onderrigtingsprogram wat tot in Jehovah se nuwe wêreld en nog duisend jaar daarna sal voortduur. Maar ek dink nie dat dit nou die tyd is om die pas te verslap, dinge uit te stel of ons tyd daaraan te bestee om ons vleeslike begeertes te bevredig nie. Ek dank God dat hy my help om die belofte na te kom wat ek heel in die begin gemaak het, want Jehovah verdien waarlik ons heelhartige toegewydheid en diens.
[Prent op bladsy 24]
Ek hou ’n toespraak terwyl ons predikingswerk verbied was
[Prent op bladsy 25]
Saam met my vrou, Marianthi