Vereis God dat ons vas?
GOD se Wet wat deur middel van Moses gegee is, het vereis dat daar by slegs een geleentheid gevas word—op die jaarlikse Versoendag. Die Wet het beveel dat die Israeliete op daardie dag ‘hulle siele teister’, waaronder verstaan word dat hulle gevas het (Levitikus 16:29-31, NW; 23:27, NW; Psalm 35:13, NW). Maar hierdie vas was nie blote vormdiens nie. Die viering van die Versoendag het die volk Israel beweeg om meer bewus te wees van hulle sondigheid en hulle behoefte aan verlossing. Hulle het ook op daardie dag gevas om hulle spyt oor hulle sondes en berou voor God te kenne te gee.
Hoewel dit die enigste verpligte vas onder die Mosaïese Wet was, het die Israeliete vaste by ander geleenthede gehou (Exodus 34:28; 1 Samuel 7:6; 2 Kronieke 20:3; Esra 8:21; Ester 4:3, 16). Daar was onder andere vrywillige vaste waardeur berou getoon is. Jehovah het die sondige volk van Juda aangespoor: “Bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.” Dit moes nie ’n uiterlike vertoon wees nie, want God sê voorts: “Skeur julle hart en nie julle klere nie.”—Joël 2:12-15.
Mettertyd het baie as ’n uiterlike formalisme gevas. Jehovah het sulke onopregte vaste verag en het huigelagtige Israeliete derhalwe gevra: “Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ’n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ’n dag wat die HERE welgevallig is?” (Jesaja 58:5). Hierdie weerspannige volk moes nie ’n uiterlike vertoon van hulle vas maak nie, maar is gevra om eerder werke te doen wat by berou pas.
Party vaste wat deur die Jode ingestel is, is uit die staanspoor deur God afgekeur. Daar was byvoorbeeld ’n tyd toe die volk van Juda vier jaarlikse vaste gehad het ter herdenking van die rampspoedige gebeure wat met Jerusalem se beleëring en verwoesting in die sewende eeu v.G.J. verband gehou het (2 Konings 25:1-4, 8, 9, 22-26; Sagaria 8:19). Nadat die Jode uit gevangenskap in Babilon vrygelaat is, het Jehovah deur middel van die profeet Sagaria gesê: “As julle nou sewentig jaar lank . . . gevas . . . het, het julle toe werklik ter wille van My gevas?” God het hierdie vaste nie goedgekeur nie omdat die Jode gevas en gerou het oor oordele wat van Jehovah self gekom het. Hulle het gevas weens die rampspoed wat hulle getref het, nie weens hulle eie oortredinge wat daartoe gelei het nie. Nadat hulle in hulle tuisland herstel is, was dit tyd vir hulle om hulle eerder te verbly as om die verlede te betreur.—Sagaria 7:5.
Moet Christene vas?
Hoewel Jesus Christus nooit sy dissipels opdrag gegee het om te vas nie, het hy en sy volgelinge op die Versoendag gevas omdat hulle onder die Mosaïese Wet was. Daarbenewens het party van sy dissipels vrywilliglik by ander geleenthede gevas, aangesien Jesus hulle nie beveel het om die gebruik heeltemal te vermy nie (Handelinge 13:2, 3; 14:23). Tog moes hulle nooit ‘hulle gesigte vertrek sodat die mense kon sien dat hulle vas’ nie (Matteus 6:16). So ’n uiterlike vertoon van vroomheid sou ander mense dalk met bewondering laat kyk en met goedkeuring laat knik. Maar so ’n uiterlike vertoon behaag God nie.—Matteus 6:17, 18.
Jesus het ook gesê dat sy volgelinge ten tye van sy dood sou vas. Hy het nie daardeur ’n rituele vas ingestel nie. Hy het eerder getoon wat hulle reaksie sou wees op die diepe smart wat hulle sou ervaar. Nadat hy opgewek is, sou hy weer met hulle wees, en hulle sou nie meer daardie rede hê om te vas nie.—Lukas 5:34, 35.
Die Mosaïese Wet het tot ’n einde gekom toe “die Christus eens en vir altyd geoffer [is] om die sondes van baie te dra” (Hebreërs 9:24-28). En met die einde van die Wet is die opdrag om op die Versoendag te vas, opgehef. Sodoende is die enigste verpligte vas wat in die Bybel gemeld word, afgeskaf.
Wat van die Groot Vas?
Wat is dus die grondslag van die Christendom se gebruik om die Groot Vas te hou? Katolieke sowel as Protestantse kerke hou die Groot Vas, hoewel verskillende kerke dit op verskillende maniere vier. Sommige eet slegs een maaltyd per dag gedurende die volle periode van 40 dae wat Paasfees voorafgaan. Ander hou slegs op Aswoensdag en Goeie Vrydag ’n algehele vas. Vir party vereis die Groot Vas die onthouding van vleis, vis, eiers en melkprodukte.
Die Groot Vas is skynbaar gebaseer op Jesus se 40 dae lange vas ná sy doop. Het hy dus ’n ritueel ingestel wat jaarliks gevolg moet word? Glad nie. Dit kan gesien word uit die feit dat die Bybel geensins so ’n gebruik onder die vroeë Christene meld nie. Die Groot Vas is vir die eerste keer in die vierde eeu ná Christus gevier. Soos baie ander leringe van die Christendom, is dit uit heidense bronne oorgeneem.
As die Groot Vas in navolging van Jesus se vas in die wildernis is nadat hy gedoop is, waarom word dit gevier gedurende die weke voor Paasfees—wat veronderstel is om die tyd van sy opstanding te wees? Jesus het nie gedurende die dae voor sy dood gevas nie. Die Evangelieverslae toon dat hy en sy dissipels net ’n paar dae voor sy dood huise besoek het en maaltye in Betanië genuttig het. En hy het die Pasgamaal die aand voor sy dood geëet.—Matteus 26:6, 7; Lukas 22:15; Johannes 12:2.
Ons kan iets leer uit die feit dat Jesus ná sy doop gevas het. Dit was vir hom die begin van ’n uiters belangrike bediening. Die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die toekoms van die hele menseras was daarby betrokke. Dit was ’n tyd vir ernstige bepeinsing en om Jehovah biddend om hulp en leiding te vra. Gedurende hierdie tyd was dit gepas dat Jesus gevas het. Dit toon dat vas voordelig kan wees wanneer dit met die regte beweegrede en by ’n gepaste geleentheid gedoen word.—Vergelyk Kolossense 2:20-23.
Wanneer vas voordelig kan wees
Kom ons kyk na ’n paar geleenthede waartydens ’n aanbidder van God vandag kan vas. Iemand wat gesondig het, verloor dalk ’n tyd lank sy eetlus. Dit is nie om ander te beïndruk of uit woede oor die dissipline wat ontvang is nie. En om te vas, sal natuurlik nie op sigself sake met God regstel nie. Maar iemand wat waarlik berouvol is, sal diep spyt voel omdat hy Jehovah en waarskynlik vriende en familie seergemaak het. Angs en vurige gebed om vergifnis kan sy eetlus onderdruk.
Israel se koning Dawid het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Toe hy moontlik sy seun by Batseba sou verloor, het hy al sy kragte aan gebed tot Jehovah gewy om barmhartigheid met betrekking tot die kind te verkry. Terwyl hy sy emosies en krag in sy gebede uitgestort het, het hy gevas. Dit kan vandag onder sekere spanningsvolle omstandighede eweneens onvanpas lyk om te eet.—2 Samuel 12:15-17.
Daar kan ook tye wees wanneer ’n godvrugtige persoon hom op een of ander diep geestelike saak wil toespits. Navorsing in die Bybel en Christelike publikasies is dalk nodig. Hy het dalk tyd nodig om te peins. Tydens so ’n indringende studiesessie verkies iemand dalk om nie afgelei te word deur maaltye te nuttig nie.—Vergelyk Jeremia 36:8-10.
Daar is skriftuurlike voorbeelde van knegte van God wat gevas het toe ernstige besluite geneem moes word. In Nehemia se dag moes ’n eed aan Jehovah afgelê word, en die Jode sou vervloek geword het as hulle dit verbreek het. Hulle moes belowe om hulle vreemde vroue weg te stuur en afgeskeie van die omliggende nasies te bly. Voordat hulle hierdie eed afgelê het en tydens die belydenis van hulle skuld het die hele gemeente gevas (Nehemia 9:1, 38; 10:29, 30). Wanneer ’n Christen dus gewigtige besluite moet neem, sal hy dalk vir ’n ruk sonder kos bly.
Wanneer liggame van ouer manne in die vroeë Christengemeente besluite moes neem, het hulle soms gevas. Gemeentelike ouer manne wat vandag voor moeilike besluite te staan kom, miskien in verband met ’n regterlike saak, onthou hulle dalk van kos terwyl hulle die saak oorweeg.
Wanneer iemand kies om onder sekere omstandighede te vas, is dit sy persoonlike besluit. Een persoon moenie ’n ander oor hierdie saak oordeel nie. Dit moenie ons begeerte wees om ‘vir die mens regverdig te lyk’ nie; ons moet ook nie kos so belangrik ag dat dit ons verhinder om na ernstige verpligtinge om te sien nie (Matteus 23:28; Lukas 12:22, 23). En die Bybel toon dat God nie van ons vereis om te vas of ons verbied om te vas nie.
[Prent op bladsy 7]
Weet jy waarom Jesus ná sy doop 40 dae gevas het?