Tertius—Paulus se getroue sekretaris
TERTIUS het voor ’n uitdaging te staan gekom. Die apostel Paulus wou hom as sy sekretaris gebruik toe hy ’n lang brief aan mede-Christene in Rome wou skryf. Dit sou ’n moeilike taak wees.
Waarom was dit so moeilik om ’n sekretaris in die eerste eeu G.J. te wees? Hoe is sulke werk gedoen? Watter skryfmateriaal is destyds gebruik?
Sekretarisse van die ou tyd
In die eertydse Grieks-Romeinse samelewing was daar sekretarisse van allerlei aard. Party mans het as staatsekretarisse gedien—staatsamptenare wat in die kanselierskantore gewerk het. Daar was ook algemene sekretarisse wat hulle dienste op die markplein aan stadsbewoners aangebied het. Private sekretarisse (dikwels slawe) is deur die rykes in diens geneem. Dan was daar ook gewillige vriende wat bereid was om briewe vir ander te skryf. Volgens geleerde E. Randolph Richards kon die vaardighede van hierdie nieamptelike sekretarisse “wissel van ’n minimale bevoegdheid wat betref die taal en/of die skryftegniek tot die uiterste bedrewenheid om vinnig ’n akkurate, behoorlike en mooi brief te skryf”.
Wie het van sekretarisse gebruik gemaak? Eerstens, diegene wat nie kon lees en skryf nie. By talle ou kontrakte en sakebriewe is aantekeninge gevoeg waarin die sekretaris verklaar het dat hy die dokument geskryf het weens die onvermoë van die persoon wat hom die taak toevertrou het. ’n Tweede rede vir die indiensneming van ’n sekretaris word deur ’n antieke brief uit Thebe, Egipte, toegelig. Dit is vir ’n sekere Asklepiades geskryf en sê ten slotte: “Eumelus, seun van Herma, het vir hom geskryf . . . , want hy skryf bietjie stadig.”
Maar om te kan lees en skryf, was blykbaar nie die oorwegende faktor by die gebruik van ’n sekretaris nie. Volgens ’n Bybelkommentator, John L. McKenzie, “was dit waarskynlik nie eens ’n besorgdheid oor leesbaarheid nie, maar eerder ’n besorgdheid oor skoonskrif, of ten minste oor netheid” wat mense beweeg het om van die dienste van ’n sekretaris gebruik te maak. Skryf was selfs vir die geleerdes ’n vermoeiende taak, veral wanneer dit lang en uitvoerige geskrifte behels het. Geleerde J. A. Eschlimann sê dat enigiemand wat kon “hierdie taak met graagte vermy het en dit aan die sorg van knegte, beroepskrywers, toevertrou het”. Wanneer ’n mens boonop die materiale wat gebruik is en die werksomstandighede in gedagte hou, is dit maklik om te verstaan waarom mense nie daarvan gehou het om hulle eie briewe te skryf nie.
Die skryfmateriaal wat in die eerste eeu G.J. algemeen gebruik is, was papirus. Dun stroke van hierdie plant is verkry deur die kern van sy stingels in die lengte deur te sny. ’n Laag stroke is uitgesprei. Nog ’n laag is dwars oor die eerste laag geplaas. Die twee lae is onder druk saamgepers, wat ’n vel “papier” gemaak het.
Dit was nie maklik om op hierdie oppervlak te skryf nie. Dit was grof en veselrig. Volgens geleerde Angelo Penna “het die sponsagtige vesels van die papirus daartoe bygedra dat die ink gesprei het, veral langs die gleufies wat nog tussen die dun stroke was”. Die sekretaris het soms met gekruiste bene op die grond gesit en werk en die skryfvel met een hand op ’n bord vasgehou. As hy onervare was of die materiale nie van die beste gehalte was nie, kon sy rietpen in die papirus vashaak, die vel kon skeur of die skrif kon onleesbaar wees.
Die ink was van ’n mengsel van roet en gom gemaak. Dit is in die vorm van stafies verkoop en moes in ’n inkpotjie met water verdun word voor dit gebruik kon word om mee te skryf. Van die ander instrumente wat ’n sekretaris soos Tertius waarskynlik by hom sou gehad het, was ’n mes om die rietpen skerp te maak en ’n nat spons om sy foute uit te vee. Elke letter moes met sorg neergeskryf word. Skryf was dus ’n stadige proses en dit het met moeite gepaardgegaan.
‘Ek, Tertius, groet julle’
Aan die einde van die brief aan die Romeine is die groete van Paulus se sekretaris ingesluit, wat geskryf het: “Ek, Tertius, wat hierdie brief geskryf het, groet julle in die Here” (Romeine 16:22). Dit is die enigste geleentheid in Paulus se geskrifte waar daar so direk na een van sy sekretarisse verwys word.
Ons weet nie veel van Tertius nie. Uit sy groete “in die Here” kan ons aflei dat hy ’n getroue Christen was. Hy was waarskynlik ’n lid van die gemeente in Korinte en het dalk baie Christene in Rome geken. Volgens Bybelgeleerde Giuseppe Barbaglio was Tertius heel moontlik ’n slaaf of ’n vrygemaakte slaaf. Waarom? Eerstens, omdat “skrywers gewoonlik deel van hierdie klas was; vervolgens, omdat sy Latynse naam . . . baie algemeen onder slawe en vrygemaakte slawe was”. Barbaglio sê: “Hy was derhalwe nie ’n ‘neutrale’ beroepskrywer nie, hy was ’n medewerker wat Paulus op dié manier gehelp het om sy langste en woordrykste geskrif saam te stel: ’n waardevolle diens wat Paulus tyd en moeite gespaar het.”
Hierdie werk van Tertius is beslis waardevol. Barug het soortgelyke werk vir Jeremia gedoen, soos Silvanus ook vir Petrus gedoen het (Jeremia 36:4; 1 Petrus 5:12). Wat ’n voorreg het sulke medewerkers tog gehad!
Hy skryf aan die Romeine
Die brief aan die Romeine is geskryf terwyl Paulus ’n gas van Gajus was, waarskynlik in Korinte. Dit was omstreeks 56 G.J., gedurende die apostel se derde sendingreis (Romeine 16:23). Hoewel ons vir seker weet dat Paulus vir Tertius as sy sekretaris gebruik het om hierdie brief te skryf, weet ons nie presies hoe hy hom gebruik het nie. Watter metode hy ook al gebruik het, dit kon nie ’n maklike taak gewees het nie. Maar hiervan kan ons seker wees: Paulus se brief aan die Romeine was soos die res van die Bybel “deur God geïnspireer”.—2 Timoteus 3:16, 17.
Toe hierdie brief voltooi was, het Tertius en Paulus duisende woorde geskryf en etlike velle papirus gebruik. Nadat hierdie velle langs die kantlyn aan mekaar gelym is, het dit ’n boekrol gevorm wat waarskynlik sowat drie tot vier meter lank was. Die brief is versigtig opgerol en verseël. Daarna het Paulus dit blykbaar toevertrou aan Febe, ’n suster van Kenchreë, wat op die punt gestaan het om na Rome te reis.—Romeine 16:1, 2.
Die metodes wat gebruik word om geskrewe materiaal voort te bring, het sedert die eerste eeu geweldig verander. Maar die brief aan die Romeinse Christene is deur die eeue heen deur God bewaar. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir hierdie deel van Jehovah se Woord wat met die hulp van Paulus se getroue en hardwerkende sekretaris, Tertius, geskryf is!