Die Woord van God bly vir ewig
“Die woord van onse God hou stand in ewigheid.”—JESAJA 40:8.
1. (a) Wat word hier met “die woord van onse God” bedoel? (b) Hoe vergelyk die beloftes van mense met die woord van God?
MENSE is geneig om hulle vertroue in die beloftes van vooraanstaande manne en vroue te stel. Maar ongeag hoe wonderlik hierdie beloftes dalk vir mense klink wat graag hulle lot in die lewe wil verbeter, hulle is soos verwelkte blomme wanneer hulle met die woord van ons God vergelyk word (Psalm 146:3, 4). Meer as 2700 jaar gelede het Jehovah God die profeet Jesaja geïnspireer om te skryf: “Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ’n blom van die veld. . . . Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid” (Jesaja 40:6, 8). Wat is daardie blywende “woord”? Dit is God se verklaring van sy voorneme. Vandag het ons daardie “woord” in geskrewe vorm as die Bybel.—1 Petrus 1:24, 25.
2. Ondanks watter gesindhede en dade het Jehovah sy woord aangaande eertydse Israel en Juda vervul?
2 Mense wat in die dae van eertydse Israel geleef het, het gevind dat die woorde wat Jesaja opgeteken het waar was. Deur middel van sy profete het Jehovah voorspel dat eers die tienstammeryk van Israel en daarna die tweestammeryk van Juda weens growwe ontrouheid aan hom in ballingskap geneem sou word (Jeremia 20:4; Amos 5:2, 27). Al het hulle Jehovah se profete vervolg, selfs doodgemaak, ’n boekrol met God se waarskuwingsboodskap verbrand en militêre hulp by Egipte gesoek om te verhoed dat dit vervul word, het Jehovah se woord nie onvervuld gebly nie (Jeremia 36:1, 2, 21-24; 37:5-10; Lukas 13:34). Verder het God se belofte om ’n berouvolle Joodse oorblyfsel in hulle land te herstel ’n merkwaardige vervulling gehad.—Jesaja, hoofstuk 35.
3. (a) Watter beloftes wat Jesaja opgeteken het, is vir ons van spesiale belang? (b) Waarom is jy oortuig dat hierdie dinge werklik vervul sal word?
3 By monde van Jesaja het Jehovah ook ’n regverdige heerskappy oor die mensdom deur middel van die Messias voorspel, verlossing van sonde en die dood en dat die aarde in ’n paradys omskep sal word (Jesaja 9:5, 6; 11:1-9; 25:6-8; 35:5-7; 65:17-25). Sal hierdie dinge ook vervul word? Ongetwyfeld! ‘God kan nie lieg nie.’ Hy het sy profetiese woord ter wille van ons laat opteken, en hy het gesorg dat dit behoue gebly het.—Titus 1:2; Romeine 15:4.
4. Al is die oorspronklike Bybelmanuskripte nie bewaar nie, hoe kan daar gesê word dat God se woord “lewend” is?
4 Jehovah het nie die oorspronklike manuskripte bewaar waarin sy eertydse skrywers daardie profesieë opgeteken het nie. Maar sy “woord”, sy verklaarde voorneme, het bewys dat dit ’n lewende woord is. Daardie voorneme maak onstuitbare vooruitgang, en terwyl dit gebeur, word die innerlike gedagtes en beweegredes van mense wie se lewens daardeur geraak word, geopenbaar (Hebreërs 4:12). Daarbenewens toon die geskiedkundige verslag dat die bewaring en vertaling van die geïnspireerde Skrif God se beskerming geniet het.
Pogings om dit te onderdruk
5. (a) Hoe het ’n Siriese koning die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte probeer vernietig? (b) Waarom het hy nie daarin geslaag nie?
5 By meer as een geleentheid het heersers probeer om die geïnspireerde geskrifte te vernietig. In 168 v.G.J. het die Siriese koning Antiogos Epifanes (afgebeeld op bladsy 10) ’n altaar vir Zeus gebou in die tempel wat aan Jehovah toegewy was. Hy het ook die ‘Wetboeke’ gesoek, hulle verbrand en gesê dat enigiemand wat sulke Geskrifte besit het, doodgemaak sou word. Ongeag hoeveel afskrifte hy in Jerusalem en Judea verbrand het, hy kon die Skrif nie heeltemal onderdruk nie. Nedersettings van Jode was destyds in baie lande versprei, en elke sinagoge het sy versameling boekrolle gehad.—Vergelyk Handelinge 13:14, 15.
6. (a) Watter verwoede poging is aangewend om die Geskrifte te vernietig wat deur die vroeë Christene gebruik is? (b) Wat was die resultaat daarvan?
6 In 303 G.J. het die Romeinse keiser Diokletianus eweneens beveel dat Christenvergaderplekke afgebreek word en dat hulle ‘Geskrifte deur die vuur verteer word’. Hierdie vernietiging het ’n dekade lank voortgeduur. Hoewel die vervolging uiters hewig was, het Diokletianus dit nie reggekry om die Christelike geloof uit te wis nie, en God het ook nie toegelaat dat die instrumente van die keiser al die afskrifte van selfs een deel van Sy geïnspireerde Woord vernietig nie. Maar deur hulle reaksie op die verspreiding en verkondiging van God se Woord het die teenstanders getoon wat in hulle harte was. Hulle het hulle geïdentifiseer as mense wat deur Satan verblind is en sy wil uitvoer.—Johannes 8:44; 1 Johannes 3:10-12.
7. (a) Watter pogings is aangewend om die verspreiding van Bybelkennis in Wes-Europa te smoor? (b) Wat is met die vertaling en verspreiding van die Bybel bereik?
7 Pogings om die verspreiding van Bybelkennis te smoor, het ook ander vorme aangeneem. Toe Latyn as omgangstaal uitgesterf het, was dit nie heidense heersers nie maar voorgewende Christene—pous Gregorius VII (1073-85) en pous Innocentius III (1198-1216)—wat daadwerklike teenstand gebied het teen die vertaling van die Bybel in tale wat deur die gewone mense gebruik is. In ’n poging om opstand teen die gesag van die kerk te onderdruk, het die Rooms-Katolieke Konsilie van Toulouse, Frankryk, in 1229 bepaal dat ’n leek nie Bybelboeke in die volkstaal mag besit nie. Die Inkwisisie is op aggressiewe wyse gebruik om die bevel toe te pas. En tog het mense wat God se Woord liefhet, ná 400 jaar van die Inkwisisie, die hele Bybel vertaal en gedrukte eksemplare daarvan versprei in sowat 20 tale, sowel as in bykomende dialekte, en groot dele daarvan in nog 16 tale.
8. Wat het gedurende die 19de eeu in Rusland gebeur op die gebied van Bybelvertaling en -verspreiding?
8 Dit was nie net die Rooms-Katolieke Kerk wat probeer het om die Bybel van die gewone mense af weg te hou nie. Vroeg in die 19de eeu het Pawski, ’n professor aan die St. Petersburgse Akademie vir Godsgeleerdheid, die Evangelie van Matteus uit Grieks in Russies vertaal. Ander boeke van die Christelike Griekse Geskrifte is ook in Russies vertaal, en Pawski was die redakteur. Dit is wyd versprei totdat die tsaar in 1826 deur kerklike intrige oorreed is om die Russiese Bybelgenootskap onder die bestuur van die “Heilige Sinode” van die Russies-Ortodokse Kerk te plaas, wat die bedrywighede daarvan gou stopgesit het. Later het Pawski die Hebreeuse Geskrifte uit Hebreeus in Russies vertaal. Ongeveer dieselfde tyd het Makarios, ’n kloostervoog van die Ortodokse Kerk, ook die Hebreeuse Geskrifte uit Hebreeus in Russies vertaal. Hulle is albei gestraf vir hulle pogings, en hulle vertalings is in die kerkargief geplaas. Die kerk was vasbeslote om die Bybel in die ou Slawoniese taal te hou, wat die gewone mense destyds nie kon lees of verstaan nie. Eers toe die mense se pogings om Bybelkennis te verkry nie meer onderdruk kon word nie, het die “Heilige Sinode” in 1856 sy eie sinodale vertaling aangepak en het in hierdie taak riglyne gevolg wat versigtig saamgestel is sodat die uitdrukkings wat gebruik word met die kerk se beskouings sou ooreenstem. Met betrekking tot die verspreiding van God se Woord het ’n skeiding dus sigbaar begin word tussen die uiterlike voorkoms van die godsdiensleiers en hulle gees, wat deur hulle woorde en dade geopenbaar is.—2 Tessalonisense 2:3, 4.
Die Woord teen verandering beskerm
9. Hoe het party Bybelvertalers hulle liefde vir God se Woord laat blyk?
9 Onder diegene wat die Skrif vertaal en oorgeskryf het, was daar manne wat God se Woord werklik liefgehad het en opregte pogings aangewend het om dit aan almal beskikbaar te stel. William Tyndale het (in 1536) ’n marteldood gesterf as gevolg van sy pogings om die Bybel in Engels beskikbaar te stel. Francisco de Enzinas is (ná 1544) deur die Katolieke Inkwisisie in die tronk gestop omdat hy die Christelike Griekse Geskrifte in Spaans vertaal en versprei het. Robert Morrison het sy lewe gewaag om die Bybel (van 1807 tot 1818) in Chinees te vertaal.
10. Watter voorbeelde toon dat daar vertalers was wat aangedryf is deur ander beweegredes as liefde vir God se Woord?
10 Maar soms het kopiïste en vertalers ander redes as liefde vir God se Woord gehad. Kyk na vier voorbeelde: (1) Die Samaritane het ’n tempel op die berg Gerisim gebou om mee te ding met die tempel in Jerusalem. Om dit te steun, het hulle in Exodus 20:17 ’n invoeging in die Samaritaanse Pentateug gemaak. Die bevel is bygevoeg, asof dit deel van die Tien Gebooie was, om ’n klipaltaar op die berg Gerisim te bou en daar offerandes te bring. (2) Die eerste persoon wat die boek Daniël vir die Griekse Septuagint vertaal het, het hom vryhede in sy vertaling veroorloof. Hy het verklarings bygevoeg wat hy gedink het die inhoud van die Hebreeuse teks sou verklaar of versterk. Hy het besonderhede uitgelaat wat hy gedink het vir lesers onaanvaarbaar sou wees. Toe hy die profesie oor die tyd van die Messias se verskyning vertaal het, wat in Daniël 9:24-27 opgeteken staan, het hy die tydperk wat daar genoem word, vervals en woorde bygevoeg, verander en omgeruil, blykbaar sodat dit sou lyk asof die profesie die stryd van die Makkabeërs steun. (3) In die vierde eeu G.J. het ’n oorywerige voorstander van die Drie-eenheid blykbaar die woorde “in die hemel, die Vader, die Woord en die heilige gees; en hierdie drie is een” in ’n Latynse verhandeling ingesluit asof dit ’n aanhaling uit 1 Johannes 5:7 was. Hierdie woorde is later in die teks van ’n Latynse Bybelmanuskrip ingesluit. (4) In Frankryk het Lodewyk XIII (1610-43) Jacques Corbin toestemming gegee om die Bybel in Frans te vertaal om die pogings van die Protestante teë te werk. Met daardie doel het Corbin ’n paar teksvervalsings ingevoeg, onder andere ’n verwysing na “die heilige offer van die Mis” in Handelinge 13:2.
11. (a) Hoe het die Woord van God behoue gebly ondanks die oneerlikheid van party vertalers? (b) Hoeveel bewyse is daar uit ou manuskripte om te bewys wat die Bybel oorspronklik gesê het? (Sien venster.)
11 Jehovah het nie gekeer dat daar so met sy Woord geknoei word nie, en dit het ook nie sy voorneme verander nie. Watter uitwerking het dit gehad? Die byvoeging van verwysings na die berg Gerisim het nie gemaak dat die Samaritaanse geloof God se manier word waardeur hy die mensdom gaan seën nie. Dit het eerder getoon dat daar nie op die Samaritaanse geloof staatgemaak kon word om die waarheid te leer nie, al het hulle beweer dat hulle aan die Pentateug geglo het (Johannes 4:20-24). Die verdraaiing van woorde in die Septuagint het nie gekeer dat die Messias op die tyd kom wat deur die profeet Daniël voorspel is nie. Wat meer is, al was die Septuagint gedurende die eerste eeu in gebruik, was die Jode blykbaar daaraan gewoond om te hoor dat die Skrif in Hebreeus in hulle sinagoges voorgelees word. Gevolglik het “die volk in afwagting verkeer” toe die tyd aanbreek dat hierdie profesie in vervulling moes gaan (Lukas 3:15). Die invoegings in 1 Johannes 5:7 om die Drie-eenheid te ondersteun en in Handelinge 13:2 om die Mis te regverdig, het nie die waarheid verander nie. En mettertyd is die vervalsings ten volle blootgelê. Die groot aantal Bybelmanuskripte in die oorspronklike tale kan gebruik word om die geldigheid van enige vertaling na te gaan.
12. (a) Watter ernstige veranderinge het party Bybelvertalers aangebring? (b) Hoe omvangryk was dit?
12 Ander pogings om die Skrif te verander, het meer behels as die herbewoording van ’n paar verse. Dit was ’n aanval op die identiteit van die ware God self. Die blote aard en omvang van die veranderinge het duidelike bewys gelewer van ’n invloed uit ’n bron wat kragtiger is as enige enkele mens of menslike organisasie—ja, die invloed van Jehovah se aartsvyand, Satan die Duiwel. Vertalers en kopiïste het—party gretig, ander teësinnig—voor daardie invloed geswig en God se eie persoonlike naam, Jehovah, uit die duisende plekke in sy geïnspireerde Woord verwyder waar dit verskyn het. Vroeg reeds het party vertalings uit Hebreeus in onder meer Grieks, Latyn, Duits, Engels, Italiaans en Nederlands God se naam heeltemal uitgelaat of dit op net ’n paar plekke behou. Dit is ook uit afskrifte van die Christelike Griekse Geskrifte gehaal.
13. Waarom het die groot poging om die Bybel te verander nie tot gevolg gehad dat God se naam uit die geheue van die mens uitgewis is nie?
13 En tog is daardie glorieryke naam nie uit die mens se geheue uitgewis nie. Vertalings van die Hebreeuse Geskrifte in Spaans, Portugees, Duits, Engels, Frans en baie ander tale was eerlik en het God se persoonlike naam ingesluit. Teen die 16de eeu, het die persoonlike naam van God ook weer in etlike Hebreeuse vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte verskyn, teen die 18de eeu in Duits, teen die 19de eeu in Kroaties en Engels. Ondanks mense se pogings om God se naam weg te steek, ‘sal die nasies’, wanneer “Jehovah se dag” aanbreek, ‘moet weet dat ek Jehovah is’, net soos God gesê het. Daardie verklaarde voorneme van God sal beslis bewaarheid word.—2 Petrus 3:10; Esegiël 38:23, NW; Jesaja 11:9; 55:11.
Die boodskap dek die hele aarde
14. (a) In hoeveel Europese tale was die Bybel teen die 20ste eeu gedruk, en watter uitwerking het dit gehad? (b) In hoeveel Afrikatale was die Bybel teen die einde van 1914 beskikbaar?
14 Teen die begin van die 20ste eeu was die Bybel reeds in 94 Europese tale gedruk. Dit het Bybelstudente in daardie deel van die wêreld gewaarsku dat wêreldskokkende gebeure met die einde van die Heidense Tye in 1914 sou saamval, en dit het inderdaad gebeur! (Lukas 21:24). Voor die einde van die epogmakende jaar 1914, was die Bybel, in sy geheel of party van sy boeke, al in 157 Afrikatale uitgegee, benewens die Engelse, Franse en Portugese uitgawes wat in algemene gebruik was. Die fondament is dus gelê om nederiges in al die stamme en volke wat daar woon van geestelik bevrydende Bybelwaarhede te leer.
15. In watter mate was die Bybel in die tale van mense in die Amerikas beskikbaar toe die laaste dae begin het?
15 Toe die wêreld die voorspelde laaste dae ingegaan het, was die Bybel alom beskikbaar in die Amerikas. Immigrante uit Europa het dit in hulle onderskeie tale met hulle saamgebring. ’n Uitgebreide Bybelonderrigtingsprogram was aan die gang, met openbare lesings en ’n intensiewe verspreiding van Bybellektuur wat uitgegee is deur die Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Daarbenewens het Bybelgenootskappe reeds Bybels in 57 ander tale gedruk om in die behoeftes van die bewoners van die Westelike Halfrond te voorsien.
16, 17. (a) In watter mate was die Bybel beskikbaar toe die tyd vir ’n wêreldwye predikingswerk aangebreek het? (b) Hoe het die Bybel getoon dat dit werklik ’n blywende en baie invloedryke boek is?
16 Toe die tyd aanbreek dat die wêreldwye predikingswerk gedoen moet word voor ‘die einde kom’, was die Bybel niks nuuts in Asië en die eilande van die Stille Oseaan nie (Matteus 24:14). Dit was reeds in 232 tale van daardie wêrelddeel beskikbaar. Party was volledige Bybels; baie was vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte; ander was ’n enkele boek van die Heilige Skrif.
17 Dit was duidelik dat die Bybel nie net as ’n blote museumstuk voortbestaan het nie. Van al die boeke wat bestaan het, was dit die boek wat die meeste vertaal en versprei is. In ooreenstemming met hierdie blyk van Goddelike guns het die dinge wat in daardie boek voorspel is in vervulling begin gaan. Die leringe daarin en die gees waardeur dit geïnspireer is, het ook ’n blywende uitwerking gehad op die lewe van mense in baie lande (1 Petrus 1:24, 25). Maar meer—nog baie meer—sou gebeur.
Onthou jy?
◻ Wat is “die woord van onse God” wat vir ewig bly?
◻ Watter pogings is aangewend om die Bybel te onderdruk, en wat was die gevolge daarvan?
◻ Hoe is die egtheid van die Bybel beskerm?
◻ Hoe is daar getoon dat God se verklaarde voorneme ’n lewende woord is?
[Venster op bladsy 12]
Weet ons werklik wat die Bybel oorspronklik gesê het?
Ongeveer 6000 handgeskrewe Hebreeuse manuskripte bevestig die inhoud van die Hebreeuse Geskrifte. ’n Paar van hulle dateer uit die voor-Christelike tyd. Ten minste 19 manuskripte van die hele Hebreeuse Geskrifte wat nog bestaan, dateer uit die tyd voor die uitvinding van drukwerk met los drukletters. Daarbenewens is daar vertalings in 28 ander tale uit daardie selfde tydperk wat nog bestaan.
Van die Christelike Griekse Geskrifte is daar sowat 5000 gelyste Griekse manuskripte. Een van hulle dateer uit die tyd voor 125 G.J., met ander woorde net ’n paar jaar ná dit oorspronklik geskryf is. En party fragmente is blykbaar heelwat ouer. Vir 22 van die 27 geïnspireerde boeke is daar tussen 10 en 19 volledige unsiaalmanuskripte. Die kleinste getal volledige unsiaalmanuskripte vir enige boek van hierdie deel van die Bybel is drie—vir Openbaring. Een manuskrip van die volledige Christelike Griekse Geskrifte dateer uit die vierde eeu G.J.
Geen ander ou literatuur word deur so ’n oorvloed van antieke dokumentêre getuienis bevestig nie.