Kersfees—Sekulêre vakansiedag of gewyde feesdag?
IN China word hy Kersoupa genoem. In die Verenigde Koninkryk staan hy bekend as Kersvader. Mense in Rusland gebruik die naam Oupa Sneeu en in die Verenigde State noem hulle hom Sinterklaas.
Baie beskou hierdie vrolike ou man met sy groot maag en sneeuwit baard as die verpersoonliking van Kersfees. Maar dit is ook algemeen bekend dat Sinterklaas ’n mite is, ’n legende wat op tradisies gegrond is wat verbind word met ’n vierde-eeuse biskop van Mira (in hedendaagse Turkye).
Gebruike en tradisies het nog altyd ’n kragtige invloed op vieringe uitgeoefen, en dieselfde geld vir Kersfees. Die Sinterklaas-mite is net een voorbeeld van volksoorleweringe wat in ’n gewilde vakansiedag ingeweef is. Hoewel party mense beweer dat Kersgebruike op gebeure gegrond is wat in die Bybel opgeteken is, het die meeste van hierdie gebruike in werklikheid ’n heidense oorsprong.
Nog ’n voorbeeld is die Kersboom. The New Encyclopædia Britannica sê: “Boomaanbidding, wat algemeen was onder die heidense Europeërs, het ná hulle bekering tot die Christelike godsdiens behoue gebly in die Skandinawiese gebruike om gedurende Nuwejaar die huis en skuur met immergroen takkies te versier . . . ten einde die duiwel weg te jaag en om gedurende Kerstyd ’n boom vir die voëls op te rig.”
Nog ’n gewilde Kerstradisie is om kranse van huls en ander immergroen plante te maak. Hierdie gebruik is ook diepgewortel in heidense aanbidding. Die eertydse Romeine het hulstakke gebruik om die tempels te versier gedurende Saturnalieë, ’n sewedaagse fees in die middel van die winter wat aan Saturnus, die god van die landbou, gewy is. Hierdie heidense fees was veral gekenmerk deur onbeteuelde swelgery en losbandigheid.
Die Kersgebruik om onder ’n misteltakkie (wat hier afgebeeld word) te soen, klink dalk vir party romanties, maar dit dateer uit die Middeleeue. Die Druïdes van ou Brittanje het geglo dat die mistel towerkrag besit; gevolglik het hulle dit gebruik as beskerming teen demone, towerspreuke en ander soorte boosheid. Mettertyd het die bygeloof ontstaan dat ’n soen onder die mistel op ’n huwelik sou uitloop. Dit is nog steeds by party ’n gewilde gebruik tydens Kerstyd.
Dit is maar ’n paar van die moderne Kerstradisies wat deur heidense leringe beïnvloed is of regstreeks daaruit voortgespruit het. Maar jy wonder dalk hoe dit alles gebeur het. Hoe het ’n feesdag wat veronderstel is om die geboorte van Christus te vereer so verstrengel geraak in nie-Christelike gebruike? Nog belangriker, hoe beskou God die saak?
[Prent op bladsy 2]
Bladsy 3: Sinterklaas: Thomas Nast/Dover Publications, Inc., 1978; mistel op bladsy 3 en illustrasie op bladsy 4: Discovering Christmas Customs and Folklore by Margaret Baker, published by Shire Publications, 1994