Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 1/15 bl. 29-31
  • Filemon en Onesimus—Verenig in Christenbroederskap

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Filemon en Onesimus—Verenig in Christenbroederskap
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voortvlugtige in Rome
  • Paulus kom hom te hulp
  • Onesimus—’n ander mens
  • Bybelboek nommer 57—Filemon
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Broederlike liefde is aktief
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ‘Vermaan op grond van liefde’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Paulus in Rome
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 1/15 bl. 29-31

Filemon en Onesimus—Verenig in Christenbroederskap

EEN van die apostel Paulus se Goddelik geïnspireerde briewe het te doen met ’n netelige probleem tussen twee manne. Die een man was Filemon en die ander een Onesimus. Wie was hierdie manne? Wat het Paulus in hulle situasie laat belangstel?

Filemon, die ontvanger van die brief, het in Kolosse in Klein-Asië gewoon. Anders as baie ander Christene in dieselfde gebied het Filemon Paulus geken, aangesien hy die goeie nuus weens die apostel se predikingswerk aangeneem het (Kolossense 1:1; 2:1). Paulus het hom as ’n ‘geliefde medewerker’ geken. Filemon was ’n voorbeeld van geloof en liefde. Hy was gasvry en ’n bron van verkwikking vir sy mede-Christene. Filemon was blykbaar ook ’n welgestelde man, want sy huis was groot genoeg vir vergaderinge van die plaaslike gemeente. Daar is al gesê dat Apfia en Argippus, twee ander persone aan wie Paulus se brief gerig was, dalk sy vrou en seun was. Filemon het ook ten minste een slaaf gehad, naamlik Onesimus.—Filemon 1, 2, 5, 7, 19b, 22.

’n Voortvlugtige in Rome

Die Skrif sê nie vir ons waarom Onesimus meer as 1400 kilometer ver van sy tuiste af was saam met Paulus in Rome, waar die brief aan Filemon omstreeks 61 G.J. geskryf is nie. Maar Paulus het vir Filemon gesê: “As [Onesimus] jou enige onreg aangedoen het of jou enigiets skuld, sit dit op my rekening” (Filemon 18). Hierdie woorde toon duidelik dat Onesimus in onguns by sy heer, Filemon, was. Paulus se brief is geskryf met die doel om die twee manne met mekaar te versoen.

Daar is al beweer dat Onesimus ’n voortvlugtige geword het nadat hy Filemon van geld beroof het sodat hy na Rome kon vlug. Hy het gehoop om daar tussen die mensemassa te verdwyn.a In die Grieks-Romeinse wêreld het voortvlugtiges nie net vir slawe-eienaars hoofbrekens gegee nie, maar ook vir die landsbestuur. Rome self was na bewering “berug as ’n algemene toevlugsoord” vir wegloperslawe.

Hoe het Paulus Onesimus ontmoet? Die Bybel sê nie vir ons nie. Maar toe die nuutgevonde vryheid sy glans verloor, het Onesimus waarskynlik besef dat hy homself in ’n baie gevaarlike posisie geplaas het. In die stad Rome het ’n spesiale polisieafdeling voortvlugtige slawe probeer opspoor, en hulle oortreding is as een van die ernstigste oortredings in antieke wetgewing beskou. Volgens Gerhard Friedrich is “wegloperslawe wat gevang is gewoonlik op hulle voorhoof gebrandmerk. Hulle is dikwels gemartel . . . , vir die wilde diere in die sirkus gegooi of gekruisig om ander slawe te laat afsien van die idee om hulle voorbeeld te volg.” Friedrich is van mening dat Onesimus waarskynlik die beskerming en bemiddeling versoek het van Paulus, van wie hy in Filemon se huis gehoor het, nadat sy gesteelde geld opgeraak en hy tevergeefs na ’n skuilplek of werk gesoek het.

Ander meen dat Onesimus doelbewus na een van sy heer se vriende gegaan het in die hoop dat hy deur die invloed van sy heer se vriend herstel kon word tot ’n goeie verhouding met ’n heer wat tereg vir hom kwaad was om ’n ander rede. Geskiedenisbronne toon dat dit “’n algemene en gebruiklike uitweg was vir slawe wat in die moeilikheid was”. Indien wel, het Onesimus “heel waarskynlik [geld gesteel] sodat hy voor die bemiddelaar Paulus kon verskyn en nie as deel van ’n plan om te vlug nie”, sê die geleerde Brian Rapske.

Paulus kom hom te hulp

Wat ook al die rede was waarom Onesimus gevlug het, hy het klaarblyklik Paulus se hulp probeer verkry om met sy woedende heer versoen te raak. Dit het ’n probleem vir Paulus geskep. Hier was ’n voormalige ongelowige slaaf wat as ’n voortvlugtige die wet oortree het. Moet die apostel hom probeer help deur ’n Christenvriend te oorreed om nie sy wetlike reg uit te oefen en swaar straf toe te dien nie? Wat het Paulus te doen gestaan?

Teen die tyd dat Paulus aan Filemon geskryf het, was die voortvlugtige blykbaar reeds ’n ruk lank saam met die apostel. Dit was lank genoeg vir Paulus om te sê dat Onesimus ’n “geliefde broer” geword het (Kolossense 4:9). “Ek vermaan jou aangaande my kind, vir wie ek in my gevangenisboeie ’n vader geword het”, het Paulus van sy geestelike verhouding met Onesimus gesê. Van al die moontlike dinge wat kon gebeur het, was dit seker die een wat Filemon die minste verwag het. Die apostel het gesê dat die slaaf wat voorheen “nutteloos” was as ’n Christenbroer sou terugkeer. Onesimus sou nou “nuttig” wees en sodoende ooreenkomstig die betekenis van sy naam lewe.—Filemon 1, 10-12.

Onesimus het baie nuttig vir die gevange apostel geword. Trouens, Paulus sou hom daar gehou het, maar behalwe dat dit teen die wet sou wees, sou dit ook ’n inbreuk op Filemon se regte gewees het (Filemon 13, 14). In ’n ander brief, wat omtrent dieselfde tyd geskryf is aan die gemeente wat in Filemon se huis vergader het, het Paulus na Onesimus verwys as “my getroue en geliefde broer, wat uit julle midde is”. Dit toon dat Onesimus reeds bewys van sy betroubaarheid gelewer het.—Kolossense 4:7-9.b

Paulus het Filemon aangemoedig om Onesimus vriendelik te ontvang, maar hy het nie sy gesag as apostel gebruik om hom te beveel om dit te doen of om sy slaaf vry te laat nie. Weens hulle vriendskap en wedersydse liefde was Paulus seker dat Filemon “selfs meer” sou doen as wat hy gevra is om te doen (Filemon 21). Wat “selfs meer” kon beteken het, is nie duidelik nie omdat slegs Filemon tereg kon besluit wat hy met Onesimus sou doen. Party maak die afleiding dat Paulus se woorde ’n bedekte versoek was om die voortvlugtige ‘terug te stuur sodat hy kon voortgaan om Paulus te help soos hy reeds begin doen het’.

Het Filemon gunstig gereageer op Paulus se pleidooie ten behoewe van Onesimus? Daar bestaan min twyfel dat hy dit wel gedoen het, hoewel dit moontlik ander slawe-eienaars in Kolosse ontevrede sou gemaak het, aangesien hulle sou verkies het dat hy Onesimus so straf dat dit hulle slawe sou afskrik.

Onesimus—’n ander mens

Hoe dit ook al sy, Onesimus het met ’n nuwe persoonlikheid na Kolosse teruggekeer. Aangesien sy denke deur die krag van die goeie nuus verander is, het hy ongetwyfeld ’n getroue lid van die Christengemeente in daardie stad geword. Die Skrif onthul nie of Onesimus uiteindelik deur Filemon vrygelaat is nie. Maar uit ’n skriftuurlike oogpunt het die voormalige voortvlugtige ’n vryman geword. (Vergelyk 1 Korintiërs 7:22.) Soortgelyke veranderinge vind vandag plaas. Wanneer mense Bybelbeginsels in hulle lewe toepas, verander omstandighede en persoonlikhede. Diegene wat vroeër as nutteloos vir die samelewing beskou is, word gehelp om modelburgers te word.c

Wat ’n verskil het bekering tot die ware geloof tog gemaak! Terwyl die ou Onesimus dalk “nutteloos” vir Filemon was, het die nuwe Onesimus sonder twyfel die betekenis van sy naam as ’n “nuttige” persoon eer aangedoen. En dit was beslis ’n seën dat Filemon en Onesimus verenig in Christenbroederskap geword het.

[Voetnote]

a Die Romeinse wet het ’n servus fugitivus (’n voortvlugtige slaaf) gedefinieer as ‘iemand wat sy heer verlaat het met die doel om nie terug te keer nie’.

b Op hierdie terugreis na Kolosse is Onesimus en Tigikus klaarblyklik toevertrou met drie van Paulus se briewe wat nou deel van die Bybelkanon uitmaak. Benewens hierdie brief aan Filemon was daar Paulus se briewe aan die Efesiërs en die Kolossense.

c Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1996, bladsye 18-23; 8 Maart 1997, bladsye 11-13; Die Wagtoring van 1 Augustus 1989, bladsye 30-1; 15 Februarie 1997, bladsye 21-4, vir voorbeelde.

[Venster op bladsy 30]

SLAWE ONDER DIE ROMEINSE WET

Onder die Romeinse wetgewing wat in die eerste eeu G.J. van krag was, was ’n slaaf totaal aan die genade van sy heer se giere, begeertes en humeur oorgelewer. Volgens die kommentator Gerhard Friedrich “was die slaaf in wese en geregtelik nie ’n mens nie, maar ’n voorwerp wat sy eienaar na willekeur kon gebruik. . . . [Hy] is op dieselfde vlak as diere en gereedskap geplaas en is nie deur die burgerlike wet beskerm nie.” ’n Slaaf kon geen wetlike vergoeding eis vir onregte wat hom aangedoen is nie. Hy moes eenvoudig net sy heer se bevele uitvoer. Daar was geen grense aan die straf wat ’n woedende heer kon oplê nie. Selfs vir ’n geringe oortreding het hy mag oor lewe en dood gehad.*

Hoewel die rykes dalk ’n hele paar honderd slawe gehad het, het selfs ’n betreklik beskeie huishouding moontlik twee of drie slawe gehad. “Die take wat huisslawe verrig het, was baie uiteenlopend”, sê die geleerde John Barclay. “Ons vind slawe as deurwagters, kokke, kelners, skoonmakers, bodes, kinderoppassers, soogvrouens en veelsydige lyfknegte, om nie eens te praat van die verskillende beroepspersone wat ’n mens moontlik in die groter en meer gegoede wonings vind nie. . . . Prakties gesproke het die lewensgehalte van ’n huisslaaf grootliks van die geaardheid van die heer afgehang, en dit kon voordele of nadele hê: ’n slaaf met ’n wrede heer kon lyding en ’n onbeperkte reeks euwels verduur, maar ’n goedhartige en vrygewige heer kon die lewe draaglik en vol hoop maak. Daar is bekende voorbeelde van wrede behandeling wat in klassieke literatuur opgeteken staan, maar daar is ook talle inskripsies wat getuig van die gevoel van hartlikheid wat tussen party eienaars en hulle slawe bestaan het.”

*Sien Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., Deel 2, bladsye 977-9, vir inligting oor slawerny onder God se volk van die ou tyd.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel