Is jy ’n optimis of ’n pessimis?
“DIT was die allerbeste tyd, dit was die allerergste tyd, . . . dit was die lente van hoop, dit was die winter van wanhoop, ons het alles gehad om na uit te sien, ons het niks gehad om na uit te sien nie.” Die eerste woorde van Charles Dickens se letterkundige meesterstuk A Tale of Two Cities kontrasteer op vaardige wyse hoe gebeure ons denke, ons gevoelens en ons lewensbeskouing kan beïnvloed.
Die twee stede waarna daar verwys word, is Londen en Parys gedurende die beroeringe van die Franse Revolusie. Vir die onderdrukte burgers van die 18de-eeuse Frankryk was die revolusie se verklaring van menseregte inderdaad ’n “lente van hoop”. Maar vir diegene van die ancien régime, of die uittredende politieke stelsel, was dit ’n “winter van wanhoop”, wat tot die dood en verwoesting gelei het.
Optimisme of pessimisme? Dit het alles afgehang van aan watter kant jy gestaan het. En dit is nog steeds die geval.
’n Tyd vir selfondersoek
Is jy ’n optimis? Sien jy die blink kant van die lewe en verwag jy altyd die beste? Of is jy geneig om pessimisties te wees, ’n negatiewe beskouing van jou vooruitsigte te hê, die beste te hoop maar terselfdertyd die ergste te verwag?
Sestig jaar gelede het die Amerikaanse romanskrywer James Branch Cabell die twee botsende filosofieë só opgesom: “Die optimis beweer dat ons in die beste wêreld moontlik lewe; en die pessimis vrees dat dit waar is.” As jy dink dat hierdie beskouing taamlik sinies is, kan jy die positiewe en negatiewe faktore van net drie aspekte van die hedendaagse wêreld ondersoek, soos hieronder uiteengesit word. Ontleed dan jou reaksie, en vra jou af: ‘Is ek ’n optimis of ’n pessimis?’
Blywende vrede: Hoeveel konflikgebiede in die wêreld kan jy opnoem? Ierland, die voormalige Joego-Slawië, die Midde-Ooste, Burundi, Rwanda—dít is name wat onmiddellik in die gedagte opkom. Kan hierdie en ander konflikte ooit uit die weg geruim word sodat blywende wêreldvrede verseker kan word? Beweeg die wêreld in die rigting van vrede?
Ekonomiese stabiliteit: Die lande van die Europese Unie is hard besig om probleme met inflasie en staatskuld te probeer oplos, aangesien hulle hoop om teen 1999 een enkele geldstelsel te hê. Elders ondermyn korrupsie die ekonomiese struktuur van talle Amerikaanse en Afrikalande, waar inflasie ’n byna ondraaglike las is en waar etniese probleme nog steeds verdeeldheid veroorsaak. Is wêreldwye ekonomiese stabiliteit op hande?
Werkloosheid: Tydens die algemene verkiesing in 1997 het Britse kerke saamgespan om alle politieke partye aan te spoor om volop werksgeleenthede boaan hulle agenda te plaas. Maar kan daar blywende en volop werksgeleenthede wees—veral vir die jeug—as bykans 30 persent van die wêreld se werkkragte werkloos is of te min werk het?
Hoe maklik is dit tog om pessimisties te voel! Maar daar is ’n blink kant, en ons nooi jou om te sien hoe dit moontlik is om ’n optimistiese beskouing te ontwikkel.
[Prent op bladsy 3]
Die Franse Revolusie
[Erkenning]
Uit die boek Pictorial History of the World