Slawe van mense of dienaars van God?
“JEHOVAH SE GETUIES moet in sekere mate bewonder word.” Dit is wat die Duitse boek Seher, Grübler, Enthusiasten (Sieners, Bepeinsers, Yweraars) sê. Hoewel dit ietwat krities teenoor die Getuies is, erken dit: “Oor die algemeen lewe hulle onberispelike middelklaslewens. Hulle is vlytig en gewetensgetrou in hulle werk, is rustige burgers en eerlike belastingbetalers. Hulle jaag nie rykdom soos besetenes na nie. . . . Hulle dissipline by byeenkomste is prysenswaardig. Hulle selfopofferende gees staan gelyk met dié van enige ander godsdiensgroep; wat die bediening aangaan, oortref hulle al die ander. Maar wat hulle bo elke ander hedendaagse Christenkerk en -groep laat uitstaan, is die absoluut onwrikbare vasbeslotenheid waarmee die meeste van hulle hulle leer onder alle omstandighede en ondanks alle gevare verkondig.”a
Ten spyte van hierdie positiewe beoordeling is daar mense wat Jehovah se Getuies in ’n heel ander lig probeer stel. In die meeste lande oor die wêreld het die Getuies al dekades lank hulle godsdiens openlik en sonder enige inmenging beoefen. Miljoene mense ken hulle, respekteer hulle en stem saam dat hulle die reg het om hulle godsdiens te beoefen. Waarom bestaan daar dan enigsins onsekerheid oor wie Jehovah se Getuies is?
’n Moontlike rede vir die onsekerheid is dat ’n aantal ander godsdiensgroepe in onlangse tye by kindermolestering, massaselfmoorde en terroristeaanvalle betrokke was. Sulke afwykings kom oral voor, nie net onder diegene wat godsdienstig is nie. Wat godsdiens betref, het baie mense egter skepties en party selfs vyandig geword.
Gevare wanneer mense nagevolg word
’n “Sekte” is al omskryf as “’n groep wat ’n kenmerkende leer of ’n leier aanhang”. Diegene wat aan ’n “kultus” behoort, openbaar insgelyks “groot toegewydheid aan ’n persoon, idee of ding”. Maar die lede van enige godsdiensgroep wat menseleiers en hulle idees sterk aanhang, loop gevaar om slawe van mense te word. ’n Sterk leiergeoriënteerde verhouding kan tot ’n ongesonde emosionele en geestelike afhanklikheid lei. Wanneer iemand van kleins af in ’n sektariese atmosfeer grootgemaak word, kan dit die gevaar vergroot.
Diegene wat om sulke redes lugtig is vir ’n godsdiens, het betroubare inligting nodig. Sommige is dalk vertel dat Jehovah se Getuies aan ’n godsdiensorganisasie behoort wat sy lede tot slawe maak, eiemagtig teenoor hulle optree, hulle vryheid uitermate beperk en hulle nie met die samelewing as ’n geheel laat tred hou nie.
Jehovah se Getuies weet dat daar geen grond vir hierdie bewerings is nie. Daarom nooi hulle jou om dit self te ondersoek. Nadat jy dit sorgvuldige oorweging gegee het, kan jy jou eie gevolgtrekkings maak. Is die Getuies dienaars van God, soos hulle sê, of in werklikheid slawe van mense? Wat is die bron van hulle krag? Die twee artikels op bladsye 12-23 sal hierdie vrae bevredigend beantwoord.
[Voetnoot]
a Die oorspronklike uitgawe van 1950 het nie die bogenoemde woorde bevat nie. Die feit dat dit in die hersiene uitgawe van 1982 verskyn, toon dus dat ander ’n beter begrip van Jehovah se Getuies begin kry.