’N Nuwe toewysing op 80
SOOS VERTEL DEUR GWENDOLINE MATTHEWS
Ek was 80 jaar oud toe ek en my man besluit het om al ons besittings in ’n gehuurde vragmotor te laai en van Engeland na Spanje te verhuis. Ons kon nie Spaans praat nie, en ons was op pad na die suidweste van Spanje, ver van die vakansieplekke van Engelssprekende toeriste. Die meeste van ons vriende het gedink dat ons gek is, maar ek het my blymoedig daaraan herinner dat Abraham 75 was toe hy Ur verlaat het.
ONS jare in Spanje sedert ons in April 1992 hier aangekom het, was van die lonendste in ons lewe. Maar voordat ek verduidelik waarom ons verhuis het, wil ek julle graag vertel hoe ons jarelange diens aan Jehovah ons beweeg het om so ’n groot besluit te maak.
Bybelwaarheid verander ons lewe
Ek het in ’n godsdienstige huis in die suidweste van Londen, Engeland, grootgeword. My ma het altyd vir my en my suster saamgeneem wanneer sy na verskillende kerke gegaan het in haar soeke na geestelike bevrediging. My pa, wat chronies siek was weens tering, het nie saam met ons gegaan nie. Maar hy was ’n ywerige leser van die Bybel, en hy het dit onderstreep elke keer wanneer hy ’n gedeelte gevind het wat vir hom insig gegee het. Een van my kosbaarste besittings is daardie goed gebruikte Bybel wat soveel vir hom beteken het.
In 1925, toe ek 14 was, het iemand ’n traktaat onder ons deur gesit wat ons na ’n openbare lesing in die West Ham-stadsaal uitgenooi het. My ma en ’n buurvrou het besluit om die toespraak by te woon, en ek en my suster het saam met hulle gegaan. Daardie toespraak, “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”, het die saadjies van Bybelwaarheid in my ma se hart gesaai.
’n Paar maande later is my pa op die ouderdom van 38 oorlede. Sy dood was ’n vreeslike slag, omdat dit ons nie net hartseer gelaat het nie, maar ook sonder heenkome. My ma was geskok toe sy by die gedenkdiens, wat in die plaaslike Anglikaanse Kerk gehou is, hoor hoe die priester beweer dat my pa se siel in die hemel is. Sy het geweet dat die dooies volgens die Bybel in die graf slaap, en sy het vas geglo dat my pa eendag opgewek sal word tot ewige lewe op die aarde (Psalm 37:9-11, 29; 146:3, 4; Prediker 9:5; Handelinge 24:15; Openbaring 21:3, 4). Sy was oortuig dat sy met mense moes assosieer wat God se Woord onderrig en het gevolglik besluit om nouer om te gaan met die Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is.
Aangesien ons nie geld vir vervoer gehad het nie, het ons elke week twee uur lank van ons huis af na die vergaderinge van Jehovah se Getuies geloop. Agterna het ons moeg-moeg nog twee uur huis toe geloop. Maar ons het baie groot waarde aan daardie vergaderinge geheg, en ons het nooit van ’n vergadering weggebly nie, selfs toe die berugte Londense mis die stad omhul het. Dit was nie lank nie of my ma het besluit om haar lewe aan Jehovah toe te wy en haar te laat doop, en in 1927 is ek ook gedoop.
Ten spyte van ons ekonomiese probleme het my ma altyd die belangrikheid van geestelike prioriteite by my ingeskerp. Matteus 6:33 was een van haar geliefkoosde tekste, en sy het werklik ‘eers die koninkryk gesoek’. Toe sy in 1935 ontydig aan kanker gesterf het, was sy besig om planne te maak om gehoor te gee aan die oproep om voltydse bedienaars wat in Frankryk kon gaan dien.
Voorbeelde wat ons versterk het
In daardie vroeë jare wou party wat die vergaderinge in Londen bygewoon het hulle eie idees verkondig, en hierdie mense het rusies en kwaai uitbarstings ontketen. Maar my ma het altyd gesê dat dit dislojaal sou wees om Jehovah se organisasie te verlaat ná alles wat dit ons geleer het. Besoeke deur Joseph F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, het ons aangespoor om lojaal te bly dien.
Ek onthou broer Rutherford as ’n vriendelike, genaakbare man. Toe ek nog ’n tiener was, het die Londen-gemeente ’n uitstappie gereël waartydens hy teenwoordig was. Hy het my raakgesien—’n ietwat skaam tiener—met ’n kamera en het gevra of ek ’n foto van hom wil neem. Daardie foto het ’n kosbare aandenking geword.
Later het ’n voorval by my tuisgebring hoe diegene wat die leiding neem in die Christengemeente verskil van vername mense van die wêreld. Ek het as ’n tafelbediende gewerk in ’n groot Londense huis waarheen Franz von Papen, een van Hitler se afgesante, vir middagete uitgenooi is. Hy het geweier om gedurende die ete sy sierswaard af te haal, en ek het daaroor gestruikel en die sop wat ek gedra het laat stort. Hy het woedend gesê dat ek in Duitsland geskiet sou geword het vir sulke lompheid. Vir die res van die ete het ek groot draaie om hom geloop!
’n Onvergeetlike streekbyeenkoms, waar ek broer Rutherford hoor praat het, is in 1931 in Alexandra Palace gehou. Daar het ons geesdriftig ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, aangeneem (Jesaja 43:10, 12, NW). Twee jaar later, in 1933, het ek die pionierdiens, soos die voltydse bediening genoem word, betree. Nog ’n seëning van daardie jare wat ek onthou, is die assosiasie met gawe jong mans wat later sendelinge in die uithoeke van die aarde geword het. Hulle was onder meer Claude Goodman, Harold King, John Cooke en Edwin Skinner. Hierdie getroue voorbeelde het die begeerte by my gewek om ook in ’n buitelandse toewysing te gaan dien.
Pionierdiens in Oos-Anglië
My pioniertoewysing was in Oos-Anglië (in die ooste van Engeland), en dit het geesdrif en ywer geverg om die predikingswerk daar te doen. Ons het per fiets van stad tot stad en dorp tot dorp gereis om ons groot gebied te dek en het in gehuurde kamers gebly. Daar was feitlik geen gemeentes in die gebied nie; dus het ek en my maat alleen al die dele van die gewone weeklikse vergaderinge bespreek. In ons bediening het ons honderde boeke en boekies versprei wat God se voornemens verduidelik het.
’n Onvergeetlike besoek was die een by ’n pastorie waar ons met die plaaslike predikant van die Anglikaanse Kerk gepraat het. In die meeste gebiede het ons ons besoek aan die Anglikaanse predikant tot op die laaste uitgestel, omdat hy dikwels sake vir ons bemoeilik het wanneer hy uitgevind het dat ons die goeie nuus in die gebied verkondig. Maar in hierdie dorp het almal gunstige dinge van die predikant gesê. Hy het die siekes besoek, boeke uitgeleen aan diegene wat van lees gehou het, en hy het selfs huisbesoeke by sy gemeentelede gedoen om die Bybel aan hulle te verduidelik.
En waarlik, toe ons hom besoek het, was hy baie vriendelik, en hy het ’n aantal boeke geneem. Hy het ons ook verseker dat hy die koste sou dek as enigiemand in die dorp van ons boeke wou hê maar dit nie kon bekostig nie. Ons het uitgevind dat sy verskriklike ondervindinge gedurende die Eerste Wêreldoorlog hom vasbeslote gemaak het om vrede en welwillendheid in sy gemeente te bevorder. Voordat ons vertrek het, het hy ons sy seën toegewens en ons aangemoedig om voort te gaan met ons goeie werk. Sy afskeidswoorde aan ons was dié van Numeri 6:24: “Die HERE seën jou en behoed jou.”—King James Version.
Twee jaar nadat ek as ’n pionier begin dien het, is my ma oorlede, en ek is terug Londen toe sonder geld en sonder ’n gesin. ’n Dierbare Skotse Getuie het my onder haar vlerke geneem, my gehelp om my ma se dood te verwerk en my aangemoedig om in die voltydse bediening voort te gaan. Ek is dus terug Oos-Anglië toe saam met Julia Fairfax, ’n nuwe pioniermaat. Ons het ’n ou woonwa opgeknap om as ’n semimobiele woning te dien; ons het ’n trekker of vragmotor gebruik om dit van plek tot plek te verskuif. Saam met ’n ouer egpaar, Albert en Ethel Abbott, wat ook ’n klein woonwa gehad het, het ons voortgegaan met die pionierdiens. Albert en Ethel het vir my soos ouers geword.
Terwyl ek in die graafskap Cambridge pionierdiens gedoen het, het ek John Matthews ontmoet, ’n gawe Christenbroer wat reeds sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah onder moeilike omstandighede bewys het. Ons is in 1940 getroud, nie lank ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog nie.
Die oorlogstyd en ’n gesin
Toe ons ’n pasgetroude paartjie was, was ons huis ’n kleinerige woonwa wat omtrent so groot soos ’n kombuisie was, en ons het met ’n betroubare motorfiets in ons bediening gereis. ’n Jaar nadat ons getroud is, is John gevonnis om as ’n plaasarbeider te werk toe hy geweier het om krygsdiens te doen as gevolg van sy Bybelse oortuiging (Jesaja 2:4). Hoewel dit die einde van ons pionierdiens beteken het, was John se vonnis ’n bestiering, aangesien ek ’n baba verwag het en hy ons kon onderhou.
Gedurende die oorlogsjare het ons die spesiale vergaderinge geniet wat ten spyte van die moeilike omstandighede gehou is. In 1941 het ons motorfiets vir my, wat ons eerste kind verwag het, en John na Manchester geneem wat 300 kilometer daarvandaan was. Op pad daarheen het ons verby talle dorpe gery wat deur bomme verwoes is en het ons gewonder of die vergadering onder sulke omstandighede gehou kon word. Die Free Trade-saal in die middel van Manchester was stampvol Getuies uit baie dele van Engeland, en die hele program is aangebied.
Aan die einde van sy toespraak het die byeenkoms se laaste spreker vir die gehoor gesê dat hulle die perseel onmiddellik moet verlaat, omdat ’n lugaanval verwag word. Die waarskuwing was tydig. Ons was nie ver van die saal af nie toe ons sirenes en lugafweerkanonne hoor. Toe ons terugkyk, het ons gesien hoe tientalle vliegtuie bomme oor die middestad laat val. In die verte, tussen die vlamme en rook, kon ons die saal sien waarin ons kort tevore gesit het; dit is heeltemal vernietig! Ons was baie dankbaar dat nie een van ons Christenbroers of -susters omgekom het nie.
Terwyl ons ons kinders grootgemaak het, kon ons nie pioniers wees nie, maar ons het reisende opsieners en pioniers wat sonder verblyf was in ons huis verwelkom. By een geleentheid het ses pioniers ’n paar maande in ons huis gewoon. Omgang met sulke mense was ongetwyfeld een rede waarom ons dogter Eunice in 1961, toe sy maar net 15 was, besluit het om die pionierdiens te betree. Ongelukkig het ons seun David opgehou om Jehovah te dien toe hy grootgeword het, en ons dogter Linda is gedurende die oorlog in tragiese omstandighede dood.
Ons besluit om na Spanje te verhuis
My ma se voorbeeld en aanmoediging het in my die begeerte gewek om ’n sendeling te wees, en ek het daardie doelwit nooit heeltemal uit die oog verloor nie. Ons was dus verheug toe Eunice in 1973 Engeland verlaat het om in Spanje te gaan dien waar die behoefte aan Koninkryksverkondigers groter was. Ons was natuurlik hartseer om haar te sien gaan, maar ons was ook trots op die feit dat sy in ’n ander land wou gaan dien.
Ons het Eunice deur die jare heen gaan besoek, en ons het Spanje goed leer ken. Trouens, ek en John het haar in vier van haar verskillende toewysings besoek. Toe, namate die jare verbygegaan het, het ons gesondheid begin agteruitgaan. John het geval en dit het sy gesondheid ’n ernstige knou gegee, en ek het hart- en skildklierprobleme ondervind. Daarbenewens het ons albei aan gewrigsontsteking gely. Hoewel ons werklik Eunice se hulp nodig gehad het, wou ons nie hê dat sy haar toewysing om ons ontwil moes verlaat nie.
Ons het ons opsies met Eunice bespreek, en ons het vir leiding gebid. Sy was bereid om huis toe te kom om ons te help, maar ons het besluit dat die beste oplossing sou wees dat ek en John by haar in Spanje gaan woon. As ek nie self ’n sendeling kon wees nie, kon ek ten minste my dogter en haar twee pioniermaats in die voltydse diens ondersteun. Teen daardie tyd het ek en John vir Nuria en Ana, wat al 15 jaar lank Eunice se twee pioniermaats is, soos ons eie dogters beskou. En hulle was bly dat ons saam met hulle kon kom woon, waarheen hulle ook al gestuur mag word.
Al meer as ses jaar het verstryk sedert ons daardie besluit geneem het. Ons gesondheid het nie verder verswak nie, en ons lewe het beslis interessanter geword. Ek kan nog steeds nie veel Spaans praat nie, maar dit verhinder my nie om aan die predikingswerk deel te neem nie. Ek en John voel tuis in ons gemeente in Extremadura, in die suidweste van Spanje.
Ek het baie geleer aangaande die internasionale aard van ons Koninkrykspredikingswerk sedert ons in Spanje woon, en ek verstaan nou baie beter wat Jesus Christus bedoel het toe hy gesê het: “Die saailand is die wêreld.”—Matteus 13:38.
[Prente op bladsy 28]
Pionierdiens in die dertigerjare