Is die planeet Aarde tot vernietiging gedoem?
ONS nader die einde van die 20ste eeu, en die 21ste eeu gaan binnekort aanbreek. Teen hierdie agtergrond wonder al hoe meer mense wat gewoonlik weinig of geen aandag aan onheilsprofesieë sou skenk nie of die een of ander wêreldskokkende gebeurtenis aan die kom is.
Jy het moontlik al koerant- en tydskrifartikels hieroor gesien—selfs hele boeke oor die onderwerp. Maar ons sal moet wag en kyk met watter verwikkelinge die 21ste eeu gaan begin. Party mense wys daarop dat dit, wanneer ons aan die einde van die jaar 2000 kom, net ’n jaar (of ’n minuut, van 2000 tot 2001) later sal wees, en dit sal waarskynlik van geen werklike belang wees nie. Van groter belang vir baie is die langtermyntoekoms van ons planeet.
’n Profesie wat deesdae al hoe meer gehoor word, is dat die planeet Aarde self op die een of ander tydstip—hetsy in die nabye of in die verre toekoms—tot algehele vernietiging gedoem is. Kyk net na ’n paar van hierdie somber voorspellings.
In sy boek The End of the World—The Science and Ethics of Human Extinction, wat die eerste keer in 1996 uitgegee is, gee die skrywer en filosoof John Leslie drie moontlikhede van hoe die mens se lewe op die aarde kan eindig. Hy vra eerstens: “Kan ’n grootskaalse kernoorlog die einde van die mensdom beteken?” Dan voeg hy by: “’n Waarskynliker scenario . . . sal uitsterwing weens die gevolge van straling wees: kanker, verswakking van die immuunstelsel sodat besmetlike siektes vinnig versprei, asook tallose geboortedefekte. Mikroörganismes wat belangrik is vir die welstand van die omgewing kan ook doodgaan.” ’n Derde moontlikheid wat mnr. Leslie noem, is dat die aarde deur ’n komeet of ’n asteroïde getref kan word: “Van die komete en asteroïdes waarvan die wentelbane sodanig is dat hulle dalk eendag die aarde kan tref, is daar vermoedelik om en by tweeduisend wat tussen ’n half- en ses myl [een en tien kilometer] in deursnee is. Daar is ook baie minder (om dit te probeer skat, sou blote raaiery wees) wat selfs groter is en baie meer wat kleiner is.”
’n Aanskoulike “oordeelsdag”-beskrywing
Of neem nog ’n wetenskaplike, Paul Davies, professor aan die Universiteit van Adelaide, Australië. Hy is deur die Washington Times as “die beste wetenskapskrywer aan weerskante van die Atlantiese Oseaan” bestempel. In 1994 het hy The Last Three Minutes geskryf, wat al “die moeder van alle oordeelsdagboeke” genoem is. Die eerste hoofstuk van hierdie boek se titel is “Oordeelsdag”, en dit beskryf ’n denkbeeldige scenario van wat kan gebeur indien ’n komeet die planeet Aarde sou tref. Lees ’n deel van hierdie ysingwekkende beskrywing:
“Die planeet skud met die krag van tienduisend aardbewings. ’n Skokgolf van verplaaste lug trek oor die oppervlak van die aardbol en vee alle geboue plat en vernietig alles in sy weg. Die plat terrein om die trefpunt verrys in ’n kring van vloeibare berge wat etlike myle hoog is en ontbloot die hart van die aarde in ’n krater wat honderd myl [150 km] breed is. . . . ’n Ontsaglike kolom stof en puin styg in die lug in op en versprei in die atmosfeer in, sodat dit die son oor die hele planeet verduister. Nou word die sonlig deur die onheilspellende, flikkerende gloed van ’n miljard meteore vervang, wat die grond met hulle skroeiende hitte brand namate die verplaaste materiaal uit die ruimte in die atmosfeer in terugval.”
Professor Davies gaan voort en verbind hierdie denkbeeldige scenario met die voorspelling dat die komeet Swift-Tuttle die aarde gaan tref. Hy voeg die waarskuwing by dat volgens sy mening “Swift-Tuttle, of ’n soortgelyke voorwerp, vroeër of later die Aarde gaan tref”, hoewel so ’n gebeurtenis dalk nie in die nabye toekoms ’n waarskynlikheid is nie. Sy gevolgtrekking is gebaseer op skattings wat te kenne gee dat 10 000 voorwerpe wat ’n half kilometer of meer in deursnee is in wentelbane beweeg wat met dié van die aarde kruis.
Glo jy dat so ’n angswekkende vooruitsig waar is? Dit is verbasend hoeveel mense dit glo. Maar hulle onderdruk enige besorgdheid deur hulle gerus te stel dat dit nie in hulle tyd sal gebeur nie. Maar waarom moet die planeet Aarde ooit vernietig word—hetsy binnekort of millenniums van nou af? Dit is beslis nie die aarde wat die hoofbron van probleme vir sy bewoners, mense of diere, is nie. Is die mens nie eerder self verantwoordelik vir die meeste van die probleme van hierdie 20ste eeu nie, waaronder die moontlikheid om ‘die aarde heeltemal te verderf’?—Openbaring 11:18.
Die mens se wanbestuur word ongedaan gemaak
Wat van die groter waarskynlikheid dat die mens self die aarde heeltemal kan verderf of verwoes deur sy wanbestuur en hebsug? Dit ly geen twyfel nie dat grootskaalse verderwing van dele van die aarde reeds plaasgevind het weens uitermatige ontbossing, onbeheerde besoedeling van die atmosfeer en die bederwing van die waterweë. Dit is sowat 25 jaar gelede goed saamgevat deur die skrywers Barbara Ward en René Dubos in hulle boek Only One Earth: “Die drie hoofgebiede van besoedeling wat ons moet ondersoek—lug, water en grond—vorm natuurlik saam die drie vernaamste samestellende dele van ons planetêre lewe.” En sedertdien het die situasie basies nie verbeter nie, nie waar nie?
Wanneer ons dink aan die moontlikheid dat die mens die aarde deur sy eie dwaasheid kan verderf of vernietig, kan ons moed skep deur te let op die planeet Aarde se wonderlike vermoë om homself te herstel en te hernieu. René Dubos beskryf hierdie ongelooflike herstelvermoë en maak hierdie bemoedigende opmerkings in ’n ander boek, The Resilience of Ecosystems:
“Baie mense vrees dat bewustheid van omgewingsagteruitgang te laat gekom het omdat baie van die skade wat reeds aan ekosisteme gedoen is onherstelbaar is. Na my mening is hierdie pessimisme ongegrond, aangesien ekosisteme verbasende vermoëns het om van traumatiese ondervindinge te herstel.
“Ekosisteme het verskeie meganismes om hulleself te genees. . . . Hulle stel ekosisteme in staat om van die gevolge van ernstige beskadiging te herstel deur die ekologiese ewewig bloot progressief weer in sy oorspronklike toestand terug te bring.”
Dit kan gedoen word
’n Uitstekende voorbeeld hiervan in onlangse jare is die geleidelike skoonmaak van Londen se bekende Teemsrivier. Die boek The Thames Transformed, deur Jeffery Harrison en Peter Grant, beskryf hierdie ongelooflike prestasie wat demonstreer wat gedoen kan word wanneer mense saamwerk vir die welsyn van die hele gemeenskap. Brittanje se Hertog van Edinburg het in sy voorwoord by die boek geskryf: “Hier het ons uiteindelik ’n suksesverhaal op so ’n groot skaal dat dit werd is om uitgegee te word al bestaan die gevaar dat dit sommige mense kan aanmoedig om aan te neem dat die probleem van bewaring nie werklik so groot is as wat hulle wysgemaak is nie. . . . Hulle kan almal moed skep uit wat in die Teems bereik is. Die goeie nuus is dat dit gedoen kan word en dat hulle projekte ook kan slaag.”
In die hoofstuk “Die groot skoonmaak” skryf Harrison en Grant geesdriftig oor wat gedurende die laaste 50 jaar bereik is: “Vir die eerste keer in die wêreld is ’n erg besoedelde en geïndustrialiseerde rivier tot so ’n mate herstel dat watervoëls en visse in groot getalle teruggekeer het. Dat so ’n transformasie so vinnig plaasgevind het, in ’n situasie wat aanvanklik heeltemal hopeloos gelyk het, is ’n aanmoediging vir selfs die mees pessimistiese bewaringsgesinde.”
Hulle beskryf dan die transformasie: “Die toestand van die rivier het geleidelik oor die jare versleg met wat miskien die finale slag was gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe groot rioolstortplekke en rioolpype beskadig of vernietig is. Gedurende die veertiger- en vyftigerjare was die toestand van die Teems op sy ergste. Die rivier was so goed as ’n oop rioolstelsel; die water was swart, het geen suurstof bevat nie en gedurende die somermaande kon ’n mens die stank van die Teems oor ’n uitgestrekte gebied ruik. . . . Die visse wat eens volop was, is uiteindelik uitgedryf, behalwe ’n paar palings wat aan die lewe kon bly omdat hulle lug direk van die oppervlak kan inasem. Die voëllewe van die binneste, beboude gebiede langs strome tussen Londen en Woolwich het afgeneem tot ’n handjie vol wilde-eende en knobbelswane, en hulle het hulle bestaan eerder te danke gehad aan die graan wat op die kaaie gestort is as aan ’n natuurlike kosvoorraad. . . . Wie sou destyds die dramatiese ommekeer kon glo wat op die punt was om te gebeur? Binne tien jaar het daardie selfde strome verander van ’n feitlik voëllose habitat tot ’n toevlug vir baie spesies van watervoëls, waaronder ’n bevolking van tot 10 000 wilde voëls en 12 000 waadvoëls wat daar oorwinter.”
Dit beskryf natuurlik net een transformasie in een klein wêrelddeel. Ons kan nietemin lesse leer uit hierdie voorbeeld. Dit toon dat die planeet Aarde nie as gedoem tot vernietiging beskou hoef te word as gevolg van die wanbestuur, hebsug en onbedagsaamheid van die mens nie. Behoorlike opvoeding en die verenigde pogings vir die algemene welsyn van die mensdom kan die aarde help om selfs van omvattende skade aan sy ekologie, omgewing en landoppervlak te herstel. Maar wat van moontlike vernietiging as gevolg van eksterne kragte, soos ’n dwalende komeet of asteroïde?
Die volgende artikel bevat die sleutel tot ’n bevredigende antwoord op hierdie ingewikkelde vraag.
[Lokteks op bladsy 5]
Opvoeding en verenigde pogings kan die aarde help om selfs van omvattende skade te herstel