“Ou Vader Teems”—Engeland se unieke erfenis
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
Die Teemsrivier—wat ook Ou Vader Teems genoem word—ontspring uit vier hoofstrome in die skilderagtige Cotswold-heuwels van Suid-Sentraal-Engeland. Terwyl dit 350 kilometer ooswaarts kronkel, sluit ander riviere daarby aan totdat dit uiteindelik by ’n riviermonding wat omtrent 29 kilometer wyd is, in die Noordsee uitvloei. Die verhaal van hoe hierdie kort rivier die Engelse geskiedenis gevorm het, is fassinerend.
JULIUS CAESAR het in ongeveer 55 v.G.J. die eerste Romeinse inval in Engeland gelei. Toe hy die volgende jaar teruggekeer het, is sy opmars verhinder deur die rivier wat hy Tamesis genoem het—die rivier wat vandag as die Teems bekend staan. Die land is eers 90 jaar later deur die Romeinse keiser Claudius verower.
Destyds was daar moeraslande aan albei kante van die Teems, maar sowat 50 kilometer van die riviermonding af, waar die gety draai, het die Romeinse leër later ’n houtbrug gebou. Daar, op die rivier se noordoewer, het hulle ’n hawe gebou wat hulle Londinium genoem het.a
Gedurende die volgende vierhonderd jaar het die Romeine handelsbedrywighede met ander dele van Europa uitgebrei en luukseartikels van die Mediterreense gebied ingevoer—selfs hout van Libanon af. Hulle het die Teems ook gebruik om goedere van die binneland af na Londen te vervoer, en sodoende het die stad, met sy netwerk van hoofpaaie wat van die middestad af uitstraal, weldra ’n belangrike handelsentrum geword.
Die invloed van Willem die Veroweraar
Nadat die Romeinse Ryk ineengestort het, het die Romeinse legioene in 410 G.J. Brittanje verlaat. Londen het toe verlate geword, en die handel langs die Teems het gekwyn. Totdat Willem die Veroweraar van Normandië die land in die 11de eeu binnegeval het, is Angel-Saksiese konings by Kingston gekroon—’n nedersetting 19 kilometer stroomop van Londen, waar die Teems maklik oorgesteek kon word. Nadat hy in 1066 by Westminster gekroon is, het hy die Toring van Londen binne die Romeinse stadsmure gebou sodat hy die handelsgemeenskap kon oorheers en uitbrei sowel as toegang tot die hawe kon beheer. Die handel het weer gefloreer, en Londen se bevolking het tot sowat 30 000 gegroei.
Willem die Veroweraar het ook ’n vesting bo-op ’n kalksteenkoppie sowat 35 kilometer wes van Londen gebou in wat vandag as Windsor bekend staan. Dit is in die plek van ’n koninklike Saksiese woning gebou en het ’n asemrowende uitsig oor die Teems. Windsor-kasteel is die resultaat van baie aanbouings en veranderinge, en dit is nog steeds een van die gewildste toeriste-aantreklikhede in Brittanje.
In 1209 is ’n 30 jaar lange projek voltooi—’n klipbrug oor die Teems in Londen. Dit was een van die eerstes van hierdie soort brûe in Europa. Hierdie uitsonderlike struktuur, waarop winkels, huise en selfs ’n kapel gebou is, het twee ophaalbrûe sowel as ’n verdedigingstoring aan die suidekant by Southwark gehad.
Koning Jan van Engeland (1167-1216) het in 1215 sy beroemde Magna Carta by Runnymede, langs die Teems naby Windsor, bekragtig. Deur dit te doen, is hy geforseer om nie net Engelse burgerlike vryhede te waarborg nie, maar spesifiek ook die vryhede van die stad Londen en handelsvryheid vir die hawe en die handelaars daarvan.
Die Teems bring welvaart
Gedurende die eeue daarna het die handel langs die Teems gefloreer. Mettertyd het die toenemende handel die fasiliteite langs die rivier oorlaai. Tweehonderd jaar gelede was daar vasmeerplek vir net 600 vaartuie op die Teems, terwyl daar soms tot 1 775 seilskepe in die hawe gewag het om hulle vrag af te laai. As gevolg van hierdie opeenhoping het diefstal ’n ernstige probleem geword. Diewe het vaartuie snags van hulle vasmeerplekke losgesny sodat hulle dit kon plunder, en party het ’n bestaan gevoer deur goedere in bootjies met die Teems langs te smokkel. Om hierdie probleem die hoof te bied, het Londen die wêreld se eerste rivierpolisiemag op die been gebring. Dit bestaan nog steeds.
Meer was egter nodig om die druk op die hawe se fasiliteite te verlig. Daarom het die Engelse parlement in die 19de eeu besluit om die grootste stelsel van waterdokke ter wêreld te laat bou, wat in laagliggende land aan albei kante van die rivier uitgegrawe moes word. In die vroeë 1800’s is die Surrey- kommersiële dokke, die Londen-dok en die Wes- en Oos-Indiese dokke eerste voltooi; in 1855 is dit gevolg deur die Koninklike Victoria-dok en in 1880, die nabygeleë Koninklike Albert-dok.
Twee ingenieurs—vader en seun—Marc I. en Isambard K. Brunel het in 1840 die oewers van die Teems met mekaar verbind deur die wêreld se eerste onderwatertonnel te bou. Dit is 459 meter lank en word nog steeds gebruik as deel van Groter Londen se ondergrondse spoorwegnetwerk. In 1894 is Toringbrug, ’n hedendaagse toeriste-aantreklikheid, voltooi. Wanneer die twee gedeeltes van die brug opgehaal word, laat dit ’n opening van 76 meter tussen die twee torings waardeur groot skepe kan vaar. En as jy byna 300 trappe klim, sal jy by ’n loopgang uitkom wat die torings met mekaar verbind, waarvandaan jy ’n pragtige uitsig oor die rivier het.
Teen die 20ste eeu was Londen se dokke goed toegerus om die toenemende aantal groter stoombote in te neem, wat nodig was om die stad van handelsware te voorsien. Teen die tyd dat die laaste dok, wat na koning George V vernoem is, in 1921 gebou is, het Londen “die grootste en rykste hawestelsel in die wêreld” geword.
Paleise, koninklikes en praalvertoon
Terwyl Londen ontwikkel het, het die paaie sleg en ongeplavei gebly, wat dit in die winter dikwels onbegaanbaar gemaak het. Die vinnigste en logiesste manier om te reis, was dus die Teems, wat deur die jare heen ’n baie besige waterweg geword het. Die bekende uitroep “Spane!” kon gehoor word by Teemse bootmanne wat al langs die trappe op die oewer gestaan het en meegeding het om passasiers te vervoer na die ander kant van die rivier, stroomop, stroomaf of op die kronkelende sytakke soos die Fleet- en Walbrook-rivier, wat nou al jare lank begrawe lê onder die Londense strate wat hulle name dra.
Londen het mettertyd baie soos Venesië begin lyk, met die terrasse van sy talle statige paleise wat afloop na die rivier. Dit het hoogmode onder koninklikes geword om op die oewer van die Teems te woon, waarvan die paleise in Greenwich, Whitehall en Westminster getuig. Net so was Hampton Court die tuiste van konings en koninginne van Engeland, en Windsor-kasteel, wat verder stroomop geleë is, is nog steeds ’n koninklike woning.
In 1717 het Georg Friedrich Händel sy “Watermusiek” vir koning George I se koninklike waterpiekniek gekomponeer. Die koning se barg is vergesel deur “soveel bote dat die hele rivier as ’t ware oortrek was van vaartuie”, het ’n koerant destyds berig. Op die barg langs die koning s’n was daar 50 musikante, en hulle het Händel se komposisie drie keer gespeel terwyl hulle agt kilometer ver stroomop gevaar het, van Westminster na Chelsea.
’n Rivier wat plesier en ontspanning bied
Totdat die Westminster-brug in die 1740’s gebou is, was die Londen-brug die enigste manier om die Teems te voet oor te steek. Dit is later opgeknap en uiteindelik in die 1820’s is ’n ander brug in sy plek gebou. Die pylers wat die 19 boë van die oorspronklike klipstruktuur ondersteun het, het die vloei van die rivier grootliks belemmer. As gevolg hiervan het die Teems, gedurende die nagenoeg 600 jaar van die brug se bestaan, ten minste agt keer toegevries. Wanneer dit gebeur het, is groot “ysfeeste” op die ys gehou, waar baie sportgebeurtenisse gehou is. Beeste is gebraai en ’n mens kon koninklikes daar sien eet. Boeke en speelgoed met die woorde “gekoop op die Teems” daarop, het soos soetkoek verkoop. Nuusblaaie en selfs kopieë van die Onse Vader is gedruk op perse wat op die bevrore rivier opgerig is!
In onlangser tye het die roeiwedvaart tussen die universiteite van Oxford en Cambridge ’n jaarlikse gebeurtenis in die lente geword. Skares staan al langs die oewers van die Teems tussen Putney en Mortlake om die mededingende spanne van agt roeiers elk aan te moedig terwyl hulle ’n afstand van net onder sewe kilometer in minder as 20 minute aflê. Die eerste wedvaart is in 1829 verder stroomop by Henley gehou. Nadat die wedvaart stroomaf geskuif is, het Henley sy eie koninklike regatta geborg, die oudste en beroemdste roeiwedvaart van sy soort in Europa. Dit lok die wêreld se beste roeiers, mans sowel as vroue, vir roeiwedvaarte oor ’n afstand van een myl. Hierdie somerregatta het nou ’n gewilde sosiale geleentheid geword.
’n Reisgids vir Brittanje sê dat die Teems “’n groot verskeidenheid dinge vir [die reisiger] se genot bied terwyl dit deur die tipiese Engelse platteland, met sy lae heuwels, woude, graslande, plattelandse huisies en oulike klein dorpies vloei. . . . Daar is geen pad langs groot dele van die rivier nie, maar daar is gewoonlik ’n sleeppad. Hoewel motoriste dus die rivier kan bewonder terwyl hulle dorpies langs die rivier besoek, kan die Teems se stille skoonheid slegs op ’n boot of te voet ten volle waardeer word.”
Beplan jy om Engeland te besoek? Neem dan genoeg tyd om die Teems te verken en ’n bietjie van sy geskiedenis in te drink. Van die plattelandse skoonheid by die oorsprong van die rivier tot by sy bedrywige monding is daar so baie om te sien, te doen en te leer! “Ou Vader Teems” sal jou nie teleurstel nie.
[Voetnoot]
a Hoewel die naam Londen van die Latynse woord Londinium afkomstig is, word albei woorde dalk van die Keltiese woorde llyn en din afgelei, wat saam “dorp [of vesting] op die meer” beteken.
[Venster op bladsy 27]
LITERATUUR EN DIE TEEMS
Jerome K. Jerome het die ontspannende atmosfeer van die Teems vasgevang in sy boek Three Men in a Boat. Dit vertel van die vakansiereis van drie vriende wat saam met hulle hond van Hampton Court tot by Oxford met die rivier op roei. Dit is in 1889 geskryf en in baie tale vertaal en is nog steeds ’n gewilde “klassieke werk vol ligte humor”.
The Wind in the Willows is nog ’n welbekende verhaal, wat ewe veel deur volwassenes en kinders geniet word. Dit is ’n fantasie oor diere wat op of naby die rivieroewers woon en is in 1908 deur Kenneth Grahame voltooi, wat in Pangbourne, ’n dorpie langs die Teems, gewoon het.
[Venster/Prent op bladsy 27]
DIE KONING VERSUS DIE TEEMS
Koning Jakobus I, wat in die vroeë deel van die 17de eeu regeer het, het eenkeer £20 000 van die Corporation of London geëis. Toe die stadsburgemeester geweier het om toe te gee, het die koning gedreig: “Ek sal jou en jou stad vir ewig ruineer. Ek sal my geregshowe verwyder, asook my eie Hof en my Parlement, en dit na Winchester of na Oxford skuif, en ek sal Westminster verlate maak; dink net wat dan van jou gaan word!” Die burgemeester het hierop geantwoord: “Die handelaars van Londen sal altyd een troos hê: u majesteit kan nie die Teems saam met u neem nie.”
[Erkenning]
From the book Ridpath’s History of the World (Vol. VI)
[Kaarte op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ENGELAND
Londen
Teemsrivier
[Erkenning]
Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 24, 25]
Big Ben en die parlementsgebou, Westminster, Londen
[Prent op bladsy 25]
Londen-brug, van klip gebou, 1756
[Erkenning]
From the book Old and New London: A Narrative of Its History, Its People, and Its Places (Vol. II)
[Prent op bladsy 26]
Hierdie graveerwerk uit 1803 beeld die Teemsrivier en honderde skepe uit wat in die hawe vasgemeer is
[Erkenning]
Corporation of London, London Metropolitan Archive
[Prent op bladsy 26, 27]
Graveerwerk wat die ysfees van 1683 uitbeeld
[Erkenning]
From the book Old and New London: A Narrative of Its History, Its People, and Its Places (Vol. III)