Asteroïdes, komete en die aarde—Stuur hulle op ’n botsing af?
‘Vroeg in die oggend op 30 Junie is ’n baie ongewone verskynsel hier in ’n dorpie in Siberië gesien. Hoog bo die horison het die plaaswerkers ’n voorwerp gesien wat baie helder geblink het; dit was te helder vir die blote oog. Laag op die horison, in dieselfde rigting as die blink voorwerp, kon ’n klein swart wolkie gesien word. Toe die helder voorwerp die grond tref, het dit gelyk asof dit tot stof vergruis is. In die plek daarvan het ’n groot wolk swart rook gevorm, en ’n harde ontploffing soos die klank van ’n groot rotsstorting is gehoor. Geboue het geskud, en ’n gevurkte tong van vuur het opwaarts deur die wolk geskiet. Die dorpenaars het vreesbevange na die straat gehardloop. Bejaarde vroue het gehuil; almal het gedink dat die einde van wêreld gekom het.’—Opsomming van ’n verslag wat in die koerant Sibir, Irkoetsk, Rusland, op 2 Julie 1908 verskyn het.
MIN het daardie dorpenaars besef dat ’n voorwerp uit die hemel so pas bo hulle koppe ontplof het. Vandag, meer as 90 jaar later, is een van die ongewoonste voorspellings oor die einde van ons planeet ’n katastrofe wat deur ’n asteroïde of ’n komeet veroorsaak word. Akronieme soos NAV’s (naby-aarde-voorwerpe) en PGV’s (potensieel gevaarlike voorwerpe) word gehoor in verband met apokaliptiese voorspellings oor die vernietiging van die aarde weens botsings met voorwerpe uit die buitenste ruimte. Hollywood was vinnig om uit hierdie vrese munt te slaan deur rolprente soos Deep Impact en Armageddon te vervaardig.
Maar hoe waarskynlik is dit dat jy of jou kinders deur ’n vuurbol uit die hemel vernietig sal word? Moet jy verwag om binnekort stukke yster en ys in jou agterplaas te sien neerreën? Gestel jy woon naby die kus, sal jou huis dan weggespoel word deur ’n reusagtige vloedgolf wat veroorsaak is deur ’n dwalende asteroïde wat in die see gestort het?
In ’n wentelbaan tussen planetêre rommel
Ons sonnestelsel bestaan uit baie meer as die son, nege planete en hulle mane. Komete (samestellings van ys en stof), asteroïdes (kleinplanete) en meteoroïdes (meestal fragmente van asteroïdes) is ook in wentelbane binne die sonnestelsel. Wetenskaplikes weet al lank dat die aarde deur voorwerpe uit die ruimte gebombardeer word. Ons hoef maar net na die maan se gehawende landskap te kyk om te besef dat die omgewing om ons aarde vol rommel is. As ons nie die atmosfeer gehad het nie en as die aarde se oppervlak nie voortdurend deur plaatverskuiwing en erosie verander het nie, sou ons planeet net so vol kraters gewees het soos die maan.
Wetenskaplikes skat dat daar elke dag tot 200 miljoen meteore in die aarde se atmosfeer sigbaar is. Die meeste voorwerpe wat die atmosfeer binnekom, is klein en brand feitlik ongemerk uit. Maar party van hierdie voorwerpe word nie deur die vurige hitte vernietig wanneer hulle die atmosfeer binnekom nie en word deur lugwrywing vertraag tot ’n snelheid van ongeveer 320 kilometer per uur. Wat van hulle oorbly, tref die grond as meteoriete. Aangesien die meeste van hulle in oseane of onbewoonde landstreke val, doen hulle mense selde skade aan. Daar word geskat dat die voorwerpe wat ons atmosfeer binnekom daagliks honderde tonne by die aarde se massa voeg.
Daarbenewens skat sterrekundiges dat daar dalk sowat 2 000 asteroïdes is wat groter as ’n kilometer is en wat óf die aarde se wentelbaan kruis óf naby daaraan kom. Net ongeveer 200 van hulle is opgespoor en word dopgehou. Volgens skatting is daar ook eenmiljoen asteroïdes wat groter as 50 meter in deursnee is en gevaarlik naby aan die aarde se wentelbaan kom. Asteroïdes van daardie grootte kan die grond tref en skade aanrig. So ’n relatiewe klein projektiel bevat ongeveer tien megaton energie—gelyk aan ’n groot kernbom. Hoewel die aarde se atmosfeer ons teen kleiner botsings kan beskerm, kan dit nie dié keer met tien megaton of meer energie nie. Party navorsers beweer dat ons, statisties gesproke, oor die algemeen ’n botsing van tien megaton ongeveer een keer in ’n eeu kan verwag. Volgens party skattings sal ’n botsing met voorwerpe van ongeveer ’n kilometer in deursnee een keer in 100 000 jaar plaasvind.
Bewyse van kraters, ontploffings en botsings
Dit is nie moeilik om te glo dat ons planeet getref is deur groot voorwerpe wat in die verlede uit die ruimte neergereën het nie. Bewyse van hierdie botsings kan gevind word in die meer as 150 kraters wat op die aardoppervlak ontdek is. Party van hulle is duidelik sigbaar, ander kan net uit vliegtuie of met behulp van satelliete gesien word, en nog ander is lankal begrawe of is op die seebodem.
Een van die bekendste van hierdie kraters, wat as Chicxulub bekend staan, het ’n krater op die aardoppervlak gevorm wat 180 kilometer in deursnee is. Hierdie reusagtige krater is naby die noordelike punt van Mexiko se Yucatan-skiereiland geleë en is vermoedelik die botsingsterrein van ’n komeet of asteroïde wat tien kilometer in deursnee was. Party beweer dat die klimaatsveranderinge wat hierdie botsing veroorsaak het tot die uitsterwing van die dinosourusse en van ander land- en seediere gelei het.
In Arizona, VSA, het ’n ystermeteoriet die skouspelagtige Meteoorkrater gevorm—’n gat wat nagenoeg 1 200 meter in deursnee en 180 meter diep is. Hoeveel slagoffers sal daar wees as so ’n meteoriet ’n stad sou tref? ’n Gewilde uitstalling by die Amerikaanse Natuurhistoriese Museum, in die stad New York, toon dat Manhattan heeltemal vernietig sal word as so ’n voorwerp daardie digbevolkte stad sou tref.
Op 30 Junie 1908 het ’n asteroïde of ’n stuk van ’n komeet wat volgens skatting minder as 100 meter in deursnee was die atmosfeer met ’n gedruis binnegekom en sowat agt kilometer bo die grootliks onbevolkte Tunguska-streek van Siberië ontplof, soos in die inleiding genoem is. Die ontploffing, wat volgens skatting 15 megaton was, het ’n gebied van 2 000 vierkante kilometer verwoes, bome platgeslaan, brande begin en takbokke gedood. Hoeveel mense sou gesterf het as daardie ontploffing reg bo ’n digbevolkte gebied was?
In Julie 1994 is teleskope regoor die wêreld op Jupiter gerig toe stukke van die komeet Shoemaker-Levy 9 met daardie planeet gebots het. Die tydelike merke wat op Jupiter gevorm is, sal diep ingeprent bly in die geheue van diegene wat die botsings persoonlik gesien het. Deskundiges en leke wat gesien het hoe Jupiter herhaaldelik getref word, wonder wat sou gebeur het as die aarde die teiken van die komeet was.
Rampscenario’s
Wetenskaplikes het met diepe besorgdheid die verskriklike gevolge probeer vasstel wat ’n botsing met ’n komeet of asteroïde op ons planeet sal hê. Hier is die onmiddellike gevolge wat hulle ná ’n groot botsing verwag. Eerstens sal die ontploffing ’n wolk van rots en stof vorm. Die vallende rommel sal ’n meteoorreën veroorsaak wat die hemel vuurwarm sal maak en woude en grasvelde aan die brand sal steek, wat die meeste lewensvorme op land sal doodmaak. Stof wat ’n tyd lank in die atmosfeer bly hang, sal sonlig afkeer, met die gevolg dat temperature skerp sal daal en fotosintese onder op die donker oppervlak sal ophou. Die onderdrukking van fotosintese sal ook tot die vernietiging van die oseaan se voedselketting lei sodat die meeste seelewe sal sterf. Volgens hierdie scenario sal die omgewingsramp se finale fase aardwye suurreën en die vernietiging van die osoonlaag wees.
As so ’n asteroïde in die oseaan sou stort, sou dit vloedgolwe, oftewel tsunami’s, veroorsaak, wat groot verwoesting kan aanrig. Tsunami’s sou baie verder van die trefpunt beweeg as die aanvanklike skokgolf en sou grootskaalse verwoesting aanrig in kusgebiede duisende kilometers daarvandaan. Die sterrekundige Jack Hills sê: “Waar stede gestaan het, sal daar net moddervlaktes wees.”
Maar ’n mens moet versigtig wees vir sulke stellings. Baie van hierdie teorieë is bloot gissings. Niemand het natuurlik al gesien of bestudeer wat gebeur wanneer ’n asteroïde met die aarde bots nie. Vandag se sensasiesoekende media is ook gou om sensasionele koerantopskrifte uit te dink wat op onvolledige of onjuiste inligting gebaseer is. (Sien die venster hierbo.) Daar word in werklikheid beweer dat die moontlikheid om te sterf weens ’n voorwerp wat uit die hemel val aansienlik minder is as die moontlikheid om in ’n motorongeluk te sterf.
Wat moet gedoen word?
Baie deskundiges glo dat die beste strategie om ’n ramp weens ’n naderende komeet of asteroïde te vermy, is om ’n vuurpyl af te stuur om die indringer te onderskep en ten minste sy baan te verander. As die asteroïde klein is en baie jare voor die geraamde tyd van botsing opgemerk word, sal hierdie slag moontlik genoeg wees.
Maar vir ’n groter voorwerp wat met die aarde kan bots, stel party wetenskaplikes voor dat kernwapens gebruik word. In so ’n geval word daar geglo dat die krag van ’n goed geplaasde kernontploffing die asteroïde in ’n veiliger wentelbaan sal stoot sodat dit die aarde sal mis. Die grootte van die asteroïde en hoe naby dit aan die aarde is, sal die grootte bepaal van die kernontploffing wat nodig sal wees.
Die probleem is dat geeneen van hierdie moontlike verdedigende maatreëls doeltreffend kan wees as die waarskuwing nie betyds gegee word nie. Sterrekundegroepe soos Spacewatch en Near Earth Asteroid Tracking spits hulle uitsluitlik daarop toe om asteroïdes op te spoor. Baie mense voel dat meer op hierdie gebied gedoen moet word.
Onvolmaakte mense het weliswaar beperkte kennis van die liggings en bewegings van hierdie hemelliggame. Maar dit is nie nodig om uiters besorg of uitermate vreesbevange te word oor bedreigings dat die toekoms van lewe op die aarde in gevaar is nie. Die sekerste waarborg dat geen asteroïde of komeet ooit toegelaat sal word om alle lewe op die aarde te vernietig nie, kom van die Skepper van die heelal, Jehovah God.a Die Bybel verseker ons: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29; Jesaja 45:18.
[Voetnoot]
a Sien bladsye 22-3 van die Ontwaak! van 8 Desember 1998 vir ’n verdere bespreking van die Bybel se beskouing van hierdie onderwerp.
[Venster op bladsy 27]
Die geval van 1997 XF11
Op 12 Maart 1998 het slegte nuus regoor die aarde opslae gemaak: ’n Asteroïde wat een en ’n half kilometer in deursnee is, beweeg in die rigting van die aarde en sal op 26 Oktober 2028, “’n Donderdag”, hier aankom. Die asteroïde wat 1997 XF11 genoem is, is op 6 Desember 1997 ontdek deur sterrekundige Jim Scotti, van die Universiteit van Arizona se Spacewatch-groep. Wetenskaplikes van die Harvard-Smithsonian-sentrum vir Astrofisika het vorige data en nuwer waarnemings gebruik om inligting bekend te maak wat deur party gebruik is om te voorspel dat die asteroïde waarskynlik in ’n wentelbaan ongeveer 50 000 kilometer van die aarde af sou wees—’n haarbreedte volgens astronomiese standaarde, of “geen kans om die aarde te mis nie”. Televisieskerms is gevul met skrikwekkende nabootsings van ’n asteroïde wat die aarde tref. Toe, minder as ’n dag later, was die gevaar verby. Nuwe data en berekeninge het getoon dat die asteroïde die aarde met 1 000 000 kilometer sal mis. Dit is nog steeds nader as enige asteroïde van daardie grootte wat voorheen gesien is, maar dit is ’n veilige afstand. Die media was vinnig met opskrifte soos “Toe het hulle dit effens mis gehad”.
[Prente op bladsy 26]
1. Halley se komeet
2. Komeet Ikeya-Seki
3. Asteroïde 951 Gaspra
4. Meteoorkrater—’n gat wat ongeveer 1 200 meter in deursnee en 180 meter diep is
[Erkennings]
Met vergunning van ROE/Anglo-Australian Observatory, foto deur David Malin
NASA photo
NASA/JPL/Caltech
Foto deur D. J. Roddy en K. Zeller, U.S. Geological Survey
[Foto-erkenning op bladsy 25]
NASA photo