Tigikus—’n Vertroude medeslaaf
BY VERSKEIE geleenthede het Tigikus saam met die apostel Paulus gereis en as sy boodskapper gedien. Hy was ’n boodskapper aan wie geld toevertrou kon word sowel as die verantwoordelikheid om toesig te hou. Aangesien die Skrif aandag vestig op sy betroubaarheid—’n eienskap wat vir alle Christene noodsaaklik is—sal jy dalk meer van hom wil weet.
Paulus het Tigikus as sy “geliefde broer en getroue dienaar en medeslaaf in die Here” beskryf (Kolossense 4:7). Waarom het die apostel hom so beskou?
Die noodlenigingsending na Jerusalem
Daar het in ongeveer 55 G.J. ’n materiële behoefte onder die Christene in Judea ontstaan. Met die hulp van gemeentes in Europa en Klein-Asië het Paulus ’n insameling gereël om hulle by te staan. Tigikus, wat van die landstreek Asië was, het ’n rol gespeel in die noodlenigingsending.
Nadat Paulus instruksies gegee het oor wat met hierdie bydrae gedoen moes word, het hy voorgestel dat betroubare manne na Jerusalem gestuur word of saam met hom daarheen gaan om die skenking af te lewer (1 Korintiërs 16:1-4). Toe hy die lang reis van Griekeland na Jerusalem aangepak het, het verskeie manne hom vergesel, waarvan een klaarblyklik Tigikus was (Handelinge 20:4). So ’n groot geselskap was moontlik nodig omdat hulle geld gedra het wat deur verskeie gemeentes aan hulle toevertrou is. Veiligheid was dalk ’n belangrike faktor, aangesien struikrowers ’n bedreiging vir ’n veilige deurreis was.—2 Korintiërs 11:26.
Aangesien Aristargus en Trofimus Paulus tot by Jerusalem vergesel het, dink party dat Tigikus en die ander dit waarskynlik ook gedoen het (Handelinge 21:29; 24:17; 27:1, 2). Omdat Tigikus by hierdie noodlenigingsprogram betrokke was, is hy een van dié wat moontlik die “broer” was wat saam met Titus in Griekeland gewerk het om die insameling te reël en wat “deur die gemeentes aangestel [is] om [Paulus se] reisgenoot te wees in verband met hierdie liefdegawe” (2 Korintiërs 8:18, 19; 12:18). Tigikus se tweede toewysing was net so ’n verantwoordelike toewysing soos sy eerste.
Van Rome na Kolosse
Vyf of ses jaar later (60-61 G.J.) het Paulus gehoop om uit sy eerste gevangenskap in Rome vrygelaat te word. Tigikus was saam met hom, honderde kilometers van die huis af. Tigikus was nou op pad terug na Asië toe. Dit het Paulus in staat gestel om briewe na Christengemeentes in daardie gebied te stuur en om Filemon se wegloopslaaf, Onesimus, na Kolosse terug te stuur. Tigikus en Onesimus het ten minste drie briewe wat nou deel van die Bybelkanon is saam met hulle geneem—een aan die Efesiërs, een aan die Kolossense en een aan Filemon. ’n Brief is moontlik ook afgelewer aan die gemeente in Laodisea, ’n stad sowat 18 kilometer van Kolosse af.—Efesiërs 6:21; Kolossense 4:7-9, 16; Filemon 10-12.
Tigikus was nie bloot ’n posbode nie. Hy was ’n vertroude persoonlike boodskapper, want Paulus het geskryf: “Tigikus, my geliefde broer en getroue dienaar en medeslaaf in die Here, sal al my aangeleenthede aan julle bekend maak. Juis sodat julle die dinge aangaande ons kan weet en sodat hy julle harte kan vertroos, stuur ek hom na julle toe.”—Kolossense 4:7, 8.
Die geleerde E. Randolph Richards wys daarop dat die draer van ’n brief “dikwels ’n persoonlike skakel tussen die skrywer en die ontvangers was, benewens die geskrewe skakel. . . . [Een rede] waarom ’n betroubare bode nodig was, is [dat] hy dikwels bykomende inligting gehad het. ’n Brief kan ’n situasie kortliks beskryf, dikwels met die skrywer se beoordeling, maar daar word van die draer verwag om die ontvanger bykomende besonderhede te gee.” Hoewel ’n brief dalk leringe en dringende sake behandel, sal ander dinge mondelings deur ’n vertroude boodskapper oorgedra word.
Die briewe aan die Efesiërs, die Kolossense en Filemon sê baie min oor hoe dit met Paulus gegaan het. Tigikus moes dus persoonlike inligting oordra, Paulus se omstandighede in Rome verduidelik en toestande in die gemeentes goed genoeg opsom om aanmoediging te kon gee. Boodskappe en verantwoordelikhede van hierdie aard is net aan diegene toevertrou op wie daar gereken kon word om die sender getrou te verteenwoordig. Tigikus was so ’n man.
Toesig in verafgeleë toewysings
Nadat Paulus uit huisarres in Rome vrygelaat is, het hy daaraan gedink om óf Tigikus óf Artemas na Titus op die eiland Kreta te stuur (Titus 1:5; 3:12). Tydens Paulus se tweede gevangenskap in Rome (waarskynlik ongeveer 65 G.J.) het die apostel weer vir Tigikus na Efese gestuur, moontlik om die plek van Timoteus in te neem, sodat hy dan vry kon wees om na Paulus toe te gaan.—2 Timoteus 4:9, 12.
Of Tigikus gedurende hierdie tyd na Kreta sowel as na Efese gegaan het, is nie duidelik nie. Nietemin dui verwysings soos hierdie aan dat hy tot die laaste jare van Paulus se bediening een van die apostel se intieme metgeselle gebly het. As Paulus dit oorweeg het om Tigikus in die plek van Timoteus en Titus op verantwoordelike en miskien moeilike sendings te stuur, is dit duidelik dat hy ’n geestelik ryp Christenopsiener geword het. (Vergelyk 1 Timoteus 1:3; Titus 1:10-13.) Sy bereidwilligheid om te reis en in verafgeleë toewysings gebruik te word, het hom vir Paulus en die hele Christengemeente nuttig gemaak.
Selfopofferende Christene dien God vandag gewillig in plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies of hulle stel hulle beskikbaar om Koninkryksbelange elders te bevorder. Duisende het met blydskap toewysings aanvaar as sendelinge, reisende opsieners, internasionale knegte op konstruksieprojekte, by die wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap of by een van sy takkantore. Soos Tigikus vestig hulle nie aandag op hulleself nie, maar hulle is harde werkers, ‘getroue dienaars’ wat kosbaar is vir God en vir wie ander Christene lief is omdat hulle betroubare ‘medeslawe in die Here’ is.