Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 8/15 bl. 25-29
  • Die Hugenote se vlug na vryheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Hugenote se vlug na vryheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van die begin af teëgestaan
  • Strawwer maatreëls
  • Erger as tevore
  • Wegkruip, veg of vlug?
  • ’n Welkome Toevlug
  • Watter lesse is geleer?
  • Godsdiensoorloë in Frankryk
    Ontwaak!—1997
  • Die Edik van Nantes—’n Handves vir verdraagsaamheid?
    Ontwaak!—1998
  • Die Toring van Crest
    Ontwaak!—2001
  • Die Hervormingswaters bars uit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 8/15 bl. 25-29

Die Hugenote se vlug na vryheid

“Deur die Koning en Koningin, . . . Hiermee verklaar ons dat alle Franse Protestante wat in ons koninkryk kom skuiling soek en hierheen reis, nie alleen ons koninklike beskerming sal hê nie . . . maar dat ons ook sover moontlik alles in ons vermoë sal doen om hulle te ondersteun, te help en by te staan . . . sodat hulle lewe en verblyf in hierdie ryk vir hulle aangenaam en rustig sal wees.”

SÓ LUI die verklaring wat Willem en Maria, die koning en koningin van Engeland, in 1689 uitgereik het. Maar waarom was dit nodig dat Franse Protestante, of Hugenote, soos hulle bekend geraak het, skuiling en beskerming buite Frankryk soek? Waarom moet hulle vlug uit Frankryk sowat 300 jaar gelede ons vandag interesseer?

Sestiende-eeuse Europa is deur godsdiensoorloë en -geskille geteister. Frankryk, met sy Godsdiensoorloë (1562-1598) tussen Katolieke en Protestante het nie hierdie beroeringe vrygespring nie. Maar in 1598 het die Franse koning Hendrik IV ’n edik van verdraagsaamheid, die Edik van Nantes, onderteken, wat die Protestantse Hugenote ’n sekere mate van godsdiensvryheid gegun het. Hierdie wetlike erkenning van twee godsdienste was iets unieks in Europa. Dit het ’n ruk lank ’n einde gemaak aan die godsdiensopstande wat 16de-eeuse Frankryk langer as 30 jaar geteister het.

Hoewel dit veronderstel was om “ewigdurend en onherroeplik” te wees, is die Edik van Nantes in 1685 deur die Edik van Fontainebleau herroep. Die Franse filosoof Voltaire het hierdie herroeping later as “een van Frankryk se grootste tragedies” beskryf. Op die kort termyn het dit daartoe gelei dat ongeveer 200-000 Hugenote na ander lande gevlug het. Die gevolge daarvan het egter selfs verder gestrek. Maar waarom is daardie vroeëre edik ten gunste van godsdiensverdraagsaamheid herroep?

Van die begin af teëgestaan

Al was die Edik van Nantes amptelik amper 90 jaar lank van krag, sê een geskiedkundige dat die invloed daarvan reeds “aan die kwyn was toe dit in 1685 herroep is”. Die edik is inderdaad nie op ’n vaste grondslag gebou nie. Van die begin af het dit bygedra tot wat al beskryf is as ’n “koue oorlog” tussen die Katolieke geestelikes en wat hulle die “R.P.R” (So genoemde Hervormde Godsdiens) genoem het. Sedert dit in 1598 uitgereik is tot ongeveer 1630 was die teenkanting teen die Edik van Nantes in die vorm van openbare debatte tussen Protestante en Katolieke en die publikasie van kerklike letterkundige werke. Maar onverdraagsaamheid het baie vorme aangeneem.

Nadat die Franse regering van 1621 tot 1629 teen die Protestante oorlog gevoer het, het hulle hulle deur ’n reeks dwangmaatreëls probeer dwing om deel te word van die Katolieke kudde. Hierdie teistering is verskerp onder Lodewyk XIV, die “Sonkoning”. Sy beleid van vervolging het tot die herroeping van die Edik van Nantes gelei.

Strawwer maatreëls

As deel van die strawwer maatreëls is die burgerregte van die Protestante geleidelik verwyder. Tussen 1657 en 1685 is ongeveer 300 beslissings, wat dikwels deur die geestelikes aangestig is, teen die Hugenote gegee. Daardie beslissings was ’n aanslag op elke aspek van hulle lewe. Daar was byvoorbeeld ’n groot verskeidenheid beroepe, soos die geneeskunde, die regte en selfs die verloskunde, wat vir Hugenote verbode was. Wat die verloskunde betref, het een geskiedkundige geredeneer: “Hoe kon ’n mens jou lewe in die hande van ’n ketter plaas wie se doel dit was om die bestaande orde te vernietig?”

Die onderdrukking het in 1677 hewiger geword. Enige Hugenoot wat betrap is terwyl hy ’n Katoliek probeer bekeer het, sou ’n boete van duisend Franse pond opgelê word. Staatsfondse wat verkry is deur buitensporige belastingheffings is gebruik om die Hugenote te beïnvloed om hulle te bekeer. In 1675 het die Katolieke geestelikes 4,5 miljoen Franse pond aan koning Lodewyk XIV gegee en gesê: “Nou moet u u dankbaarheid betoon deur u gesag te gebruik om die kettery heeltemal uit te roei.” Hierdie strategie om bekeerlinge te “koop”, het binne drie jaar tot sowat 10 000 bekeringe tot die Katolisisme gelei.

In 1663 is bekering tot die Protestantisme onwettig gemaak. Daar was ook beperkings met betrekking tot waar die Hugenote kon woon. ’n Voorbeeld van die ekstremistiese maatreëls is dat kinders op die ouderdom van sewe teen hulle ouers se wense Katolieke kon word. Protestantse ouers is verplig om vir die opvoeding te betaal wat hulle kinders van Jesuïete of ander Katolieke onderrigters ontvang het.

’n Ander wapen wat gebruik is om die Hugenote te onderdruk, was die geheime Compagnie du Saint-Sacrement (Die Genootskap van die Heilige Sakrament). Dit was ’n Katolieke organisasie wat volgens die geskiedkundige Janine Garrisson neergekom het op ’n “uitgestrekte netwerk” wat die hele Frankryk gedek het. Dit het die hoogste vlakke van die gemeenskap binnegedring en het geen tekort gehad aan finansies of geheime inligting nie. Garrisson verduidelik dat dit baie taktieke gehad het: “Die Genootskap het elke moontlike manier gebruik om die Protestantse gemeenskap te verswak—van druk tot verhindering, van knoeiery tot aanklaery.” Nietemin het die meeste Hugenote gedurende hierdie tyd van vervolging in Frankryk gebly. Die geskiedkundige Garrisson sê: “Dit is moeilik om te verstaan waarom die Protestante die Koninkryk nie in groter getalle verlaat het namate die vyandigheid teenoor hulle geleidelik toegeneem het nie.” Maar dit het uiteindelik vir hulle noodsaaklik geword om na vryheid te vlug.

Erger as tevore

Die Vrede van Nijmegen (1678) en die Wapenstilstand van Regensburg (1684) het koning Lodewyk XIV van oorloë met die buitewêreld bevry. Oorkant die Kanaal in Engeland het ’n Katoliek in Februarie 1685 koning geword. Lodewyk XIV kon voordeel trek uit hierdie nuwe situasie. ’n Paar jaar tevore het die Katolieke geestelikes in Frankryk die Vier Gallikaanse Artikels uitgereik, wat die mag van die pous beperk het. Pous Innocentius XI het toe “die Franse Kerk as ’n soort skeurkerk beskou”. Gevolglik kon Lodewyk XIV, deur die Edik van Nantes te herroep, sy geskende reputasie verbeter en normale betrekkinge met die pous herstel.

Die koning se beleid ten opsigte van die Protestante het baie duidelik geword. Die sagte metode (oorreding en wetgewing) het blykbaar nie gewerk nie. Daarenteen was die onlangse dragonnadesa suksesvol. Gevolglik het Lodewyk XIV in 1685 die Edik van Fontainebleau onderteken, wat die Edik van Nantes herroep het. Die gewelddadige vervolging wat met hierdie herroeping gepaardgegaan het, het die Hugenote in ’n selfs erger posisie gelaat as voor die Edik van Nantes. Wat sou hulle nou doen?

Wegkruip, veg of vlug?

Party Hugenote het gekies om hulle godsdiens in die geheim te beoefen. Omdat hulle vergaderplekke vernietig is en hulle openbare aanbidding verbied is, het hulle hulle tot die ‘Kerk van die Woestyn’, of ondergrondse aanbidding, gewend. Dit was ondanks die feit dat mense wat sulke vergaderinge gehou het, gevaar geloop het om, volgens ’n wet wat in Julie 1686 aangeneem is, ter dood veroordeel te word. Party Hugenote het hulle geloof afgesweer, aangesien hulle gedink het dat dit moontlik sou wees om later weer Hugenote te word. Sulke bekeerlinge het ’n oppervlakkige Katolisisme beoefen wat deur latere geslagte nagedoen sou word.

Die regering het bekerings probeer bevestig. Om werk te kon kry, moes nuwe bekeerlinge ’n sertifikaat van hulle Katoliekheid voorlê wat deur die plaaslike priester onderteken is en waarop hy kerkbywoning aangeteken het. As kinders nie as Katolieke gedoop en grootgemaak is nie, kon hulle van hulle ouers weggeneem word. Skole moes Katolieke opvoeding bevorder. Pogings is aangewend om pro-Katolieke godsdienswerke uit te gee vir die “mense van die Boek [die Bybel]”, soos die Protestante genoem is. Die regering het meer as ’n miljoen boeke gedruk en na gebiede gestuur waar baie hulle bekeer het. Die maatreëls was so ekstremisties dat iemand wat siek was en die Katolieke sterfsakramente geweier het en dan herstel het lewenslank tot gevangenisstraf of die galeie gevonnis is. En wanneer hy later gesterf het, is sy liggaam bloot weggegooi asof dit vullis was, en sy besittings is gekonfiskeer.

Party Hugenote het hulle tot gewapende weerstand gewend. In die streek Cévennes, wat bekend was weens die godsdiensywer van die mense daar, het militante Hugenote wat Camisards genoem is in 1702 in opstand gekom. In reaksie op die Camisards se hinderlae en nagtelike aanvalle het regeringstroepe dorpies aan die brand gesteek. Hoewel die Hugenote nog ’n ruk lank sporadiese aanvalle geloods het, het die mag van koning Lodewyk se leër die Camisards teen 1710 verpletter.

Nog ’n reaksie van die Hugenote was om uit Frankryk te vlug. Hierdie emigrasie is al ’n ware diaspora genoem. Die meeste Hugenote was brandarm toe hulle gevlug het omdat die staat hulle besittings gekonfiskeer het, en die Katolieke Kerk het ’n deel van die fortuin ontvang. Dit was dus nie maklik om te vlug nie. Die Franse regering het vinnig gereageer op wat besig was om te gebeur, en hulle het uitgangsweë dopgehou en skepe deursoek. Seerowers het skepe wat Frankryk verlaat het, geplunder, want daar was belonings vir dié wat vlugtelinge gevang het. Hugenote wat gevang is terwyl hulle probeer vlug het, is swaar gestraf. Sake is verder bemoeilik deur spioene wat in die gemeenskappe gewerk het en die name sowel as die roetes van diegene wat wou vlug, probeer uitvind het. Briewe wat onderskep is, vervalsings en komplotte was aan die orde van die dag.

’n Welkome Toevlug

Die Hugenote se vlug uit Frankryk en hulle verwelkoming in gasheerlande was bekend as die Toevlug. Die Hugenote het na Holland, Switserland, Duitsland en Engeland gevlug. Later het party na Skandinawië, Amerika, Ierland, die Wes-Indiese Eilande, Suid-Afrika en Rusland gegaan.

’n Aantal Europese lande het edikte uitgevaardig om die Hugenote aan te moedig om te immigreer. Van die lokmiddele was gratis naturalisasie, vrystelling van belasting en gratis lidmaatskap van ’n handelsgilde. Volgens die geskiedkundige Elisabeth Labrousse was die Hugenote hoofsaaklik “jong mans . . . ondernemende, kragtige onderdane met buitengewone sedelike waardes”. Frankryk het dus op die hoogtepunt van sy mag vaardige werkers in ’n aantal ambagte verloor. Ja, “besittings, fortuine en vaardighede” het na die buiteland gegaan. Die Hugenote is ook weens godsdienstige en politieke faktore skuiling aangebied. Maar wat was die langtermyngevolge van hierdie emigrasie?

Die herroeping van die Edik van Nantes en die vervolging wat daarmee gepaardgegaan het, het negatiewe internasionale reaksie uitgelok. Willem van Oranje kon munt slaan uit die anti-Franse sentiment sodat hy heerser van Nederland kon word. Met behulp van Hugenote-offisiere het hy ook die koning van Groot-Brittanje geword en Jakobus II wat ’n Katoliek was, vervang. Die geskiedkundige Philippe Joutard verduidelik dat “Lodewyk XIV se beleid met betrekking tot die Protestante een van die vernaamste oorsake van die omverwerping van Jakobus II [en] die ontstaan van die Augsburgbond was. . . . [Hierdie] gebeure was ’n keerpunt in die geskiedenis van Europa, wat gelei het tot die vervanging van Franse oorheersing deur Engelse oorheersing.”

Die Hugenote het ’n belangrike kulturele rol in Europa gespeel. Hulle het hulle nuutgevonde vryheid gebruik om literatuur uit te gee wat die filosofie van die Verligting en idees van verdraagsaamheid help vorm het. ’n Franse Protestant het byvoorbeeld die werke van die Engelse filosoof John Locke vertaal, wat die idee van natuurlike regte voorgestaan het. Ander Protestantse skrywers het die belangrikheid van gewetensvryheid beklemtoon. Die idee het ontwikkel dat gehoorsaamheid aan heersers relatief is en geïgnoreer kan word as hulle die kontrak tussen hulle en die volk verbreek. Soos die geskiedkundige Charles Read verduidelik, was die herroeping van die Edik van Nantes dus “een van die ooglopende oorsake van die Franse Revolusie”.

Watter lesse is geleer?

Met die oog op die kontraproduktiewe gevolge van vervolging en die staat se verlies van soveel waardevolle mense het die markies De Vauban, die militêre raadgewer van koning Lodewyk XIV, die koning aangespoor om die Edik van Nantes te herstel en gesê: “Die bekering van harte behoort net aan God.” Waarom het die Franse Staat dan nie sy les geleer en sy besluit herroep nie? Een bydraende faktor was beslis dat die koning bang was dat hy die staat sou verswak. Verder het dit hom gepas om die Katolieke herlewing en godsdiensonverdraagsaamheid van 17de-eeuse Frankryk te bevorder.

Gebeure wat met die herroeping saamgeval het, het party laat vra: “Hoeveel pluralisme kan ’n gemeenskap toelaat en verdra? Dit is inderdaad soos geskiedkundiges al gesê het onmoontlik om die Hugenote se verhaal te beskou sonder om aan “die instrumente van mag en die misbruik daarvan” te dink. In gemeenskappe van vandag wat al hoe meer veelrassig is en uiteenlopende godsdienste het, is die Hugenote se vlug na vryheid ’n aangrypende herinnering aan wat gebeur wanneer kerkgemotiveerde politiekery voorkeur kry bo die belange van die volk.

[Voetnoot]

a Sien die venster op bladsy 28.

[Venster op bladsy 28]

Die dragonnades

Bekering deur terreur

Party het die dragonders as “uitstekende sendelinge” beskou. Maar onder die Hugenote het hulle paniek gewek, en in party gevalle het hele dorpies hulle tot die Katolisisme bekeer wanneer hulle van hulle aankoms gehoor het. Maar wie was hierdie dragonders?

Dragonders was swaar gewapende soldate wat in die huise van Hugenote ingekwartier was met die doel om die bewoners te intimideer. Hierdie gebruik van die dragonders het as die dragonnades bekend gestaan. Om die las wat op die gesinne geplaas is te vergroot, was die aantal soldate wat na ’n huis gestuur is buite verhouding tot die gesin se hulpbronne. Die dragonders is toegelaat om gesinne wreed te mishandel, hulle uit die slaap te hou en hulle besittings te vernietig. As die bewoners die Protestantse geloof afgesweer het, het die dragonders weggegaan.

Die dragonnades is in 1681 in Poitou, Wes-Frankryk, ’n gebied waar daar baie Hugenote was, gebruik om mense te bekeer. Binne ’n paar maande het tussen 30 000 en 35 000 hulle bekeer. Dieselfde metode is in 1685 in ander Hugenotevestings gebruik. Binne ’n paar maande het tussen 300 000 en 400 000 hulle geloof afgesweer. Volgens die geskiedkundige Jean Quéniart het die welslae van die dragonnades “die Herroeping [van die verdraagsame Edik van Nantes] onvermydelik gemaak, omdat dit nou moontlik gelyk het”.

[Erkenning]

© Cliché Bibliothèque Nationale de France, Paris

[Prent op bladsy 25]

Hierdie verklaring in 1689 het Franse Protestante wat verligting van godsdiensvervolging gesoek het skuiling aangebied

[Erkenning]

Met toestemming van Die Hugenote-biblioteek, Hugenote-genootskap van Groot-Brittanje en Ierland, Londen

[Prent op bladsy 26]

Die herroeping van die Edik van Nantes, 1685 (Die eerste bladsy van die herroepingsbevel word getoon)

[Erkenning]

Documents conservés au Centre Historique des Archives nationales à Paris

[Prent op bladsy 26]

Baie Protestantse tempels is vernietig

[Erkenning]

© Cliché Bibliothèque Nationale de France, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel