Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 10/1 bl. 13-18
  • Volg Jehovah se barmhartigheid na

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg Jehovah se barmhartigheid na
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Broer se toorn
  • Verkeerde redenasie
  • ’n Vader se barmhartigheid
  • Volg God se barmhartigheid vandag na
  • “Jehovah, ’n barmhartige en genadige God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Ons dien die God wat “groot genade het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • ‘Julle Vader is barmhartig’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wanneer die verlore seun gevind word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 10/1 bl. 13-18

Volg Jehovah se barmhartigheid na

“Hou aan om barmhartig te word, net soos julle Vader barmhartig is.”—LUKAS 6:36.

1. Hoe het die Fariseërs getoon dat hulle onbarmhartig is?

HOEWEL mense na God se beeld geskep is, versuim hulle dikwels om sy barmhartigheid na te volg (Genesis 1:27). Neem byvoorbeeld die Fariseërs. As ’n groep het hulle geweier om hulle te verheug toe Jesus uit barmhartigheid ’n man se verdorde hand op die Sabbat genees het. Hulle het eerder teen Jesus beraadslaag “sodat hulle hom kon vernietig” (Matteus 12:9-14). By ’n ander geleentheid het Jesus ’n man genees wat van sy geboorte af blind was. Weer eens het “party van die Fariseërs” geen rede gevind om hulle te verheug oor Jesus se medelye nie. Hulle het eerder gekla: “Hy is nie ’n man wat van God kom nie, want hy onderhou nie die Sabbat nie.”—Johannes 9:1-7, 16.

2, 3. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs”?

2 Die ongevoelige gesindheid van die Fariseërs was ’n misdaad teen die mens en ’n sonde teen God (Johannes 9:39-41). Jesus het sy dissipels tereg gewaarsku: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg” van hierdie elitegroep en ander godsdiensyweraars, soos die Sadduseërs (Matteus 16:6). Suurdeeg word in die Bybel gebruik om sonde of verdorwenheid voor te stel. Jesus het dus bedoel dat die leringe van die “skrifgeleerdes en Fariseërs” rein aanbidding kon verderf. Hoe? Deurdat dit mense geleer het om God se Wet slegs in terme van hulle arbitrêre reëls en rituele te beskou, terwyl hulle “die gewigtiger sake”, onder andere barmhartigheid, geïgnoreer het (Matteus 23:23). Hierdie ritualistiese godsdiensvorm het die aanbidding van God ’n ondraaglike las gemaak.

3 In die tweede deel van sy gelykenis van die verlore seun het Jesus die verdorwe denke van die Joodse godsdiensleiers aan die kaak gestel. In die gelykenis was die vader, wat Jehovah voorstel, gretig om sy berouvolle seun te vergewe. Maar die seun se ouer broer, wat “die Fariseërs sowel as die skrifgeleerdes” afgebeeld het, het heeltemal anders oor die saak gevoel.—Lukas 15:2.

’n Broer se toorn

4, 5. In watter opsig was die verlore seun se broer “verlore”?

4 “En sy oudste seun was op die land; en toe hy kom en die huis nader, het hy ’n musiekkonsert en gedans gehoor. Hy het dus een van die knegte na hom toe geroep en gevra wat hierdie dinge beteken. Hy het vir hom gesê: ‘U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte jong bul geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.’ Maar hy het toornig geword en wou nie ingaan nie.”—Lukas 15:25-28.

5 Dit is duidelik dat die verlore seun nie die enigste een in Jesus se gelykenis was wat ’n probleem gehad het nie. “Albei seuns wat hier uitgebeeld word, is verlore”, sê een naslaanwerk, “die een deur die onregverdigheid wat hom verlaag, die ander deur die eiegeregtigheid wat hom verblind.” Let op dat die verlore seun se broer nie net geweier het om hom te verheug nie, maar ook “toornig geword” het. Die Griekse grondwoord vir “toorn” beteken nie soseer ’n woedeuitbarsting nie, maar ’n blywende gemoedstoestand. Die verlore seun se broer het blykbaar ’n diepgewortelde gegriefdheid gekoester, en daarom het hy gedink dat dit ongepas was om die terugkeer van iemand te vier wat die huis in die eerste plek nooit moes verlaat het nie.

6. Wie word deur die verlore seun se broer voorgestel, en waarom?

6 Die verlore seun se broer is ’n gepaste afbeelding van diegene wat gegrief gevoel het oor die medelye wat Jesus aan die sondaars betoon het en die aandag wat hy aan hulle gegee het. Hierdie eiegeregtige persone is nie deur Jesus se barmhartigheid geraak nie; hulle het ook nie die vreugde weerspieël wat in die hemel ontstaan wanneer ’n sondaar vergewe word nie. Jesus se barmhartigheid het hulle eerder vertoorn, en hulle het ‘goddelose dinge in hulle harte begin dink’ (Matteus 9:2-4). By een geleentheid was die Fariseërs so briesend dat hulle ’n man ontbied het wat deur Jesus genees is en hom toe ‘uit die sinagoge gegooi’ het—wat blykbaar beteken dat hulle hom uit die sinagoge geban het! (Johannes 9:22, 34). Soos die verlore seun se broer wat “nie [wou] ingaan nie”, het die Joodse godsdiensleiers beswaar gemaak toe hulle die geleentheid gehad het om hulle te “verheug . . . saam met mense wat hulle verheug” (Romeine 12:15). Jesus het hulle goddelose denke verder blootgelê met die res van sy gelykenis.

Verkeerde redenasie

7, 8. (a) In watter opsig het die verlore seun se broer nie die betekenis van seunskap begryp nie? (b) Hoe het die ouer seun van sy vader verskil?

7 “Toe het sy vader uitgekom en hom begin soebat. Hy het geantwoord en vir sy vader gesê: ‘Kyk, ek dien u al soveel jare soos ’n slaaf en ek het nog nooit u gebod oortree nie, en tog het u nog nooit vir my ’n boklam gegee sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar onmiddellik nadat hierdie seun van u wat u middele vir lewensonderhoud saam met hoere opgeëet het hier aangekom het, het u die vetgemaakte jong bul vir hom geslag.’”—Lukas 15:28-30.

8 Met hierdie woorde het die verlore seun se broer dit duidelik gemaak dat hy nie die ware betekenis van seunskap begryp het nie. Hy het sy vader op baie dieselfde manier gedien soos wat ’n werknemer sy werkgewer dien. Soos hy vir sy vader gesê het: ‘Ek dien u soos ’n slaaf.’ Hierdie oudste seun het weliswaar nooit die huis verlaat of sy vader se gebod oortree nie. Maar was liefde die dryfkrag agter sy gehoorsaamheid? Het hy ware vreugde geput uit sy diens aan sy vader, of het hy geleidelik selfvoldaan geword en gemeen dat hy ’n goeie seun was bloot omdat hy sy pligte “op die land” nagekom het? Waarom het hy, as hy werklik ’n toegewyde seun was, nie sy vader se denke weerspieël nie? Waarom was daar geen ruimte vir medelye in sy hart toe hy die geleentheid gegee is om barmhartigheid aan sy broer te bewys nie?—Vergelyk Psalm 50:20-22.

9. Verduidelik hoe die Joodse godsdiensleiers soos die ouer seun was.

9 Die Joodse godsdiensleiers was soos hierdie ouer seun. Hulle het geglo dat hulle lojaal aan God was omdat hulle streng by ’n regskode gebly het. Gehoorsaamheid is beslis noodsaaklik (1 Samuel 15:22). Maar omdat hulle te veel klem gelê het op werke, het hulle die aanbidding van God in ’n meganiese roetine verander, ’n blote skyn van toegewydheid met geen ware geestelikheid nie. Hulle gedagtes is deur tradisies oorheers. Hulle hart was heeltemal sonder liefde. Trouens, die gewone mense was vir hulle soos die grond onder hulle voete, en hulle het selfs minagtend na hulle verwys as “vervloekte mense” (Johannes 7:49). Hoe kon God ooit gelukkig wees met die werke van sulke leiers wanneer hulle hart ver van hom verwyderd was?—Matteus 15:7, 8.

10. (a) Waarom was die woorde: “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie” gepaste raad? (b) Hoe ernstig is ’n gebrek aan barmhartigheid?

10 Jesus het vir die Fariseërs gesê: “Gaan dan en leer wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie’” (Matteus 9:13; Hosea 6:6). Hulle prioriteite was nie reg nie, want sonder barmhartigheid sou al hulle offerandes waardeloos wees. Dit is inderdaad ’n ernstige saak, want die Bybel sê dat die ‘onbarmhartiges’ onder diegene tel wat in God se oë “die dood verdien” (Romeine 1:31, 32). Daarom verbaas dit ons nie dat Jesus gesê het die godsdiensleiers was as ’n klas tot ewige vernietiging gedoem nie. Hulle onbarmhartigheid het blykbaar grootliks daartoe bygedra dat hulle hierdie oordeel verdien het (Matteus 23:33). Maar miskien kon individuele lede van hierdie klas gehelp word. In die slot van sy gelykenis het Jesus hierdie Jode se denke probeer regstel deur die woorde van die vader aan sy ouer seun. Kom ons kyk hoe.

’n Vader se barmhartigheid

11, 12. Hoe probeer die vader in Jesus se gelykenis met sy oudste seun redeneer, en wat is betekenisvol in die vader se gebruik van die woorde “hierdie broer van jou”?

11 “Toe het hy vir hom gesê: ‘Kind, jy was altyd by my, en alles wat myne is, is joune; maar ons moes eenvoudig vrolik wees en ons verheug, want hierdie broer van jou was dood en het lewend geword, en hy was verlore en is gevind.’”—Lukas 15:31, 32.

12 Let op dat die vader die woorde “hierdie broer van jou” gebruik het. Waarom? Wel, onthou dat die ouer seun, toe hy vroeër met sy vader gepraat het, die verlore seun “hierdie seun van u” genoem het—nie “hierdie broer van my” nie. Hy het blykbaar nie die gesinsband tussen hom en sy broer erken nie. Die vader sê derhalwe nou as ’t ware vir sy ouer seun: ‘Dit is nie net my seun nie. Hy is jou broer, jou eie vlees en bloed. Jy het alle rede om bly te wees dat hy teruggekeer het!’ Jesus se boodskap moes vir die Joodse leiers duidelik gewees het. Die sondaars wat hulle verag het, was in werklikheid hulle “broers”. Trouens, “daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie” (Prediker 7:20). Die vername Jode het dus alle rede gehad om bly te wees wanneer sondaars berou getoon het.

13. Watter ernstige vraag laat die stomp einde van Jesus se gelykenis by ons opkom?

13 Ná die vader se versoek eindig die gelykenis net daar. Dit is asof Jesus sy luisteraars nooi om hulle eie slot vir die verhaal te skryf. Wat die ouer seun se reaksie ook al was, elke luisteraar het voor die vraag te staan gekom: ‘Sal jy in die vreugde deel wat daar in die hemel is wanneer ’n sondaar berou toon?’ Vandag het Christene ook die geleentheid om te toon wat hulle antwoord op daardie vraag is. Hoe?

Volg God se barmhartigheid vandag na

14. (a) Hoe kan ons Paulus se raad in Efesiërs 5:1 toepas wat barmhartigheid betref? (b) Teen watter verkeerde beskouing van God se barmhartigheid moet ons waak?

14 Paulus het die Efesiërs vermaan: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). As Christene moet ons derhalwe God se barmhartigheid waardeer, dit diep in ons hart laat insink en hierdie eienskap dan in ons handelinge met ander aan die dag lê. Maar ’n waarskuwing is gepas. Ons moenie God se barmhartigheid beskou asof dit beteken dat hy sonde deur die vingers sien nie. Daar is byvoorbeeld party wat moontlik ongeërg sal redeneer: ‘As ek sondig, kan ek altyd tot God bid om vergifnis, en hy sal barmhartig wees.’ So ’n gesindheid sal daarop neerkom dat ons “die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander”, soos die Bybelskrywer Judas dit beskryf het (Judas 4). Hoewel Jehovah barmhartig is, “sal [hy] geensins vrystelling van straf gee” wanneer hy teenoor onberouvolle oortreders optree nie.—Exodus 34:7, NW; vergelyk Josua 24:19; 1 Johannes 5:16.

15. (a) Waarom moet veral ouer manne ’n gebalanseerde beskouing van barmhartigheid behou? (b) Wat moet ouer manne probeer doen hoewel hulle nie moedswillige oortreding duld nie, en waarom?

15 Aan die ander kant moet ons net so versigtig wees om teen die ander uiterste te waak—naamlik ’n neiging om onbuigsaam en veroordelend teenoor diegene te word wat ware berou en goddelike droefheid oor hulle sondes openbaar (2 Korintiërs 7:11). Aangesien die sorg van Jehovah se skape aan die ouer manne toevertrou is, is dit noodsaaklik dat hulle ’n gebalanseerde beskouing in hierdie verband behou, veral wanneer hulle regterlike sake hanteer. Die Christengemeente moet rein gehou word, en dit is skriftuurlik om deur middel van uitsetting ‘die goddelose mens te verwyder’ (1 Korintiërs 5:11-13). Terselfdertyd is dit goed om barmhartigheid te bewys wanneer daar ’n duidelike grondslag daarvoor is. Hoewel ouer manne dus nie moedswillige oortreding duld nie, probeer hulle binne die grense van geregtigheid liefdevol en barmhartig optree. Hulle is altyd bewus van die Bybelbeginsel: “Wie nie barmhartigheid beoefen nie, sal sy oordeel sonder barmhartigheid kry. Barmhartigheid verbly hom triomfantlik oor die oordeel.”—Jakobus 2:13; Spreuke 19:17; Matteus 5:7.

16. (a) Gebruik die Bybel om te toon dat Jehovah werklik wil hê dat oortreders na hom toe moet terugkeer. (b) Hoe kan ons toon dat ons ook die terugkeer van berouvolle sondaars verwelkom?

16 Die gelykenis van die verlore seun maak dit duidelik dat Jehovah graag wil hê dat oortreders na hom toe moet terugkeer. Trouens, hy bied hulle hierdie geleentheid totdat hulle bewys dat daar nie meer hoop is vir hulle nie (Esegiël 33:11; Maleagi 3:7; Romeine 2:4, 5; 2 Petrus 3:9). Soos die verlore seun se vader behandel Jehovah diegene wat wel na hom terugkeer met waardigheid en aanvaar hy hulle terug as volwaardige gesinslede. Volg jy Jehovah in hierdie opsig na? Hoe reageer jy wanneer ’n medegelowige wat ’n tyd lank uitgesit was, herstel word? Ons weet reeds dat daar ‘vreugde in die hemel’ is (Lukas 15:7). Maar is daar vreugde op aarde, in jou gemeente, selfs in jou hart? Of is daar, soos met die ouer seun in die gelykenis, gegriefdheid, asof iemand wat nooit God se kudde moes verlaat het nie, nie verdien om verwelkom te word nie?

17. (a) Watter situasie het in die eerste-eeuse Korinte ontstaan, en hoe het Paulus diegene in die gemeente aangeraai om die saak te hanteer? (b) Waarom was Paulus se vermaning prakties, en hoe kan ons dit vandag toepas? (Sien ook regterkantste venster.)

17 Kom ons kyk na wat omstreeks 55 G.J. in Korinte gebeur het om ons te help om onsself in hierdie verband te ondersoek. ’n Man wat uit daardie gemeente gesit is, het uiteindelik sy lewe in orde gekry. Wat het die broers te doen gestaan? Moes hulle skepties wees oor sy berou en voortgaan om hom te vermy? Nee, inteendeel, Paulus het die Korintiërs aangespoor: ‘Julle moet hom goedgunstig vergewe en vertroos, sodat so iemand nie dalk op die een of ander wyse deur sy oormatige droefheid verswelg word nie. Daarom vermaan ek julle om julle liefde vir hom te bevestig’ (2 Korintiërs 2:7, 8). Berouvolle sondaars voel maklik skaam en wanhopig. Hulle moet derhalwe verseker word dat hulle medegelowiges en Jehovah hulle liefhet (Jeremia 31:3; Romeine 1:12). Dit is noodsaaklik. Waarom?

18, 19. (a) Hoe het die Korintiërs vroeër getoon dat hulle te toegeeflik was? (b) Hoe kon ’n onbarmhartige gesindheid veroorsaak het dat ‘Satan die oorhand oor’ die Korintiërs kry?

18 Toe Paulus die Korintiërs aangespoor het om vergewensgesind te wees, was een van sy redes hiervoor dat “Satan nie die oorhand oor ons sal kry nie, want ons is nie onkundig omtrent sy planne nie” (2 Korintiërs 2:11). Wat het hy bedoel? Wel, Paulus moes die Korintiese gemeente vroeër teregwys omdat hulle te toegeeflik was. Hulle het hierdie selfde man toegelaat om sy sonde te beoefen sonder om teen hom op te tree. Die gemeente—en veral die ouer manne—het sodoende Satan se planne bevorder, want hy sou baie graag oneer op die gemeente wou bring.—1 Korintiërs 5:1-5.

19 As hulle nou tot die ander uiterste oorgegaan het en geweier het om die berouvolle persoon te vergewe, sou Satan op ’n ander manier die oorhand oor hulle gekry het. Hoe? Deurdat hy kon voordeel haal uit hulle ongevoeligheid en onbarmhartigheid. Hoe aanspreeklik sou die ouer manne tog nie voor Jehovah gewees het as die berouvolle sondaar “deur sy oormatige droefheid verswelg” is nie—of soos die Nuwe Afrikaanse Vertaling dit stel, “so hartseer [geword het] dat hy heeltemal moed verloor”! (Vergelyk Esegiël 34:6; Jakobus 3:1.) Nadat Jesus sy volgelinge gewaarsku het om nie “een van hierdie kleintjies” te laat struikel nie, het hy tereg gesê: “Let op julleself. As jou broer ’n sonde pleeg, bestraf hom, en as hy berou het, vergewe hom.”a—Lukas 17:1-4.

20. In watter opsig is daar vreugde in die hemel sowel as op die aarde wanneer ’n sondaar berou toon?

20 Die duisende wat elke jaar na rein aanbidding terugkeer, is dankbaar vir die barmhartigheid wat Jehovah aan hulle bewys het. “Ek kan nie ’n tyd in my lewe onthou wat ek ooit so bly oor enigiets was nie”, sê ’n Christensuster oor die tyd toe sy herstel is. Die engele deel natuurlik haar vreugde. Mag ons ook in die vreugde deel wat daar “in die hemel” is wanneer ’n sondaar berou toon (Lukas 15:7). Ons sal sodoende Jehovah se barmhartigheid navolg.

[Voetnoot]

a Hoewel dit lyk of die oortreder in Korinte binne ’n betreklike kort tyd herstel is, moet dit nie as ’n standaard vir alle uitsettings gebruik word nie. Elke geval is anders. Party oortreders begin byna onmiddellik nadat hulle uitgesit is ware berou toon. Met ander neem dit ’n hele ruk voordat so ’n gesindheid waargeneem kan word. Maar in alle gevalle moet diegene wat herstel word eers bewys lewer van goddelike droefheid en waar moontlik werke doen wat by berou pas.—Handelinge 26:20; 2 Korintiërs 7:11.

Ter hersiening

◻ In watter opsig het die verlore seun se broer met die Joodse godsdiensleiers ooreengekom?

◻ In watter opsig het die verlore seun se broer nie die ware betekenis van seunskap begryp nie?

◻ Watter twee uiterstes moet ons vermy wanneer ons oor God se barmhartigheid nadink?

◻ Hoe kan ons God se barmhartigheid vandag navolg?

[Venster op bladsy 17]

‘BEVESTIG JULLE LIEFDE VIR HOM’

Met verwysing na die uitgesette oortreder wat berou getoon het, het Paulus vir die Korintiese gemeente gesê: “Ek [vermaan] julle om julle liefde vir hom te bevestig” (2 Korientiës 2:8). Die Griekse woord wat met “bevestig” vertaal word, is ’n regsterm wat om te “bekragtig” beteken. Ja, vir berouvolles wat herstel word, is dit belangrik om te voel dat ons hulle liefhet en dat hulle weer eens welkom is as gemeentelede.

Maar ons moet onthou dat die meeste gemeentelede nie bewus is van die spesifieke omstandighede wat tot iemand se uitsetting of tot sy herstel gelei het nie. Daarbenewens is daar dalk sommige wat persoonlik geraak of seergemaak is deur die oortreding ban die berouvolle persoonlik geraak of seergemaak is deur die oortreding van die berouvolle persoon—en wat selfs lank as gevolg daarvan sal ly. Omdat ons hierdie faktore in ag neem, is dit derhalwe te verstane dat ons, wanneer daar aangekondig word dat iemand herstel is, ons betuigings van verwelkoming weerhou totdat dit persoonlik gedoen kan word.

Hoe geloofversterkend is dit tog vir diegene wat herstel is om te weet dat hulle terugverwelkom word as lede van die Christengemeente! Ons kan hierdie berouvolles aanmoedig deur met hulle te gesels en omgang met hulle te geniet by die Koninkryksaal, in die bediening en by ander gepaste geleenthede. Waneer ons sodoende ons liefde vir hierdie dierbares bevestig, of bekragtig, verklein ons hoegenaamd nie die erns van die sondes wat hulle gepleeg het nie. Ons verheug ons eerder saam met die hemelse leërskare in die feit dat hulle die sondige weg verwerp het en na Jehovah teruggekeer het.—Luke 15:7.

[Prent op bladsy 15]

Die ouer seun het geweier om hom in sy broer se terugkeer te verheug

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel