Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 11/1 bl. 19-23
  • Die hoofsaak vir my is om Jehovah te behaag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die hoofsaak vir my is om Jehovah te behaag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Lewe van toegewyde diens
  • Toetse van my geloof op skool
  • My Christelike neutraliteit word op die proef gestel
  • Hernieude bedrywighede ná my vrylating
  • ’n Ryk, lonende lewe
  • Diens onder Jehovah se liefdevolle hand
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • ’n Verlate weeskind vind ’n liefdevolle Vader
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Vasbeslote om ’n soldaat van Christus te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 11/1 bl. 19-23

Die hoofsaak vir my is om Jehovah te behaag

SOOS VERTEL DEUR THEODOROS NEROS

My seldeur het oopgeswaai en ’n beampte het uitgeroep: “Wie is Neros?” Toe ek my identifiseer, het hy beveel: “Staan op. Ons gaan jou teregstel.” Dit was in 1952 in ’n militêre kamp in Korinte, Griekeland. Waarom het my lewe so aan ’n draadjie gehang? Voordat ek verduidelik, laat ek jou ’n bietjie van my agtergrond vertel.

OMSTREEKS 1925 het my pa met die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is) in aanraking gekom. Kort voor lank het hy een van hulle geword en sy oortuigings meegedeel aan sy agt broers en susters, wat almal Bybelwaarheid aangeneem het. Sy ouers het dit ook gedoen. Daarna is hy getroud, en ek is in 1929 in Agrinio, Griekeland, gebore.

Wat ’n verskriklike tyd was dit tog vir Griekeland! Eerstens was daar die wrede diktatorskap van generaal Metaxas. Toe, in 1939, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en kort daarna is die land deur die Nazi’s beset. Siekte en hongersnood was aan die orde van die dag. Die opgeswelde lyke is op klein kruiwaens weggeneem. Die boosheid in die wêreld was alte duidelik, so ook die behoefte aan God se Koninkryk.

’n Lewe van toegewyde diens

Terwyl ’n groep van ons op 20 Augustus 1942 buite Tessalonika vergader het, het ons presiderende opsiener na die Britse vegvliegtuie gewys wat bomme op die stad gegooi het en beklemtoon hoe ons beskerm is omdat ons gehoorsaam was aan die vermaning om ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’ (Hebreërs 10:25). By daardie geleentheid het ons op die strand bymekaargekom, en ek was onder diegene wat gedoop is. Toe ons uit die water gekom het, het ons in ’n ry gestaan, en ons Christenbroers en -susters het ’n lied gesing waarin hulle ons besluit geprys het. Wat ’n onvergeetlike dag was dit tog!

Kort daarna, terwyl ek en ’n ander seun predikingswerk van huis tot huis gedoen het, het polisiemanne ons gearresteer en na die polisiekantoor geneem. Omdat hulle wou beklemtoon dat ons as Kommuniste beskou is en dat ons predikingswerk verbied was, is ons geslaan en het hulle vir ons gesê: “Jehovah is dieselfde as Stalin, julle idiote!”

Teen daardie tyd het daar ’n burgeroorlog in Griekeland gewoed, en anti-Kommunistiese koors het hoog geloop. Die volgende dag het hulle ons met ons hande geboei verby ons huise laat loop, asof ons misdadigers was. Maar dit was nie die enigste toetse wat ek verduur het nie.

Toetse van my geloof op skool

Vroeg in 1944 was ek nog ’n skoolseun, en die Nazi’s het Tessalonika nog steeds beset. Een dag by die skool het ’n Grieks-Ortodokse priester, ons godsdiensonderwyser, vir my gesê dat ek oor die dag se les gaan toets skryf. “Hy is nie ’n Ortodokse Christen nie”, het die ander kinders gesê.

“Wat is hy?” het die onderwyser gevra.

“Ek is een van Jehovah se Getuies”, het ek geantwoord.

“’n Wolf onder die skape”, het hy geskree terwyl hy my gegryp en in die gesig geklap het.

‘Hoe is dit moontlik’, het ek by myself gedink, ‘dat ’n wolf deur ’n skaap gebyt kan word?’

’n Paar dae later het ongeveer 350 van ons by ons tafels gesit vir middagete. Die toesighouer het gesê: “Neros moet bid.” Ek het die so genoemde ‘Onse Vader’ herhaal, die gebed wat Jesus sy volgelinge geleer het en in Matteus 6:9-13 opgeteken is. Die toesighouer het nie hiervan gehou nie, en gevolglik het hy van waar hy gesit het woedend gevra: “Waarom het jy die gebed só opgesê?”

“Omdat ek een van Jehovah se Getuies is”, het ek gesê. Toe het ook hy my gegryp en op die wang geklap. Later daardie dag het ’n ander onderwyser my na sy kantoor laat roep en vir my gesê: “Welgedaan Neros, hou vas aan wat jy glo, en moenie toegee nie.” Daardie aand het my pa my bemoedig met hierdie woorde van die apostel Paulus: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.”—2 Timoteus 3:12.

Nadat ek my hoërskoolopleiding voltooi het, moes ek besluit watter loopbaan ek sou volg. As gevolg van die burgertwis in Griekeland het ek ook voor die kwessie van Christelike neutraliteit te staan gekom (Jesaja 2:4; Matteus 26:52). Uiteindelik, vroeg in 1952, is ek tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis omdat ek geweier het om gedurende daardie moeilike tyd in Griekeland se geskiedenis die wapens op te neem.

My Christelike neutraliteit word op die proef gestel

Terwyl ek in militêre kampe in Mesolóngion en in Korinte gevange gehou is, het ek die geleentheid gehad om aan die militêre bevelvoerders te verduidelik dat my Bybelopgeleide gewete my nie sou toelaat om ’n soldaat te word ter ondersteuning van politieke oogmerke nie. “Ek is alreeds ’n soldaat van Jesus”, het ek verduidelik en na 2 Timoteus 2:3 verwys. Toe ek aangespoor is om my standpunt te heroorweeg, het ek gesê dat my besluit nie op die ingewing van die oomblik geneem is nie, maar ná ernstige oorweging en in die lig van my toewyding aan God om sy wil te doen.

Gevolglik moes ek dwangarbeid doen, 20 dae lank elke tweede dag sonder kos gaan en op die sementvloer van ’n sel slaap wat sowat een meter by twee meter was. En ek was saam met twee ander Getuies in hierdie sel! Dit was gedurende hierdie tyd, terwyl ek in die kamp in Korinte was, wat ek uit my sel geroep is om tereggestel te word.

Terwyl ons na die teregstellingsplek geloop het, het die beampte gevra: “Gaan jy nie iets sê nie?”

“Nee”, het ek geantwoord.

“Gaan jy nie ’n brief aan jou gesin skryf nie?”

“Nee”, het ek weer geantwoord. “Hulle weet alreeds dat ek hier tereggestel kan word.”

Ons het by die binneplein gekom, en ek is beveel om teen die muur te gaan staan. Toe, pleks van die soldate te beveel om te skiet, het die beampte beveel: “Neem hom binnetoe.” Dit was alles deel van ’n skynteregstelling wat bedoel was om my besluit te toets.

Later is ek na die eiland Makrónisos gestuur, waar ek geen lektuur behalwe ’n Bybel kon hê nie. Dertien Getuies is in ’n huisie apart van die nagenoeg 500 misdadigers aangehou. Tog is lektuur op die een of ander manier na ons toe ingesmokkel. Ek het byvoorbeeld eendag ’n boks loukoúmia (’n gewilde soort lekkergoed) ontvang. Die inspekteurs was so gretig om van die loukoúmia te proe dat hulle nie Die Wagtoring gesien het wat daaronder versteek was nie. “Die soldate het die loukoúmia geëet, maar ons het Die Wagtoring ‘geëet’!” het een Getuie gesê.

’n Eksemplaar van die pas vrygestelde boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen? het by ons uitgekom, en ’n Getuiegevangene wat Engels geken het, het dit vertaal. Ons het ook Die Wagtoring saam bestudeer en ons vergaderinge in die geheim gehou. Ons het die gevangenis as ’n skool beskou, as ’n geleentheid om ons geestelikheid te versterk. Ons was bowenal gelukkig omdat ons geweet het dat ons onkreukbare weg Jehovah behaag het.

Die laaste gevangenis waarin ek aangehou is, was in Týrintha in die ooste van die Peloponnesos. Daar het ek ’n wag gesien wat my noukeurig dopgehou het terwyl ek ’n Bybelstudie met ’n medegevangene gehou het. Wat ’n verrassing was dit tog vir my toe ek daardie wag jare later weer in Tessalonika ontmoet het. Teen daardie tyd was hy ’n Getuie. Later is een van sy kinders tronk toe gestuur, nie as ’n wag nie, maar as ’n gevangene. Hy is vir dieselfde rede as ek in die gevangenis gesit.

Hernieude bedrywighede ná my vrylating

Ek het net drie jaar van wat oorspronklik ’n vonnis van 20 jaar was, uitgedien. Ná my vrylating het ek besluit om in Atene te gaan woon. Kort daarna het ek egter ’n vorm van borsvliesontsteking gekry en moes ek na Tessalonika terugkeer. Ek was twee maande lank in die bed. Later het ek ’n lieflike meisie met die naam Koula ontmoet, en ons is in Desember 1959 getroud. In 1962 het sy as ’n pionier begin dien, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Drie jaar later kon ek by haar in die pionierdiens aansluit.

In Januarie 1965 is ons gevra om kringwerk te doen, wat behels het dat ons gemeentes moes besoek en geestelik versterk. Daardie somer het ons ook die voorreg gehad om ons eerste groot streekbyeenkoms, in Wene, Oostenryk, by te woon. Dit was anders as dié wat ons in Griekeland gehou het, waar ons in die geheim in die woud moes vergader omdat ons werk verbied was. Teen die einde van 1965 is ons genooi om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Atene te gaan werk. Maar van my familielede het gesondheidsprobleme gehad en gevolglik moes ons in 1967 na Tessalonika terugkeer.

Terwyl ons ons familie gehelp het, was ons nog steeds baie bedrywig in die evangelisasiewerk. Toe ek eenkeer met my neef Kostas gepraat het, het ek vir hom vertel hoe wonderlik God se organisasie is en van die liefde, eenheid en gehoorsaamheid aan God wat daarin is. Hy het gesê: “Hierdie dinge sou baie goed wees indien God bestaan het.” Hy het my uitnodiging aanvaar om vas te stel of God bestaan of nie. Ek het genoem dat ons in Augustus 1969 ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Neurenberg, Duitsland, sou bywoon. Hy het gevra of hy kon saamkom, en sy vriend Alekos, wat ook die Bybel saam met ons studeer het, wou ook kom.

Die streekbyeenkoms in Neurenberg was ’n buitengewone skouspel! Die byeenkoms is in die enorme stadium gehou waar Hitler sy militêre oorwinnings gevier het. Ons opkoms het ’n hoogtepunt van meer as 150 000 bereik, en Jehovah se gees was duidelik waarneembaar in al die verrigtinge. Kort daarna is Kostas sowel as Alekos gedoop. Albei dien nou as Christen- ouer manne, en hulle gesinne is ook Getuies.

Ek het met ’n belangstellende vrou begin studeer. Haar man het gesê dat hy ons geloof wou ondersoek, en kort daarna het hy vir my gesê dat hy ’n sekere mnr. Sakkos, ’n Grieks-Ortodokse teoloog, genooi het vir ’n debat. Haar man wou sekere vrae aan ons albei rig. Mnr. Sakkos het saam met ’n priester daar aangekom. Die man by wie ons besoek afgelê het, het begin deur te sê: “Eerstens wil ek hê mnr. Sakkos moet drie vrae beantwoord.”

Met die vertaling van die Bybel wat ons in ons besprekings gebruik het in sy hand, het die man gevra: “My eerste vraag is: Is hierdie ’n egte Bybel, of is dit die Getuies se Bybel?” Mnr. Sakkos het geantwoord dat dit ’n gesaghebbende vertaling is, en hy het Jehovah se Getuies ook as “liefhebbers van die Bybel” beskryf.

Die man het voorts gevra: “My tweede vraag is: Lei Jehovah se Getuies ’n sedelike lewe?” Hy wou eintlik weet met watter soort mense sy vrou begin assosieer het. Die teoloog het geantwoord dat hulle beslis ’n sedelike lewe lei.

“Die derde vraag”, het die man verder gesê: “Word Jehovah se Getuies betaal?” “Nee”, het die teoloog geantwoord.

“My vrae is beantwoord, en ek het my besluit geneem”, het die man ten slotte gesê. Daarna het hy sy Bybelstudie voortgesit en nie lank daarna nie is hy as een van Jehovah se Getuies gedoop.

’n Ryk, lonende lewe

Ek het in Januarie 1976 weer as ’n kringopsiener begin dien. Sowat ses jaar later het ek die voorreg gehad om saam met ander die voortou te neem in ’n nuwe vorm van predikingswerk in Griekeland—die straatgetuieniswerk. Toe, in Oktober 1991 het ek en my vrou as spesiale pioniers begin dien. ’n Paar maande later moes ek ’n vierdubbele hartomleidingoperasie ondergaan, wat gelukkig suksesvol was. My gesondheid is nou redelik goed, en ek kon weer met die voltydse predikingswerk begin. Ek dien ook as ’n ouer man in een van die gemeentes in Tessalonika en werk ook saam met die plaaslike Hospitaalskakelkomitee om diegene met mediese behoeftes by te staan.

Wanneer ek op my lewe terugkyk, besef ek hoe bevredigend dit was om te doen wat ons hemelse Vader behaag. Ek is bly dat ek lank gelede hierdie aantreklike uitnodiging aanvaar het: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Dit maak my hart inderdaad baie bly om te sien hoe die aantal opregte mense wat in Jehovah se organisasie inkom regoor die wêreld toeneem. Dit is inderdaad ’n voorreg om ’n aandeel daaraan te hê om mense deur middel van Bybelwaarheid te bevry en sodoende die vooruitsig van die ewige lewe in ’n regverdige nuwe wêreld vir hulle moontlik te maak!—Johannes 8:32; 2 Petrus 3:13.

Ons probeer jong knegte van Jehovah altyd aanmoedig om die voltydse diens as doelwit te hê, om hulle tyd en krag aan hom te gee. Om op Jehovah te vertrou en behae daarin te skep om sy hart te verbly, is waarlik die bevredigendste lewe wat ’n mens kan hê!—Spreuke 3:5; Prediker 12:1.

[Prente op bladsy 21]

(Links na regs)

Toe ek in 1965 in die Bethel-kombuis gewerk het

Ek hou ’n toespraak in 1970 toe ons predikingswerk verbied was

Saam met my vrou in 1959

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, Koula

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel