Die naam wat tot ware geloof lei
“JULLE glo nie in Jesus en sy soenbloed nie”, het ’n vrou vir een van Jehovah se Getuies gesê. ’n Man het beweer: “Julle noem julleself Jehovah se Getuies, maar ek is ’n getuie van Jesus.”
Die beskouing dat Jehovah se Getuies nie in Jesus glo of dat hulle hom nie belangrik genoeg ag nie, is redelik algemeen. Maar wat is die feite?
Dit is waar dat Jehovah se Getuies sterk voel oor God se naam, Jehovah.a Itamar, ’n Getuie in Brasilië, sê: “Die keerpunt in my lewe was toe ek God se naam geleer het. Toe ek dit vir die eerste keer gelees het, was dit asof ek uit ’n diep slaap wakker geword het. Die naam Jehovah het my getref en my ontroer; dit het die diepste deel van my siel geraak.” Hy voeg nietemin by: “My hart loop ook oor van liefde vir Jesus.”
Ja, Jehovah se Getuies erken dat hulle geloof moet stel “in die naam van die Seun van God”, Jesus, om die ewige lewe te verkry (1 Johannes 5:13). Maar wat word bedoel met die uitdrukking ‘in die naam van Jesus’?
Waarvoor Jesus se naam staan
“In die naam van Jesus” en soortgelyke uitdrukkings word regdeur die Christelike Griekse Geskrifte, oftewel “Nuwe Testament”, gevind. Trouens, die woord “naam” wat met verwysing na Jesus se rol gebruik word, verskyn meer as 80 keer daarin, ongeveer 30 keer in die boek Handelinge alleen. Die eerste-eeuse Christene het in Jesus se naam gedoop, in sy naam genees, ander in sy naam geleer, sy naam aangeroep, vir sy naam gely en sy naam groot gemaak.—Handelinge 2:38; 3:16; 5:28; 9:14, 16; 19:17.
Volgens een Bybelnaslaanwerk word die Griekse woord vir “naam” dikwels in die Bybel gebruik “vir alles wat ’n naam impliseer, van gesag, karakter, rang, majesteit, krag, voortreflikheid, ens., van alles wat die naam behels”. Jesus se naam staan derhalwe vir die masjestueuse en groot uitvoerende gesag wat Jehovah God aan hom toevertrou het. Jesus self het gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matteus 28:18). Nadat Petrus en Johannes ’n kreupel man genees het, het die Joodse godsdiensleiers gevra: “Deur watter krag of in wie se naam het julle dit gedoen?” Petrus het toe moedig sy geloof uitgespreek in die gesag en krag wat deur Jesus se naam verteenwoordig word toe hy bekend gemaak het dat dit “in die naam van Jesus Christus die Nasarener [was], . . . dat deur hóm hierdie man hier gesond voor julle staan”.—Handelinge 3:1-10; 4:5-10.
Geloof in Jesus of in Caesar?
Dit sou egter nie maklik wees om sulke geloof in Jesus se naam te bely nie. Soos Jesus voorspel het, sou sy dissipels ‘weens sy naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees’ (Matteus 24:9). Waarom? Omdat Jesus se naam sy posisie verteenwoordig as God se aangestelde Heerser, die Koning van konings, voor wie al die nasies in onderdanigheid moet buig, iets wat hulle nie bereid of gewillig is om te doen nie.—Psalm 2:1-7.
Die godsdiensleiers van Jesus se dag wou ook nie in onderdanigheid voor Jesus buig nie. Hulle het gesê: “Ons het geen koning behalwe Caesar nie”, waardeur hulle God se Seun verwerp het (Johannes 19:13-15). Hulle het eerder hulle geloof in die naam—die mag en gesag—van Caesar en sy keiserlike regering gestel. Hulle het selfs besluit dat Jesus moet sterf sodat hulle hulle posisie en rang kon behou.—Johannes 11:47-53.
In die eeue ná Jesus se dood het baie van diegene wat beweer het dat hulle Christene is ’n gesindheid aangeneem wat soortgelyk was aan dié van die Joodse leiers. Hierdie sogenaamde Christene het geloof gestel in die mag en gesag van die Staat en by die konflikte daarvan betrokke geraak. Byvoorbeeld, in die 11de eeu, nadat die kerk werklose soldate in die militia Christi, of Christenridders, georganiseer het, “is die verantwoordelikheid om regverdige oorloë te voer van die sekulêre magte van die Christendom af weggeneem en toe deur die kerk aangeneem deur middel van sy Christenridders” (The Oxford History of Christianity). Die verslag voeg by dat sekere pouslike verklarings die meeste van die kruisvaarders laat glo het dat hulle, deur deel te neem aan die kruistogte, “’n ooreenkoms met God aangegaan het en vir hulleself ’n plek in die Paradys verseker het”.
Party redeneer dalk dat dit moontlik is om aan Jesus lojaal te wees en terselfdertyd aan politieke aangeleenthede, sowel as aan die nasies se oorloë, deel te neem. Hulle meen dalk dat dit die Christen se plig is om die kwaad te bestry waar dit ook al gevind word en dat dit insluit om hulle toevlug tot oorlog te neem indien nodig. Maar was dit hoe die vroeë Christene hierdie saak beskou het?
“Die eerste Christene het nie in die gewapende magte gedien nie”, sê ’n artikel in die tydskrif The Christian Century. Dit verduidelik dat daar tot die dekade 170-180 G.J. hoegenaamd geen getuienis is dat Christene in die leër gedien het nie. Die artikel voeg dan by: “Christene het hulle teenkanting teen militêre diens geleidelik laat vaar.”
Wat was die gevolge? “Niks het die Christendom moontlik tot groter skande gestrek as sy gebruik om, wat oorlog betref, ’n standpunt in te neem wat skaars onderskei kan word van dié van nie-Christene nie”, sê die artikel in The Christian Century. “Die feit dat Christene aan die een kant die geloof van die saggeaarde Verlosser voorstaan terwyl hulle andersyds godsdiens- of nasionalistiese oorloë ywerig ondersteun, het die geloof baie skade berokken.”
Hoe die vroeë Christene vandag nagevolg word
Is dit vandag vir Christene moontlik om die uitmuntende voorbeeld van die vroeë Christene na te volg? Jehovah se Getuies in hierdie eeu het getoon dat dit moontlik is. Die redakteur van Holocaust Educational Digest het oor hulle gesê: “Nie een van Jehovah se Getuies sal ooit aan oorlog deelneem nie. . . . As almal in die wêreld wat ’n magsposisie beklee aan hierdie geloof behoort het, sou [die Tweede Wêreldoorlog] nooit plaasgevind het nie.”
Dieselfde kan gesê word van onlangser streekkonflikte, soos die een wat in Noord-Ierland gewoed het. Een van Jehovah se Getuies het ’n paar jaar gelede in die stad Belfast in ’n Protestantse gebied van huis tot huis getuig. Nadat een huisbewoner uitgevind het dat die Getuie voorheen ’n Katoliek was, het hy gevra: “Het jy die IRL [Ierse Republikeinse Leër] gesteun toe jy ’n Katoliek was?” Die Getuie het besef dat die man gewelddadig kon raak, aangesien hy kort tevore uit aanhouding vrygelaat is nadat hy met ’n vuurwapen betrap is toe hy ’n Katoliek wou gaan doodmaak. Die Getuie het dus geantwoord: “Ek is nie nou ’n Katoliek nie. Ek is een van Jehovah se Getuies. As ’n ware Christen sal ek nooit enigiemand vir enige regering of enige mens doodmaak nie.” Daarop het die huisbewoner sy hand geskud en gesê: “Alle bloedvergieting is verkeerd. Julle doen goeie werk. Hou so aan.”
Wat dit beteken om geloof in Jesus se naam te stel
Daar is egter meer daarby betrokke om geloof in Jesus se naam te stel as om bloot te weier om aan oorlog deel te neem. Dit beteken dat ’n mens al Christus se gebooie moet gehoorsaam. Jesus het per slot van rekening gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel”, en een van sy bevele is dat ons “mekaar moet liefhê” (Johannes 15:14, 17). Liefde streef daarna om aan ander goed te doen. Dit verdryf alle rasse-, godsdiens- en maatskaplike vooroordeel. Jesus het getoon hoe dit gedoen word.
Die Jode in Jesus se dag het sterk gevoelens teen die Samaritane gekoester. In teenstelling daarmee het Jesus met ’n Samaritaanse vrou gepraat, en as gevolg daarvan het sy en baie ander geloof in sy naam gestel (Johannes 4:39). Jesus het ook gesê dat sy dissipels getuies van hom sou wees “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Sy lewegewende boodskap moes nie net tot die Jode beperk wees nie. Gevolglik is Petrus aangesê om Kornelius, die Romeinse hoofman oor honderd, te besoek. Hoewel dit vir ’n Jood ongeoorloof was om iemand van ’n ander ras te besoek, het God vir Petrus getoon dat hy “geen mens verontreinig of onrein moet noem nie”.—Handelinge 10:28.
Jehovah se Getuies volg Jesus na en is gewillig om alle mense—ongeag hulle ras, godsdiens of ekonomiese situasie—te help om te leer van die redding wat deur Jesus se naam kom. Geloof in Jesus se naam beweeg hulle om ‘in die openbaar bekend te maak dat Jesus Here is’ (Romeine 10:8, 9). Ons spoor jou aan om hulle hulp te aanvaar sodat jy ook kan leer om geloof in Jesus se naam te stel.
Die naam van Jesus behoort waarlik ’n begeerte by ons te wek om hom te eer, te respekteer en te gehoorsaam. Die apostel Paulus het gesê: “In die naam van Jesus [moet] elke knie . . . buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong [moet] openlik . . . erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader” (Filippense 2:10, 11). Selfs al is die meeste van die aarde se inwoners nie bereid om hulle aan Jesus se heerskappy te onderwerp nie, toon die Bybel dat die tyd naby is wanneer alle mense dit sal moet doen of sal sterf (2 Tessalonisense 1:6-9). Dit is derhalwe nou die tyd om geloof in Jesus se naam te stel deur al sy gebooie te bewaar.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan, bladsye 18-19, 30-31, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 1983, vir verdere inligting.
[Prent op bladsy 6]
In Jesus se naam het miljoene ander al doodgemaak en is miljoene al doodgemaak
[Prent op bladsy 7]
Jesus het nie rassevooroordeel gekoester nie. Doen jy dit?