Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 12/1 bl. 23-26
  • Op die drumpel van groter bedrywigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op die drumpel van groter bedrywigheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Afskeidsraad van die instrukteurs
  • Gelukkige veteraansendelinge
  • Van suksesvolle studente tot suksesvolle sendelinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • ’n Gewillige gees laat mense Gilead toe gaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Meer sendelinge vir die wêreldoes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die seëninge van Gileadopleiding versprei deur die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 12/1 bl. 23-26

Op die drumpel van groter bedrywigheid

“DAAR was nie ’n mededingende gees nie. Almal wou hê dat al die ander sukses moet behaal”, het Richard en Lusia gesê toe hulle hulle medestudente van die 105de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead beskryf het. “Ons is almal baie verskillend, maar vir ons is elke student kosbaar.” ’n Klasmaat, Lowell, het saamgestem en bygevoeg: “Ons verskille het ons nader aan mekaar gebring.”

Die klas, wat op 12 September 1998 gegradueer het, was waarlik uiteenlopend. Party van die studente het as pioniers gedien in gebiede waar daar ’n groot behoefte aan Koninkryksverkondigers is; ander het getrou nader aan die huis gedien. ’n Paar, soos Mats en Rose-Marie, moes lank en hard werk om hulle Engels te verbeter voordat hulle na die skool toe gekom het. Baie van die studente dink al van hulle kinderjare af aan sendingdiens. Een egpaar het 12 keer aansoek gedoen; hoe verheug was hulle tog toe hulle ’n uitnodiging na die 105de klas ontvang het!

Die 20 weke van intensiewe opleiding het veels te vinnig verbygegaan. Toe die studente hulle kom kry, het hulle hulle laaste geskrewe oefening ingegee, hulle laaste mondelinge verslag gelewer en het gradueringsdag aangebreek.

Die voorsitter van die program, Albert Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het die klas daaraan herinner dat hulle “op die drumpel van groter bedrywigheid in die Bybelonderrigtingswerk staan” en meer as 7000 ander volg wat voor hulle na Gilead gekom het. Hy het gesê dat die studente gedurende die somer die unieke geleentheid gehad het om met ervare sendelinge om te gaan toe hierdie sendelinge die internasionale byeenkomste bygewoon het en ook die wêreldhoofkwartier besoek het.

Broer Schroeder het toe Max Larson van die Bethelbedryfskomitee voorgestel. Hy het die tema “Onderrigting wat tot die ewige lewe lei” ontwikkel. Broer Larson het Spreuke 1:5 (NW) aangehaal, wat sê: “’n Wyse sal luister en meer onderrig inneem, en ’n man van verstand verwerf bekwame leiding.” Bekwaamheid, of vaardigheid, is nodig om doeltreffende sendingwerk te doen. Vaardige mense staan voor konings (Spreuke 22:29). Nadat die studente vyf maande lank onderrig is, is hulle goed toegerus om die grootste Konings, Jehovah God en Christus Jesus, te verteenwoordig.

David Olson van die Diensafdeling het vervolgens die onderwerp “Help om Jehovah se hart te verbly” bespreek. Hy het gevra: “Wat kan onvolmaakte mense doen om God se hart te verbly?” Die antwoord? Hulle kan hom getrou, lojaal en met vreugde dien. Jehovah wil hê dat sy volk hulle diens aan hom moet geniet. Wanneer ons God se wil met vreugde doen, verbly ons sy hart (Spreuke 27:11). Broer Olson het ’n brief gelees van ’n sendelingegpaar wat aan Gilead se 104de klas gegradueer het. Geniet hulle hulle nuwe toewysing? “Ons is ongeveer 140 verkondigers”, het hulle oor hulle gemeente geskryf, “met ’n gemiddelde vergaderingbywoning van 250 tot 300. Ons geniet veral die velddiens. Ons het elk vier studies, en party woon reeds die vergaderinge by.”

Lyman Swingle, van die Bestuursliggaam, het gepraat oor die onderwerp “’n Tyd om stil te staan en jou seëninge te tel”. Gileadopleiding het baie seëninge meegebring. Dit het die studente gehelp om hulle kennis te vermeerder, hulle waardering vir Jehovah se organisasie te laat toeneem en noodsaaklike eienskappe, soos nederigheid, aan te kweek. “Dit maak ’n mens nederig om hierheen te kom en onderrigting te ontvang”, het broer Swingle gesê en bygevoeg: “Wanneer julle hier weggaan, is julle baie beter toegerus om Jehovah te verheerlik.”

“Hoe groot is julle vreugde tog—Waarom dus bekommerd wees?” was die titel van ’n toespraak deur Daniel Sydlik, ook van die Bestuursliggaam. Wanneer probleme ontstaan, moet ’n mens na riglyne in die Skrif soek, het hy hulle aangespoor. Broer Sydlik het getoon hoe dit gedoen kan word deur gekose verse uit Matteus hoofstuk 6 te gebruik. ’n Gebrek aan geloof kan veroorsaak dat ons ons bekommer oor alledaagse dinge, soos voedsel en klere. Maar Jehovah weet wat ons nodig het (Matteus 6:25, 30). As ons ons bekommer, sal dit net die moeilikhede van elke dag vererger (Matteus 6:34). Aan die ander kant is beplanning wel nodig. (Vergelyk Lukas 14:28.) “Wat Jesus verbied, is nie verstandige beplanning vir die toekoms nie, maar onverstandige bekommernis daaroor”, het broer Sydlik verduidelik. “As ’n mens bedrywig is, is dit een van die beste maniere om bekommernis teë te werk. Wanneer ons bekommerd raak, is dit goed dat ons oor die waarheid begin praat.”

Afskeidsraad van die instrukteurs

Daarna het drie lede van die Gileadfakulteit toesprake gehou. Karl Adams was eerste aan die beurt, en hy het gepraat oor die onderwerp “Wat sal jy Jehovah vergeld?” Sy toespraak was gebaseer op die 116de Psalm, wat Jesus moontlik die nag voor sy dood gesing het (Matteus 26:30, voetnoot in naslaanuitgawe). Waaraan het Jesus gedink toe hy dié woorde gesing het: “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my”? (Psalm 116:12). Hy het dalk nagedink oor die volmaakte liggaam wat Jehovah vir hom berei het (Hebreërs 10:5). Hy sou die volgende dag daardie liggaam as offerande aanbied en bewys hoe groot sy liefde is. Die studente van die 105de klas het Jehovah se goedheid oor die afgelope vyf maande gesmaak. Nou sal hulle hulle liefde vir God toon deur hard te werk in hulle sendingtoewysings.

Mark Noumair, die tweede Gileadinstrukteur wat aan die woord was, het die studente aangeraai: “Hou aan om te doen wat reg is.” Josef het 13 jaar lank onregverdige behandeling verduur nadat hy as ’n slaaf in Egipte verkoop is. Het hy toegelaat dat die verkeerde dade van ander hom onderkry? Nee, hy het aangehou om te doen wat reg is. Toe is Josef, op God se bestemde tyd, van sy beproewinge verlos. Skielik het sy omstandighede verander—van lewe in ’n gevangenis tot lewe in ’n paleis (Genesis, hoofstukke 37-50). Die instrukteur het sy studente gevra: “Sal jy tou opgooi as jou sendingtoewysing nie aan jou verwagtinge voldoen nie? Sal jy moed opgee? Of sal jy, soos Josef, volhard?”

Laastens het die registrateur van Gileadskool, Wallace Liverance, ’n lewendige bespreking gehou met lede van die klas oor die tema “Adverteer die Koning en die Koninkryk”. Party van die studente het ondervindinge vertel wat hulle gehad het terwyl hulle van huis tot huis, van winkel tot winkel en op straat getuig het. Ander het vertel hoe hulle vir mense getuig het wat ’n ander taal praat. En daar was dié wat gewys het hoe ’n mens vir mense met verskillende godsdiensagtergronde kan getuig. Al die gegradueerdes was gretig om ’n volle aandeel te hê aan die bediening in die sendingveld.

Gelukkige veteraansendelinge

Die volgende deel, met die titel “Die vreugdevolle resultate van sendingdiens”, is deur Robert Wallen behartig en het bestaan uit onderhoude met vier broers van die hoofkantoorpersoneel wat onlangs opbouende omgang met ervare sendelinge geniet het. Daardie sendelinge het geredelik erken dat dit nie vir hulle maklik was om ’n nuwe taal te leer, om by ’n ander kultuur aan te pas of om aan ’n ander klimaat gewoond te raak nie. Dan het hulle ook huis toe verlang, en hulle moes hierdie gevoelens verwerk. Soms het hulle gesondheidsprobleme gehad. Maar deur dit alles heen het die sendelinge ’n positiewe gesindheid behou, en hulle volharding is geseën. Party het al talle mense gehelp om kennis van Jehovah op te doen. Ander het al op verskeie maniere bygedra tot die algehele uitbreiding van die Koninkrykswerk in hulle land.

Die laaste spreker was Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam. Hy het hoogtepunte van die “God se weg”-streekbyeenkomsprogram hersien. “Watter uitwerking het die streekbyeenkomsprogram op jou verhouding met Jehovah gehad?” het hy sy gehoor gevra. Die spreker het die kontras getoon tussen die seëninge wat diegene geniet wat God se weg volg en die rampspoedige einde vir diegene wat die weg van die wêreld volg. Hy het na Moses se oortreding by Meriba verwys en gewaarsku: “Selfs nadat ’n persoon al jare lank getrou gedien het, neem Jehovah selfs ’n klein oortreding van Sy regverdige wette nie ligtelik op nie” (Numeri 20:2-13). Mag alle knegte van God regoor die wêreld stewig vashou aan hulle kosbare diensvoorregte!

Die tyd het aangebreek vir die studente om hulle diplomas te ontvang. Toe het ’n verteenwoordiger van die klas ’n brief gelees wat waardering uitgespreek het vir die opleiding wat die studente ontvang het. Ná ’n slotlied en ’n hartgrondige gebed was die gradueringsprogram verby. Maar vir die 105de klas was dit net die begin, want die nuwe sendelinge het ‘op die drumpel van groter bedrywigheid gestaan’.

[Venster op bladsy 23]

Klasstatistiek

Aantal lande verteenwoordig: 9

Aantal lande waarheen gestuur: 17

Aantal studente: 48

Aantal egpare: 24

Gemiddelde ouderdom: 33

Gemiddelde jare in waarheid: 16

Gemiddelde jare in voltydse diens: 12

[Venster op bladsy 24]

Hulle het die voltydse diens gekies

“Toe ek jonger was, het ek glad nie daaraan gedink om ’n pionier te word nie”, sê Ben, ’n gegradueerde van die 105de klas. “Ek het gedink dat net diegene met spesiale vermoëns en ideale omstandighede as pioniers kon dien”, voeg hy by. “Maar ek het geleer om velddiens baie te geniet. Toe het dit eendag by my opgekom dat die pionierdiens eenvoudig beteken om ’n groter deelname aan die bediening te hê. Dit was toe dat ek besef het dat ek ’n pionier kan wees.”

“Daar was in ons huis altyd groot respek vir voltydse knegte”, vertel Lusia. Sy onthou die opgewondenheid in die gemeente wanneer sendelinge hulle kom besoek het. “Terwyl ek grootgeword het”, sê sy, “het ek altyd geweet dat ek die voltydse diens sou betree.”

Theodis se moeder het gesterf toe hy 15 jaar oud was. “Op daardie stadium het die gemeente my werklik bygestaan”, sê hy, “en daarom het ek my afgevra: ‘Wat kan ek doen om my waardering te toon?’” Dit het hom die voltydse diens en nou sendingwerk laat betree.

[Prent op bladsy 25]

105de Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee

(1) Sampson, M.; Brown, I.; Heggli, G.; Abuyen, E.; Desbois, M.; Pourthié, P. (2) Kassam, G.; Lindberg, R.; Dapuzzo, A.; Taylor, C.; LeFevre, K.; Walker, S. (3) Baker, L.; Pellas, M.; Woggon, E.; Böhne, C.; Asplund, J.; Haile, J. (4) Pourthié, T.; Whittaker, J.; Palmer, L.; Norton, S.; Gering, M.; Haile, W. (5) Walker, J.; Böhne, A.; Groenveld, C.; Washington, M.; Whittaker, D.; Abuyen, J. (6) Gering, W.; Washington, K.; Pellas, M.; Desbois, R.; Heggli, T.; Asplund, Å. (7) Woggon, B.; LeFevre, R.; Taylor, L.; Brown, T.; Groenveld, R.; Palmer, R. (8) Norton, P.; Sampson, T.; Baker, C.; Lindberg, M.; Kassam, M.; Dapuzzo, M.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel