Draai Kersfees nog om Christus?
“Ek kon nog nooit die feestelikhede van die Kerstyd aanvaar nie. Dit het nog altyd vir my so teenstrydig gelyk met die lewe en lering van Jesus.”
—Mohandas K. Gandhi.
BAIE sal heeltemal met Gandhi verskil. ‘Wat’, wonder hulle dalk, ‘weet ’n Hindoe nou eintlik van ’n Christelike feesdag?’ Daar moet egter erken word dat Kersfees regoor die wêreld versprei het en ’n invloed op allerhande kulture gehad het. Elke Desember lyk dit of die feesdag net mooi oral gevier word.
Ongeveer 145 miljoen Asiërs vier byvoorbeeld Kersfees, 40 miljoen meer as ’n dekade gelede. En as Gandhi met “feestelikhede” die sekulêre sy van hedendaagse Kersfees bedoel het, die koorsagtige kopery wat ons almal waarneem, is dit moeilik om te ontken dat hierdie aspek van die viering dikwels die opvallendste is. Die tydskrif Asiaweek sê: “Kersfees in Asië—van die feestelike ligte in Hongkong en toringhoë Kersbome in hotelle in Beijing tot ’n Kerstoneel in die middestad van Singapoer—is grotendeels ’n sekulêre (hoofsaaklik kommersiële) gebeurtenis.”
Het die hedendaagse viering van Kersfees Christus uit die oog verloor? Amptelik word 25 Desember sedert die vierde eeu G.J. gevier, toe die Rooms-Katolieke Kerk dit as die dag gekies het vir die godsdienstige viering van Jesus se geboorte. Maar volgens ’n onlangse meningsopname in die Verenigde State het net 33 persent van diegene waaronder die opname gedoen is, gemeen dat die geboorte van Christus die belangrikste aspek van Kersfees is.
Wat dink jy? Voel jy soms dat Jesus heeltemal vergete is tussen al die aanhoudende advertensies, die geskenke wat gekoop moet word, die bome wat versier moet word, die partytjies wat gereël en bygewoon moet word, die kaartjies wat gestuur moet word?
Baie meen blykbaar dat Christus weer ’n plek in Kersfees gegee kan word deur die gebeure rondom sy geboorte in ’n Kerstoneel uit te beeld. Jy het waarskynlik al sulke uitbeeldings gesien, met die baba Jesus in ’n krip, omring deur Maria, Josef, ’n paar herders, “drie wyse manne”, of “drie konings”, ’n paar plaasdiere en enkele toeskouers. Daar word oor die algemeen gedink dat hierdie Kerstonele mense herinner aan die werklike betekenis van Kersfees. Volgens U.S. Catholic “skep ’n Kerstoneel ’n duideliker beeld as wat enige evangelie kan skep, hoewel dit ook die niehistoriese aard van hierdie verhale beklemtoon”.
Maar hoe dui so ’n Kerstoneel aan dat die Evangelieverslae van die Bybel niehistories is? Wel, daar moet erken word dat die mooi versierde beeldjies die geboorte van Christus soos ’n legende of sprokie laat lyk. Die Kerstoneel, wat eerste deur ’n monnik in die 13de eeu gewild gemaak is, was vroeër redelik beskeie. Vandag het dit, soos soveel ander dinge wat met hierdie feesdag gepaardgaan, ’n reusebedryf geword. In Napels, Italië, verkoop rye winkels regdeur die jaar beeldjies vir die Kerstoneel, of presepi. Party van die gewilder beeldjies stel nie karakters uit die Evangelieverslae voor nie, maar beroemde mense van ons tyd, soos prinses Diana, Moeder Teresa en die klereontwerper Gianni Versace. Elders word presepi van sjokolade, pasta en selfs seeskulpe gemaak. ’n Mens besef dan waarom dit moeilik is om geskiedenis in sulke voorstellings te sien.
Hoe kan sulke Kerstonele dan ‘’n duideliker beeld as enige evangelie skep’? Is die Evangelieverslae nie waarlik geskiedkundig nie? Selfs geharde skeptici moet erken dat Jesus ’n werklike, geskiedkundige persoon was. Hy moes dus eenmaal ’n werklike baba gewees het, wat in ’n werklike plek gebore is. Daar behoort ’n beter manier te wees om ’n duidelike beeld te kry van die gebeure wat met sy geboorte verband hou as om bloot na ’n Kerstoneel te kyk!
Daar is inderdaad ’n beter manier. Twee geskiedskrywers het onafhanklike verslae van Jesus se geboorte geskryf. As jy soms voel dat die meeste mense nie gedurende die Kerstyd aan Christus dink nie, kan jy gerus hierdie verslae self ondersoek. Daar sal jy nie legendes of mites vind nie, maar eerder ’n fassinerende verhaal—die ware verhaal van die geboorte van Christus.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Randpatroon op bladsye 3-6, 8 en 9: Fifty Years of Soviet Art