Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 12/15 bl. 3-7
  • Kersgebruike—Is dit Christelik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kersgebruike—Is dit Christelik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die posadas, “die drie wyse manne” en die nacimiento
  • ’n Nadere kykie na Kerstradisies
  • Geboorte van Jesus volgens die Bybel
  • Die sterrewiggelaars
  • Wat kan ons uit die verslag leer?
  • Die Kersgees versprei—Waarom?
    Ontwaak!—2010
  • Kersfees—Waarom is dit gevaarlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Kersfees—Is dit werklik Christelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Die waarheid oor Kersfees
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 12/15 bl. 3-7

Kersgebruike—Is dit Christelik?

KERSTYD is hier. Wat beteken dit vir jou, jou gesin en jou vriende? Is dit ’n geestelike geleentheid, of is dit net ’n feestelike en vrolike tyd? Is dit ’n tyd om na te dink oor die geboorte van Jesus Christus of ’n tyd om van Christelike standaarde te vergeet?

Wanneer jy oor hierdie vrae nadink, moet jy in gedagte hou dat Kerstradisies kan verskil na gelang van waar jy woon. Byvoorbeeld, in Mexiko en ander Latyns-Amerikaanse lande het dit selfs ’n ander naam, La Navidad, wat na die geboorte van Christus verwys. Kom ons kyk na ’n paar gebruike in Mexiko. Dit kan jou help om jou eie mening oor hierdie feestyd te vorm.

Die posadas, “die drie wyse manne” en die nacimiento

Die feestelikhede begin op 16 Desember met die posadas. Die boek Mexico’s Feasts of Life sê: “Die posadas, die nege betowerende dae voor Kersaand, herdenk die tyd toe Josef en Maria eensaam in die stad Betlehem rondgedwaal het en die oomblik toe hulle uiteindelik vriendelik behandel is en skuiling gevind het. Families en vriende kom elke aand bymekaar om die gebeure gedurende die dae voor die geboorte van Christus op te voer.”

Volgens tradisie dra ’n groep mense beelde van Maria en Josef na ’n huis en vra met ’n lied skuiling, of posada. Die mense in die huis antwoord met ’n lied totdat die besoekers eindelik toegelaat word om in die huis in te gaan. Dan begin ’n partytjie, waar party—wat geblindoek is en ’n stok in hulle hand het—beurte maak om die piñata te probeer breek, ’n groot versierde erdepot wat aan ’n tou hang. Sodra dit stukkend is, word die inhoud daarvan (lekkers, vrugte en so meer) deur die partytjiegangers versamel. Daarna kom kos, drankies, musiek en dansery. Agt posada-partytjies word van 16 Desember tot 23 Desember gehou. Op die 24ste word Nochebuena (Kersaand) gevier, en families probeer om saam te wees vir ’n spesiale maaltyd.

Kort voor lank is dit Nuwejaar, wat met baie luidrugtige partytjies gevier word. Op die aand van 5 Januarie is die Tres Reyes Magos (“drie wyse manne”) veronderstel om speelgoed vir die kinders te bring. Die hoogtepunt is die partytjie op 6 Januarie, wanneer ’n rosca de Reyes (ringvormige koek) bedien word. Terwyl hierdie koek geëet word, sal iemand ’n klein poppie in sy stuk koek kry wat die baba Jesus voorstel. Die een wat dit vind, is verplig om ’n laaste partytjie op 2 Februarie te reël. (Op party plekke is daar drie klein poppies, wat “die drie wyse manne” voorstel.) Soos jy kan sien, word daar byna heeltyd Kerspartytjies gehou.

Gedurende hierdie tydperk is die nacimiento (Kerstoneel) redelik belangrik. Wat is hierby betrokke? Wel, in openbare plekke, sowel as in kerke en huise, word figure (groot of klein) van keramiek, hout of klei gebruik om tonele uit te beeld. Hulle stel Josef en Maria voor wat voor ’n krip kniel waarin ’n pasgebore baba lê. Daar is dikwels ook herders en Los Reyes Magos (“die wyse manne”). Die agtergrond is ’n stal, en ’n paar diere kan die toneel afrond. Maar die hooffiguur is ’n pasgebore baba, wat in Spaans el Niño Dios (die Kind-God) genoem word. Hierdie hooffiguur kan op Kersaand daar gesit word.

’n Nadere kykie na Kerstradisies

Aangaande die Kersfeesviering soos mense regoor die wêreld dit ken, sê The Encyclopedia Americana: “Die meeste van die gebruike wat nou met Kersfees geassosieer word, was nie oorspronklik Kersgebruike nie, maar eerder voor-Christelike en nie-Christelike gebruike wat deur die Christelike kerk opgeneem is. Saturnalieë, ’n Romeinse fees wat in die middel van Desember gevier is, was die lees waarop baie van die feestelike Kersgebruike geskoei is. Die oordadige feesvieringe, om geskenke te gee en kerse te brand, is byvoorbeeld van hierdie viering oorgeneem.”

In Latyns-Amerika kan hierdie basiese Kersgebruike, tesame met ander gebruike, gevolg word. ‘Waar kom dit vandaan’, wonder jy dalk. Baie wat aan die Bybel getrou wil bly, het besef dat party gebruike in werklikheid niks anders as Asteekse ritusse is nie. El Universal, ’n koerant in Mexikostad, het gesê: “Monnike van verskillende ordes het die ooreenkoms tussen die feesvieringe van die Indiaanse rituele kalender en die Katolieke liturgiese kalender uitgebuit, en hulle het dit dus gebruik om hulle evangelisasie- en sendingwerk te steun. Hulle het die vieringe ter ere van die voor-Spaanse godhede met feesvieringe vir Christelike godhede vervang, Europese feesvieringe en bedrywighede ingebring en ook die Indiese feesvieringe benut, wat gelei het tot ’n kulturele vermenging waaruit eg Mexikaanse feesvieringe ontstaan het.”

The Encyclopedia Americana verduidelik: “Kersspele het vroeg al ’n deel van die Kersvieringe geword . . . Die uitbeelding in die kerk van die [Kerskrip] is na bewering deur sint Fransiskus begin.” Hierdie opvoerings van die geboorte van Christus is van die begin van die kolonisasie van Mexiko in die kerke gehou. Dit is deur Fransiskaanse monnike gereël om die Indiane omtrent die geboorte van Christus te leer. Later het die posadas gewilder geword. Ongeag wat die oorspronklike doel van die posadas was, die manier waarop dit vandag gehou word, spreek boekdele. As jy gedurende hierdie tyd in Mexiko is, kan jy iets sien of aanvoel waarop ’n skrywer vir El Universal met hierdie opmerking die aandag gevestig het: “Die posadas, wat ’n manier was om ons te herinner aan die pelgrimstog van Jesus se ouers toe hulle skuiling gesoek het waar die Kind-God gebore kon word, is vandag net dae van dronkenskap, oordadighede, vraatsug, nietighede en al hoe meer misdaad.”

Die idee van die nacimiento het gedurende die Koloniale tye uit die oorspronklike opvoerings in die kerke ontstaan. Vir party mense is dit mooi, maar is dit ’n akkurate weerspieëling van wat die Bybel sê? Dit is ’n geldige vraag. Toe die sogenaamde drie wyse manne—wat in werklikheid sterrewiggelaars was—Jesus en sy gesin besoek het, het hulle nie meer in ’n stal gebly nie. Tyd het verloop, en die gesin het in ’n huis gewoon. Jy sal dit interessant vind om hierdie besonderheid in die geïnspireerde verslag in Matteus 2:1, 11 te sien. Jy sal ook opmerk dat die Bybel nie sê hoeveel sterrewiggelaars daar was nie.a

In Latyns-Amerika vervang die drie wyse manne die idee van Kersvader. Maar soos in ander lande gedoen word, steek baie ouers speelgoed in die huis weg. Dan, op die oggend van 6 Januarie, soek die kinders daarna, asof die drie wyse manne dit gebring het. Dit is ’n winsgewende tyd vir speelgoedverkopers, en party het ’n fortuin gemaak uit wat baie opregtes van hart besef net ’n fantasie is. Die mite van die drie wyse manne is besig om sy geloofwaardigheid te verloor by ’n aansienlike aantal mense, selfs by klein kindertjies. Party is ontevrede oor die feit dat al hoe minder mense hierdie mite glo. Maar wat kan ’n mens verwag van ’n fantasie wat bloot behoue gebly het weens tradisie en sodat mense daaruit geld kan maak?

Kersfees, of die geboorte van Christus, is nie deur vroeë Christene gevier nie. Een ensiklopedie sê hieroor: “Die viering is nie in die eerste eeue van die Christelike kerk gehou nie, aangesien dit die algemene gebruik onder Christene was om eerder die dood as die geboorte van ’n merkwaardige persoon te vier.” Die Bybel koppel die viering van verjaarsdae met heidene, nie met ware aanbidders van God nie.—Matteus 14:6-10.

Dit beteken natuurlik nie dat dit geen nut het om uit te vind wat werklik by die geboorte van die Seun van God plaasgevind het en dit te onthou nie. Die feitelike Bybelverslag voorsien belangrike insig en lesse vir almal wat begeer om God se wil te doen.

Geboorte van Jesus volgens die Bybel

Jy sal betroubare inligting oor Jesus se geboorte in die Evangelies van Matteus en Lukas vind. Dit toon dat die engel Gabriël ’n jong, ongetroude vrou met die naam Maria in die dorp Nasaret in Galilea besoek het. Watter boodskap het hy oorgedra? “Kyk! jy sal in jou moederskoot ontvang en aan ’n seun geboorte gee, en jy moet hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie.”—Lukas 1:31-33.

Maria was baie verbaas oor hierdie boodskap. Omdat sy nie getroud was nie, het sy gesê: “Hoe sal dit gebeur, aangesien ek geen gemeenskap met ’n man het nie?” Die engel het geantwoord: “Heilige gees sal oor jou kom, en krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Om dié rede sal ook wat gebore word heilig, God se Seun, genoem word.” Maria het besef dat dit die wil van God was en het gesê: “Kyk! Jehovah se slavin! Mag dit met my gebeur volgens u verklaring.”—Lukas 1:34-38.

’n Engel het Josef vertel van die wonderdadige geboorte wat sou plaasvind, sodat hy nie van Maria sou skei nie, wat hy van plan was om te doen nadat hy uitgevind het dat sy swanger is. Hy was toe gewillig om die verantwoordelikheid aan te neem om vir die Seun van God te sorg.—Matteus 1:18-25.

Toe het ’n verordening van keiser Augustus Josef en Maria gedwing om van Nasaret in Galilea te reis na Betlehem in Judea, die stad van hulle voorvaders, om geregistreer te word. “Terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy geboorte moes gee. En sy het geboorte gegee aan haar seun, die eersgeborene, en sy het hom met doeke toegedraai en hom in ’n krip neergelê, want daar was geen plek vir hulle in die verblyfvertrek nie.”—Lukas 2:1-7.

Lukas 2:8-14 beskryf wat daarna gebeur het: “Daar was ook in daardie selfde landstreek herders wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het. En skielik het Jehovah se engel by hulle gestaan, en Jehovah se heerlikheid het rondom hulle geglim, en hulle het baie bevrees geword. Maar die engel het vir hulle gesê: ‘Moenie vrees nie, want kyk! ek maak aan julle goeie nuus bekend van ’n groot vreugde wat die hele volk sal hê, want daar is vandag vir julle in die stad van Dawid ’n Redder gebore, wat Christus die Here is. En dít is vir julle ’n teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.’ En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leër, wat God geloof en gesê het: ‘Heerlikheid aan God in die hoogtes daar bo, en op aarde vrede onder mense van welwillendheid.’”

Die sterrewiggelaars

Matteus se verslag meld dat sterrewiggelaars uit die Ooste na Jerusalem gekom het om die plek te soek waar die Koning van die Jode gebore is. Koning Herodes het baie hierin belanggestel—maar nie met goeie bedoelinge nie. “Hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: ‘Gaan soek sorgvuldig na die jong kindjie, en wanneer julle hom gevind het, moet julle dit aan my rapporteer, sodat ek ook aan hom hulde kan gaan bewys.’” Die sterrewiggelaars het die jong kind gevind en “hulle skatte oopgemaak en vir hom geskenke gegee: goud en wierook en mirre”. Maar hulle het nie na Herodes toe teruggegaan nie. “Hulle [is] in ’n droom ’n goddelike waarskuwing gegee . . . om nie na Herodes toe terug te keer nie.” God het ’n engel gebruik om Josef oor Herodes se planne te waarsku. Josef en Maria het toe met hulle seun na Egipte gevlug. In ’n poging om die nuwe Koning om die lewe te bring, het die wrede koning Herodes toe beveel dat die seuntjies in die omgewing van Betlehem doodgemaak word. Watter seuntjies? Dié wat twee jaar en jonger was.—Matteus 2:1-16.

Wat kan ons uit die verslag leer?

Die besoekende sterrewiggelaars—hoeveel daar ook al van hulle was—het nie die ware God aanbid nie. Die Bybelvertaling La Nueva Biblia Latinoamérica (1989-uitgawe) sê in ’n voetnoot: “Die Wyses uit die Ooste was nie konings nie, maar waarsêers en priesters van ’n heidense godsdiens.” Hulle het gekom na aanleiding van hulle kennis van die sterre waaraan hulle toegewy was. As God hulle na die jong kindjie toe wou lei, sou hy hulle na die presiese plek toe gelei het sonder dat hulle eers na Jerusalem en na Herodes se paleis toe moes gaan. Later het God wel tussenbeide getree om hulle van koers te laat verander om die kindjie te beskerm.

Gedurende Kerstyd word hierdie verhaal dikwels deur ’n fabelagtige en romantiese atmosfeer omhul wat die belangrikste saak verberg: dat hierdie baba gebore is om ’n glorieryke Koning te wees, soos daar vir Maria en die herders gesê is. Nee, Jesus Christus is nie meer ’n baba of selfs ’n kind nie. Hy is die heersende Koning van God se Koninkryk, wat binnekort alle heerskappye sal verwyder wat God se wil teëstaan, en hy sal al die probleme van die mensdom oplos. Dit is die Koninkryk waarvoor ons bid in die Onse Vader.—Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10.

Ons leer uit die engele se verklaring aan die herders dat almal wat gewillig is om na die boodskap van die goeie nuus te luister, die geleentheid het om redding te ontvang. Diegene wat die guns van God verkry, word “mense van welwillendheid”. Ons het die wonderlike vooruitsig op aardwye vrede onder Jesus Christus se Koninkryk, maar mense moet gewillig wees om God se wil te doen. Bevorder en weerspieël Kerstyd hierdie begeerte? Talle opregte mense wat die Bybel wil volg, meen dat die antwoord voor die hand liggend is.—Lukas 2:10, 11, 14.

[Voetnoot]

a Daar is nog ’n besonderheid wat nie geïgnoreer moet word nie: In die Mexikaanse nacimiento word daar na die baba verwys as “die Kind-God” met die idee dat dit God self was wat as ’n baba aarde toe gekom het. Maar die Bybel stel Jesus voor as die Seun van God wat op aarde gebore is; hy was nie Jehovah, die almagtige God, self nie en hy was ook nie gelyk aan Hom nie. Ondersoek gerus die waarheid hieroor, soos dit uiteengesit word in Lukas 1:35; Johannes 3:16; 5:37; 14:1, 6, 9, 28; 17:1, 3; 20:17.

[Venster op bladsy 4]

PARTY SAL VERBAAS WEES

In sy boek The Trouble With Christmas het die skrywer Tom Flynn genoem watter gevolgtrekkings ná jare van navorsing oor Kersfees gemaak is:

“’n Magdom tradisies wat ons nou met Kersfees assosieer, het hulle oorsprong in voor-Christelike heidense godsdienstradisies gehad. Party hiervan het maatskaplike, seksuele of kosmologiese konnotasies wat opgevoede, kultureel sensitiewe mense van ons tyd die tradisies moontlik sal laat verwerp as hulle eers die oorsprong daarvan duideliker verstaan.”—Bladsy 19.

Nadat Flynn nog baie ander inligting ter stawing hiervan gegee het, het hy tot die basiese punt teruggekeer: “Wat werklik ironies omtrent Kersfees is, is die feit dat so min daaromtrent waarlik Christelik is. Wanneer ons die voor-Christelike elemente verwyder, is die oorsprong van wat oorbly meestal na-Christelik, pleks van eg Christelik.”—Bladsy 155.

[Prent op bladsy 7]

Die aankondiging van Jesus se geboorte het die weg berei vir sy toekomstige rol as God se gekose Koning

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel