Kerstyd—Waarop val die klem?
VIR miljoene is die Kersseisoen ’n tyd om saam met familie en vriende deur te bring, ’n tyd om bande met geliefdes te versterk. Baie ander beskou dit as ’n tyd om na te dink oor die geboorte van Jesus Christus en sy rol in die redding van die mensdom. In Rusland, anders as in baie ander lande, het mense nie altyd die vryheid gehad om Kersfees te vier nie. Hoewel lidmate van die Russies-Ortodokse Kerk Kersfees eeue lank openlik gevier het, is hulle gedurende die grootste deel van die 20ste eeu nie toegelaat om dit te doen nie. Wat was die rede vir die verandering?
Kort ná die Bolsjewistiese Kommunistiese revolusie van 1917 het Sowjetowerhede ’n aggressiewe beleid van landwye ateïsme begin volg. Die Kersseisoen met sy godsdienstige konnotasie het in onguns geraak. Die Staat het ’n veldtog teen Kersfees- sowel as Nuwejaarsvierings begin voer. Die plaaslike simbole van die seisoen—die Kersboom en Ded Moroz, of Oupa Sneeu, die Russiese weergawe van Kersvader—is selfs openlik veroordeel.
In 1935 het ’n verandering plaasgevind wat ’n groot omwenteling teweeggebring het in die manier waarop Russe die Kersseisoen gevier het. Die Sowjets het Oupa Sneeu, die boom en die Nuwejaarsviering teruggebring—maar met ’n betekenisvolle verskil. Oupa Sneeu sou glo geskenke bring, nie op Kersdag nie, maar op Nuwejaarsdag. Daar sou ook nie meer ’n Kersboom wees nie. Dit sou ’n Nuwejaarsboom wees! ’n Groot klemverskuiwing het dus in die Sowjetunie plaasgevind. Die Nuwejaarsviering het in werklikheid Kersfees vervang.
Die Kersseisoen het geheel en al ’n sekulêre feesseisoen geword, amptelik ontneem van enige godsdienstige betekenis. Die Nuwejaarsboom is versier, nie met godsdienstige versierings nie, maar met niegodsdienstige versierings wat die vooruitgang van die Sowjetunie uitgebeeld het. Die Russiese tydskrif Wokroeg Sweta (Om die wêreld) verduidelik: “Dit is moontlik om die geskiedenis van die vestiging van ’n Kommunistiese gemeenskap na te spoor deur na die versierings van die Nuwejaarsboom in die verskillende jare van die Sowjet-era te kyk. Benewens die gewone konyntjies, sneeuvlokkies en ronde brode was daar versierings in die vorm van sekels, hamers en trekkers. Dit is later vervang deur beeldjies van mynwerkers en ruimtevaarders, oliebore, vuurpyle en maankarretjies.”
Wat van Kersdag self? Dit is beslis nie erken nie. Die Sowjetregering het dit eerder ’n gewone werksdag gemaak. Dié wat Kersfees as ’n godsdiensviering wou hou, moes dit in die geheim doen en die gevaar loop om by die Staat in onguns te raak en onaangename gevolge te verduur. Ja, in die Rusland van die 20ste eeu het die klem van die Kersseisoen verskuif van ’n godsdienstige na ’n niegodsdienstige viering.
’n Onlangser klemverskuiwing
In 1991 het die Sowjetunie tot ’n val gekom, en groter vryhede is verkry. Dit was ook die einde van die Staat se beleid van ateïsme. Die verskeie nuutgevormde soewereine state was hoofsaaklik sekulêr, en daar was ’n skeiding tussen Kerk en Staat. Talle godsdienstige mense het gemeen dat hulle nou hulle godsdiensoortuigings kon uitleef. Hulle het geredeneer dat die viering van Kersfees as ’n godsdienstige dag een manier sou wees om dit te doen. Maar groot teleurstelling het op baie van hierdie mense gewag. Waarom?
Die viering het elke jaar al hoe meer gekommersialiseerd geword. Ja, soos in die Weste het die Kersseisoen een van die beste maniere geword vir vervaardigers asook groot- en kleinhandelaars om geld te maak. Kersversierings het ’n prominente plek in winkelvensters. Westerse Kersmusiek en -liedere, wat vroeër onbekend was in Rusland, word in winkels gespeel. Verkoopsmanne met groot sakke vol Kersware probeer hulle items op treine en ander openbare vervoermiddels verkoop. Dit is wat jy deesdae sien.
Selfs dié wat geen beswaar het teen die blatante kommersialisme nie, is dalk besorg oor ’n ander verontrustende element van Kerstyd—alkoholmisbruik met al sy negatiewe gevolge. ’n Dokter wat in die ongevalleafdeling van ’n hospitaal in Moskou werk, het verduidelik: “Dokters weet dat die Nuwejaarsviering sal gepaardgaan met ’n hele klomp beserings, van kneusplekke tot steek- en skietwonde, waarvan die meeste die gevolg is van gesinsgeweld, dronkmansbakleiery en motorongelukke.” ’n Senior wetenskaplike by ’n tak van die Russiese Akademie vir Wetenskappe het gesê: “Daar is ’n skerp styging in die aantal alkoholverwante sterftes. Dit was veral hoog in die jaar 2000. Die getal selfmoorde en moorde het ook skerp toegeneem.”
Ongelukkig is daar nog ’n faktor wat hierdie soort gedrag gedurende die Kersseisoen in Rusland vererger. Onder die opskrif “Russe vier twee keer Kersfees” berig die koerant Izwestija: “Bykans 1 uit 10 Russe vier twee keer Kersfees. Volgens ’n opname van die ROMIR-monitorsentrum het 8 persent van respondente erken dat hulle Kersfees vier op 25 Desember, volgens die Katolieke Kerskalender, sowel as op 7 Januarie, volgens die Ortodokse kalender . . . Vir party is die godsdienstige aspek van Kersfees blykbaar nie so belangrik soos die feit dat dit ’n geleentheid is om fees te vier nie.”a
Bring die huidige viering werklik eer aan Christus?
Dit is duidelik dat die Kersseisoen met goddelose gedrag gepaardgaan. Hoewel dit sorgwekkend is, meen party dat hulle die vierings uit respek vir God en Christus moet hou. ’n Begeerte om God te behaag, is prysenswaardig. Maar skep God en Christus behae in die Kersseisoen? Kyk na die oorsprong van die viering.
Byvoorbeeld, ongeag wat jou beskouing van die Sowjets se standpunt oor Kersfees is, dit sou moeilik wees om die volgende geskiedkundige feite weg te redeneer, soos uiteengesit in die Great Soviet Encyclopedia: “Kersfees . . . is ontleen aan die voor-Christelike aanbidding van gode ‘wat sterf en uit die dood opstaan’, wat veral algemeen was onder landbougemeenskappe wat jaarliks, gewoonlik tydens die wintersonstilstand van 21-25 Desember, die ‘geboorte’ van die God-Redder gevier het, wat die natuur tot nuwe lewe opwek.”
Dit is dalk vir jou insiggewend dat die ensiklopedie tereg sê: “Die Christelike godsdiens van die eerste eeue was nie bekend met die viering van Kersfees nie. . . . Van die middel van die vierde eeu af het die Christelike godsdiens die viering van die wintersonstilstand, wat deel was van die aanbidding van Mitra, aangeneem en dit in die Kersfeesviering verander. Die godsdienstige gemeenskappe van Rome was die eerstes wat Kersfees gevier het. In die tiende eeu het Kersfees, saam met die Christelike godsdiens, na Rusland versprei, waar dit saamgesmelt het met die winterfees van die eertydse Slawe, waarin die geeste van voorouers vereer is.”
‘Wat sê God se Woord, die Bybel, oor 25 Desember as Jesus se geboortedag?’ vra jy dalk. Die Bybel verstrek in werklikheid geen datum vir Jesus se geboorte nie, en daar is geen bewys dat Jesus self daarvan gepraat het nie, wat nog te sê mense beveel het om dit te vier. Maar die Bybel help ons wel om vas te stel watter tyd van die jaar Jesus gebore is.
Volgens Matteus se Evangelie, hoofstukke 26 en 27, is Jesus op 14 Nisan tereggestel, laat in die dag van die Joodse Pasga wat op 31 Maart 33 G.J. begin het. Ons leer uit Lukas se Evangelie dat Jesus omtrent 30 jaar oud was toe hy gedoop is en met sy bediening begin het (Lukas 3:21-23). Daardie bediening het drie en ’n half jaar geduur. Jesus was dus omtrent 33 1/2 jaar oud toe hy gesterf het. Hy sou omstreeks 1 Oktober 33 G.J. 34 geword het. Volgens Lukas se verslag aangaande Jesus se geboorte het herders “in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou” (Lukas 2:8). Herders sou nie in die koue van Desember, wanneer dit selfs kan sneeu in die omgewing van Betlehem, met hulle kuddes buite gewees het nie. Maar hulle kon omstreeks 1 Oktober met hulle kuddes daar gewees het, wat volgens getuienis die tyd van Jesus se geboorte was.
Terloops, wat van die Nuwejaarsviering? Soos ons gesien het, word dit gekenmerk deur losbandige gedrag. Ondanks pogings om dit ’n sekulêre viering te maak, het dit ook twyfelagtige oorspronge.
Ja, in die lig van die feite omtrent die Kersseisoen klink slagspreuke, soos ’n Fees ter ere van Jesus ons Here, maar leeg. As jy ontsteld is oor die kommersialisme en slegte gedrag wat met die Kersseisoen gepaardgaan, asook die onsmaaklike heidense oorspronge daarvan, moet jy nie ontmoedig voel nie. Daar is ’n gepaste manier waarop ons aan God en Christus die eer kan gee wat hulle toekom en terselfdertyd gesinsbande kan versterk.
’n Beter manier om God en Christus te eer
Die Bybel sê vir ons dat Jesus Christus gekom het “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Hy was bereid om tereggestel te word en vir ons sondes te sterf. Party wil Christus dalk graag eer en meen dat hulle dit gedurende die Kersseisoen kan doen. Maar soos ons gesien het, het Kersfees en Nuwejaar bitter min met Christus te doen en lê hulle oorsprong in heidense feeste. Boonop word die Kersseisoen, hoe aantreklik dit ook al vir party is, deur skreiende kommersialisme gekenmerk. Verder moet daar erken word dat Kerstyd gepaardgaan met skandelike gedrag wat God en Christus mishaag.
Hoe moet iemand wat God se goedkeuring wil wegdra, dan optree? Iemand wat opreg van hart is, sal nie vashou aan tradisies van mense wat godsdienstige gevoelens bevredig maar in stryd is met die Skrif nie; hy sal eerder na die regte manier soek om God en Christus te eer. Wat is daardie regte manier, en wat moet ons doen?
Christus self sê vir ons: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, iemand wat werklik opreg van hart is, neem met graagte juiste kennis in van hoe om God en Christus te eer. Dan pas hy hierdie kennis toe, nie net gedurende ’n sekere tyd van die jaar nie, maar in sy daaglikse lewe. God skep behae in sulke opregte pogings, wat tot die ewige lewe kan lei.
Wil jy graag hê dat jou gesin onder diegene moet wees wat God en Christus waarlik in ooreenstemming met die Skrif eer? Jehovah se Getuies het miljoene gesinne regoor die wêreld gehelp om hierdie lewensbelangrike kennis van die Bybel in te neem. Ons nooi jou hartlik uit om met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking te kom of aan hulle te skryf by die gepaste adres op bladsy 2 van hierdie tydskrif.
[Voetnoot]
a Voor die revolusie van Oktober 1917 het Rusland die ouer Juliaanse kalender gebruik, maar die meeste ander lande het na die Gregoriaanse kalender oorgeskakel. In 1917 was die Juliaanse kalender 13 dae agter die Gregoriaanse kalender. Ná die revolusie het die Sowjets na die Gregoriaanse kalender oorgeskakel, wat Rusland in lyn met die res van die wêreld gebring het. Maar die Ortodokse Kerk het die Juliaanse kalender vir sy vierings behou, en dit die “Ou Styl”-kalender genoem. Jy sal dalk hoor dat Kersfees in Rusland op 7 Januarie gevier word. Hou egter in gedagte dat 7 Januarie op die Gregoriaanse kalender eintlik 25 Desember op die Juliaanse kalender is. Baie Russe reël dus hulle Kersseisoen soos volg: 25 Desember, Westerse Kersfees; 1 Januarie, sekulêre Nuwejaar; 7 Januarie, Ortodokse Kersfees; 14 Januarie, “Ou Styl”-Nuwejaar.
[Venster/Prent op bladsy 7]
Oorsprong van die Nuwejaarsviering
’n Georgiese Ortodokse monnik lug sy mening
“Die Nuwejaarsviering het sy oorsprong by ’n aantal heidense feeste uit eertydse Rome. Die 1ste Januarie was ’n feesdag ter ere van die heidense god Janus, en die maand is na hom vernoem. Beelde van Janus het twee gesigte weerskante van sy kop gehad, wat beteken het dat hy die verlede en die hede kon sien. Daar was ’n gesegde dat diegene wat die 1ste Januarie met pret, gelag en oorvloed tegemoetgaan, die hele jaar deur gelukkig en voorspoedig sou wees. Dieselfde bygeloof word gevind onder baie van ons landgenote wat die viering van die nuwe jaar betref . . . Gedurende sekere heidense feesdae het mense openlik offerandes aan ’n afgod gebring. Party was berug vir onsedelike orgieë, egbreuk en hoerery. By ander geleenthede, byvoorbeeld gedurende die Janus-fees, het mense oormatig geëet en gedrink, dronk geword en allerhande onreinhede bedryf wat daarmee gepaardgaan. As ons dink aan hoe ons ook in die verlede Nuwejaar gevier het, dan moet ons erken dat ons almal aan hierdie heidense viering deelgeneem het.”—’n Georgiese koerant.
[Prent op bladsy 6]
Die Christendom het die aanbidding van Mitra aangeneem
[Erkenning]
Museum Wiesbaden
[Prent op bladsy 7]
Herders sou nie in die koue van Desember met hulle kuddes buite gewees het nie