Wanneer gewapende rowers toeslaan
IN Ikoyi, ’n eksklusiewe voorstad in Wes-Afrika, het groot woonhuise vestings geword. Baie het drie meter hoë mure met penne, skerp glasstukke en rolle lemmetjiesdraad op. Wagte staan aan diens by groot hekke wat met grendels, kettings en hangslotte gesluit word. Daar is diefwering voor die vensters. Staalhekke skei die slaapkamers van die res van die huis. Snags word groot honde—wolfhonde en Rottweilers—losgelaat. Helder ligte verdryf die donkerte, en gerekenariseerde monitorstelsels biep saggies wanneer alles in orde is.
Almal besef hoe belangrik dit is om hulle huis te beveilig. Koerantopskrifte lui: “Gewapende rowers plunder gemeenskap”; “Kinderrowers ruk handuit” en “Paniek breek uit toe straatboewe op [woonbuurt] toeslaan”. Dit is die situasie in baie lande. Soos die Bybel voorspel het, lewe ons werklik in kritieke tye.—2 Timoteus 3:1.
Die misdaadsyfer, wat gewapende roof insluit, neem wêreldwyd geweldig toe. Al hoe meer regerings kan nie of is nie bereid om hulle eie burgers te beskerm nie. In sommige lande is die polisie, wat minder mannekrag en wapens as die boewe het, swak toegerus om op die oproepe om hulp te reageer. Die meeste omstanders wil nie graag betrokke raak nie.
Slagoffers, wat nie op die polisie of die publiek vir hulp kan staat maak nie, is op hulleself aangewese. ’n Christen- ouer man in ’n ontwikkelende land het gesê: “As jy alarm maak, sal die rowers jou vermink of doodmaak. Moenie op hulp van buite staatmaak nie. As hulp opdaag, is jy gelukkig, maar moet dit nie verwag of om hulp skreeu nie, want dan vererger jy dalk net jou situasie.”
Beskerming en God se woord
Hoewel Christene geen deel van die wêreld is nie, is hulle in die wêreld (Johannes 17:11, 16). Soos alle ander mense tref hulle dus redelike veiligheidsmaatreëls. Maar anders as baie wat Jehovah nie dien nie, probeer God se volk beskerming binne die raamwerk van Christelike beginsels vind.
In teenstelling hiermee gebruik mense in party Afrika-lande towery om hulleself teen rowers te probeer beskerm. ’n Toordokter maak miskien ’n sny op ’n klant se gewrig, bors of rug. Dan word ’n toormiddel in die sny ingevryf, ’n paar towerspreuke word geuiter en die persoon is veronderstel om teen roofaanvalle beskerm te wees. Ander plaas gelukbringertjies of toormiddels in hulle huis omdat hulle glo dat sulke “versekering” rowers van hulle af sal weghou.
Ware Christene raak geensins betrokke by enige soort towery nie. Die Bybel veroordeel alle vorme van spiritisme, en met goeie rede, want sulke gebruike kan mense in aanraking bring met die demone, en dit is juis húlle wat geweld op die aarde bevorder (Genesis 6:2, 4, 11). Die Bybel sê uitdruklik: ‘Julle mag nie towery beoefen nie.’—Levitikus 19:26, NAV.
Sommige mense is so desperaat dat hulle vuurwapens dra om hulleself te beveilig. Maar Christene neem Jesus se woorde ter harte: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). God se volk het ‘van hul swaarde pikke gesmee’ en koop nie vuurwapens om hulleself teen roof of aanranding te beskerm nie.—Miga 4:3.
Kan ons reël dat gewapende sekuriteitswagte ons beskerm? Hoewel dit ’n persoonlike besluit is, moet ’n mens onthou dat so ’n reëling die vuurwapen in iemand anders se hande plaas. Wat verwag so iemand van sy wagte tydens ’n roofaanval? Verwag hy dat die wagte die dief, indien nodig, sal skiet om die mense en besittings wat hulle bewaak te beskerm?
Die standpunt wat Christene inneem om towery en wapens te verwerp as middels om hulleself te beskerm, lyk dalk dwaas in die oë van diegene wat God nie ken nie. Die Bybel gee ons egter die versekering: “Hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spreuke 29:25). Hoewel Jehovah sy volk as ’n geheel beskerm, gryp hy nie in elke geval in om sy knegte teen rowers te beskerm nie. Job was ’n besonder getroue man, en tog het God toegelaat dat rowers Job se vee plunder en dat sy dienaars hulle lewe verloor (Job 1:14, 15, 17). God het ook toegelaat dat die apostel Paulus “in gevare van struikrowers” verkeer (2 Korintiërs 11:26). God leer nietemin sy knegte om volgens beginsels te lewe wat die gevaar van roofaanvalle verminder. Hy rus hulle ook met kennis toe wat hulle help om so op roofaanvalle te reageer dat dit die moontlikheid van besering verminder.
Hoe om die gevaar van roofaanvalle te verminder
Die wyse man het lank gelede opgemerk: “Die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie” (Prediker 5:12, NW). Met ander woorde, diegene met baie besittings kan so angstig raak oor die moontlikheid dat hulle hulle besittings kan verloor, dat hulle wakker lê omdat hulle hulle daaroor bekommer.
Een manier waarop ’n mens dus angs sowel as die bedreiging van roofaanvalle kan verminder, is om nie ’n magdom duur besittings te vergaar nie. Die geïnspireerde apostel het geskryf: “Alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld” (1 Johannes 2:16). Dieselfde begeertes wat mense beweeg om duur dinge te koop, beweeg ander om te steel. En ’n “spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” kan ’n uitnodiging wees vir diegene wat wil steel.
Behalwe om ’n onopsigtelike lewe te lei, is dit ook ’n beskerming teen roofaanvalle as jy toon dat jy ’n ware Christen is. As jy liefde aan ander betoon, eerlik is in wat jy doen en bedrywig is in die Christelike bediening kan jy ’n reputasie in julle gemeenskap opbou as ’n goeie persoon wat respek verdien (Galasiërs 5:19-23). So ’n Christelike reputasie kan baie groter beskerming as ’n wapen bied.
Wanneer gewapende rowers toeslaan
Maar wat moet jy doen as rowers dit regkry om in jou huis in te kom en jou konfronteer? Onthou dat jou lewe belangriker as besittings is. Christus Jesus het gesê: “Moenie weerstand bied teen die een wat goddeloos is nie; maar as iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe. En as iemand . . . van jou onderkleed besit wil kry, laat hom ook jou bokleed kry.”—Matteus 5:39, 40.
Dit is wyse raad. Hoewel Christene nie verplig is om misdadigers inligting oor bates te gee nie, is die kanse groter dat rowers gewelddadig sal raak as hulle agterkom dat jy jou verset, nie jou samewerking gee nie of hulle probeer mislei. ‘Aangesien baie van hulle alle sedelikheidsgevoel verloor het’, raak hulle maklik boosaardig en wreed.—Efesiërs 4:19.
Samuel woon in ’n woonstelgebou. Rowers het die ingang tot die gebou versper en die een woonstel na die ander geplunder. Samuel het gehoor hoe geweerskote afgaan, deure stukkend gebreek word en mense skreeu en huil. Dit was onmoontlik om te ontsnap. Samuel het vir sy vrou en drie seuns gesê om op die vloer te kniel, hulle hande in die lug te hou, hulle oë toe te maak en te wag. Toe die rowers instorm, het Samuel met hulle gepraat sonder om op te kyk, want hy het geweet dat hulle dalk sou dink dat hy hulle later sou identifiseer as hy na hulle gesigte gekyk het. “Kom in”, het hy gesê. “Neem net wat julle wil. Julle kan enigiets neem. Ons is Jehovah se Getuies en sal julle nie teëstaan nie.” Die rowers het dit nie verwag nie. In die volgende uur of wat het altesaam 12 gewapende mans in groepe gekom. Hoewel hulle juweliersware, geld en elektroniese toerusting gesteel het, is die gesin nie geslaan of met kapmesse bygekom soos ander in die gebou nie. Samuel se gesin het Jehovah gedank dat hulle lewens gespaar is.
Dit lig die punt toe dat slagoffers van roofaanvalle wat nie weerstand bied wanneer dit by geld of materiële dinge kom nie die moontlikheid dat hulle sal seerkry, kan verminder.a
Soms kan dit ’n Christen teen besering beskerm as hy ’n getuienis gee. Toe rowers in Ade se huis ingekom het, het hy vir hulle gesê: “Ek weet julle kry swaar, en dit is waarom julle hierdie dinge doen. As Jehovah se Getuies glo ons dat almal eendag genoeg kos vir hulleself en hulle gesin sal hê. Almal sal in vrede en geluk onder God se Koninkryk lewe.” Dit het die rowers minder aggressief gemaak. Een van hulle het gesê: “Ons is jammer dat ons na jou huis toe gekom het, maar jy moet verstaan dat ons honger is.” Hoewel hulle Ade se besittings gesteel het, het hy en sy gesin ongedeerd daarvan afgekom.
Bly kalm
Dit is nie maklik om in ’n gevaarlike situasie kalm te bly nie, veral nie wanneer dit die rowers se hoofdoel is om hulle slagoffers so bang te maak dat hulle sal doen wat vir hulle gesê word nie. Gebed sal ons help. Jehovah kan ons hulpgeroep hoor, al doen ons dit sonder om ’n woord te uiter en al is dit kort. Die Bybel gee ons die versekering: “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:16). Jehovah hoor ons en kan ons die wysheid gee om in enige situasie kalm te bly.—Jakobus 1:5.
Iets anders, behalwe gebed, wat jou sal help om kalm te bly, is om vooraf te besluit wat jy sal en nie sal doen nie as jy beroof word. Dit is natuurlik nie moontlik om vooraf te weet in watter situasie jy jou gaan bevind nie. Dit is nogtans goed om beginsels in gedagte te hou, net soos dit verstandig is om veiligheidsprosedures in gedagte te hou ingeval jy in ’n gebou is wat aan die brand raak. Voorsorg help jou om kalm te bly, om nie paniekbevange te raak nie en om besering vry te spring.
God se beskouing van roof is duidelik: “Ek, die HERE, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg” (Jesaja 61:8). Jehovah het sy profeet Esegiël geïnspireer om roof as ’n baie ernstige sonde te beskryf (Esegiël 18:18). Maar dieselfde Bybelboek toon ook dat God die persoon wat berou toon en teruggee wat hy geroof het in sy barmhartigheid sal vergewe.—Esegiël 33:14-16.
Ondanks die feit dat Christene in ’n misdaadgeteisterde wêreld lewe, verheug hulle hulle in die hoop om onder God se Koninkryk te lewe, wanneer roof tot die verlede sal behoort. Die Bybel belowe aangaande daardie tyd: “[God se volk] sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”—Miga 4:4.
’n Roofaanval in Wes-Afrika gedwarsboom
Soos vertel deur Eunice Ebuh
“Gewapende rowers het hulle aanval beplan vir die dag wanneer ons gewoonlik die Gemeentelike Boekstudie in ons huis hou. Ons maak ons hekke wawyd oop vir die broers en susters en belangstellendes. Die rowers het waarskynlik ons gewoontes en vergaderingtye geken. Ons weet vir ’n feit dat hulle ’n motor êrens gesteel het en op die dag en tyd van die boekstudie by ons hek gewag het.
“Toevallig was dit die week van die kringopsiener se besoek. Ons het toe nie by ons huis nie, maar by die Koninkryksaal vergader. Ná die vergadering was daar ’n ouermanvergadering. Gewoonlik sou ek en die kinders huis toe gegaan het, maar my man, wat ’n ouer man is, het gevra dat ons vir hom wag. Hy het gesê dat hy nie lank besig sou wees nie. Ons het dus gewag.
“Toe ontdek ons dat die motor nie wou vat nie. Die kringopsiener en my man kon dit nie regmaak nie. Die motorwerktuigkundige wat ons laat roep het, kon dit ook nie regmaak nie.
“Die kinders moes huis toe loop. Ná ’n rukkie het ek ook huis toe gegaan. Ek het omtrent tienuur daar aangekom. Nie ek of die kinders het met ’n motor ingekom nie, wat sou beteken het dat ons die hekke moes oopmaak.
“Toe ek in die slaapkamer inkom, het ek ’n oorverdowende geweerskoot gehoor. Ek het gewonder wat aan die gang is. Ek het die polisie probeer bel, maar die telefoon was dood. Ek het my ondertoe gehaas en die staaldeur gesluit en toe gehardloop om die middeldeur te sluit. Ek het die ligte afgesit. My kinders het paniekerig geword, en ek het vir hulle gesê om kalm te bly. Ons het saam gebid vir Jehovah se beskerming. Intussen was my man nog by die Koninkryksaal besig om die motor aan die gang te probeer kry.
“Ek het by die venster uitgekyk en ’n man buite die hek in die straat sien lê. Dit het gelyk of die rowers gevlug het, daarom het ek die beseerde man in my motor gehelp en met hom na die hospitaal gehaas. Dit was gevaarlik, maar ek moes iets doen. Maar ongelukkig het hy die volgende dag gesterf.
“Ondanks daardie tragedie kon dinge baie erger gewees het. Die kringopsiener se besoek het beteken dat ons nie die boekstudie in ons huis gehad het nie. Die feit dat die motor gebreek het, het beteken dat ons nie as ’n gesin huis toe gery het nie. My man, wat beslis deur die rowers aangeval sou gewees het, het eers laat by die huis gekom. Hierdie en ander faktore het daardie aand in ons guns getel.
“Jehovah is ons vesting en toevlug. Dit is soos die skrif sê: ‘As die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.’”—Psalm 127:1.
[Voetnote]
a Daar is natuurlik perke wat samewerking betref. Jehovah se knegte gee nie hulle samewerking op enige manier wat God se wet skend nie. ’n Christen sal byvoorbeeld nie gedwee toelaat dat sy verkrag word nie.