Die idee vat pos in Judaïsme, die Christendom en Islam
“Godsdiens help mense onder andere om hulle te berus in die feit dat hulle eendag moet sterf, hetsy deur die belofte van ’n beter lewe anderkant die graf, wedergeboorte of albei.”—GERHARD HERM, DUITSE SKRYWER.
1. Op watter basiese opvatting baseer die meeste godsdienste hulle belofte van lewe ná die dood?
WANNEER ’n belofte van ’n lewe hiernamaals gemaak word, maak feitlik alle godsdienste staat op die opvatting dat ’n mens ’n siel het wat onsterflik is en wat ná die dood na ’n ander ryk gaan of na ’n ander wese verhuis. Soos daar in die vorige deel getoon is, het geloof in menslike onsterflikheid reeds ’n wesenlike deel van Oosterse godsdienste van hulle stigting af uitgemaak. Maar wat van Judaïsme, die Christendom en Islam? Hoe het die leerstelling die kern van hierdie gelowe geword?
Judaïsme neem Griekse konsepte aan
2, 3. Het die Hebreeuse geskrifte, volgens die Encyclopaedia Judaica, geleer dat die siel onsterflik is?
2 Judaïsme kan tot ongeveer 4 000 jaar, tot by Abraham, teruggevoer word. In die 16de eeu v.G.J. is daar begin om die heilige Hebreeuse geskrifte te skryf, en dit is voltooi teen die tyd dat Sokrates en Plato die teorie van die onsterflikheid van die siel ontwikkel het. Het hierdie Geskrifte geleer dat die siel onsterflik is?
3 Die Encyclopaedia Judaica antwoord: “Slegs ná die Bybelse tydperk het ’n duidelike en vaste geloof in die onsterflikheid van die siel ontstaan . . . en een van die hoekstene van die Joodse en Christelike geloof geword.” Dit sê ook: “In die Bybelse tydperk was die persoon as ’n geheel beskou. Die siel was derhalwe nie duidelik van die liggaam onderskei nie.” Die vroeë Jode het in die opstanding van die dooies geglo, en dit “moet onderskei word van die geloof in . . . die onsterflikheid van die siel”, sê daardie ensiklopedie.
4-6. Hoe het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel “een van die hoekstene” van Judaïsme geword?
4 Hoe het die leerstelling dan “een van die hoekstene” van Judaïsme geword? Die geskiedenis verskaf die antwoord. In 332 v.G.J. het Aleksander die Grote ’n groot deel van die Midde-Ooste blitsvinnig verower. By sy aankoms in Jerusalem het die Jode hom met ope arms ontvang. Volgens die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus het hulle selfs vir hom die profesie in die boek Daniël, wat meer as 200 jaar tevore geskryf is, gewys, wat Aleksander se veroweringe in die rol van “die koning van Griekeland” duidelik beskryf (Daniël 8:5-8, 21). Aleksander se opvolgers het met sy plan van vergrieksing voortgegaan en alle dele van die ryk met die Griekse taal, kultuur en filosofie gevul. ’n Vermenging van die twee kulture—die Griekse en die Joodse—was onvermydelik.
5 Vroeg in die derde eeu v.G.J. is daar begin met die eerste vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Grieks, wat die Septuagint genoem is. Daardeur het baie nie-Jode respek vir die Joodse godsdiens opgebou en daarmee vertroud geraak, en party het selfs bekeerlinge geword. Daarenteen het Jode vertroud geraak met Griekse denke, en party het filosowe geword, iets heeltemal nuuts vir hulle. Filo van Aleksandrië, van die eerste eeu G.J., was een van hierdie Joodse filosowe.
6 Filo het hoë agting vir Plato gehad en Judaïsme uit die oogpunt van Griekse filosofie probeer verduidelik. “Deur ’n unieke samestelling van Platoniese filosofie en Bybelse tradisie te vorm”, sê die boek Heaven—A History, “het Filo die weg gebaan vir latere Christen- [sowel as Joodse] denkers.” En wat was Filo se opvatting van die siel? Die boek sê voorts: “Vir hom herstel die dood die siel tot sy oorspronklike, voorgeboortelike toestand. Aangesien die siel tot die geestewêreld behoort, word lewe in die liggaam niks anders nie as ’n kortstondige, dikwels ongelukkige, episode.” Ander Joodse denkers wat aan die onsterflikheid van die siel geglo het, is Isaac Israeli, die bekende 10de-eeuse Joodse geneesheer, en Moses Mendelssohn, ’n Duits-Joodse filosoof van die 18de eeu.
7, 8. (a) Hoe beeld die Talmoed die siel uit? (b) Wat sê latere Joodse mistieke literatuur oor die siel?
7 ’n Boek wat ook ’n groot invloed op Joodse denke en lewe gehad het, is die Talmoed—die geskrewe opsomming van die so genoemde mondelinge wet, met latere kommentare en verduidelikings van hierdie wet, wat deur rabbi’s saamgestel is in die tydperk van die tweede eeu G.J. tot die Middeleeue. “Die rabbi’s van die Talmoed”, sê die Encyclopaedia Judaica, “het in die voortgesette bestaan van die siel ná die dood geglo.” Die Talmoed praat selfs van die dooies wat met die lewendes in aanraking kom. “Waarskynlik as gevolg van die invloed van Platonisme”, sê die Encyclopædia of Religion and Ethics, “het [rabbi’s] geglo aan die vroeëre bestaan van siele.”
8 Latere Joodse mistieke literatuur, die Kabbala, leer selfs reïnkarnasie. Aangaande hierdie opvatting sê The New Standard Jewish Encyclopedia: “Die idee het blykbaar in Indië ontstaan. . . . In die Kabbala kom dit die eerste keer in die boek Bahir voor, en dan, van die Zohar af aan, was dit algemeen deur die mistici aanvaar en het dit ’n belangrike rol in Gasidiese geloof en literatuur gespeel.” Vandag word reïnkarnasie oor die algemeen as ’n Joodse leerstelling in Israel aanvaar.
9. Wat is die standpunt van die meeste groepe onder hedendaagse Judaïsme wat die onsterflikheid van die siel betref?
9 Die idee van die onsterflikheid van die siel het Judaïsme dus deur die invloed van Griekse filosofie binnegedring, en die konsep word vandag deur die meeste groepe daarvan aanvaar. Wat kan gesê word oor hoe die leerstelling die Christendom binnegedring het?
Die Christendom neem Plato se denke aan
10. Tot watter slotsom het ’n vooraanstaande Spaanse geleerde gekom aangaande Jesus se geloof in die onsterflikheid van die siel?
10 Die ware Christelike godsdiens het by Christus Jesus begin. Aangaande Jesus het Miguel de Unamuno, ’n vooraanstaande 20ste-eeuse Spaanse geleerde, geskryf: “Hy het eerder in die opstanding van die vlees geglo, volgens die Joodse manier, en nie in die onsterflikheid van die siel, volgens die [Grieks-]Platoniese manier nie. . . . Die bewyse hiervan kan gesien word in enige eerlike boek van uitleggings.” Hy het afgesluit: “Die onsterflikheid van die siel . . . is ’n heidense filosofiese dogma.”
11. Wanneer het Griekse filosofie op die Christelike godsdiens begin inwerk?
11 Wanneer en hoe het hierdie “heidense filosofiese dogma” in die Christelike godsdiens ingesypel? Die New Encyclopædia Britannica sê: “Van die middel van die 2de eeu AD het Christene wat in Griekse filosofie onderrig is, gemeen dat hulle hulle geloof daarvolgens moet vertolk, vir hulle eie intellektuele bevrediging sowel as om geleerde heidene te bekeer. Die filosofie wat hulle die beste gepas het, was Platonisme.”
12-14. Watter rolle het Origines en Augustinus daarin gespeel om Platoniese filosofie met die Christelike godsdiens saam te smelt?
12 Twee van hierdie vroeë filosowe het ’n groot invloed op die Christendom se leerstellings uitgeoefen. Die een was Origines van Aleksandrië (c. 185-254 G.J.), en die ander Augustinus van Hippo (354-430 G.J.). Aangaande hulle sê die New Catholic Encyclopedia: “Slegs met Origines in die Ooste en St. Augustinus in die Weste is die siel as ’n geestelike werklikheid bevestig en is ’n filosofiese konsep gevorm wat die natuur daarvan betref.” Op grond waarvan het Origines en Augustinus hulle konsepte van die siel gevorm?
13 Origines was ’n leerling van Klemens van Aleksandrië, wat “die eerste van die Vaders was wat die Griekse tradisie oor die siel oorgeneem het net soos dit was”, sê die New Catholic Encyclopedia. Plato se idees van die siel het ’n groot invloed op Origines gehad. “[Origines] het die hele kosmiese drama van die siel, wat hy van Plato oorgeneem het, in die Christelike leerstelling opgeneem”, het die teoloog Werner Jaeger in The Harvard Theological Review gesê.
14 Augustinus word deur party in die Christendom as die grootste denker van die Oudheid beskou. Voordat hy hom op die ouderdom van 33 tot die “Christelike godsdiens” bekeer het, het Augustinus ’n lewendige belangstelling in filosofie gehad en het hy ’n Neo-Platonis geword.a Ná sy bekering het hy in sy denke Neo-Platonies gebly. “Sy verstand was die smeltkroes waarin die godsdiens van die Nuwe Testament geheel en al met die Platoniese tradisie van Griekse filosofie saamgesmelt het”, sê The New Encyclopædia Britannica. Die New Catholic Encyclopedia erken dat Augustinus se “leerstelling [van die siel], wat tot die laat 12de eeu ’n maatstaf in die Weste geword het, grootliks . . . aan Neo-Platonisme ontleen was”.
15, 16. Het 13de-eeuse belangstelling in Aristoteles se leerstellings die standpunt van die kerk oor die leerstelling van die onsterflikheid van die siel verander?
15 In die 13de eeu het die leerstellings van Aristoteles in Europa gewilder begin word, grotendeels omdat die werke van Arabiese geleerdes, wat breedvoerig oor Aristoteles se werke kommentaar gelewer het, in Latyn beskikbaar was. ’n Katolieke geleerde met die naam Thomas van Aquino was diep beïndruk deur die Aristoteliese denke. Weens Aquino se geskrifte het Aristoteles se beskouings ’n groter invloed op die kerkleerstellings uitgeoefen as Plato s’n. Maar hierdie neiging het nie die leerstelling van die onsterflikheid van die siel beïnvloed nie.
16 Aristoteles het geleer dat die siel onafskeidelik verbonde is aan die liggaam en ná die dood nie op sy eie voortbestaan nie en dat, as daar enigiets ewigs in die mens bestaan het, dit abstrakte, niepersoonlike intellek was. Hierdie beskouing van die siel was nie in ooreenstemming met die kerk se beskouing van persoonlike siele wat ná die dood voortleef nie. Daarom het Aquino Aristoteles se beskouing van die siel gewysig en aangevoer dat die onsterflikheid van die siel deur redenering bewys kan word. Sodoende het die geloof van die kerk in die onsterflikheid van die siel ongeskonde gebly.
17, 18. (a) Het die Hervorming van die 16de eeu ’n hervorming van die leerstelling van die siel laat plaasvind? (b) Wat is die standpunt van die meeste denominasies van die Christendom oor die onsterflikheid van die siel?
17 Gedurende die 14de en 15de eeu, die vroeë deel van die Renaissance, het belangstelling in Plato weer opgelewe. Die beroemde Medici-familie in Italië het selfs ’n akademie in Florence help stig om die bestudering van Plato se filosofie te bevorder. Gedurende die 16de en 17de eeu het belangstelling in Aristoteles gekwyn. En die Hervorming van die 16de eeu het nie ’n hervorming van die leerstelling van die siel laat plaasvind nie. Hoewel Protestantse Hervormers kapsie gemaak het teen die leerstelling van die vaevuur, het hulle die idee van ewige straf of beloning aanvaar.
18 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel kom dus algemeen voor in die meeste denominasies van die Christendom. ’n Amerikaanse geleerde wat dit opgemerk het, het geskryf: “Vir die grootste deel van ons eie ras beteken godsdiens eintlik onsterflikheid en niks anders nie. God is die bewerker van onsterflikheid.”
Onsterflikheid en Islam
19. Wanneer is Islam gestig, en deur wie?
19 Islam het begin toe Mohammed op ongeveer 40-jarige ouderdom as ’n profeet geroep is. Moslems glo oor die algemeen dat hy openbarings ontvang het gedurende ’n tydperk van ongeveer 20 tot 23 jaar, van omstreeks 610 G.J. tot sy dood in 632 G.J. Hierdie openbarings is opgeteken in die Koran, die Moslems se heilige boek. Toe Islam gestig is, het die Platoniese konsep van die siel reeds in Judaïsme en die Christendom ingesypel.
20, 21. Wat is die Moslems se beskouing oor die hiernamaals?
20 Moslems glo dat hulle geloof die hoogtepunt van die openbarings is wat aan die getroue Hebreërs en die Christene van die ou tyd gegee is. Die Koran haal uit die Hebreeuse sowel as die Griekse Geskrifte aan. Maar oor die leerstelling van die onsterflikheid van die siel, verskil die Koran van hierdie geskrifte. Die Koran leer dat die mens ’n siel het wat ná die dood voortlewe. Dit praat ook van die opstanding van die dooies, ’n oordeelsdag en die uiteindelike bestemming van die siel—hetsy lewe in ’n hemelse paradystuin of straf in ’n brandende hel.
21 Moslems glo ’n oorledene se siel gaan na die Barzak, of “Versperring”, “die plek of toestand waarin mense ná die dood en voor die Oordeel sal wees” (Soera 23:99, 100, The Holy Qur-an, voetnoot). Die siel is in ’n bewuste toestand en ondervind daar wat die “Straf van die graf” genoem word as die persoon goddeloos was of geniet geluk as hy getrou was. Maar die getroues moet ook ’n mate van lyding ondergaan weens die enkele sondes wat hulle gepleeg het terwyl hulle gelewe het. Op die oordeelsdag staan elkeen voor sy ewige bestemming, wat daardie tussenfase beëindig.
22. Met watter verskillende teorieë aangaande die siel se bestemming het party Arabiese filosowe al vorendag gekom?
22 Die idee van die onsterflikheid van die siel het weens Platoniese invloed in Judaïsme en die Christendom ontstaan, maar die konsep was uit die staanspoor ’n deel van Islam. Dit beteken nie dat Arabiese geleerdes nie Islamitiese leerstellings en Griekse filosofie probeer kombineer het nie. Trouens, die Arabiese wêreld is grootliks deur Aristoteles se werk beïnvloed. En beroemde Arabiese geleerdes, soos Avicenna en Averroës, het Aristoteliese denke verklaar en daarop voortgebou. Maar in hulle pogings om Griekse denke met die Moslem-leerstelling van die siel te versoen, het hulle met verskillende teorieë vorendag gekom. Avicenna het byvoorbeeld verkondig dat die persoonlike siel onsterflik is. Averroës het egter teen daardie beskouing kapsie gemaak. Ten spyte van hierdie beskouings het die onsterflikheid van die siel ’n oortuiging van Moslems gebly.
23. Wat is Judaïsme, die Christendom en Islam se standpunt oor die onsterflikheid van die siel?
23 Dit is dus duidelik dat Judaïsme, die Christendom en Islam almal die leerstelling van die onsterflikheid van die siel leer.
[Voetnoot]
a ’n Aanhanger van Neo-Platonisme, ’n nuwe weergawe van Plato se filosofie wat deur Plotinus in derde-eeuse Rome ontwikkel is.
[Prent op bladsy 14]
Aleksander die Grote se oorwinning het tot die samesmelting van die Griekse en die Joodse kulture gelei
[Prente op bladsy 15]
Origines, bo, en Augustinus het Platoniese filosofie met die Christelike godsdiens probeer versmelt
[Prente op bladsy 16]
Avicenna, bo, het verkondig dat die persoonlike siel onsterflik is. Averroës het teen daardie beskouing kapsie gemaak