Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 4/1 bl. 28-31
  • Baälaanbidding—die stryd om die Israeliete se harte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Baälaanbidding—die stryd om die Israeliete se harte
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was Baäl?
  • Waarom so aanloklik?
  • Hulle het deur aanskouing gewandel, nie deur geloof nie
  • Wie het gewen?
  • Waarskuwende lesse uit Baälaanbidding
  • Handhaaf jou onkreukbaarheid
  • Is alle vorme van aanbidding vir God aanneemlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hy het rein aanbidding verdedig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • ’n Toets op die berg Karmel
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Dit is nou die tyd vir daadwerklike optrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 4/1 bl. 28-31

Baälaanbidding—die stryd om die Israeliete se harte

’n Stryd om die harte van die Israeliete het bykans duisend jaar lank geduur. Bygelowige vrees en seksuele ritusse aan die een kant het in konflik gekom met geloof en lojaliteit aan die ander kant. In hierdie stryd wat tot die dood of lewe sou lei, het Baälaanbidding met die aanbidding van Jehovah gewedywer.

SOU die nasie Israel getrou bly aan die ware God wat hulle uit Egipte gebring het? (Exodus 20:2, 3). Of sou hulle hom verlaat en oorgaan na Baäl, die gunstelinggod van Kanaän, wat belowe het om die land vrugbaar te maak?

Hierdie geestelike stryd, wat duisende jare gelede gevoer is, is vir ons van belang. Waarom? “Hierdie dinge”, het die apostel Paulus geskryf, “is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (1 Korintiërs 10:11). Die onderliggende waarskuwing van hierdie geskiedkundige konflik sal groter betekenis aanneem as ons verstaan wie Baäl was en wat Baälaanbidding behels het.

Wie was Baäl?

Die Israeliete het omstreeks die jaar 1473 v.G.J. in kontak gekom met Baäl toe hulle in Kanaän aangekom het. Hulle het gevind dat die Kanaäniete ’n menigte gode aanbid het wat baie dieselfde was as die gode van Egipte, hoewel hulle ander name en ’n paar ander eienskappe gehad het. Die Bybel sonder Baäl egter uit as die vernaamste god van die Kanaäniete, en argeologiese ontdekkings bevestig sy vernaamheid (Rigters 2:11). Hoewel Baäl nie die hoogste god van hulle godewêreld was nie, was hy die god wat vir die Kanaäniete die meeste beteken het. Hulle het geglo dat hy mag oor die reën, die wind en die wolke het en dat hý alleen die mense—sowel as hulle diere en oeste—van onvrugbaarheid of selfs die dood kon red. Sonder Baäl se beskerming sou Mot, ’n wraaksugtige Kanaänitiese god, beslis rampspoede oor hulle bring.

Baälaanbidding was deurtrek van seksuele ritusse. Selfs die godsdiensvoorwerpe wat in Baälaanbidding gebruik is, soos die heilige klippilare en die heilige boomstamme, het seksuele konnotasies gehad. Die heilige pilare—rotse of uitgekapte klippe in die vorm van ’n falliese simbool—het klaarblyklik Baäl, die manlike element van die geslagsverbintenis, voorgestel. Die heilige boomstamme was daarenteen houtvoorwerpe of bome wat Asjera, Baäl se metgesel en die vroulike element, voorgestel het.—1 Konings 18:19.

Tempelprostitusie en kinderofferandes was ander vername aspekte van Baälaanbidding (1 Konings 14:23, 24, NW; 2 Kronieke 28:2, 3). Die boek The Bible and Archaeology sê: “In die tempels van die Kanaäniete was daar manlike en vroulike prostitute (‘heilige’ mans en vroue), en allerhande seksuele oordadighede is bedryf. [Kanaäniete] het geglo dat hierdie ritusse op die een of ander manier groot oeste en kuddes tot gevolg gehad het.” Dit was altans die godsdienstige regverdiging daarvoor, hoewel sulke onsedelikheid ongetwyfeld die vleeslike begeertes van die aanbidders bevredig het. Hoe het Baäl dan die Israeliete se harte verlei?

Waarom so aanloklik?

Baie Israeliete het moontlik verkies om ’n godsdiens te beoefen wat nie baie van hulle vereis het nie. As hulle Baäl aanbid het, sou hulle nie die Wet hoef te onderhou nie, soos die Sabbat en die talle sedelike beperkings (Levitikus 18:2-30; Deuteronomium 5:1-3). Die materiële voorspoed van die Kanaäniete het ander dalk daarvan oortuig dat Baäl gepaai moes word.

Kanaänitiese heiligdomme, wat die hoogtes genoem is en wat op bosryke bergrante geleë was, het seker ’n mooi agtergrond gevorm vir die vrugbaarheidsritusse wat daar beoefen is. Kort voor lank was die Israeliete nie meer tevrede daarmee om na die Kanaäniete se heilige plekke te gaan nie; hulle het selfs hulle eie gebou. “Hulle het ook vir hulle hoogtes gebou en klippilare en heilige boomstamme op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.”—1 Konings 14:23; Hosea 4:13.

Maar Baälaanbidding was allereers op die bevrediging van vleeslike begeertes gerig (Galasiërs 5:19-21). Die wellustige gebruike is nie net beoefen omdat hulle groot oeste en kuddes wou hê nie. Seks is verheerlik. Dit kan gesien word in die talle beeldjies wat opgegrawe is, met hulle vergrote geslagsorgane wat seksuele prikkeling uitgebeeld het. Die gefuif, gedans en musiek het die regte atmosfeer vir losbandige gedrag geskep.

Ons kan ons ’n tipiese toneel in die vroeë herfs voorstel. Dit speel af in ’n pragtige natuurlike omgewing; nadat die aanbidders hulle aan die kos en wyn vergryp het, begin hulle dans. Hulle vrugbaarheidsdans is bedoel om Baäl wakker te maak uit sy somerrus sodat hy die land met reën kan seën. Hulle dans om en om die falliese klippilare en heilige boomstamme. Die bewegings, veral dié van die tempelprostitute, is wulps en prikkelend. Die musiek en die gehoor spoor hulle aan. En wanneer die dans ’n hoogtepunt bereik, gaan die dansers waarskynlik na die kamers in die huis van Baäl om onsedelike geslagsomgang te hê.—Numeri 25:1, 2; vergelyk Exodus 32:6, 17-19; Amos 2:8.

Hulle het deur aanskouing gewandel, nie deur geloof nie

Hoewel baie deur so ’n seksbehepte vorm van aanbidding aangetrek is, het vrees ook die Israeliete tot Baälaanbidding gedryf. Namate die Israeliete hulle geloof in Jehovah verloor het, het vrees vir die dooies, vrees vir die toekoms en belangstelling in die okkulte daartoe gelei dat hulle spiritisme begin beoefen het, wat die mees verdorwe ritusse ingesluit het. The International Standard Bible Encyclopedia beskryf hoe Kanaäniete die gees van ’n afgestorwene as deel van vooroueraanbidding vereer het: “Feeste . . . is in die familiegraftombe of by grafheuwels gevier met rituele dronkenskap en geslagsomgang (moontlik met bloedverwante) waaraan die afgestorwenes na hulle mening deelgeneem het.” Omdat die Israeliete ’n aandeel aan sulke verlagende spiritistiese gebruike gehad het, het hulle al hoe meer van hulle God, Jehovah, vervreemd geraak.—Deuteronomium 18:9-12.

Afgode—en gepaardgaande ritusse—het ook daardie Israeliete aangetrek wat verkies het om deur aanskouing in plaas van geloof te wandel (2 Korintiërs 5:7). Selfs nadat hulle merkwaardige wonderwerke gesien het wat deur die onsigbare hand van Jehovah verrig is, het baie Israeliete wat Egipte verlaat het, gevoel hulle moes iets sigbaars hê om hulle aan hom te herinner (Exodus 32:1-4). Party van hulle afstammelinge wou eweneens iets sigbaars hê om te aanbid, soos die afgode van Baäl.—1 Konings 12:25-30.

Wie het gewen?

Die stryd om die Israeliete se harte het eeue lank voortgeduur, van die tyd af dat hulle op die vlakte van Moab aangekom het, kort voor hulle die Beloofde Land ingegaan het, tot die tyd dat hulle na Babilon weggevoer is. Dit lyk of eers die een dan die ander aan die wenkant was. Soms het die meeste Israeliete lojaal aan Jehovah gebly, maar hulle het hulle dikwels tot Baäl gekeer. ’n Vername rede hiervoor was hulle omgang met die heidense volke rondom hulle.

Ná die Kanaäniete se militêre nederlaag het hulle met subtieler metodes geveg. Hulle het naby die Israeliete gewoon en hulle veroweraars aangespoor om die gode van die land hulle eie te maak. Moedige rigters soos Gideon en Samuel het hierdie neiging teëgestaan. Samuel het die volk vermaan: “Verwyder dan die vreemde gode . . . en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen.” Die Israeliete het ’n tyd lank op Samuel se vermaning ag geslaan en “die Baäls en die Astartes verwyder en die HERE alleen gedien”.—1 Samuel 7:3, 4; Rigters 6:25-27.

Ná die bewind van Saul en Dawid het Salomo in sy latere jare offerandes aan vreemde gode begin bring (1 Konings 11:4-8). Ander konings van Israel en Juda het dieselfde gedoen en hulle aan Baäl se kant geskaar. Nietemin het getroue profete en konings, soos Elia, Elisa en Josia, die leiding geneem om teen Baälaanbidding te stry (2 Kronieke 34:1-5). Daarbenewens was daar gedurende hierdie hele tydperk in die geskiedenis van Israel individue wat getrou aan Jehovah gebly het. Selfs gedurende die tyd van Agab en Isebel, toe Baälaanbidding hoogty gevier het, was daar seweduisend wat geweier het om ‘voor Baäl te kniel’.—1 Konings 19:18.

Uiteindelik, nadat die Jode uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, word daar nie weer melding gemaak van Baälaanbidding nie. Soos diegene waarvan Esra 6:21 praat, het almal ‘hulle van die onreinheid van die nasies van die land afgesonder om Jehovah, die God van Israel, te soek’.

Waarskuwende lesse uit Baälaanbidding

Hoewel die aanbidding van Baäl al lank nie meer bestaan nie, het daardie Kanaänitiese godsdiens iets met die hedendaagse samelewing in gemeen—die verheerliking van seks. Dit is asof ons omgewing absoluut deurtrek is van versoekings om onsedelik te wees (Efesiërs 2:2). “Ons het ’n stryd teen die onsigbare mag wat hierdie donker wêreld beheer, en geesagente reg vanuit die hoofkwartier van boosheid”, waarsku Paulus.—Efesiërs 6:12, Phillips.

Hierdie “onsigbare mag” van Satan bevorder geslagsonsedelikheid om mense in geestelike slawerny te hou (Johannes 8:34). In vandag se permissiewe samelewing word losbandigheid nie as ’n vrugbaarheidsritus beoefen nie, maar vir selfbevrediging of as ’n manier om te doen wat jou behaag. En die propaganda is net so oorredend. Deur vermaak, musiek en reklame word mense se gedagtes met seksuele boodskappe gevul. God se knegte is nie immuun teen hierdie aanval nie. Trouens, die meeste van dié wat uit die Christengemeente uitgesit word, het voor onsedelikheid geswig. Slegs deur voortdurend hierdie onsedelike invloede te verwerp, sal ’n Christen kuis bly.—Romeine 12:9.

Jong Getuies loop veral gevaar, aangesien baie van die dinge waarin hulle belangstel die klem op seks lê. Om sake te vererger, moet hulle ook nog die invloed van ander jongmense weerstaan wat hulle aanspoor om verkeerd te doen. (Vergelyk Spreuke 1:10-15.) Baie het al in die moeilikheid beland, byvoorbeeld by groot gesellighede. Net soos in Baälaanbidding in die ou tyd is musiek, dans en seksuele aantrekking ’n bedwelmende kombinasie.—2 Timoteus 2:22.

“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou?” het die psalmis gevra. “Deur dit te hou na [Jehovah se] woord”, het hy geantwoord (Psalm 119:9). Net soos God se Wet die Israeliete beveel het om intieme omgang met die Kanaäniete te vermy, so waarsku die Bybel ons ook teen die gevare van slegte assosiasie (1 Korintiërs 15:32, 33). ’n Jong Christen toon sy rypheid wanneer hy nee sê vir dinge wat sy sinne prikkel maar wat hy weet sedelik skadelik is. Soos getroue Elia kan ons nie toelaat dat ons besluite beïnvloed word deur wat gewild is nie.—1 Konings 18:21; vergelyk Matteus 7:13, 14.

Nog ’n waarskuwende les het te doen met ’n gebrek aan geloof, “die sonde wat ons maklik verstrik” (Hebreërs 12:1). Baie Israeliete het blykbaar nog in Jehovah geglo, maar hulle het op Baäl vertrou as die god wat hulle oeste sou beskerm en in hulle daaglikse behoeftes sou voorsien. Hulle het dalk gevoel dat Jehovah se tempel in Jerusalem te ver was en dat dit onprakties was om sy wette te onderhou. Baälaanbidding was so maklik en gerieflik—hulle kon selfs op die dak van hulle huis rook aan Baäl laat opgaan (Jeremia 32:29). Hulle het Baälaanbidding moontlik begin beoefen deur bloot aan van die ritusse deel te neem of selfs deur offerandes in die naam van Jehovah aan Baäl te bring.

Hoe kan ons geloof verswak sodat ons stadig van die lewende God terugtrek? (Hebreërs 3:12). Ons kan geleidelik die waardering verloor wat ons voorheen vir vergaderinge en byeenkomste gehad het. So ’n gesindheid verraai ’n gebrek aan vertroue in Jehovah se voorsiening van geestelike “voedsel op die regte tyd” (Matteus 24:45-47). Aangesien ons dan swakker is, kan ons “greep op die woord van die lewe” verslap of kan ons selfs ’n verdeelde hart ontwikkel, en miskien voor materialistiese strewes of onsedelikheid swig.—Filippense 2:16; vergelyk Psalm 119:113, NW.

Handhaaf jou onkreukbaarheid

Daar bestaan geen twyfel dat ’n stryd om mense se harte vandag gevoer word nie. Sal ons lojaal aan Jehovah bly of beïnvloed word deur die losbandige lewenswyse van hierdie wêreld? Hoe jammer tog dat party hedendaagse Christenmans en -vroue al verlok is om skandelike dade te pleeg, net soos die Israeliete aangetrek is deur die afstootlike Kanaänitiese gebruike.—Vergelyk Spreuke 7:7, 21-23.

So ’n geestelike nederlaag kan vermy word as ons, soos Moses, ‘standvastig bly asof ons die Onsigbare sien’ (Hebreërs 11:27). Ons moet weliswaar ‘hard stry vir die geloof’ (Judas 3). Maar deur lojaal aan ons God en aan sy beginsels te bly, kan ons uitsien na die tyd wanneer valse aanbidding vir ewig iets van die verlede sal wees. Net soos die aanbidding van Jehovah oor Baälaanbidding geseëvier het, so kan ons seker wees dat die aarde binnekort ‘vol sal wees van die kennis van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’.—Jesaja 11:9.

[Prent op bladsy 31]

Ruïnes in Geser van heilige pilare wat in Baälaanbidding gebruik is

[Foto-erkenning op bladsy 28]

Musée du Louvre, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel