Vrae van lesers
Kan ’n Christen sterilisasie as ’n moontlike vorm van geboortebeperking beskou, aangesien dit nou blykbaar op versoek ongedaan gemaak kan word?
Sterilisasie het die algemeenste vorm van geboortebeperking geword. In die geval van baie mense lyk dit of hulle sosiale en opvoedkundige agtergrond, sowel as godsdienstige beskouings die aanvaarbaarheid daarvan bepaal. Vir Jehovah se Getuies is dit hulle godsdiensoortuigings wat vir hulle belangrik is, want hulle voel soos die psalmis gevoel het: “HERE, leer my u weg en lei my op ’n gelyk pad” (Psalm 27:11). Wat behels sterilisasie?
Sterilisasie by mans as geboortebeperking word ’n vasektomie genoem. Twee klein spermbuise in die skrotum word gesny en afgesluit. Dit kan op verskillende chirurgiese maniere gedoen word, maar die doel is om die deurgang van sperm van die testikels af onmoontlik te maak. Sterilisasie by vroue word buisafbinding genoem. Dit word gewoonlik gedoen deur die Fallopiusbuise, waarlangs eierselle van die eierstokke na die baarmoeder beweeg, af te sny en af te bind (of toe te skroei).
Mense het lank gedink dat hierdie stappe permanent was—dat dit onherstelbare sterilisasie teweeggebring het. Maar omdat party mense spyt was oor hulle besluit of hulle omstandighede verander het, het hulle mediese hulp gesoek om ’n vasektomie of buisafbinding ongedaan te maak. Met die ontwikkeling van gespesialiseerde instrumente en mikrochirurgie is pogings om sterilisasie ongedaan te maak meer geslaagd. Dit is nie ongewoon om te lees dat ’n vasektomie in 50 tot 70 persent van gekose kandidate omkeerbaar is deur die afgesnyde punte van die klein buisies weer te verbind nie. Die omkering van buisafbinding by vroue is blykbaar in 60 tot 80 persent van gevalle suksesvol. Sommige wat hiervan gehoor het, meen dat sterilisasie nie meer as iets permanents beskou hoef te word nie. Hulle voel dalk dat ’n vasektomie en buisafbinding in dieselfde kategorie geplaas kan word as mondelikse voorbehoedmiddels, kondome en diafragmas—wat ’n mens kan ophou gebruik indien jy ’n baba wil hê. Maar daar is belangrike faktore wat nie geïgnoreer moet word nie.
Die moontlikheid dat sterilisasie ongedaan gemaak kan word, kan eerstens ernstig belemmer word deur faktore soos die hoeveelheid skade aan buise tydens die sterilisasie, hoeveel van die buis verwyder is of littekens het, die aantal jare wat sedert die operasie verloop het en in die geval van ’n vasektomie, of teenliggaampies teen die man se sperm vervaardig is. Iets anders wat nie geïgnoreer moet word nie, is die feit dat fasiliteite vir mikrochirurgie moontlik nie in baie gebiede beskikbaar is nie of dat dit onbekostigbaar is. Gevolglik sal dit vir talle wat baie graag ’n sterilisasie ongedaan gemaak wil hê nie moontlik wees nie. Vir hulle is dit finaal.a Die bogenoemde syfers vir die omkering van sterilisasie is dus net teoreties, nie betroubare gemiddeldes nie.
’n Paar feite toon die ware toedrag van sake. ’n Artikel oor die omkering van ’n vasektomie wat in die Verenigde State uitgegee is, het gesê dat “slegs 63 persent van pasiënte” ná die operasie van $12-000 (R74 300) “hulle maats swanger kan maak”. Daarbenewens wil slegs “ses persent van die mans wat ’n vasektomie ondergaan uiteindelik ’n omkering hê”. In ’n Duitse studie oor Sentraal-Europa wou ongeveer 3 persent van mans wat besluit het om gesteriliseer te word ’n omkering hê. Selfs as die helfte van hierdie pogings suksesvol was, sou dit daarop neerkom dat ’n vasektomie vir 98,5 persent van die mans permanente sterilisasie beteken het. En die syfer sal hoër wees in lande met min of geen mikrochirurge nie.
Dit is gevolglik onrealisties om sterilisasie by mans of vroue ligtelik op te neem, asof dit tydelike geboortebeperking is. En die opregte Christen moet ook ander faktore in ag neem.
’n Kerngedagte is dat ons voortplantingsvermoë ’n gawe van ons Skepper is. Sy oorspronklike voorneme het voortplanting deur volmaakte mense ingesluit, wat ‘die aarde sou vul en onderwerp’ (Genesis 1:28). Nadat die Vloed die aarde se bevolking tot agt mense verminder het, het God daardie basiese instruksies herhaal (Genesis 9:1). God het nie daardie opdrag aan die nasie Israel herhaal nie, maar Israeliete het groot waarde daaraan geheg om kinders te hê.—1 Samuel 1:1-11; Psalm 128:3.
God se Wet aan Israel het aanduidings van sy respek vir menslike voortplanting bevat. As ’n getroude man byvoorbeeld gesterf het voordat hy ’n seun voortgebring het om sy geslagslyn voort te sit, moes sy broer ’n seun deur ’n swaershuwelik voortbring (Deuteronomium 25:5). Meer tersaaklik was die wet in verband met ’n vrou wat haar man tydens ’n geveg probeer help het. As sy die skaamdele van haar man se opponent gegryp het, moes haar hand afgekap word; dit is betekenisvol dat God nie vereis het dat sy of haar man se voortplantingsorgane op ’n oog-vir-oog-grondslag beskadig word nie (Deuteronomium 25:11, 12). Hierdie wet sou beslis respek vir voortplantingsorgane aanmoedig; dit moes nie onnodig vernietig word nie.b
Ons weet dat Christene nie onder Israel se Wet is nie, en daarom is die voorskrif in Deuteronomium 25:11, 12 nie vir hulle bindend nie. Jesus het nie beveel of geïmpliseer dat sy dissipels moet trou en soveel kinders as moontlik moet hê nie, iets wat baie egpare in ag geneem het toe hulle besluit het of hulle een of ander vorm van geboortebeperking gaan gebruik (Matteus 19:10-12). Die apostel Paulus het wel “jonger weduwees” wat vol hartstog was, aangemoedig om te ‘trou en kinders te baar’ (1 Timoteus 5:11-14). Hy het nie verwys na die permanente sterilisasie van Christene nie—dat hulle hulle voortplantingsvermoë vrywillig opoffer nie.
Dit is goed as Christene sulke aanduidings dat God agting het vir hulle voortplantingsvermoë in aanmerking neem. Elke egpaar moet bepaal of en wanneer hulle gepaste metodes van gesinsbeplanning sal gebruik. Hulle besluit sal natuurlik veral belangrik wees as daar bevestigde mediese versekering is dat ’n toekomstige swangerskap vir die moeder of kind ernstige mediese gevare sal inhou of selfs lewensgevaarlik kan wees. Party wat hulle in hierdie situasie bevind het, het hulle teësinnig laat steriliseer soos vroeër beskryf is om seker te maak dat ’n swangerskap nie die lewe van die moeder (wat moontlik alreeds ander kinders het) of dié van ’n kind, wat dalk later met ’n lewensgevaarlike gesondheidsprobleem gebore sal word, in gevaar sal stel nie.
Maar Christene wat nie so ’n ongewone en besliste gevaar loop nie, sal inderdaad ‘gesonde verstand’ wil gebruik en hulle denke en dade na aanleiding van God se respek vir die voortplantingsvermoë wil vorm (1 Timoteus 3:2; Titus 1:8; 2:2, 5-8). Dit sal toon dat ons ’n volwasse beskouing van skriftuurlike oorwegings het. Maar sê nou dit word in die openbaar bekend dat ’n Christen God se riglyne op onverskillige wyse geïgnoreer het? Sal ander nie twyfel of hy (of sy) ’n goeie voorbeeld is van iemand met die reputasie dat hy (of sy) besluite in ooreenstemming met die Bybel neem nie? So ’n onrusbarende vlek op iemand se reputasie kan natuurlik twyfel laat ontstaan oor ’n bedienaar se kwalifikasies vir spesiale diensvoorregte, hoewel dit nie noodwendig die geval sal wees as iemand hierdie operasie in onkunde laat doen het nie.—1 Timoteus 3:7.
a “Chirurgiese pogings om die [vas deferens] weer te verbind, het ’n slaagsyfer van ten minste 40 persent, en daar is bewyse dat groter sukses met verbeterde mikrochirurgiese tegnieke behaal kan word. Sterilisasie deur middel van ’n vasektomie moet nietemin as permanent beskou word” (Encyclopædia Britannica). “Sterilisasie moet as ’n prosedure beskou word wat nie omkeerbaar is nie. Ongeag wat die pasiënt van omkeringsoperasies gehoor het, herverbinding is duur, en sukses kan nie gewaarborg word nie. Vir vroue wat buissterilisasie ongedaan laat maak, is die risiko van ektopiese swangerskap hoog.”—Contemporary OB/GYN, Junie 1998.
b ’n Ander wet wat ook op hierdie saak van toepassing kan wees, het bepaal dat geen man wie se geslagsdele ernstig beskadig is in God se vergadering kon inkom nie (Deuteronomium 23:1). Insight on the Scriptures sê egter dat dit klaarblyklik “verband gehou het met opsetlike ontmanning vir onsedelike doeleindes, soos homoseksualiteit”. Daardie wet was derhalwe nie op kastrasie of die ekwivalent vir geboortebeperking van toepassing nie. Insight sê ook: “Jehovah het die vertroostende voorspelling gemaak dat die tyd sou aanbreek wanneer hy eunugs as sy knegte sou aanvaar en hulle ’n naam beter as seuns en dogters sou hê as hulle gehoorsaam was. Met die afskaffing van die Wet deur Jesus Christus kon alle mense wat geloof beoefen, ongeag hulle vorige status of toestand, geestelike seuns van God word. Daar is met vleeslike onderskeide weggedoen.—Jes 56:4, 5; Joh 1:12.”