Betoon eer aan ander
“Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—ROMEINE 12:10.
1, 2. (a) Wat moet ons doen om te toon dat ons ootmoedig is? (b) Hoe gebruik die Bybel dikwels die woord “eer”, en wie vind dit makliker om eer te betoon?
ONS vorige artikel het die volgende raad uit God se Woord beklemtoon: “Omgord julle julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Een manier waarop ons ons met ootmoed omgord, is deur altyd eer aan ander te betoon.
2 Die woord “eer” word dikwels in die Bybel gebruik om die respek, agting en bedagsaamheid aan te dui wat ons aan ander moet betoon. Ons eer ander deur goedhartig teenoor hulle te wees, hulle waardigheid te respekteer, na hulle mening te luister en gereed te wees om aan redelike versoeke te voldoen. Diegene wat ootmoedig is, sal dit gewoonlik nie moeilik vind nie. Maar dié met trotse harte sal dit moontlik moeilik vind om opregte eer te betoon en sal dalk eerder probeer om gunste en gawes deur onopregte vleiery te kry.
Jehovah eer mense
3, 4. Hoe het Jehovah aan Abraham eer betoon, en waarom?
3 Jehovah stel self die voorbeeld in eerbetoning. Hy het die mens met wilsvryheid geskep en behandel hulle nie soos blote robotte nie (1 Petrus 2:16). Toe hy byvoorbeeld vir Abraham gesê het dat Sodom weens die verskriklike goddeloosheid daarvan vernietig sou word, het Abraham gevra: “Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring? Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?” Jehovah het geantwoord dat hy die stad ter wille van 50 regverdiges sou spaar. Abraham het toe nederig verder gepleit. Sê nou daar is net 45? 40? 30? 20? 10? Jehovah het Abraham daarvan verseker dat hy Sodom nie sou vernietig as daar selfs net tien regverdiges daarin gevind sou word nie.—Genesis 18:20-33.
4 Jehovah het geweet dat daar nie tien regverdiges in Sodom was nie, en tog het hy aan Abraham eer betoon deur na sy beskouing te luister en hom met respek te behandel. Waarom? Omdat Abraham “geloof in Jehovah gestel [het]; en hy het hom dit as regverdigheid toegereken”. Abraham is “Jehovah se vriend” genoem (Genesis 15:6, NW; Jakobus 2:23). Daarbenewens het Jehovah gesien dat Abraham ander geëer het. Toe daar ’n twis tussen sy veewagters en dié van sy neef Lot oor grond ontstaan het, het Abraham Lot geëer deur hom eerste te laat kies watter gebied hy wou hê. Lot het die gebied gekies wat hy as die beste landstreek beskou het, en Abraham het na ’n ander gebied getrek.—Genesis 13:5-11.
5. Hoe het Jehovah aan Lot eer betoon?
5 Jehovah het op soortgelyke wyse aan die regverdige man Lot eer betoon. Voordat Sodom vernietig is, het hy vir Lot gesê om na ’n bergagtige gebied te vlug. Maar Lot het gesê dat hy nie daarheen wou gaan nie; hy het verkies om na ’n nabygeleë stad, Soar, te gaan, hoewel daardie stad in die gebied was wat vernietig sou word. Jehovah het vir Lot gesê: “Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.” Jehovah het aan die getroue man Lot eer betoon deur te doen wat hy gevra het.—Genesis 19:15-22; 2 Petrus 2:6-9.
6. Hoe het Jehovah aan Moses eer betoon?
6 Toe Jehovah Moses na Egipte teruggestuur het om Sy volk uit slawerny te lei en om vir Farao te sê dat hy Sy volk moet laat uittrek, het Moses geantwoord: “Ag, Here, ek is nie ’n man van woorde nie.” Jehovah het Moses verseker: “Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” Maar Moses het nog steeds gehuiwer. Toe het Jehovah Moses gerusgestel en sy broer, Aäron, saam met hom laat gaan as ’n woordvoerder.—Exodus 4:10-16.
7. Waarom was Jehovah gewillig om aan ander eer te betoon?
7 In al hierdie gevalle het Jehovah sy gewilligheid getoon om aan ander eer te betoon, veral diegene wat hom gedien het. Hoewel dit wat hulle gevra het dalk nie ooreengestem het met wat Jehovah oorspronklik in gedagte gehad het nie, het hy na hulle versoeke geluister en toegewings vir hulle gemaak solank dit nie met sy voorneme gebots het nie.
Jesus het aan ander eer betoon
8. Hoe het Jesus eer betoon aan ’n vrou wat baie siek was?
8 Jesus het Jehovah nagevolg deur aan ander eer te betoon. Eenkeer was daar ’n vrou in die skare wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Dokters kon haar nie genees nie. Onder die Mosaïese Wet is sy as seremonieel onrein beskou en moes sy nie daar gewees het nie. Sy het agter Jesus gekom, sy kleed aangeraak en is genees. Jesus het nie op die tegniese punte van die Wet aangedring en haar berispe vir wat sy gedoen het nie. Hy was bewus van die omstandighede en het eerder aan haar eer betoon deur te sê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”—Markus 5:25-34; Levitikus 15:25-27.
9. Hoe het Jesus aan ’n nie-Jood eer betoon?
9 By ’n ander geleentheid het ’n Fenisiese vrou vir Jesus gesê: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid. My dogter is erg van ’n demoon besete.” Jesus, wat geweet het dat hy na die nasie Israel gestuur is en nie na die nie-Jode nie, het gesê: “Dit is nie reg om die kinders [van Israel] se brood te neem en dit vir hondjies [nie-Jode] te gooi nie.” Die vrou het geantwoord: “Maar die hondjies eet tog van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Toe het Jesus gesê: “O vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou volgens jou wens geskied.” Haar dogter is genees. Jesus het eer aan hierdie nie-Jood betoon weens haar geloof. Selfs sy gebruik van die uitdrukking “hondjies”, en nie wilde honde nie, het die vergelyking versag en sy medelye getoon.—Matteus 15:21-28.
10. Watter kragtige les het Jesus sy dissipels geleer, en waarom was dit nodig?
10 Jesus het sy dissipels deurentyd geleer hoe belangrik dit is om ootmoedig te wees en ander te eer, aangesien hulle nog steeds ’n probleem met die “ek eerste”-gesindheid gehad het. Eenkeer, nadat hulle gestry het, het Jesus gevra: “Waaroor het julle . . . geargumenteer?” Hulle het stilgebly, want “hulle het . . . onder mekaar geargumenteer oor wie die grootste is” (Markus 9:33, 34). Selfs die nag voor Jesus se dood het daar “’n driftige woordewisseling onder hulle ontstaan oor wie van hulle blykbaar die grootste was” (Lukas 22:24). Gedurende die Pasgamaal het Jesus dus “water in ’n kom gegooi en begin om die voete van die dissipels te was”. Wat ’n kragtige les was dit tog! Jesus was die Seun van God, naas Jehovah die hoogste persoon in die ganse heelal. Nietemin het hy sy dissipels ’n belangrike les geleer deur hulle voete te was. Hy het gesê: “Ek het die voorbeeld vir julle gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen.”—Johannes 13:5-15.
Paulus het aan ander eer betoon
11, 12. Wat het Paulus geleer nadat hy ’n Christen geword het, en hoe het hy hierdie les in sy optrede met Filemon toegepas?
11 As ’n navolger van Christus het die apostel Paulus aan ander eer betoon (1 Korintiërs 11:1). Hy het gesê: “Ook het ons nie heerlikheid van mense gesoek nie . . . Inteendeel, ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester” (1 Tessalonisense 2:6, 7). ’n Sogende moeder gee om vir haar kinders. Nadat Paulus ’n Christen geword het, het hy geleer om ootmoedig te wees en aan sy mede-Christene eer te betoon deur hulle met teerheid te behandel. Sodoende het hy ook hulle wilsvryheid gerespekteer, soos toegelig is deur iets wat gebeur het toe hy ’n gevangene in Rome was.
12 ’n Wegloperslaaf met die naam Onesimus het na Paulus se onderrigting geluister. Hy het ’n Christen sowel as Paulus se vriend geword. Die slaaf se eienaar was Filemon, ook ’n Christen, wat in Klein-Asië gewoon het. In ’n brief aan Filemon het Paulus geskryf hoe nuttig Onesimus vir hom was en gesê: “Ek sou hom graag by my wou hou.” Paulus het Onesimus nogtans na Filemon teruggestuur, want hy het geskryf: “Sonder jou toestemming wil ek niks doen nie, sodat jou goeie daad nie onder dwang sal wees nie, maar uit vrye wil.” Paulus het nie misbruik gemaak van die feit dat hy ’n apostel was nie, maar hy het Filemon geëer deur nie te vra of hy Onesimus in Rome kon hou nie. Verder het Paulus Filemon aangespoor om Onesimus te eer en hom “as meer as ’n slaaf, as ’n geliefde broer,” te behandel.—Filemon 13-16.
Eerbetoning in ons dag
13. Wat moet ons volgens Romeine 12:10 doen?
13 God se Woord spoor ons aan: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Dit beteken dat ons die inisiatief moet neem en nie moet wag totdat ander eers aan ons eer betoon nie. “Laat elkeen aanhou om nie sy eie voordeel te soek nie, maar dié van die ander persoon” (1 Korintiërs 10:24; 1 Petrus 3:8, 9). Jehovah se knegte is dus op die uitkyk na geleenthede om eer te betoon aan diegene in die gesinskring, aan mede-Christene in die gemeente en selfs aan diegene buite die gemeente.
14. Hoe betoon ’n man en vrou eer aan mekaar?
14 Die Bybel sê: “Die Christus [is] die hoof van elke man; die man weer is die hoof van die vrou” (1 Korintiërs 11:3). Jehovah stel die man onder verpligting om sy vrou te behandel soos Christus die gemeente behandel het. In 1 Petrus 3:7 word die man beveel om sy vrou “eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike”. Hy kan dit doen deur sy opregte gewilligheid om na sy vrou te luister en deur haar voorstelle in aanmerking te neem (Genesis 21:12). Wanneer ’n besluit geneem moet word waarby daar geen beginsel betrokke is nie, kan hy haar die eerste keuse gee; hy help haar ook en behandel haar goed. Op haar beurt “moet die vrou diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Sy luister na hom, probeer nie altyd haar sin kry nie, verkleineer hom nie of neul nie gedurig nie. Sy toon ootmoed deur nie haar man te probeer oorheers nie, selfs al blink sy bo hom uit op sekere gebiede.
15. Hoe moet bejaardes behandel word, en hoe moet hulle ander behandel?
15 In die Christengemeente is daar sekere persone wat veral eer waardig is, soos die bejaardes. “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer” (Levitikus 19:32). Dit is veral die geval met diegene wat Jehovah al jare lank getrou dien, want “grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spreuke 16:31, NW). Opsieners moet die voorbeeld stel deur aan mede-Christene wat ouer as hulle is die agting te gee wat hulle toekom. Bejaardes moet natuurlik ook jonger persone met respek behandel, veral diegene wat die verantwoordelikheid deel om toesig oor die kudde te hou.—1 Petrus 5:2, 3.
16. Hoe eer ouers en kinders mekaar?
16 Jong persone moet hulle ouers eer: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly.’” Ouers moet op hulle beurt weer hulle kinders eer, want daar word vir hulle gesê om ‘nie hulle kinders te irriteer nie, maar aan te hou om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed’.—Efesiërs 6:1-4; Exodus 20:12.
17. Wie is waardig om “dubbele eer” te ontvang?
17 Eer moet ook betoon word aan diegene wat hard werk om die gemeente te dien: “Laat die ouer manne wat op voortreflike wyse leiding gee dubbele eer waardig geag word, veral dié wat hard werk in woord en onderrigting” (1 Timoteus 5:17). Een manier waarop ons hulle hierdie eer kan betoon, is deur te doen wat Hebreërs 13:17 sê: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig.”
18. Hoe moet ons diegene buite die gemeente behandel?
18 Moet ons aan diegene buite die gemeente eer betoon? Ja. Ons word byvoorbeeld beveel: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Dit is die wêreld se heersers wat deur Jehovah toegelaat word om gesag uit te oefen totdat sy Koninkryk hulle vervang (Daniël 2:44). Daarom moet ons “aan almal [gee] wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; aan hom wat die skatting verlang, die skatting; aan hom wat vrees verlang, sulke vrees; aan hom wat eer verlang, sulke eer” (Romeine 13:7). Ons moet ‘alle soorte mense eer’.—1 Petrus 2:17.
19. Hoe kan ons aan ander “goed doen” en aan hulle eer betoon?
19 Hoewel dit waar is dat ons selfs diegene buite die gemeente moet eer, moet ons let op wat God se Woord beklemtoon: “Laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Die beste manier waarop ons natuurlik aan ander ‘goed kan doen’, is deur hulle bewus te maak van hulle geestelike behoeftes en dit te bevredig (Matteus 5:3). Ons kan dit doen deur dié herinnering van die apostel Paulus te gehoorsaam: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.” Wanneer ons taktvol gebruik maak van elke geleentheid om te getuig en ‘ons bediening ten volle uitvoer’, doen ons nie net aan almal goed nie, maar betoon ons ook eer aan hulle.—2 Timoteus 2:15; 4:5.
Eer Jehovah
20. Wat het met Farao en sy leërs gebeur, en waarom?
20 Jehovah eer sy skepsele. Dit is dus net redelik dat ons hom moet eer (Spreuke 3:9; Openbaring 4:11). Jehovah se Woord sê ook: “Die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees” (1 Samuel 2:30). Toe daar vir Farao van Egipte gesê is om God se volk weg te stuur, het hy hooghartig geantwoord: “Wie is Jehovah, sodat ek sy stem moet gehoorsaam?” (Exodus 5:2, NW). Toe Farao sy leërs gestuur het om die Israeliete te verslaan, het Jehovah die water van die Rooi See vir Israel verdeel. Maar toe die Egiptenaars hulle agternagesit het, het Jehovah die water laat terugvloei. Jehovah “het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp” (Exodus 14:26-28; 15:4). So het Farao tot sy rampspoedige einde gekom omdat hy trots geweier het om Jehovah te eer.—Psalm 136:15.
21. Wat het Jehovah teen Belsasar gehad, en wat was die gevolg?
21 Koning Belsasar van Babilon het geweier om Jehovah te eer. Gedurende ’n drinkparty het hy Jehovah bespot deur wyn te drink uit die heilige goue en silwervoorwerpe wat uit Jerusalem se tempel geneem is. En terwyl hy dit gedoen het, het hy sy heidense gode geprys. Maar Jehovah se kneg Daniël het vir hom gesê: “[U het] u hart nie verneder nie . . . ; maar u het u verhef teen die Here van die hemel.” Daardie selfde nag is Belsasar doodgemaak, en sy koninkryk is van hom weggeneem.—Daniël 5:22–6:1.
22. (a) Waarom het Jehovah se toorn teen die leiers van Israel en hulle volk ontvlam? (b) Aan wie het Jehovah guns betoon, en wat was die gevolg?
22 In die eerste eeu G.J., terwyl koning Herodes ’n openbare toespraak gehou het, het die volk geskreeu: “’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” Die verwaande koning het nie kapsie gemaak nie, maar wou die heerlikheid hê. Daarop “het die engel van Jehovah hom getref, omdat hy nie die heerlikheid aan God gegee het nie” (Handelinge 12:21-23). Herodes het homself geëer, nie Jehovah nie, en hy is met die dood getref. Die godsdiensleiers van daardie tyd het God oneer aangedoen deur saam te sweer om sy Seun, Jesus, om die lewe te bring. Party leiers het geweet dat Jesus die waarheid leer, maar hulle wou hom nie volg nie “want hulle het die heerlikheid van mense meer liefgehad as selfs die heerlikheid van God” (Johannes 11:47-53; 12:42, 43). Die nasie in sy geheel het nie Jehovah of sy aangestelde Verteenwoordiger, Jesus, geëer nie. Gevolglik het Jehovah nie voortgegaan om hulle te eer nie, maar toegelaat dat hulle en hulle tempel vernietig word. Hy het egter diegene wat hom en sy Seun geëer het behoue laat bly.—Matteus 23:38; Lukas 21:20-22.
23. Wat moet ons doen om in God se nuwe wêreld te lewe? (Psalm 37:9-11; Matteus 5:5)
23 Almal wat in God se nuwe wêreld wil lewe nadat hierdie huidige stelsel vernietig is, moet God en sy Seun, Christus Jesus, eer en hulle gehoorsaam (Johannes 5:22, 23; Filippense 2:9-11). Diegene wat nie sulke eer betoon nie, “sal uit die land uitgeroei” word. Daarenteen sal die opregtes wat wel aan God en Christus eer betoon en gehoorsaam is “die land bewoon”.—Spreuke 2:21, 22.
Ter hersiening
◻ Wat beteken dit om aan ander eer te betoon, en hoe het Jehovah dit gedoen?
◻ Hoe het Jesus en Paulus aan ander eer betoon?
◻ Wie is in ons dag waardig om eer te ontvang?
◻ Waarom moet ons Jehovah en Jesus eer?
[Prent op bladsy 17]
Jehovah het aan Abraham eer betoon deur na sy versoek te luister
[Prent op bladsy 18]
In suksesvolle huwelike eer die man en vrou mekaar