Griekse filosofie—Het dit die Christelike godsdiens verryk?
“Hoewel die Christelike godsdiens gekant was teen die heidense Griekse en Romeinse kultuur, het dit in werklikheid baie van die klassieke filosofie opgeneem.”—The Encyclopedia Americana.
ONDER diegene wat ’n kragtige invloed op “Christelike” denke gehad het, het “sint” Augustinus ’n onbetwiste plek. Volgens The New Encyclopædia Britannica was Augustinus se “verstand . . . die smeltkroes waarin die godsdiens van die Nuwe Testament ten volle met die Platoniese tradisie van die Griekse filosofie versmelt is; en dit was ook die middel waardeur die produk van hierdie versmelting oorgedra is aan die Christendom van die middeleeuse Rooms-Katolisisme en Renaissance-Protestantisme”.
Augustinus se nalatenskap is inderdaad blywend. Douglas T. Holden het die mate waarin Griekse filosofie die Christendom beïnvloed het, bespreek en gesê: “Christelike teologie het so verweef geraak met Griekse filosofie dat dit mense voortgebring het met nege dele Griekse denke en een deel Christelike denke.”
Party geleerdes glo vas dat hierdie filosofiese invloed die Christelike godsdiens in sy beginstadium versterk het, sy lering verryk het en dit oortuigender gemaak het. Was dit die geval? Hoe en wanneer het die Griekse filosofie sy invloed laat geld? Het dit werklik die Christelike godsdiens verryk of dit besoedel?
Dit is insiggewend om ’n aantal verwikkelinge wat gedurende die derde eeu v.G.J. tot die vyfde eeu G.J. plaasgevind het na te gaan deur vier vreemde terme te ondersoek: (1) “gehelleniseerde Judaïsme”, (2) “verchristelikte Hellenisme”, (3) “die gehelleniseerde Christelike godsdiens” en (4) “Christelike filosofie”.
“Gehelleniseerde Judaïsme”
Die eerste term, “gehelleniseerde Judaïsme”, is waarlik ’n teenstrydigheid. Die oorspronklike godsdiens van die Hebreërs, wat deur die ware God, Jehovah, ingestel is, moes nie met valse godsdiensidees besoedel word nie (Deuteronomium 12:32; Spreuke 30:5, 6). Maar reg van die begin af is suiwerheid van aanbidding bedreig deur vermenging met die valse godsdiensgebruike en -denke waardeur dit omring was—soos die invloed uit Egiptiese, Kanaänitiese en Babiloniese bronne. Ongelukkig het Israel toegelaat dat sy ware aanbidding erg verdorwe raak.—Rigters 2:11-13.
Eeue later, toe eertydse Palestina in die vierde eeu v.G.J. ’n deel geword het van die Griekse Ryk onder Aleksander die Grote, het hierdie verdorwenheid erger as ooit tevore geword en ’n blywende en skadelike erfenis agtergelaat. Aleksander het Jode vir sy leër gewerf. Die kontak tussen die Jode en hulle nuwe veroweraar het Joodse godsdiensdenke diep beïnvloed. Hellenistiese denke het Judaïstiese opvoeding binnegedring. Die hoëpriester Jason het na bewering in 175 v.G.J. ’n Griekse akademie in Jerusalem gestig om die studie van Homerus te bevorder.
Interessant genoeg, ’n Samaritaan, wat in die tweede helfte van die tweede eeu v.G.J. geskryf het, het Bybelgeskiedenis as gehelleniseerde geskiedenis probeer aanbied. Apokriewe Joodse boeke, soos Judit en Tobias, verwys in werklikheid indirek na Griekse erotiese legendes. ’n Aantal Joodse filosowe het na vore gekom wat Griekse denke met die Joodse godsdiens en die Bybel probeer versoen het.
Die persoon wat die meeste erkenning hiervoor kry, is Filo, ’n Jood van die eerste eeu G.J. Hy het hom die leerstellings van Plato (vierde eeu v.G.J.), die Pitagoreërs en die Stoïsyne toegeëien. Filo se beskouings het ’n groot uitwerking op die Jode gehad. Die Joodse skrywer Max Dimont som hierdie intellektuele insypeling van Griekse denke in die Joodse kultuur op en sê: “Verryk deur Platoniese denke, Aristoteliese logika en die Euklidiese wetenskap het Joodse geleerdes die Tora met nuwe instrumente aangepak. . . . Hulle het begin om Griekse redenasies by Joodse openbaring te voeg.”
Mettertyd het die Romeine die Griekse Ryk oorgeneem en Jerusalem in besit geneem. Dit het die weg vir selfs betekenisvoller veranderinge gebaan. Teen die derde eeu G.J. het die filosofiese en godsdiensleerstellings van denkers wat daarna gestreef het om die idees van Plato te ontwikkel en saam te vat ’n definitiewe vorm aangeneem, en dit staan vandag gesamentlik as Neo-Platonisme bekend. Hierdie denkrigting sou beslis ’n diepgaande uitwerking op die afvallige Christelike godsdiens hê.
“Verchristelikte Hellenisme”
Gedurende die eerste vyf eeue van ons gewone jaartelling het sekere intellektuele probeer toon dat daar ’n verband is tussen Griekse filosofie en die geopenbaarde waarheid van die Bybel. Die boek A History of Christianity sê: “Christelike metafisici het die Grieke in die dekades voor Christus uitgebeeld as mense wat dapper maar blindelings kennis van God probeer opdoen het, wat Jesus as ’t ware uit die niet te voorskyn probeer roep het, wat die Christelike godsdiens uit hulle leë heidense denke probeer versin het.”
Plotinus (205-270 G.J.), ’n voorganger van sulke denkers, het ’n stelsel ontwikkel wat hoofsaaklik op Plato se teorie van idees gegrond was. Plotinus het die konsep van ’n siel wat apart is van die liggaam bekendgestel. Professor E. W. Hopkins het van Plotinus gesê: “Sy teologie . . . het ’n groot invloed op die leiers van die Christelike denkrigting gehad.”
“Die gehelleniseerde Christelike godsdiens” en “Christelike filosofie”
Van die tweede eeu G.J. af het “Christen”-denkers ’n doelgerigte poging aangewend om die heidense intellektuele te bereik. Ten spyte van die apostel Paulus se duidelike waarskuwing teen “die leë praatjies wat skend wat heilig is” en “die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’”, het sulke onderrigters hulle leringe met filosofiese elemente uit die omringende Hellenistiese kultuur afgerond (1 Timoteus 6:20). Die voorbeeld van Filo het skynbaar getoon dat dit dalk moontlik is om die Bybel met Platoniese idees te versoen.—Vergelyk 2 Petrus 1:16.
Dit was natuurlik Bybelwaarheid wat eintlik in die slag gebly het. “Christen”-onderrigters het probeer wys dat die Christelike godsdiens met Grieks-Romeinse humanisme ooreengestem het. Klemens van Aleksandrië en Origines (tweede en derde eeu G.J.) het Neo-Platonisme die grondslag gemaak van wat “Christelike filosofie” geword het. Ambrosius (339-397 G.J.), die biskop van Milaan, het “die jongste Griekse geleerdheid aangeneem, Christelik sowel as heidens—veral die werke . . . van die heidense Neo-Platonis Plotinus”. Hy het geleerde Latyne van ’n klassieke weergawe van die Christelike godsdiens probeer voorsien. Augustinus het dieselfde gedoen.
’n Eeu later het Dionisius die Areopagiet (ook pseudo-Dionisius genoem), moontlik ’n Siriese monnik, Neo-Platoniese filosofie met “Christelike” teologie probeer verenig. Volgens een ensiklopedie het sy “geskrifte ’n groot gedeelte van die middeleeuse Christelike leerstellings en geestelikheid in ’n besliste Neo-Platoniese rigting gestuur . . . wat fasette van die godsdienstige karakter daarvan tot die huidige tyd vasgestel het”. Watter skreiende minagting van die apostel Paulus se waarskuwing teen “die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense”!—Kolossense 2:8.
Verderwende besoedeling
Daar is al opgemerk dat “die Christen-Platoniste die grootste waarde aan openbaring geheg het en die Platoniese filosofie as die beste beskikbare instrument beskou het om die leerstellings van die Skrif en kerktradisie te verstaan en te verdedig”.
Plato self was oortuig dat ’n onsterflike siel bestaan. Dit is betekenisvol dat een van die opvallendste valse leerstellings wat in “Christelike” teologie ingesluip het dié van die onsterflikheid van die siel is. Die aanneming van hierdie leerstelling kan geensins geregverdig word deur die feit dat die aanneming daarvan die Christelike geloof vir die volksmassa aanvaarbaarder gemaak het nie. Toe die apostel Paulus die predikingswerk in Atene, die hartjie van die Griekse kultuur, gedoen het, het hy nie die Platoniese leerstelling van die siel vir mense geleer nie. Hy het eerder die Christelike leerstelling van die opstanding verkondig, selfs al het baie van sy Griekse toehoorders dit moeilik gevind om wat hy gesê het te aanvaar.—Handelinge 17:22-32.
In teenstelling met Griekse filosofie toon die Skrif duidelik dat die siel nie iets is wat ’n mens het nie, maar iets is wat hy is (Genesis 2:7). By die dood hou die siel op bestaan (Esegiël 18:4). Prediker 9:5 sê vir ons: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.” Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel word nie in die Bybel geleer nie.
Nog ’n misleidende leerstelling het te doen met die posisie van die voormenslike Jesus, die idee dat hy gelyk was aan sy Vader. Die boek The Church of the First Three Centuries verduidelik: “Die Drie-eenheidsleer . . . het uit ’n heeltemal ander bron ontstaan as dié van die Joodse en Christelike Geskrifte.” Wat was daardie bron? Die leerstelling het “danksy die Platoniese Vaders ontwikkel en is deur hulle op die Christelike godsdiens oorgeplant”.
Trouens, die Kerkvaders is mettertyd al hoe meer deur Neo-Platonisme beïnvloed, en die Trinitariërs het grond gewen. Derde-eeuse Neo-Platoniese filosofie het hulle skynbaar in staat gestel om die onversoenbare te versoen—om ’n drievoudige God soos een God te laat voorkom. Deur filosofiese redenasies het hulle beweer dat drie persone een God kon wees terwyl hulle hulle individualiteit behou!
Maar die waarheid van die Bybel toon duidelik dat Jehovah alleen die Almagtige God is, dat Jesus Christus Sy ondergeskikte, geskape Seun is en dat die heilige gees Sy werkende krag is (Deuteronomium 6:4; Jesaja 45:5; Handelinge 2:4; Kolossense 1:15; Openbaring 3:14). Die Drie-eenheidsleerstelling doen die enigste ware God oneer aan en verwar mense, wat hulle laat wegdraai van ’n God wat hulle nie kan verstaan nie.
Nog ’n slagoffer van die Neo-Platoniese invloed op Christelike denke was die skriftuurlike millenniumhoop (Openbaring 20:4-6). Origines was bekend vir sy veroordeling van millenialiste. Waarom was hy so gekant teen hierdie gegronde Bybelse leerstelling van Christus se duisendjarige heerskappy? The Catholic Encyclopedia antwoord: “In die lig van die Neo-Platonisme waarop sy leerstellings gebaseer was . . . kon [Origines] nie die kant van die millenialiste kies nie.”
Die waarheid
Nie een van die bogenoemde verwikkelinge het enigiets met die waarheid te doen gehad nie. Hierdie waarheid is die Christelike leer in sy geheel soos dit in die Bybel gevind word (2 Korintiërs 4:2; Titus 1:1, 14; 2 Johannes 1-4). Die Bybel is die enigste bron van waarheid.—Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16.
Maar die vyand van Jehovah, van die waarheid, van die mensdom en van die ewige lewe—Satan die Duiwel, die “mensemoordenaar” en die “vader van die leuen”—het ’n verskeidenheid slinkse maniere gebruik om daardie waarheid te vervals. (Johannes 8:44; vergelyk 2 Korintiërs 11:3.) Van die kragtigste instrumente wat hy gebruik het, is die leerstellings van heidense Griekse filosowe—wat eintlik ’n weerspieëling van sy eie denke is—in ’n poging om die inhoud en aard van die Christelike leer te wysig.
Hierdie onnatuurlike vermenging van die Christelike leer met Griekse filosofie is ’n poging om Bybelwaarheid af te water, wat die krag daarvan laat afneem en dit minder aantreklik maak vir die ootmoediges, opregtes en ontvanklike waarheidsoekers (1 Korintiërs 3:1, 2, 19, 20). Dit is ook geneig om die suiwerheid van glashelder Bybelleerstellings te besoedel, sodat die onderskeid tussen waarheid en onwaarheid vaag lyk.
Onder leiding van die Hoof van die gemeente, Jesus Christus, is die ware Christelike leer vandag herstel. Opregte waarheidsoekers kan ook baie maklik die ware Christengemeente aan sy vrugte identifiseer (Matteus 7:16, 20). Jehovah se Getuies is gewillig en gretig om sulke persone te help om die onvervalste waters van waarheid te vind en ’n stewige houvas op die erfenis van die ewige lewe te kry wat deur ons Vader, Jehovah, aangebied word.—Johannes 4:14; 1 Timoteus 6:19.
[Prent op bladsy 11]
Augustinus
[Foto-erkennings op bladsy 10]
Griekse teks: Uit die boek Ancient Greek Writers: Plato’s Phaedo, 1957, Ioannis N. Zacharopoulos, Atene; Plato: Musei Capitolini, Roma