Jehovah was nog altyd my rots
SOOS VERTEL DEUR EMMANUEL LIONOUDAKIS
My ma het gefrons en vir my gesê: “As jy by jou besluit bly, sal jy hierdie huis moet verlaat.” Ek het besluit om God se Koninkryk voltyds te verkondig. Maar my gesin kon die vernedering wat my herhaalde inhegtenisnemings oor hulle gebring het nie meer verdra nie.
MY OUERS was nederig en godvresend. Hulle het in die dorpie Douliana, in die westelike deel van die Griekse eiland Kreta gewoon, waar ek in die jaar 1908 gebore is. Van my jeug af het hulle my geleer om God te vrees en te eerbiedig. Ek was nog altyd lief vir God se Woord, hoewel ek nooit ’n Bybel in die hande van onderwysers of Grieks-Ortodokse priesters gesien het nie.
Nadat ’n buurman ses dele van Studies in the Scriptures, deur C. T. Russell, en die boek Die harp van God gelees het, het hy my entoesiasties vertel van die verrassende skriftuurlike inhoud daarvan. Daardie boeke is uitgegee deur die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Ek was verheug om ’n Bybel en boeke by die Wagtoringgenootskap se kantore in Atene te kry. Ek onthou nog hoe ek tot laat in die nag saam met daardie buurman opgebly het, tot Jehovah gebid en by kerslig die Skrif met behulp van daardie publikasies ondersoek en gedagtes daaruit ingedrink het.
Ek was 20 jaar oud en ’n skoolonderwyser in ’n nabygeleë dorpie toe ek my nuutgevonde Bybelkennis aan ander begin meedeel het. Weldra het vier van ons gereeld vergaderinge vir Bybelstudie in Douliana gehou. Ons het ook traktate, boekies, boeke en Bybels versprei om ander mense te help om van die enigste hoop vir die mensdom, die Koninkryk van God, te leer.
In 1931 was ons onder die duisende wat regoor die aarde die Bybelse naam Jehovah se Getuies aangeneem het (Jesaja 43:10, NW). Gedurende die volgende jaar het ons aan ’n inligtingsveldtog deelgeneem om ons nuwe naam en die betekenis daarvan aan die owerhede te verduidelik. Dit het behels dat ons ’n boekie hieroor vir elke priester, regter, polisieman en sakeman in ons omgewing gee.
Soos ons verwag het, het die geestelikes ’n vlaag van vervolging aangestig. Die eerste keer toe ek in hegtenis geneem is, is ek tot 20 dae tronkstraf gevonnis. Kort nadat ek vrygelaat is, is ek weer in hegtenis geneem en tot een maand tronkstraf gevonnis. Toe ’n regter daarop aandring dat ons ophou getuig, het ons met die woorde van Handelinge 5:29 geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” Later, in 1932, het ’n verteenwoordiger van die Wagtoringgenootskap ons klein groepie in Douliana besoek, en al vier van ons is gedoop.
Ek vind ’n geestelike gesin
Omdat dit my begeerte was om meer in die predikingswerk te doen, het ek uit my onderwyspos bedank. Dit was vir my ma een te veel. Sy het my beveel om die huis te verlaat. Met die goedkeuring van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Atene het ’n gasvrye Christenbroer in die stad Iráklion, Kreta, my met oop arms in sy huis ontvang. In Augustus 1933 het die broers van my tuisdorp, sowel as ’n paar belangstellendes, dus na die bushalte gekom om my af te sien. Dit was ’n baie hartroerende oomblik, en ons het almal gehuil, aangesien ons nie seker was wanneer ons mekaar weer sou sien nie.
In Iráklion het ek deel van ’n liefdevolle geestelike gesin geword. Daar was drie ander Christenbroers en een -suster saam met wie ons gereeld vir studie en aanbidding bymekaargekom het. Ek het persoonlik die vervulling van Jesus se belofte ondervind: “Niemand het huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of landerye ter wille van my en ter wille van die goeie nuus verlaat nie, of hy sal nou in hierdie tydperk honderdvoudig kry: huise en broers en susters en moeders” (Markus 10:29, 30). Dit was my toewysing om die predikingswerk in daardie stad en in die nabygeleë dorpies te doen. Nadat ek die stad deurgewerk het, het ek in die gebiede om Iráklion en Lasithion gaan werk.
’n Eensame pionier
Ek het baie ure daaraan bestee om van die een dorpie na die ander te stap. Wat meer is, ek moes ’n hele paar kilogram lektuur saamdra, aangesien lektuurbesendings nie gereeld gekom het nie. Omdat ek geen slaapplek gehad het nie, het ek na ’n koffiehuis in die dorpie gegaan, gewag totdat die laaste klant weg is—gewoonlik ná middernag—op ’n bank geslaap en baie vroeg die volgende oggend opgestaan voordat die eienaar weer drankies begin bedien het. ’n Hele paar vlooie het daardie banke met my gedeel.
Hoewel die mense my gewoonlik baie koud ontvang het, was ek bly dat ek my jeugdige krag vir Jehovah kon gee. Wanneer ek iemand gevind het wat in Bybelwaarheid belangstel, het dit my weer van nuuts af vasbeslote gemaak om hierdie lewensreddende bediening voort te sit. Omgang met my geestelike broers was ook verkwikkend. Ek het hulle gesien nadat ek 20 tot 50 dae weg was, na gelang van hoe ver ek van die stad Iráklion af die predikingswerk gedoen het.
Ek onthou nog baie goed hoe eensaam ek een middag gevoel het, veral toe ek daaraan dink dat my Christenbroers en -susters in Iráklion daardie aand hulle gereelde vergadering sou hê. My begeerte om hulle te sien, was so sterk dat ek besluit het om die meer as 25 kilometer wat daar tussen ons was te voet af te lê. Ek het nog nooit so vinnig geloop nie. Hoe bemoedigend was dit tog om daardie aand die aangename omgang van my broers te geniet en om as ’t ware my geestelike reserwe weer op te bou!
Kort voor lank het my inspanning in die predikingswerk vrugte begin afwerp. Soos in die dae van die apostels ‘het Jehovah voortgegaan om dié wat gered word by ons te voeg’ (Handelinge 2:47). Die aantal aanbidders van Jehovah in Kreta het begin toeneem. Namate ander by my in die bediening aangesluit het, het ek nie meer alleen gevoel nie. Ons het fisiese ontberinge en hewige teenstand verduur. Ons daaglikse voedsel was brood, wat aangevul is met eiers, olywe of groente wat ons in ruil kon kry vir die lektuur wat ons gelaat het by diegene vir wie ons getuig het.
In die dorp Ierápetra, in die suidoostelike deel van Kreta, het ek vir Minos Kokkinakis, ’n materiaalhandelaar, getuig. Ondanks herhaalde pogings om ’n Bybelstudie met hom te begin, het hy weens sy besige lewenswyse min tyd gehad. Maar toe hy uiteindelik besluit het om sy studie ernstig op te neem, het hy ingrypende veranderinge in sy lewe aangebring. Hy het ook ’n baie ywerige en bedrywige verkondiger van die goeie nuus geword. Emmanuel Paterakis, ’n 18-jarige werknemer van Kokkinakis, was beïndruk deur daardie veranderinge, en hy het weldra Bybellektuur gevra. Hoe bly was ek tog om te sien hoe goed hy geestelik vorder en uiteindelik ’n sendeling word!a
Intussen het die gemeente in my tuisdorpie bly groei en was hulle nou 14 verkondigers. Ek sal nooit die dag vergeet toe ek ’n brief van my vleeslike suster, Despina, gelees het wat gesê het dat sy en my ouers die waarheid aangeneem het en nou gedoopte aanbidders van Jehovah was nie!
Ek verduur vervolging en ballingskap
Die Grieks-Ortodokse Kerk het ons predikingswerk as ’n plaag van verwoestende sprinkane begin beskou, en hulle was vasbeslote om ons werk heeltemal stop te sit. In Maart 1938 is ek voor die staatsaanklaer gebring, wat my beveel het om die gebied onmiddellik te verlaat. Ek het geantwoord dat ons predikingswerk eintlik voordelig is en dat ons ons werkopdrag van ’n hoër gesag, ons koning Jesus Christus, ontvang het.—Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8.
Die volgende dag is ek na die plaaslike polisiekantoor ontbied. Daar is ek ingelig dat ek as ’n openbare gevaar bestempel is, en ek is tot een jaar ballingskap op die Egeïese eiland Amorgós gevonnis. Ná ’n paar dae is ek in boeie per boot na daardie eiland toe geneem. Daar was geen ander Getuies van Jehovah op Amorgós nie. Stel jou my verbasing voor toe ek, ná ses maande, uitvind dat ’n ander Getuie na die eiland verban is! En wie was dit toe? Minos Kokkinakis, my Bybelstudent van Kreta. Hoe bly was ek tog om ’n geestelike metgesel te hê! ’n Rukkie later het ek die voorreg gehad om hom in die waters van Amorgós te doop.b
Kort nadat ek na Kreta teruggekeer het, is ek weer in hegtenis geneem, en hierdie keer is ek ses maande lank na die dorpie Neápolis op hierdie eiland verban. Ná my ses maande lange ballingskap is ek in hegtenis geneem, tien dae in die tronk gesit en toe vir vier maande na ’n eiland gestuur wat vir verbanne Kommuniste gebruik is. Ek het besef hoe waar die woorde van die apostel Paulus is: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.”—2 Timoteus 3:12.
Vermeerdering ondanks teenstand
Met die Duitse besetting van Griekeland gedurende 1940-44 het ons predikingswerk byna tot ’n stilstand gekom. Maar Jehovah se volk in Griekeland is vinnig weer georganiseer, en ons het ons predikingswerk opnuut begin. Ons het die verlore tyd probeer inhaal deur die Koninkrykswerk ywerig voort te sit.
Soos ons verwag het, het godsdiensteenstand weer opgevlam. Grieks-Ortodokse priesters het heel dikwels eie reg gebruik. In een van die dorpies het ’n priester ’n oproerige skare teen ons opgestook. Die priester self het my begin slaan terwyl sy seun my ook van agter af geslaan het. Ek het na ’n huis daar naby gehardloop vir beskerming, terwyl my metgesel na die openbare plein van die dorpie gesleep is. Daar het die oproerige skare sy lektuur opgeskeur en ’n vrou het van haar balkon af bly skreeu: “Maak hom dood!” Eindelik het ’n dokter en ’n polisieman wat verbygekom het ons kom help.
Later, in 1952, is ek weer in hegtenis geneem en tot vier maande ballingskap gevonnis, wat ek in Kastelli Kissamos, Kreta, uitgedien het. Onmiddellik daarna het ek opleiding ontvang om die gemeentes te besoek en geestelik op te bou. Nadat ek twee jaar in hierdie soort reisende werk deurgebring het, is ek getroud met ’n getroue Christensuster, met die naam Despina, soos my vleeslike suster, wat ’n lojale aanbidder van Jehovah gebly het. Ná ons troue is ek as ’n spesiale pionier na die dorp Hania, Kreta, gestuur, waar ek nog steeds dien.
Gedurende byna 70 jaar van voltydse diens het ek die grootste deel van Kreta gedek—’n eiland van 8 300 vierkante kilometer wat ongeveer 250 kilometer lank is. Dit het my die grootste vreugde verskaf om te sien hoe die handjievol Getuies op hierdie eiland in die dertigerjare vermeerder het sodat daar vandag meer as 1 100 bedrywige verkondigers van God se Koninkryk is. Ek dank Jehovah dat hy my die geleentheid gegee het om baie van hulle te help om juiste kennis uit die Bybel op te doen en ’n wonderlike hoop vir die toekoms te verkry.
Jehovah, “my redder”
Ek het uit ondervinding geleer dat dit volharding en geduld verg om mense te help om die ware God te leer ken. Jehovah voorsien hierdie uiters nodige eienskappe mildelik. Gedurende my 67 jaar van voltydse diens het ek herhaaldelik nagedink oor die woorde van die apostel Paulus: “In elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan: deur baie te verduur, deur verdrukkinge, deur gevalle van nood, deur moeilikhede, deur slae, deur gevangenisse, deur oproere, deur arbeid, deur slapelose nagte, deur tye sonder voedsel” (2 Korintiërs 6:4, 5). Veral gedurende my vroeë jare van diens was my finansiële situasie benard. Maar Jehovah het my en my gesin nooit in die steek gelaat nie. Hy is ’n betroubare en magtige Helper (Hebreërs 13:5, 6). Ons het nog altyd sy liefdevolle hand gesien in die insameling van sy skape en in die manier waarop hy in ons behoeftes voorsien het.
Wanneer ek terugkyk en ek sien dat die woestyn in geestelike sin bloei, is ek daarvan oortuig dat my werk nie tevergeefs was nie. Ek het my jeugdige krag op die nuttigste manier gebruik. My loopbaan in die voltydse diens was sinvoller as enige ander strewe. Noudat ek gevorderd is in jare, kan ek jonger mense heelhartig aanmoedig om ‘aan hulle Skepper te dink in die dae van hulle jonkheid’.—Prediker 12:1.
Al is ek nou 91 jaar oud, kan ek nog steeds elke maand meer as 120 uur in die predikingswerk deurbring. Ek staan elke oggend om 7:30 op en getuig vir mense op straat, in winkels of in parke. Ek versprei elke maand gemiddeld 150 tydskrifte. Gehoor- en geheueprobleme maak die lewe nou vir my moeilik, maar my liefdevolle geestelike broers en susters—my groot geestelike gesin—sowel as die gesinne van my twee dogters is werklik ’n groot hulp.
Bowenal het ek geleer om my vertroue in Jehovah te stel. Hy was nog altyd “my rots en my bergvesting en my redder”.—Psalm 18:3.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 1 November 1996, bladsye 22-7, vir die lewensverhaal van Emmanuel Paterakis.
b Sien Die Wagtoring van 1 September 1993, bladsye 27-31, vir ’n regsoorwinning waarby Minos Kokkinakis betrokke was. Minos Kokkinakis het in Januarie 1999 gesterf.
[Prente op bladsy 26, 27]
Onder: Saam met my vrou; links: in 1927; volgende bladsy: saam met Minos Kokkinakis (links) en ’n ander Getuie by die Akropolis, 1939, kort ná my terugkeer uit ballingskap