Ons soeke na ’n langer lewe
“Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos ’n blom en verwelk; ook vlug hy soos ’n skaduwee en hou nie stand nie.”—Job 14:1, 2.
SELFS vandag sou min mense hierdie gedagte oor die kortstondigheid van die lewe weerspreek, hoewel dit ongeveer 3 500 jaar gelede geskryf is. Dit was nog altyd vir mense onbevredigend om ’n kort rukkie die bloei van die lewe te geniet en dan oud te word en te sterf. Derhalwe is baie metodes om die lewe te verleng deur die geskiedenis heen op die proef gestel.
In Job se tyd het die Egiptenare die testikels van diere geëet in ’n vergeefse poging om weer jonk te word. Een van die hoofdoelwitte van Middeleeuse alchemie was om ’n elikser te vervaardig wat ’n langer lewe moontlik kon maak. Baie alchemiste het geglo dat goud wat kunsmatig vervaardig is onsterflikheid sou meebring en dat ’n mens jou lewe kon verleng deur uit ’n goue bord te eet. Eertydse Chinese Taoïste het gedink dat hulle deur middel van tegnieke soos meditasie, asemhalingsoefeninge en dieet die liggaam se chemiese samestelling kon verander en sodoende onsterflikheid kon verkry.
Die Spaanse ontdekkingsreisiger Juan Ponce de León is bekend vir sy eindelose soeke na die fontein van jeug. ’n Agtiende-eeuse dokter het in sy boek Hermippus Redivivus aanbeveel dat jong maagde in die lente in ’n klein kamertjie gehou word en dat die lug wat hulle uitasem in bottels opgevang word en dan gebruik moet word om die lewe te verleng. Al hierdie pogings was natuurlik tevergeefs.
Vandag, sowat 3 500 jaar nadat Moses Job se stelling neergeskryf het, het die mens al op die maan geloop, motors en die rekenaar uitgevind en die atoom en die sel ondersoek. Maar ondanks al hierdie tegnologiese vooruitgang is ons nog steeds “kort van dae en sat van onrus”. In ontwikkelde lande het die lewensverwagting weliswaar gedurende die laaste eeu geweldig toegeneem. Maar dit is hoofsaaklik as gevolg van verbeterde gesondheidsorg, doeltreffender higiëniese maatreëls en beter voeding. Van die middel van die 19de eeu tot die begin van die 1990’s het die gemiddelde lewensduur in Swede byvoorbeeld gestyg van 40 tot 75 jaar vir mans en van 44 tot 80 jaar vir vroue. Maar beteken dit dat die mens se drang om langer te lewe bevredig is?
Nee, want selfs al lewe meer mense in party lande baie langer is die woorde wat Moses jare gelede geskryf het nog steeds van toepassing: “Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; . . . want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10). Sal ons in die nabye toekoms ’n verandering sien? Sal die mens aansienlik langer kan lewe? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.