Die Apokalips—Moet ons dit vrees of ons hoop daarop vestig?
“Apokalips is vandag nie bloot ’n Bybelse beskrywing nie, maar het ’n besliste moontlikheid geword.”—Javier Pérez de Cuéllar, die voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies.
HIERDIE gebruik van die woord “apokalips” deur ’n vername wêreldfiguur weerspieël die manier waarop die meeste mense dit verstaan en sien dat dit in rolprente en boektitels, tydskrifartikels en koerantberigte gebruik word. Dit roep beelde op van ’n kosmiese ramp. Maar wat beteken die woord “apokalips” werklik? En nog belangriker, wat is die boodskap wat die Bybelboek met die naam Apokalips, of Openbaring, bevat?
Die woord “apokalips” kom van ’n Griekse woord wat “ontsluiering” of “onthulling” beteken. Wat is in die Bybelse Openbaring onthul of geopenbaar? Was dit uitsluitlik ’n oordeelsboodskap, ’n voorbode van uitwissing sonder enige oorlewendes? Toe die geskiedskrywer Jean Delumeau, ’n lid van die Institut de France, gevra is wat hy van die Apokalips dink, het hy gesê: “Dit is ’n boek van vertroosting en hoop. Mense het die inhoud daarvan gedramatiseer deur die aandag op die rampspoedige gebeure daarin te vestig.”
Die vroeë Kerk en die Apokalips
Wat was die vroeë “Christene” se beskouing van die Apokalips en die hoop wat dit bied op die Duisendjarige Heerskappy (Millennium) van Christus oor die aarde? Dieselfde geskiedskrywer het gesê: “Dit lyk vir my of Christene van die eerste paar eeue oor die algemeen millennialisme aangeneem het. . . . Van die Christene van die vroeë eeue wat aan die Millennium geglo het, was hoofsaaklik Papias, biskop van Hiërapolis in Klein-Asië, . . . sint Justinus, wat in Palestina gebore is en omstreeks 165 in Rome ’n marteldood gesterf het, sint Ireneus, biskop van Lyon, wat in 202 gesterf het, Tertullianus, wat in 222 gesterf het en . . . die groot skrywer Laktantius.”
Aangaande Papias, wat na bewering in 161 of 165 G.J. in Pergamum ’n marteldood gesterf het, sê The Catholic Encyclopedia: “Biskop Papias van Hiërapolis, ’n dissipel van St. Johannes, het na vore getree as ’n voorstander van millennialisme. Hy het beweer dat hy sy leer gekry het van tydgenote van die Apostels, en Ireneus vertel dat ander ‘ouderlinge’, wat die dissipel Johannes gesien en gehoor het, by hom geleer het om aan die millennialisme te glo as deel van die Here se leer. Volgens Eusebius . . . het Papias in sy boek beweer dat die opstanding van die dooies gevolg sou word deur duisend jaar van ’n sigbare, glorieryke aardse koninkryk van Christus.”
Wat sê dit vir ons oor die uitwerking wat die boek Apokalips, of Openbaring, op die vroeë gelowiges gehad het? Het dit vrees of hoop ingeboesem? Interessant genoeg, geskiedskrywers noem die vroeë Christene chiliaste, van die Griekse woorde khiʹli·a eʹte (duisend jaar). Ja, baie van hulle was daarvoor bekend dat hulle geglo het aan die Duisendjarige Heerskappy van Christus wat paradystoestande op die aarde sou inlui. Die enigste plek in die Bybel waar die millenniumhoop spesifiek gemeld word, is in die Apokalips, of Openbaring (20:1-7). Die Apokalips het gelowiges dus nie banggemaak nie, maar het hulle eerder ’n wonderlike hoop gegee. Cecil Cadoux, ’n professor in kerkgeskiedenis aan Oxford, skryf in sy boek The Early Church and the World: “Chiliastiese beskouings, hoewel dit uiteindelik verwerp is, is ’n aansienlike tyd lank oor die algemeen in die Kerk gehuldig en is deur van die hoogs gerespekteerde skrywers geleer.”
Waarom die hoop in die Apokalips verwerp is
Wat het daartoe aanleiding gegee dat hierdie “chiliastiese beskouings . . . uiteindelik verwerp” is, aangesien dit ’n onweerlegbare geskiedkundige feit is dat baie, indien nie die meeste vroeë Christene nie, na die Duisendjarige Heerskappy van Christus oor ’n paradysaarde uitgesien het? ’n Mate van geregverdigde kritiek het ontstaan omdat, soos die geleerde Robert Mounce getoon het, “baie chiliaste ongelukkig toegelaat het dat hulle verbeelding met hulle op loop gaan sodat hulle in die duisendjarige tydperk allerhande materialistiese en sinlike uiterstes gesien het”. Maar hierdie uiterste beskouings kon reggestel geword het sonder om die ware hoop van die Millennium te verwerp.
Wat veral verbasend is, is die middele wat deur die teenstanders gebruik is om millennialisme te onderdruk. Die Dictionnaire de Théologie Catholique sê van die Roomse geestelike Gaius (einde van die tweede eeu, begin van die derde) dat “hy hom baie duidelik uitgespreek het teen die egtheid van die Openbaring en van die Evangelie van St. Johannes sodat hy millennialisme kon oorwin”. Hierdie Dictionnaire sê verder dat Dionisius, ’n derde-eeuse biskop van Aleksandrië, ’n verhandeling teen millennialisme geskryf het, en “nie geaarsel het om hom teen die egtheid van die Openbaring van sint Johannes uit te spreek nie sodat hy kon voorkom dat diegene wat hierdie mening huldig hulle geloof daarop baseer”. Sulke kwaadwillige teenstand teen die hoop op millenniumseëninge op aarde toon ’n subtiele invloed wat op daardie stadium onder die teoloë aan die werk was.
Professor Norman Cohn skryf in sy boek The Pursuit of the Millennium: “Die eerste poging om die geloofwaardigheid van millennialisme in twyfel te trek, het in die derde eeu gekom, toe Origines, moontlik die invloedrykste van al die teoloë van die eertydse Kerk, begin leer het dat die Koninkryk ’n gebeurtenis is wat nie in ruimte of tyd sou plaasvind nie, maar net in die siele van gelowiges.” Origines het eerder op Griekse filosofie vertrou as op die Bybel en sodoende die wonderlike hoop van aardse seëninge onder die Messiaanse Koninkryk afgewater tot ’n onverstaanbare “gebeurtenis . . . in die siele van gelowiges”. Die Katolieke skrywer Léon Gry het geskryf: “Die oorheersende invloed van Griekse filosofie . . . het geleidelik die ondergang van Chiliastiese idees veroorsaak.”
“Die kerk het sy boodskap van hoop verloor”
Augustinus was ongetwyfeld die Kerkvader wat die meeste gedoen het om Griekse filosofie saam te smelt met wat teen sy tyd net ’n skyn van die Christelike godsdiens was. Al was hy aanvanklik ’n vurige voorstander van millennialisme, het hy uiteindelik enige idee van ’n toekomstige Duisendjarige Heerskappy van Christus oor die aarde verwerp. Hy het aan Openbaring hoofstuk 20 ’n sinnebeeldige wending gegee.
The Catholic Encyclopedia sê: “Augustinus het uiteindelik die oortuiging gehuldig dat daar geen millennium sal wees nie. . . . Die eerste opstanding, wat in hierdie hoofstuk bespreek word, sê hy vir ons, verwys na die geestelike wedergeboorte in doop; die sabbat van duisend jaar ná die sesduisend jaar van die geskiedenis is die hele omvang van die ewige lewe.” The New Encyclopædia Britannica sê: “Augustinus se sinnebeeldige millennialisme het die amptelike leer van die kerk geword . . . Die Protestantse Hervormers van die Lutherse, Calvinistiese en Anglikaanse tradisies . . . het streng gehou by Augustinus se beskouings.” Die lede van die Christendom se kerke is dus die millenniumhoop ontneem.
Daarbenewens het Augustinus, volgens die Switserse teoloog Frédéric de Rougemont, “die Kerk onberekenbare skade berokken deur sy aanvanklike geloof in die duisendjarige heerskappy te verwerp. As ’n man van groot gesag het hy ’n fout onderskryf wat [die Kerk] sy aardse ideaal ontneem het.” Die Duitse teoloog Adolf Harnack het saamgestem dat die verwerping van geloof in die Millennium die gewone mense “die godsdiens wat hulle verstaan het”, ontneem het en “die ou geloof en die ou verwagtinge” vervang het met “’n geloof wat hulle nie kon verstaan nie”. Hedendaagse leë kerke in baie lande is ’n sprekende bewys dat mense ’n geloof en ’n hoop nodig het wat hulle kan verstaan.
Die Bybelgeleerde George Beasley-Murray het in sy boek Highlights of the Book of Revelation geskryf: “Katolieke en Protestante het verenig in die verwerping van millennialisme, grotendeels weens die ontsaglike invloed van Augustinus aan die een kant en die aanneming van millennialisme deur die sektes aan die ander kant. Wanneer hulle gevra word watter alternatiewe hoop hulle vir mense in hierdie wêreld het, is die amptelike antwoord: Daar is niks anders nie. Die wêreld sal met die koms van Christus vernietig word om plek te maak vir ’n ewige hemel en hel waarin die geskiedenis vergeet sal word. . . . Die kerk het sy boodskap van hoop verloor.”
Die wonderlike hoop in die Apokalips bestaan nog!
Jehovah se Getuies is daarvan oortuig dat die wonderlike beloftes in verband met die Millennium vervul gaan word. Die Franse geskiedskrywer Jean Delumeau het in ’n onderhoud op ’n Franse televisieprogram oor die tema “Die jaar 2000: Vrees vir die Apokalips” gesê: “Jehovah se Getuies volg presies die rigting van millennialisme, want hulle sê dat ons—weliswaar deur rampe heen—binnekort . . . ’n tydperk van 1 000 jaar van geluk sal ingaan.”
Dit is presies wat die apostel Johannes in ’n visioen gesien het en in sy boek Apokalips, of Openbaring, beskryf het. Hy het geskryf: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien . . . Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’”—Openbaring 21:1, 3, 4.
Jehovah se Getuies doen ’n wêreldwye Bybelonderrigtingswerk om soveel mense moontlik in staat te stel om ook hierdie hoop te hê. Hulle sal jou met graagte help om meer daaromtrent te leer.
[Prent op bladsy 6]
Papias het beweer dat hy die Millenniumleer direk van tydgenote van die apostels ontvang het
[Prent op bladsy 7]
Tertullianus het aan Christus se Duisendjarige Heerskappy geglo
[Erkenning]
© Cliché Bibliothèque Nationale de France, Paris
[Prent op bladsy 7]
Augustinus het “die Kerk onberekenbare skade berokken deur sy aanvanklike geloof in die duisendjarige heerskappy te verwerp”
[Prent op bladsy 8]
Die Paradysaarde wat in die Apokalips belowe word, is iets waarna ons gretig kan uitsien